Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • wt hfst. 8 bl. 70-78
  • ‘Ons worstelstryd teen bose geesmagte’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘Ons worstelstryd teen bose geesmagte’
  • Aanbid die enigste ware God
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wêreldheersers in hemelse plekke
  • Slinkse sette van die bose
  • Toegerus om oorwinnaars te wees
  • Demone—Hoe kan ons hulle weerstaan?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Bly staande teen Satan se liste
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Staan die Duiwel en sy listige dade teë
    ‘Hou julle in God se liefde’
  • Bly staande teen Satan se liste!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
Sien nog
Aanbid die enigste ware God
wt hfst. 8 bl. 70-78

Hoofstuk Agt

‘Ons worstelstryd teen bose geesmagte’

1. Waarom is die bedrywigheid van bose geeste vir ons van besondere belang?

BAIE mense spot met die idee dat daar bose geeste is. Maar dit is niks om oor te lag nie. Of mense dit nou glo of nie, bose geeste bestaan wel en hulle probeer druk op almal uitoefen. Aanbidders van Jehovah is nie immuun daarteen nie. Trouens, hulle is die vernaamste teiken. Die apostel Paulus vestig ons aandag op hierdie feit en sê: “Ons het ’n worstelstryd, nie teen bloed en vlees nie, maar teen die [onsigbare] regerings, teen die owerhede, teen die wêreldheersers van hierdie duisternis, teen die bose geesmagte in die hemelse plekke” (Efesiërs 6:12). In ons dag het die druk wat bose geesmagte uitoefen, ’n ongekende hoogtepunt bereik omdat Satan uit die hemel gewerp is en woedend is omdat hy weet dat sy tyd kort is.—Openbaring 12:12.

2. Hoe is dit vir ons moontlik om die stryd teen bomenslike geeste te wen?

2 Is dit moontlik om ’n stryd teen bomenslike geesmagte te wen? Ja, maar alleenlik deur vaste vertroue op Jehovah. Ons moet na hom luister en aan sy Woord gehoorsaam wees. As ons dit doen, kan ons baie van die fisiese, sedelike en emosionele skade vryspring wat mense ly as hulle onder Satan se beheer is.—Jakobus 4:7.

Wêreldheersers in hemelse plekke

3. Wie word wreed deur Satan teëgestaan, en hoe?

3 Jehovah gee vir ons ’n duidelike beskrywing van die wêreldsituasie soos hy dit uit sy posisie in die hemel sien. Hy het die apostel Johannes ’n visioen gegee waarin Satan as “’n groot vuurkleurige draak” uitgebeeld is. Hy het gereed gestaan om, indien moontlik, God se Messiaanse Koninkryk te verslind sodra dit in 1914 in die hemel gebore sou word. Toe Satan dit nie kon regkry nie, het hy ’n vloedgolf wrede teenstand teen die aardse verteenwoordigers van daardie Koninkryk losgelaat (Openbaring 12:3, 4, 13, 17). Hoe sou Satan hierdie oorlog voer? Deur middel van sy menslike verteenwoordigers.

4. Wie is die bron van die krag wat menseregerings het, en hoe weet ons dit?

4 Johannes is daarna ’n wilde dier gewys met sewe koppe en tien horings, ’n dier wat gesag het “oor elke stam en volk en taal en nasie”. Daardie dier beeld die hele wêreldwye politieke stelsel af. Johannes is in kennis gestel dat “die draak [Satan die Duiwel] . . . aan die dier sy krag en sy troon en groot gesag gegee” het (Openbaring 13:1, 2, 7). Ja, Satan is die bron van die krag en gesag wat menseregerings het. Soos die apostel Paulus geskryf het, is die ware “wêreldheersers” dus “bose geesmagte in die hemelse plekke”, wat menseregerings beheer. Almal wat Jehovah wil aanbid, moet die volle betekenis hiervan snap.—Lukas 4:5, 6.

5. Waarvoor word politieke heersers nou versamel?

5 Hoewel baie politieke heersers voorgee dat hulle godsdienstig is, onderwerp geeneen van die nasies hulle aan Jehovah se heerskappy of aan dié van sy aangestelde Koning, Jesus Christus, nie. Hulle voer almal ’n verbete stryd om hulle eie mag te behou. Soos die verslag in Openbaring toon, versamel “uitinge wat deur demone geïnspireer is” wêreldheersers vandag vir “die oorlog van die groot dag van God die Almagtige” by Armageddon.—Openbaring 16:13, 14, 16; 19:17-19.

6. Waarom moet ons versigtig wees dat ons nie gemanipuleer word om Satan se stelsel te ondersteun nie?

6 Mense se lewens word elke dag geraak deur politieke, maatskaplike, ekonomiese en godsdienstige konflikte wat die mensdom verskeur. In hierdie konflikte kies mense dikwels die kant—mondelings of andersins—van die nasie, stam, taalgroep of maatskaplike klas waaraan hulle behoort. Selfs wanneer mense nie direk by die een of ander konflik betrokke is nie, vind hulle dikwels dat hulle die een kant bo die ander verkies. Maar ongeag watter persoon of saak hulle ondersteun, wie ondersteun hulle werklik? Die Bybel sê duidelik: “Die hele wêreld lê in die mag van die bose” (1 Johannes 5:19). Hoe kan ’n mens dan voorkom dat jy saam met die res van die mensdom mislei word? Slegs deur jou volle ondersteuning aan God se Koninkryk te gee en heeltemal neutraal te bly wat die konflikte van die wêreld betref.—Johannes 17:15, 16.

Slinkse sette van die bose

7. Hoe blyk Satan se geslepenheid uit sy gebruik van valse godsdiens?

7 Deur die hele geskiedenis heen het Satan mondelinge en fisiese vervolging gebruik om mense van ware aanbidding af te keer. Hy het ook subtieler maniere gebruik—listige dade en slinkse sette. Hy het ’n groot deel van die mensdom op geslepe wyse deur middel van valse godsdiens in die duister gehou en hulle laat dink dat hulle God dien. Omdat hulle geen juiste kennis van God of liefde vir die waarheid het nie, kan hulle deur mistieke en emosionele godsdiensseremonies aangetrek word of deur kragtige werke beïndruk word (2 Tessalonisense 2:9, 10). Maar ons word gewaarsku dat selfs party van dié wat vroeër ware aanbidding beoefen het, “afvallig sal word en aandag sal skenk aan misleidende geïnspireerde uitinge en leringe van demone” (1 Timoteus 4:1). Hoe kan dit gebeur?

8. Hoe kan Satan ons in valse godsdiens inlok, al is ons aanbidders van Jehovah?

8 Die Duiwel buit ons swakhede listig uit. Het mensevrees nog steeds ’n houvas op ons? Dan sal ons dalk swig voor druk van familielede of bure om aan gebruike deel te neem wat hulle oorsprong in valse godsdiens het. Is ons trots? Dan sal ons dalk aanstoot neem wanneer ons raad ontvang of wanneer ander nie ons idees aanvaar nie (Spreuke 15:10; 29:25; 1 Timoteus 6:3, 4). Pleks van ons beskouing by die voorbeeld van Christus aan te pas, is ons dalk geneig om na diegene te luister wat ‘ons ore streel’ deur te sê dat dit genoeg is om maar net die Bybel te lees en ’n goeie lewe te lei (2 Timoteus 4:3). Dit maak nie vir Satan saak of ons by ’n ander godsdiens aansluit of bloot op ons eie manier aanbid nie, solank ons Jehovah net nie aanbid op die manier wat God deur middel van sy Woord en sy organisasie voorskryf nie.

9. Hoe gebruik Satan seks op listige wyse om sy oogmerke te bereik?

9 Satan verlok mense ook op listige wyse om normale begeertes op verkeerde maniere te bevredig. Hy het dit gedoen met die begeerte na geslagsomgang. Baie in die wêreld verwerp die Bybel se sedes en beskou geslagsomgang tussen ongetroudes as geoorloofde plesier of as ’n manier om te bewys dat hulle volwassenes is. En wat van getroudes? Baie pleeg egbreuk. En selfs al is daar nie ontrouheid in hulle huwelik nie, skei baie mense of gaan hulle uitmekaar sodat hulle saam met iemand anders kan lewe. Satan se subtiele benadering is om mense te beïnvloed om te lewe vir genot wat hulle nou kan smaak en om hulle die langtermynuitwerking te laat ignoreer wat dit nie net op hulleself en ander het nie, maar veral op hulle verhouding met Jehovah en sy Seun.—1 Korintiërs 6:9, 10; Galasiërs 6:7, 8.

10. Waardeur probeer Satan ons gesindheid teenoor onsedelikheid en geweld ondermyn?

10 ’n Ander natuurlike begeerte is dié na ontspanning. Wanneer dit heilsame ontspanning is, kan dit ons liggaamlik, verstandelik en emosioneel verkwik. Maar hoe reageer ons wanneer Satan op geslepe wyse geleenthede vir ontspanning gebruik om ons anders as God te laat dink? Ons weet byvoorbeeld dat Jehovah geslagsonsedelikheid en geweld haat. Sit ons maar net en neem alles in wanneer dit in rolprente, televisieprogramme of toneelopvoerings uitgebeeld word? Hou ook in gedagte dat Satan sal toesien dat hierdie dinge al hoe meer verdorwe raak namate die tyd nader kom wanneer hy in die afgrond gewerp gaan word, aangesien “goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, terwyl hulle mislei en mislei word” (2 Timoteus 3:13; Openbaring 20:1-3). Ons moet dus voortdurend op ons hoede wees teen Satan se planne.—Genesis 6:13; Psalm 11:5; Romeine 1:24-32.

11. Hoe kan selfs iemand wat die waarheid oor spiritisme ken, verstrik word as hy nie versigtig is nie?

11 Ons weet ook dat diegene wat betrokke is by enige vorm van spiritisme—waarsêery, towery of kommunikasie met die dooies—vir Jehovah verfoeilik is (Deuteronomium 18:10-12). As ons dit in gedagte hou, sal dit nie eens by ons opkom om geestemediums te raadpleeg nie, en ons sal hulle beslis ook nie in ons huis toelaat om hulle demoniese kunste daar te beoefen nie. Maar sal ons na hulle luister as hulle op ons televisieskerm of op die Internet verskyn? Ons sal nooit toelaat dat ’n toordokter ons behandel nie. Maar sal ons ’n toutjie om die gewrig van ’n pasgebore baba bind met die idee dat dit die kindjie op die een of ander manier teen kwaad sal beskerm? Ons weet dat die Bybel dit veroordeel om ’n towerspreuk oor ander uit te spreek. Maar sal ons toelaat dat ’n hipnotiseur beheer oor ons verstand kry?—Galasiërs 5:19-21.

12. (a) Hoe word musiek gebruik om ons aan dinge te laat dink wat ons weet verkeerd is? (b) Hoe kan iemand se kleredrag, haarstyl of manier van praat toon dat hy mense bewonder wie se lewenswyse Jehovah mishaag? (c) Wat word van ons vereis as ons nie ’n slagoffer van Satan se slinkse sette wil word nie?

12 Die Bybel sê dat hoerery en elke soort onreinheid nie eens (met onrein motiewe) onder ons genoem moet word nie (Efesiërs 5:3-5). Maar sê nou hierdie temas word vergesel van musiek met ’n mooi melodie of ’n aangename of polsende ritme? Sal ons lirieke begin herhaal wat buite-egtelike geslagsomgang, die gebruik van dwelms en ander sondes verheerlik? Ons weet dat ons nie die lewenswyse moet navolg van mense wat sulke dinge doen nie. Maar is ons dalk geneig om ons met hulle te identifiseer deur hulle kleredrag, hulle haarstyle of hulle manier van praat na te boots? Hoe listig is die metodes tog wat Satan gebruik om mense te verlei sodat hulle in ooreenstemming met sy verdorwe denkwyse sal optree! (2 Korintiërs 4:3, 4). As ons nie ’n slagoffer van sy slinkse sette wil word nie, moet ons sorg dat ons nie sommer net saam met die wêreld dryf nie. Ons moet in gedagte hou wie “die wêreldheersers van hierdie duisternis” is en hard teen hulle invloed stry.—1 Petrus 5:8.

Toegerus om oorwinnaars te wees

13. Hoe is dit vir enigeen van ons moontlik om, ondanks ons onvolmaakthede, die wêreld te oorwin waaroor Satan heers?

13 Voor Jesus se dood het hy vir sy apostels gesê: “Skep moed! Ek het die wêreld oorwin” (Johannes 16:33). Ook hulle kon oorwinnaars wees. Sowat 60 jaar later het die apostel Johannes geskryf: “Wie anders is die een wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?” (1 Johannes 5:5). Ons toon hierdie geloof as ons Jesus se bevele gehoorsaam en op God se Woord vertrou, soos Jesus ook gedoen het. Wat is nog nodig? Dat ons na aan die gemeente bly waarvan hy die Hoof is. As ons te kort skiet, moet ons opregte berou hê en God om vergifnis vra op grond van Jesus se offerande. So kan ook ons, ondanks ons onvolmaakthede en foute, oorwinnaars wees.—Psalm 130:3, 4.

14. Lees Efesiërs 6:13-17 en gebruik die vrae en tekste in hierdie paragraaf as ’n grondslag om die voordele van elke deel van die geestelike wapenrusting te bespreek.

14 Om suksesvol te wees, moet ons “die volle wapenrusting van God” aantrek en geen deel daarvan nalaat nie. Slaan asseblief jou Bybel by Efesiërs 6:13-17 oop en lees die beskrywing van daardie wapenrusting. Beantwoord dan die vrae hieronder en dink aan hoe jy kan baat vind by die beskerming wat elke deel van die wapenrusting bied.

“Lendene omgord met waarheid”

Hoe beskerm gereelde studie, bepeinsing oor Bybelwaarheid en vergaderingbywoning ons, al ken ons die waarheid? (1 Korintiërs 10:12, 13; 2 Korintiërs 13:5; Filippense 4:8, 9)

“Borsplaat van regverdigheid”

Wie se standaard van regverdigheid is dit? (Openbaring 15:3)

Lig toe hoe dit ’n mens aan geestelike skade blootstel as jy nie Jehovah se regverdige weë volg nie (Deuteronomium 7:3, 4; 1 Samuel 15:22, 23)

“Voete geskoei met die toerusting van die goeie nuus van vrede”

Hoe beskerm dit ons as ons ons voete daarmee besig hou om ons na mense te neem om met hulle oor God se voorsienings vir vrede te praat? (Psalm 73:2, 3; Romeine 10:15; 1 Timoteus 5:13)

“Groot skild van geloof”

Hoe sal ons reageer op pogings wat bedoel is om twyfel of vrees by ons te wek, as ons geloof ’n vaste grondslag het? (2 Konings 6:15-17; 2 Timoteus 1:12)

“Helm van redding”

Hoe help die hoop op redding ’n mens om nie deur oormatige besorgdheid oor materiële besittings verstrik te word nie? (1 Timoteus 6:7-10, 19)

“Swaard van die gees”

Waarop moet ons altyd staatmaak wanneer ons aanslae op ons geestelikheid of dié van ander afweer? (Psalm 119:98; Spreuke 3:5, 6; Matteus 4:3, 4)

Wat anders is noodsaaklik om in geestelike oorlogvoering suksesvol te wees? Hoe dikwels moet dit gebruik word? Ten behoewe van wie? (Efesiërs 6:18, 19)

15. Hoe kan ons in die geestelike geveg tot die aanval oorgaan?

15 As soldate van Christus is ons deel van ’n groot leër wat in geestelike oorlogvoering gewikkel is. As ons wakker bly en die volle wapenrusting van God goed benut, sal ons nie slagoffers van hierdie oorlog word nie. Ons sal eerder ’n versterkende hulp vir medeknegte van God wees. Ons sal gereed en gretig wees om tot die aanval oor te gaan en die goeie nuus te verkondig van God se Messiaanse Koninkryk, die hemelse regering wat Satan so hewig teëstaan.

Hersieningsbespreking

• Waarom bly aanbidders van Jehovah heeltemal neutraal wat die wêreld se konflikte betref?

• Wat is van die slinkse sette wat Satan gebruik om Christene se geestelike ondergang teweeg te bring?

• Hoe beskerm die geestelike wapenrusting wat God voorsien, ons in ons geestelike oorlogvoering?

[Prente op bladsy 76]

Die nasies word nou vir Armageddon versamel

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel