Rolmodel—Hiskia
Hiskia staan op ’n kruispad in sy lewe. Hy is maar 25 jaar oud en die koning van Juda. Watter soort koning sal hy wees? Sal hy toelaat dat hy beïnvloed word deur die slegte voorbeeld van sy vader, koning Agas? Agas was tot sy dood ’n onberouvolle afvallige. Hy het heidense aanbidding bevorder en het selfs so ver gegaan om ten minste een van Hiskia se broers op ’n heidense altaar te verbrand (2 Kronieke 28:1-4). Maar Hiskia laat nie toe dat sy vader se huigelagtige gedrag hom ’n negatiewe beskouing van Jehovah se aanbidding laat kry nie, en hy voel ook nie dat hy nie anders kan as om dieselfde foute as sy vader te maak nie. In plaas daarvan bly Hiskia ‘Jehovah aankleef’.—2 Konings 18:6.
Spot een van jou ouers met die aanbidding van Jehovah? Behandel hy jou sleg of is hy verslaaf aan die een of ander slegte gewoonte? As dit die geval is, hoef jy nie dieselfde foute as jou ouer te maak nie! Hiskia het nie toegelaat dat sy droewige gesinsagtergrond sy lewe bederf nie. Om die waarheid te sê, hy het so ’n goeie koning geword dat daar ‘ná hom niemand soos hy was onder al die konings van Juda nie’ (2 Konings 18:5). Jy kan, soos Hiskia, ’n sukses van jou lewe maak ten spyte van moeilike gesinsomstandighede. Hoe? Deur ‘Jehovah te bly aankleef’.