Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • bt hfst. 25 bl. 196-202
  • “Ek wil hê dat die keiser my saak moet verhoor!”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Ek wil hê dat die keiser my saak moet verhoor!”
  • ‘Getuig deeglik’ oor God se Koninkryk
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Voor die regterstoel” (Handelinge 25:1-12)
  • ‘Ek was nie ongehoorsaam nie’ (Handelinge 25:13–26:23)
  • “Jy sal my . . . oorreed om ’n Christen te word” (Handelinge 26:24-32)
  • Paulus getuig moedig voor hooggeplaastes
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Help ander om die Koninkryksboodskap te aanvaar
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • “Ek beroep my op Caesar!”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Verkondig Jehovah se koninkryk met vrymoedigheid!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
Sien nog
‘Getuig deeglik’ oor God se Koninkryk
bt hfst. 25 bl. 196-202

HOOFSTUK 25

“Ek wil hê dat die keiser my saak moet verhoor!”

Paulus stel ’n voorbeeld in die verdediging van die goeie nuus

Gebaseer op Handelinge 25:1–26:32

1, 2. (a) In watter omstandighede bevind Paulus hom? (b) Watter vraag ontstaan oor die feit dat Paulus wil hê dat die keiser sy saak moet verhoor?

PAULUS is nog steeds onder streng bewaking in Sesarea. Toe hy twee jaar vroeër na Judea teruggekeer het, het die Jode hom binne die bestek van ’n paar dae ten minste drie keer probeer doodmaak (Hand. 21:27-36; 23:10, 12-15, 27). Tot dusver was sy vyande onsuksesvol, maar hulle gooi nie tou op nie. Toe Paulus sien dat hy nog in hulle hande kan val, sê hy vir die Romeinse goewerneur Festus: “Ek wil hê dat die keiser my saak moet verhoor!” – Hand. 25:11.

2 Het Jehovah Paulus se besluit dat die keiser sy saak moet verhoor, gesteun? Die antwoord is belangrik vir ons, wat in hierdie tyd van die einde deeglik getuig oor God se Koninkryk. Ons moet weet of Paulus hierdeur vir ons ’n presedent geskep het om “die goeie nuus [te] verdedig en wetlik [te] bevestig”. – Fil. 1:7.

“Voor die regterstoel” (Handelinge 25:1-12)

3, 4. (a) Wat het agter die Jode se versoek gesit dat Paulus na Jerusalem gebring word, en hoe het hy die dood vrygespring? (b) Hoe onderskraag Jehovah sy hedendaagse knegte, soos hy met Paulus gedoen het?

3 Drie dae nadat Festus, die nuwe Romeinse goewerneur van Judea, aan die bewind gekom het, het hy na Jerusalem gegaan.a Daar het hy geluister terwyl die hoofpriesters en die vernaamste manne onder die Jode Paulus van ernstige misdade beskuldig het. Hulle het geweet dat die nuwe goewerneur onder druk was om vrede met hulle en al die Jode te bewaar. Daarom het hulle vir Festus ’n guns gevra: Bring Paulus na Jerusalem, en verhoor hom hier. Maar daar was ’n bose plan agter hierdie versoek. Daardie vyande was van plan om Paulus op die pad van Sesarea na Jerusalem dood te maak. Festus het hulle versoek geweier en gesê: “Laat die leiers onder julle saam met my kom [na Sesarea] en hom beskuldig as die man enigiets verkeerds gedoen het” (Hand. 25:5). Paulus het die dood dus nog ’n keer vrygespring.

4 Deur al Paulus se beproewinge heen het Jehovah hom deur middel van die Here Jesus Christus onderskraag. Onthou dat Jesus in ’n visioen vir sy apostel gesê het: “Moenie moed verloor nie!” (Hand. 23:11). Vandag kom God se knegte ook voor struikelblokke en dreigemente te staan. Jehovah beskerm ons nie teen elke probleem nie, maar hy gee ons die wysheid en krag om te volhard. Ons kan altyd staatmaak op “die krag wat bo die normale is” en wat deur ons liefdevolle God voorsien word. – 2 Kor. 4:7.

5. Hoe het Festus Paulus behandel?

5 ’n Paar dae later het Festus in Sesarea “op die regterstoel gaan sit”.b Voor hom het Paulus en sy beskuldigers gestaan. In antwoord op hulle ongegronde aanklagte het Paulus gesê: “Ek het nie teen die Wet van die Jode of teen die tempel of teen die keiser gesondig nie.” Die apostel was onskuldig en het verdien om vrygelaat te word. Wat sou Festus besluit? Hy wou die Jode se goedkeuring hê en het vir Paulus gevra: “Wil jy Jerusalem toe gaan en daar voor my oor hierdie dinge geoordeel word?” (Hand. 25:6-9). Wat ’n belaglike voorstel! As Paulus na Jerusalem teruggestuur word, sou sy beskuldigers sy regters word en sou hy beslis doodgemaak word. In hierdie geval het Festus politieke voordeel bo ware geregtigheid gekies. ’n Vroeëre goewerneur, Pontius Pilatus, het dieselfde gedoen in ’n saak waarby ’n selfs belangriker gevangene betrokke was (Joh. 19:12-16). Hedendaagse regters swig dalk ook voor politieke druk. Daarom moet ons nie verbaas wees wanneer howe se beslissings in stryd is met die getuienis in sake waarby God se knegte betrokke is nie.

6, 7. Waarom het Paulus gevra dat die keiser sy saak moet verhoor, en watter presedent het hy daardeur vir ware Christene van vandag geskep?

6 Festus se begeerte om die Jode tevrede te stel, kon vir Paulus lewensgevaarlik gewees het. Paulus het dus gebruik gemaak van een van sy regte as ’n Romeinse burger. Hy het vir Festus gesê: “Ek staan voor die regterstoel van die keiser, waar ek geoordeel moet word. Ek het niks verkeerds teen die Jode gedoen nie, soos u ook heel goed weet. . . . Ek wil hê dat die keiser my saak moet verhoor!” So ’n versoek kon gewoonlik nie teruggetrek word nie. Festus het dit bevestig deur te sê: “Jy wil hê dat die keiser jou saak moet verhoor – na die keiser sal jy gaan” (Hand. 25:10-12). Deur te vra dat ’n hoër wetlike gesag sy saak moet verhoor, het Paulus ’n presedent vir ware Christene van vandag geskep. Wanneer teenstanders probeer om “moeilikheid . . . in die naam van die wet” te maak, maak Jehovah se Getuies gebruik van wetlike voorsienings om die goeie nuus te verdedig.c – Ps. 94:20.

7 Paulus is dus, ná meer as twee jaar in gevangenskap vir misdade wat hy nie gepleeg het nie, die geleentheid gegee om sy saak in Rome te stel. Maar voor sy vertrek wou ’n ander heerser hom sien.

Mense in ’n hof reageer op ’n uitspraak. ’n Broer, sy regsgeleerdes en ’n hele paar Getuies is teleurgesteld. Mense wat nie Getuies is nie, is bly en wens die regspan geluk wat die saak teen die broer gebring het.

Ons teken appèl aan teen ongunstige regsbeslissings

‘Ek was nie ongehoorsaam nie’ (Handelinge 25:13–26:23)

8, 9. Waarom het koning Agrippa Sesarea besoek?

8 ’n Paar dae nadat Festus gehoor het hoe Paulus gevra het dat die keiser sy saak moet verhoor, het koning Agrippa en sy suster Bernice “’n amptelike besoek” aan die nuwe goewerneur gebring.d In Romeinse tye was dit gebruiklik vir amptenare om sulke besoeke by pas aangestelde goewerneurs af te lê. Deur Festus geluk te wens op sy aanstelling, het Agrippa ongetwyfeld politieke en persoonlike bande probeer smee wat in die toekoms nuttig kon wees. – Hand. 25:13.

APPÈLSAKE TEN BEHOEWE VAN WARE AANBIDDING IN HEDENDAAGSE TYE

Jehovah se Getuies appelleer soms na hooggeregshowe in die hoop dat struikelblokke tot die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk uit die weg geruim sal word. Hier is twee voorbeelde.

Op 28 Maart 1938 het die Amerikaanse Hooggeregshof beslissings deur staatshowe ter syde gestel en ’n groep Getuies vrygespreek nadat hulle in hegtenis geneem is omdat hulle Bybellektuur in Griffin, Georgia, VSA, versprei het. Dit was die eerste van baie appèlsake wat by daardie hoë hof aanhangig gemaak is in verband met die reg van die Getuies om die goeie nuus te verkondig.g

Nog ’n saak is dié van ’n Getuie in Griekeland met die naam Minos Kokkinakis. Oor ’n tydperk van 48 jaar is hy meer as 60 keer weens “proselitisme” in hegtenis geneem. Hy het 18 keer in die hof verskyn. Hy het jare lank in die tronk en in ballingskap op afgeleë eilande in die Egeïese See deurgebring. Ná sy laaste skuldigbevinding in 1986 is broer Kokkinakis se appèl na die hoër howe van Griekeland afgewys. Toe het hy hulp gevra by die Europese Hof van Menseregte (EHMR). Op 25 Mei 1993 het daardie Hof beslis dat Griekeland broer Kokkinakis se reg op godsdiensvryheid geskend het.

Jehovah se Getuies het al tientalle sake na die EHMR geappelleer en die meeste hiervan gewen. Geen ander organisasie, godsdienstig of nie, het soveel sukses behaal in die verdediging van basiese menseregte voor die EHMR nie.

Vind ander baat by die regsoorwinnings van Jehovah se Getuies? Die geleerde Charles C. Haynes het geskryf: “Ons is almal dank verskuldig aan Jehovah se Getuies. Dit maak nie saak hoeveel keer hulle beledig, uit die dorp gejaag of selfs fisies aangeval word nie, hulle hou aan om vir hulle (en dus ons) godsdiensvryheid te veg. En wanneer hulle wen, wen ons almal.”

g Sien die verslag in verband met die Amerikaanse Hooggeregshof se beslissing aangaande vryheid van spraak, wat in die Ontwaak! van 8 Januarie 2003, bladsye 3-11, verskyn het.

9 Festus het die koning van Paulus vertel, en dit het Agrippa nuuskierig gemaak. Die volgende dag het die twee heersers op die regterstoel gaan sit. Maar hulle mag en deftige voorkoms was geensins indrukwekkender as die woorde wat die gevangene wat voor hulle gestaan het, sou spreek nie. – Hand. 25:22-27.

10, 11. Hoe het Paulus Agrippa met respek behandel, en watter besonderhede oor Paulus se eie verlede het die apostel aan die koning bekend gemaak?

10 Paulus het koning Agrippa respekvol bedank vir die geleentheid om hom voor die koning te verdedig en het Agrippa ’n kenner van al die gebruike sowel as die geskille onder die Jode genoem. Paulus het toe sy verlede beskryf: “Ek [was] ’n Fariseër . . . en [het] volgens die strengste riglyne van ons godsdiens gelewe” (Hand. 26:5). As ’n Fariseër het Paulus uitgesien na die koms van die Messias. As ’n Christen het hy Jesus Christus nou moedig as daardie langverwagte Messias geïdentifiseer. Paulus het op dié dag tereggestaan weens ’n oortuiging wat hy en sy beskuldigers in gemeen gehad het, naamlik die hoop op die vervulling van God se belofte aan hulle voorvaders. Hierdie situasie het Agrippa selfs nuuskieriger gemaak oor wat Paulus te sê gehad het.e

11 Paulus het vertel hoe hy Christene in die verlede wreed behandel het en het gesê: “Ek [was] daarvan oortuig dat ek alles in my vermoë moes doen om die naam van Jesus die Nasarener teë te staan . . . Omdat ek briesend kwaad was vir hulle [die volgelinge van Christus], het ek hulle selfs in ander stede vervolg” (Hand. 26:9-11). Paulus het nie oordryf nie. Baie mense het geweet van die geweld wat hy die Christene aangedoen het (Gal. 1:13, 23). ‘Wat kon so ’n man laat verander het?’ het Agrippa dalk gewonder.

12, 13. (a) Hoe het Paulus sy bekering beskryf? (b) In watter sin het Paulus ‘teen die prikkels geskop’?

12 Paulus se volgende woorde het die antwoord gegee: “Terwyl ek . . . na Damaskus gereis het met die toestemming en ’n opdrag van die hoofpriesters, het ek, o Koning, in die middel van die dag ’n lig op die pad gesien wat helderder as die son was. Dit het uit die hemel op my geskyn, en op dié wat saam met my gereis het. En toe ons almal op die grond val, het ek gehoor hoe ’n stem in Hebreeus vir my sê: ‘Saul, Saul, hoekom vervolg jy my? Jy maak dit vir jouself moeilik deur teen die prikkels te bly skop.’ Maar ek het gesê: ‘Wie is u, Here?’ En die Here het gesê: ‘Ek is Jesus, wat jy vervolg.’”f – Hand. 26:12-15.

13 Voor hierdie bonatuurlike gebeurtenis het Paulus figuurlik ‘teen die prikkels geskop’. Net soos ’n lasdier homself onnodig sou seermaak as hy teen die skerp punt van ’n osprikkel skop, het Paulus homself in geestelike sin seergemaak deur hom teen God se wil te verset. Deur op die pad na Damaskus aan Paulus te verskyn, het die verrese Jesus hierdie opregte maar ongetwyfeld misleide man gehelp om sy denke te verander. – Joh. 16:1, 2.

14, 15. Wat het Paulus gesê oor die veranderinge wat hy in sy lewe aangebring het?

14 Paulus het inderdaad drastiese veranderinge in sy lewe aangebring. Hy het vir Agrippa gesê: “Ek was . . . nie ongehoorsaam aan die hemelse visioen nie, . . . maar ek het eers aan dié in Damaskus en toe aan dié in Jerusalem en in die hele land van Judea en ook aan die nasies die boodskap gebring dat hulle berou moet hê en God moet aanbid deur werke te doen wat by berou pas” (Hand. 26:19, 20). Paulus het jare lank die opdrag uitgevoer wat Jesus Christus hom daardie middag in die visioen gegee het. Met watter resultate? Dié wat gunstig gereageer het op die goeie nuus wat Paulus verkondig het, het berou getoon oor hulle onsedelike, oneerlike gedrag en het hulle tot God gekeer. Sulke persone het goeie burgers geword, wat tot wet en orde bygedra het en respek daarvoor getoon het.

15 Daardie voordele het egter vir Paulus se Joodse teenstanders niks beteken nie. Paulus het gesê: “Daarom het die Jode my in die tempel gearresteer en my probeer doodmaak. Maar omdat God my gehelp het, gaan ek tot vandag toe voort om vir klein sowel as groot te getuig.” – Hand. 26:21, 22.

16. Hoe kan ons Paulus navolg wanneer ons met regters en heersers oor ons godsdiensoortuigings praat?

16 As ware Christene moet ons ‘altyd gereed wees om ons geloof te verdedig’ (1 Pet. 3:15). Wanneer ons met regters en heersers oor ons godsdiensoortuigings praat, sal ons dit dalk nuttig vind om dieselfde metode te gebruik as wat Paulus gebruik het toe hy voor Agrippa en Festus verskyn het. Deur respekvol vir hulle te wys watter goeie uitwerking Bybelwaarhede op lewens het – ons eie lewe sowel as die lewe van dié wat op ons boodskap reageer – bereik ons dalk die harte van hierdie hooggeplaastes.

“Jy sal my . . . oorreed om ’n Christen te word” (Handelinge 26:24-32)

17. Hoe het Festus op Paulus se verdediging gereageer, en watter soortgelyke gesindheid sien ons vandag?

17 Die twee heersers kon eenvoudig nie na Paulus se oorredende getuienis luister sonder om daardeur geraak te word nie. Let op wat plaasgevind het: “Terwyl Paulus hierdie dinge gesê het om homself te verdedig, het Festus in ’n harde stem gesê: ‘Jy is van jou kop af, Paulus! Al jou geleerdheid maak jou mal!’” (Hand. 26:24). Festus se uitbarsting het moontlik ’n gesindheid verraai wat ook vandag gesien kan word. Baie mense beskou diegene wat ander leer wat die Bybel werklik sê, as fanaties. Dié wat in die oë van die wêreld wys is, vind dit dikwels moeilik om die Bybellering oor die opstanding van die dooies te aanvaar.

18. Hoe het Paulus vir Festus geantwoord, en hoe het Agrippa daarop gereageer?

18 Maar Paulus het ’n antwoord vir die goewerneur gehad: “‘Ek word nie mal nie, Eksellensie Festus, maar ek praat die waarheid en met gesonde verstand. Want die koning met wie ek nou so vryelik praat, weet van hierdie dinge. . . . Glo u die Profete, koning Agrippa? Ek weet dat u glo.’ Agrippa het vir Paulus gesê: ‘Jy sal my in ’n kort tydjie oorreed om ’n Christen te word’” (Hand. 26:25-28). Hierdie woorde, hetsy dit opreg was of nie, toon dat Paulus se getuienis ’n groot uitwerking op die koning gehad het.

19. Wat was Festus en Agrippa se beslissing aangaande Paulus?

19 Toe het Agrippa en Festus opgestaan, wat die einde van die verhoor aangedui het. “Terwyl hulle op pad uit was, het hulle vir mekaar gesê: ‘Hierdie man doen niks wat die dood of tronkstraf verdien nie.’ Agrippa het toe vir Festus gesê: ‘Hierdie man kon vrygelaat gewees het as hy nie gesê het dat die keiser sy saak moet verhoor nie’” (Hand. 26:31, 32). Hulle het geweet dat ’n onskuldige man voor hulle gestaan het. Dalk sou hulle Christene nou meer goedgesind wees.

20. Watter resultate het Paulus se getuienis voor hoë amptenare gehad?

20 Nie een van die magtige heersers in hierdie verslag het blykbaar die goeie nuus van God se Koninkryk aanvaar nie. Was dit dan verstandig dat die apostel Paulus voor hierdie manne verskyn het? Die antwoord is ja. Die feit dat Paulus in Judea “voor konings en goewerneurs gebring” is, het tot ’n getuienis in Romeinse regeringskringe gelei wat destyds dalk nie bereik kon word nie (Luk. 21:12, 13). Sy ondervindinge en getrouheid tydens beproewinge het ook sy broers en susters in die geloof aangemoedig. – Fil. 1:12-14.

21. Watter positiewe resultate sal ons moontlik sien as ons in die Koninkrykswerk volhard?

21 Dieselfde gebeur vandag. Deur in die Koninkrykswerk te volhard ten spyte van beproewinge en teenstand, sal ons dalk ’n aantal positiewe resultate sien. Ons kan moontlik vir beamptes getuig wat andersins moeilik sou wees om te bereik. Ons getroue volharding kan ’n bron van aanmoediging wees vir ons Christenbroers en -susters en kan hulle beweeg om met selfs groter vrymoedigheid deeglik te getuig oor God se Koninkryk.

DIE ROMEINSE PROKURATOR PORCIUS FESTUS

Ons enigste eerstehandse inligting oor Porcius Festus kom uit Die Handelinge van die Apostels en die geskrifte van Flavius Josefus. Festus het Feliks omstreeks 58 HJ as prokurator van Judea opgevolg en het klaarblyklik gesterf net twee of drie jaar nadat hy aan bewind gekom het.

Porcius Festus.

In teenstelling met sy voorganger, Feliks, en sy opvolger, Albinus, was Festus blykbaar oor die algemeen ’n skerpsinnige en bekwame prokurator. Aan die begin van Festus se ampstermyn was daar baie struikrowers in Judea. Volgens Josefus “het Festus . . . toegesien dat dié wat die rus in die land versteur het, gestraf word. Hy het dus die meeste van die rowers gevang en baie van hulle doodgemaak.” Gedurende sy bewind het die Jode ’n muur gebou om te voorkom dat koning Agrippa sien wat in die tempelgebied plaasvind. Festus het hulle aanvanklik beveel om dit af te breek. Maar op versoek van die Jode het hy hulle later toegelaat om die saak aan die Romeinse keiser Nero voor te lê.

Festus het blykbaar ’n sterk standpunt teen misdadigers en oproermakers ingeneem. Maar omdat hy ’n goeie verhouding met die Jode wou behou, was hy bereid om geregtigheid te ignoreer – ten minste in sy handelinge met die apostel Paulus.

KONING HERODES AGRIPPA II

Die Agrippa waarna Handelinge hoofstuk 25 verwys, is koning Herodes Agrippa II, die agterkleinseun van Herodes die Grote en seun van die Herodes wat die gemeente in Jerusalem 14 jaar vroeër aangeval het (Hand. 12:1). Agrippa was die laaste van die Herodiaanse vorste.

Koning Herodes Agrippa II.

By die dood van sy pa in 44 HJ was die 17-jarige Agrippa in Rome, waar hy aan die hof van die Romeinse keiser Claudius opgevoed is. Die keiser se raadgewers het gedink dat Agrippa te jonk is om sy pa se ryk te erf; daarom is ’n Romeinse goewerneur in sy plek aangestel. Volgens Flavius Josefus het Agrippa nietemin vir die Jode ingetree en hulle belange verteenwoordig terwyl hy nog in Rome was.

Omstreeks 50 HJ het Claudius vir Agrippa as koning aangestel oor Chalkis, en in 53 HJ oor Iturea, Tragonitis en Abilene. Agrippa is ook toesig oor die tempel in Jerusalem gegee, met die gesag om die Joodse hoëpriesters aan te stel. Claudius se opvolger Nero het Agrippa se ryk vergroot sodat dit dele van Galilea en Perea ingesluit het. Toe hy Paulus ontmoet het, was Agrippa in Sesarea saam met sy suster Bernice, wat haar man, die koning van Silisië, verlaat het. – Hand. 25:13.

In 66 HJ, toe Agrippa se pogings misluk het om die Joodse opstand teen Rome tot bedaring te bring, het hy self ’n teiken van die rebelle geword en was sy enigste uitweg om hom by die Romeine te skaar. Nadat die Joodse opstand onderdruk is, het ’n nuwe keiser, Vespasianus, nog gebiede vir Agrippa as beloning gegee.

a Sien die venster “Die Romeinse prokurator Porcius Festus”.

b “Die regterstoel” was ’n stoel wat op ’n verhoog geplaas is. Die verhewe posisie het as ’t ware gewig en finaliteit aan die regter se uitspraak verleen. Pilatus het op ’n regterstoel gesit toe hy die aanklagte teen Jesus oorweeg het.

c Sien die venster “Appèlsake ten behoewe van ware aanbidding in hedendaagse tye”.

d Sien die venster “Koning Herodes Agrippa II”.

e As ’n Christen het Paulus Jesus as die Messias aanvaar. Die Jode, wat Jesus verwerp het, het Paulus as ’n afvallige beskou. – Hand. 21:21, 27, 28.

f Aangaande Paulus se woorde dat hy “in die middel van die dag” gereis het, het een Bybelgeleerde gesê: “Tensy ’n reisiger baie haastig was, het hy gedurende die middaghitte gerus. Hieruit sien ons hoe Paulus homself gedryf het op hierdie vervolgingsveldtog.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel