Hoofstuk 8
Waarom is ek tog so siek?
“Wanneer jy jonk is, voel dit asof niks jou kan onderkry nie. Dan, as jy ernstig siek word, bring dit jou skielik tot ander insigte. Dit voel asof jy oornag oud geword het.”—Jason.
TOE Jason 18 jaar oud was, het hy uitgevind dat hy Crohn se siekte het, ’n aftakelende en pynlike ingewandsiekte. Miskien ly jy ook aan ’n chroniese siekte of het jy ’n liggaamsgebrek. Dinge wat baie as vanselfsprekend aanneem—soos om aan te trek, te eet of om skool toe te gaan—verg dalk baie inspanning.
’n Chroniese gesondheidsprobleem kan jou laat voel asof jy in ’n tronk toegesluit is en asof van jou vryheid weggeneem is. Jy voel dalk eensaam. Miskien begin jy selfs wonder of jy iets gedoen het wat God kwaad gemaak het en of God die een of ander spesiale toets van onkreukbaarheid oor jou gebring het. Maar die Bybel sê: “Met bose dinge kan God nie beproef word nie, en ook beproef hy self niemand nie” (Jakobus 1:13). Siekte is eenvoudig ’n deel van die huidige toestand van die mens, en almal van ons kan slagoffers word van “tyd en onvoorsiene gebeurtenisse”.—Prediker 9:11.
Gelukkig het Jehovah God ’n nuwe wêreld belowe waarin “geen inwoner sal sê: ‘Ek is siek’ nie” (Jesaja 33:24). Selfs dié wat gesterf het, sal opgewek word sodat hulle die kans sal kry om daardie nuwe wêreld te geniet (Johannes 5:28, 29). Maar hoe kan jy intussen die beste van jou situasie maak?
Probeer positief wees. Die Bybel sê: “’n Vreugdevolle hart is ’n goeie geneesmiddel” (Spreuke 17:22). Party voel dalk dat dit onvanpas is om vreugdevol te wees en te lag as jy ernstig siek is. Maar opgeruimdheid en aangename geselskap kan jou verstand verkwik en jou meer lus maak vir die lewe. Dink dus oor wat jy kan doen om meer vreugde in jou lewe te kry. Onthou, vreugde is ’n goddelike eienskap, ’n aspek van die vrug van God se gees (Galasiërs 5:22). Daardie gees kan jou help om siekte met ’n mate van vreugde te verduur.—Psalm 41:3.
Stel realistiese doelwitte. “Wysheid is by die beskeidenes”, sê die Bybel (Spreuke 11:2). Beskeidenheid sal jou help om nie roekeloos of oorbeskermend te wees nie. Byvoorbeeld, as jou toestand dit toelaat, kan gepaste fisiese aktiwiteit jou dalk help om beter te voel. Dis waarom mediese fasiliteite baie keer fisioterapieprogramme vir jong pasiënte het. In baie gevalle help die regte soort oefening nie net fisiese genesing aan nie, maar help dit jou ook om opgeruimd te bly. Die punt is, jy moet jou situasie eerlik beoordeel en realistiese doelwitte stel.
Leer om ander se reaksie te hanteer. Sê nou party mense maak ongevoelige aanmerkings oor jou toestand? Die Bybel sê: “[Moenie] jou hart rig op al die woorde wat mense spreek nie” (Prediker 7:21). Soms is die beste manier om sulke aanmerkings te hanteer, om dit eenvoudig te ignoreer. Of miskien kan jy keer dat die situasie ontstaan. As dit byvoorbeeld lyk of ander gespanne is wanneer hulle by jou is omdat jy in ’n rolstoel is, kan jy probeer om hulle op hulle gemak te laat voel. Jy kan sê: “Jy wonder seker hoekom ek in ’n rolstoel is. Kan ek jou vertel?”
Moenie moed opgee nie. Toe Jesus groot lyding verduur het, het hy tot God gebid, op Hom vertrou en eerder op sy vreugdevolle toekoms gekonsentreer as op die pyn (Hebreërs 12:2). Hy het uit sy moeilike ondervindinge geleer (Hebreërs 4:15, 16; 5:7-9). Hy het hulp en aanmoediging aanvaar (Lukas 22:43). Hy het eerder op die welsyn van ander gekonsentreer as op sy eie ongerief.—Lukas 23:39-43; Johannes 19:26, 27.
Jehovah ‘sorg vir jou’
Wat jou probleem ook al is, jy hoef nie te voel dat God jou as minderwaardig beskou nie. Inteendeel, Jehovah beskou dié wat hom probeer gelukkig maak, as kosbaar (Lukas 12:7). ‘Hy sorg vir jou’ op ’n baie persoonlike manier, en hy sal jou met graagte in sy diens gebruik—ten spyte van jou siekte of liggaamsgebrek.—1 Petrus 5:7.
Moet dus nie toelaat dat vrees of onsekerheid jou keer om die dinge te doen wat jy wil en moet doen nie. Maak altyd op Jehovah God staat om jou te help. Hy verstaan wat jy nodig het en hoe jy voel. Daarbenewens kan hy jou “die krag wat bo die normale is”, gee om jou te help om te volhard (2 Korintiërs 4:7). Mettertyd sal jy moontlik die optimistiese beskouing hê van Timothy, wat met chroniesemoegheidsindroom gediagnoseer is toe hy 17 was. Hy sê: “Volgens 1 Korintiërs 10:13 sal Jehovah nie toelaat dat ons meer ly as wat ons kan verduur nie. Ek reken dat as my Skepper vertrou dat ek hierdie beproewing kan verduur, wie is ek om te stry?”
As iemand wat jy ken, siek is
Sê nou jy is gesond, maar jy ken iemand wat siek is of ’n gebrek het? Hoe kan jy daardie persoon help? Die antwoord is om “meegevoel” te betoon en “tere medelye” te hê (1 Petrus 3:8). Probeer verstaan wat daardie persoon moet verduur. Sien sy probleme deur sy oë eerder as jou eie. Nina, wat met spina bifida gebore is, sê: “Omdat my liggaam klein is en ek in ’n rolstoel sit, praat party mense met my asof ek ’n kind is, wat my nogal kan onderkry. Maar ander doen die moeite om met my te sit en praat, sodat ons op dieselfde ooghoogte is. Ek hou baie daarvan!”
As jy verder kyk as hulle gebreke, sal jy agterkom dat mense wat gesondheidsprobleme het, baie soos jy is. En dink net daaraan—deur jou woorde kan jy ‘’n geestelike gawe’ aan sulke persone gee! Wanneer jy dit doen, sal jy ook ’n seëning ontvang, want daar sal “wedersydse aanmoediging” wees.—Romeine 1:11, 12.
LEES MEER OOR HIERDIE ONDERWERP IN DEEL 1, HOOFSTUK 13
SLEUTELTEKSTE
‘Dan sal geen inwoner sê: “Ek is siek” nie.’—Jesaja 33:23, 24.
WENK
Kennis verminder vrees vir die onbekende. Vind dus soveel as wat jy kan oor jou toestand uit. Vra jou dokter spesifieke vrae as jy iets nie goed verstaan nie.
HET JY GEWEET . . . ?
Jou siekte of gebrek is nie ’n straf van God af nie. Dis eerder die resultaat van die onvolmaaktheid wat ons almal van Adam geërf het.—Romeine 5:12.
AKSIEPLAN!
Om ’n positiewe beskouing te behou ten spyte van my siekte of gebrek, sal ek ․․․․․
Een realistiese doelwit wat ek kan stel, is ․․․․․
As iemand ongevoelige aanmerkings teenoor my maak oor my toestand, sal ek die saak in perspektief stel deur ․․․․․
Wat ek graag vir my ouer(s) hieroor wil vra ․․․․․
WAT DINK JY?
● Hoe kan jy die inligting in hierdie hoofstuk gebruik om iemand te help wat ’n liggaamsgebrek het of aan ’n chroniese siekte ly?
● Oor watter positiewe dinge kan jy peins om die beste van jou situasie te maak as jy ’n chroniese siekte het?
● Hoe weet jy dat beproewinge nie ’n teken is dat God iets teen jou het nie?
[Venster/Prent op bladsy 75]
DUSTIN, 22
‘‘Ek onthou dat ek in my ma se arms gehuil het toe ek gehoor het dat ek ’n rolstoel sou moes gebruik. Ek was net agt jaar oud.
Ek het spierdistrofie. Ek moet gehelp word om aan te trek, te stort en te eet. Ek kan glad nie my arms optel nie. Maar my lewe is nogtans besig en genotvol, en ek het baie om voor dankbaar te wees. Ek gaan gereeld in die bediening uit en is ’n bedieningskneg in die gemeente. Ek dink nie eers daaraan dat ek iets moet ‘verduur’ nie. In Jehovah se diens is daar altyd iets om te doen en na uit te sien. Bowenal sien ek uit na God se nuwe wêreld, waar ek ‘soos ’n takbok sal klim’.’’—Jesaja 35:6.
[Venster/Prent op bladsy 75]
TOMOKO, 21
‘‘Toe ek net vier jaar oud was, het die dokter vir my gesê: ‘Jy sal vir die res van jou lewe insulieninspuitings moet kry.’
Dis vir iemand met suikersiekte moeilik om sy bloedsuikervlak te beheer. Ek kan baie keer nie eet wanneer ek wil nie, en wanneer ek nie wil eet nie, dan moet ek. Ek het tot nou toe al omtrent 25 000 inspuitings gehad en ek het eelte op my arms en dye. Maar my ouers het my gehelp om die beste van my situasie te maak. Hulle was altyd opgeruimd en positief, en hulle het my geleer om geestelike dinge te waardeer. Jehovah is goed vir my. Toe my gesondheid dit toegelaat het, het ek besluit om my waardering te toon deur die voltydse bediening te betree.’’
[Venster/Prent op bladsy 76]
JAMES, 18
‘‘Mense weet nie hoe om iemand te behandel wat anders is nie, en dis presies wat ek is.
Ek het ’n seldsame soort dwergisme. Voorkoms is vir mense baie belangrik en daarom probeer ek altyd bewys dat ek nie ’n klein kindjie met ’n diep stem is nie. Ek probeer om my nie te verknies oor wat ek nie is nie, maar om eerder te fokus op wat ek wel is. Ek geniet my lewe. Ek bestudeer die Bybel en bid tot Jehovah vir ondersteuning. My gesin is altyd daar om my aan te moedig. Ek sien uit na die tyd wanneer God alle kwale sal verwyder. Intussen leef ek met my gebrek saam, maar ek laat nie toe dat my gebrek my lewe oorneem nie.’’
[Venster/Prent op bladsy 76]
DANITRIA, 16
‘‘Ek het geweet iets was verkeerd toe dit so seer was om net ’n glas water op te tel.
Dis ’n pyn om fibromialgie te hê, letterlik en figuurlik. As ’n tiener wil ek graag dieselfde dinge as my vriende kan doen, maar alles is vir my moeiliker as wat dit vroeër was. Dit voel selfs of dit eeue neem om aan die slaap te raak! Maar ek het geleer dat ek met Jehovah se hulp met my probleem kan saamleef. Ek kon selfs as ’n hulppionier dien en ekstra tyd aan die bediening wy. Dit was moeilik, maar ek het dit gedoen. Ek doen my bes. Ek moet na my liggaam ‘luister’ en binne my perke bly. As ek vergeet, sal my ma my altyd herinner!’’
[Venster/Prent op bladsy 77]
ELYSIA, 20
‘‘Ek het altyd A-plusse op skool gekry. Nou is dit moeilik om ’n eenvoudige sinnetjie te lees, en dit maak my partykeer depressief.
Chroniesemoegheidsindroom maak eenvoudige aktiwiteite baie moeilik. Baie keer is dit onmoontlik om selfs uit die bed op te staan. Maar ek het nog nooit toegelaat dat my siekte bepaal wie ek is nie. Ek lees elke dag my Bybel, al beteken dit dat ek net ’n paar versies lees of dat ’n gesinslid vir my moet voorlees. Ek is baie aan my gesin verskuldig. My pa het selfs ’n voorreg by ’n streekbyeenkoms prysgegee sodat hy my kon help om dit by te woon. Hy het nooit gekla nie. Hy sê die grootste voorreg wat hy kan hê, is om vir sy gesin te sorg.’’
[Venster/Prent op bladsy 77]
KATSOETOSJI, 20
‘‘Ek raak soms skielik paniekerig, skree, gaan aan die bewe en gooi goed selfs rond en breek dit.
Vandat ek vyf jaar oud is, het ek epilepsie. Ek het al tot sewe aanvalle per maand gekry. Ek moet elke dag medisyne drink, en as gevolg daarvan word ek gou moeg. Maar ek probeer aan ander dink, nie net aan myself nie. In my gemeente is daar twee voltydse bedienaars wat so oud is soos ek en wat my al baie ondersteun het. Toe ek met skool klaargemaak het, het ek meer in die bediening begin doen. Epilepsie is ’n daaglikse stryd. Maar wanneer ek moedeloos voel, sorg ek dat ek genoeg rus kry. Teen die volgende dag voel ek weer beter.’’
[Venster/Prent op bladsy 78]
MATTHEW, 19
‘‘Dis moeilik om die respek van jou portuurs te kry wanneer jy nie by hulle definisie van ‘normaal’ inpas nie.
Ek wil so graag aan sport deelneem, maar ek kan nie. Ek het serebrale verlamming, en dis selfs moeilik om te loop. Maar ek verknies my nie oor wat ek nie kan doen nie. Ek konsentreer op dinge wat ek kan doen, soos om te lees. Die Koninkryksaal is ’n plek waar ek myself kan wees sonder om my te bekommer dat ek geoordeel sal word. Dis ook gerusstellend om te weet dat Jehovah my liefhet vir die persoon wat ek van binne is. Om die waarheid te sê, ek beskou myself nie eintlik as iemand met ’n gebrek nie. Ek sien myself as iemand wat ’n ekstra en unieke uitdaging het om te bowe te kom.’’
[Venster/Prent op bladsy 78]
MIKI, 25
‘‘Ek kon altyd aan sport deelneem. Toe, terwyl ek nog in my tienerjare was, was dit asof ek skielik oud geword het.
Ek is gebore met atriumseptumdefek—’n gat in die hart. Toe ek ’n tiener was, het die eerste simptome verskyn. Ek het ’n operasie gehad, maar nou—ses jaar later—word ek nog altyd gou moeg en kry ek chroniese hoofpyne. Daarom stel ek vir myself bereikbare korttermyndoelwitte. Ek kan byvoorbeeld aan die voltydse diens deelneem, meestal deur briewe te skryf en telefoongetuieniswerk te doen. My siekte het my ook gehelp om eienskappe aan te kweek wat ek nie gehad het nie, soos lankmoedigheid en beskeidenheid.’’
[Prent op bladsy 74]
’n Chroniese gesondheidsprobleem kan jou laat voel asof jy in ’n tronk toegesluit is—maar die Bybel gee hoop dat jy vrygelaat sal word