HOOFSTUK VYF
Watter soort vriende sal jy kies?
1, 2. (a) Voor watter uitdagings kom Christene te staan in verband met vriende? (b) Waarom moet ons in Jeremia se keuse van vriende belangstel?
WAT sal jy doen as sommige van jou kollegas, bure of skoolmaats jou nooi om ’n Kerspartytjie by te woon? Sê nou jou werkgewer vra jou om leuens te vertel of iets onwettigs te doen? Of gestel die regeringsowerheid vereis van jou om aan nieneutrale bedrywighede deel te neem. Jou gewete sal waarskynlik vir jou sê om nie een van hierdie dinge te doen nie, al sal jy ook as gevolg van jou weiering bespot of selfs erger behandel word.
2 Soos ons sal sien, het Jeremia dikwels voor soortgelyke uitdagings te staan gekom. Jy kan beslis daarby baat vind om te kyk na party van die persone en groepe met wie Jeremia gedurende sy jare van diens in aanraking gekom het. Sommige van hulle het hom probeer ontmoedig om sy opdrag uit te voer. Jeremia moes soms noue kontak met hulle hê, maar hulle was beslis nie sy gekose vriende nie. Jy kan egter daarby baat vind om te let op die vriende wat Jeremia wel gekies het, dié wat hom ondersteun het en hom versterk het in sy voorneme om getrou te bly. Ja, ons kan leer uit Jeremia se besluite in verband met vriende.
WATTER VRIENDSKAPPE KNOOP JY AAN?
3. Wat wou Sedekia van Jeremia hê, en hoe het Jeremia gereageer?
3 Koning Sedekia het Jeremia ’n hele paar keer voor die vernietiging van Jerusalem geraadpleeg. Waarom? Die koning het gehoop dat hy gerusstellende antwoorde sou kry op vrae oor die toekoms van sy ryk. Hy wou hê dat Jeremia moes aankondig dat goddelike ingryping Juda van sy vyande sou red. Sedekia het Jeremia deur middel van boodskappers gevra: “Raadpleeg Jehovah asseblief ten behoewe van ons, want Nebukadresar, die koning van Babilon, voer oorlog teen ons. Miskien sal Jehovah met ons handel volgens al sy wonderlike werke, sodat [Nebukadresar] van ons af sal wegtrek” (Jer. 21:2). Die koning wou nie God se raad volg om aan Babilon oor te gee nie. Een geleerde het Sedekia vergelyk met “’n pasiënt wat keer op keer na ’n dokter terugkeer om gerusgestel te word, maar nie bereid is om die voorgeskrewe medisyne te neem nie”. Wat van Jeremia? Hy kon gewild geword het deur vir Sedekia te sê wat hy wil hoor. Waarom het Jeremia dan nie net sy boodskap verander en sy lewe vergemaklik nie? Hy het geweier om dit te doen omdat Jehovah vir hom gesê het om bekend te maak dat Jerusalem sou val.—Lees Jeremia 32:1-5.
4. Watter besluite moet ons neem oor die vriendskappe wat ons aanknoop, soos by die werk?
4 In sekere opsigte kom jou situasie ooreen met dié van Jeremia. Jy het ongetwyfeld kontak met bure, werksmaats of skoolmaats wat in sekere sin metgeselle is. Maar sal jy sake verder voer deur vriendskappe met hulle aan te knoop, al het hulle getoon dat hulle nie daarin belangstel om God se riglyne te hoor of te volg nie? Jeremia kon Sedekia nie heeltemal vermy nie; hy was nog steeds die koning, al het hy geweier om God se raad te volg. Maar Jeremia was nie verplig om hom te skik na die koning se verkeerde denke of om sy guns te probeer wen nie. As Jeremia aan Sedekia se wense voldoen het, sou die koning hom wel met geskenke en ander gunste oorlaai het. Nietemin het Jeremia geweier om te swig voor enige druk of versoeking om na aan Sedekia te wees. Waarom? Omdat Jeremia nie van plan was om die standpunt te verander wat Jehovah gesê het hy moet inneem nie. Jeremia se voorbeeld moet ons beweeg om te ondersoek of diegene wat ons as vriende gekies het, ons aanspoor om aan God lojaal te wees. Jy kan nie alle kontak vermy met mense wat God nie dien nie—dié by die werk, by die skool of in julle buurt (1 Kor. 5:9, 10). Maar jy besef dat jy heel moontlik jou vriendskap met God in gevaar sal stel as jy hulle as vriende kies.
MOET ONS MET SKEPTIESE MENSE ASSOSIEER?
5, 6. Wat het party gedoen in ’n poging om Jeremia stil te maak?
5 Dit was nie net Sedekia wat ’n negatiewe invloed op Jeremia probeer uitoefen het nie. ’n Priester met die naam Pasgur het Jeremia “geslaan”, dalk deur hom 39 houe te laat gee (Jer. 20:2; Deut. 25:3). Sommige Judese vorste het iets soortgelyks gedoen en Jeremia toe in “die gevangenis” opgesluit. Die profeet is in ’n kerker gesit onder toestande wat so sleg was dat hy ná baie dae gevrees het dat hy daar sou sterf. (Lees Jeremia 37:3, 15, 16.) Toe, nadat Jeremia ’n ruk lank vry was, het ander vorste Sedekia aangehits om hom tereg te stel. Volgens hulle het hy die moraal van Juda se troepe ondermyn. Dit het daartoe gelei dat die profeet in ’n modderput gegooi is om te sterf (Jer. 38:1-4). Jy het gelees dat Jeremia van daardie verskriklike dood gered is. Maar hierdie gebeure lig toe hoe diegene wat van beter moes geweet het, skepties geraak het oor wat God se profeet gesê het; hulle het teen hom gedraai.
6 Dit was nie net die burgerlike owerhede wat Jeremia se vyande was nie. By ’n ander geleentheid het manne van Jeremia se tuisstad Anatot—’n mens kan maar sê sy bure—gedreig om hom dood te maak as hy nie ophou profeteer nie (Jer. 11:21). Hulle het nie gehou van wat hulle by hom gehoor het nie en het hom gedreig. Maar Jeremia het Jehovah as vriend gekies eerder as sy bure. Ander tydgenote het nie net gedreig nie. Toe Jeremia op aanskoulike wyse gebruik gemaak het van ’n juk om die Jode aan te spoor om hulle nek onder die juk van die koning van Babilon te bring en sodoende te bly lewe, het Hananja die houtjuk van Jeremia se nek afgeneem en dit gebreek. Volgens daardie valse profeet het Jehovah gesê: “Ek sal die juk van die koning van Babilon verbreek.” Hananja het in daardie selfde jaar gesterf, en jy weet watter profeet betroubaar bewys is (Jer. 28:1-11, 17). Nadat Jerusalem vernietig is soos Jeremia gewaarsku het, het Johanan en ander krygshoofde geweier om God se bevel te gehoorsaam om in die land van Juda te bly. “Dit is ’n leuen wat jy spreek”, het hulle vir Jeremia gesê. “Ons God het jou nie gestuur om te sê: ‘Moenie Egipte binnegaan om daar . . . te woon nie.’” Hulle het Jehovah verder geminag deur Jeremia en Barug saam met hulle na Egipte te neem.—Jer. 42:1–43:7.
Met watter soort mense het Jeremia te doen gehad? Wat leer jy uit Jeremia se voorbeeld?
7. Watter uitdaging in verband met getrouheid aan Jehovah moet jy die hoof bied?
7 Jeremia was jare lank omring deur skeptiese mense en teenstanders. Dink na oor wat hy gedoen het. Hy kon hom maklik daarby berus het om maar die vriendskap te aanvaar van mense wat min respek vir God of Sy Woord gehad het. Hulle was oral om hom. Wat van jou situasie? Jy het waarskynlik al te doen gehad met mense wat baie dieselfde is as dié wat Jeremia omring het. Hetsy hulle jou en jou God daadwerklik teëstaan of lyk of hulle redelik aangename mense is, sal jy hulle as vriende kies? Sal dit verstandig wees om met mense te assosieer wat nie God se profesieë ernstig opneem nie? Sou Jeremia, as hy in jou plek was, mense as vriende gekies het wie se lewenswyse die waarheid van God se Woord verloën of wat hulle vertroue in mense stel? (2 Kron. 19:2). God het Jeremia in geen twyfel gelaat oor wat die gevolge is wanneer daar op mense in plaas van op God vertrou word nie. (Lees Jeremia 17:5, 6.) Hoe voel jy hieroor?
8. Beskryf uitdagings waarvoor Christene in jou gebied te staan kan kom.
8 Party Christene het gevoel dat hulle hulle besigheid of loopbaan kan bevorder deur wêreldse kliënte te onthaal. Maar sal so ’n handelswyse hierdie Christene blootstel aan verdorwe assosiasie en gevare, soos vuil praatjies of strawwe drinkery? Jy kan verstaan waarom baie Christene wat voor so ’n besluit te staan kom, kies om slegte assosiasie te vermy al beteken dit dat hulle moontlike winste of vooruitgang in ’n wêreldse sin moet prysgee. ’n Werkgewer of kollegas sal dalk eweneens nie skroom om oneerlik te wees met klante nie. Maar ware Christene laat hulle nie beïnvloed deur die mense om hulle nie. Soms kan dit moeilik wees om oor sulke sake te besluit. Ons kan dankbaar wees vir voorbeelde soos Jeremia, wat ’n weg bly volg het wat hom ’n goeie gewete en, nog belangriker, ’n goeie verhouding met God laat behou het.
9. Watter gevaar hou dit in om gewild te wil wees?
9 Jeremia se standpunt en oortuigings het hom by party mede-Judeërs ’n voorwerp van bespotting gemaak (Jer. 18:18). Tog was hy bereid om opvallend anders te wees as sy tydgenote wat “die gewilde weg” gevolg het (Jer. 8:5, 6). Jeremia was selfs bereid om soms alleen te wees, ‘om heeltemal alleen te sit’. Hy het dit verkies bo slegte geselskap, bo vriendskap met dié wat ’n negatiewe invloed op hom sou hê. (Lees Jeremia 9:4, 5; 15:17.) Wat van jou? Vandag, soos in Jeremia se dag, is die gewilde weg ’n weg van ontrouheid aan God. Jehovah se knegte moet al lank versigtig wees met betrekking tot hulle keuse van vriende. Dit wil nie sê dat Jeremia geen vriende gehad het nie. Party mense het hom verdedig en ondersteun. Wie was hierdie mense? Dit kan jou baie help om dit te weet.
WATTER SOORT VRIENDE HET JEREMIA GEKIES?
10, 11. (a) Watter beginsels het Jeremia se keuse van vriende gerig? (b) Wie was Jeremia se vriende, en watter vrae ontstaan oor hulle?
10 Met wie sou Jeremia vriendskappe aanknoop? Onder Jehovah se leiding het hy herhaaldelik dié veroordeel wat goddeloos, bedrieglik, onregverdig, gewelddadig, liefdeloos en onsedelik was—dié wat ware aanbidding vir afgodediens versaak het en sodoende geestelike prostitusie gepleeg het. Hy het sy mede-Judeërs aangespoor: “Keer asseblief terug, elkeen van sy slegte weg, en maak julle weë en julle handelinge goed” (Jer. 18:11). Selfs ná Jerusalem se vernietiging het Jeremia God se “dade van liefderyke goedhartigheid”, sy “barmhartighede” en sy “getrouheid” geloof (Klaagl. 3:22-24). Jeremia wou net getroue knegte van Jehovah as vriende hê.—Lees Jeremia 17:7.
11 Ons is nie heeltemal in die duister oor diegene wat Jeremia as vriende, of intieme metgeselle, gekies het nie. ’n Aantal mans het hom klaarblyklik ondersteun—Ebed-Meleg, Barug, Seraja en die seuns van Safan. Ons kan vra: ‘Watter soort persone was hierdie mans? Watter assosiasie het hulle met Jeremia gehad? In watter sin was hulle goeie vriende? En hoe het hulle Jeremia gehelp om sy onkreukbaarheid te handhaaf?’ Kom ons kyk, terwyl ons ons eie situasie in gedagte hou.
12. (a) Wat het Jeremia en Barug, wat op bladsy 58 uitgebeeld word, in gemeen gehad? (b) Wie was Seraja, en wat weet ons van hom?
12 Die profeet se beste vriend was blykbaar Barug, die seun van Neria. Jeremia het met vertroue die verantwoordelikheid aan hom toevertrou om Jehovah se uitsprake neer te skryf terwyl die profeet dit gedikteer het en dan hierdie boekrol voor te lees, eers in die openbaar en dan aan Juda se vorste (Jer. 36:4-8, 14, 15). Barug het dieselfde geloof en oortuiging as Jeremia gehad dat wat God voorspel het, sou gebeur. Hierdie mans het gedurende Juda se laaste 18 onstuimige jare soortgelyke ondervindinge gehad. Hulle het baie tyd saam aan dieselfde geestelike toewysing bestee. Albei het probleme ondervind en moes vir vyande wegkruip. En albei het persoonlike bemoediging van Jehovah ontvang. Barug het blykbaar aan ’n vooraanstaande familie van skrywers in Juda behoort. Die Skrif noem hom “die sekretaris”, en sy broer Seraja was ’n belangrike staatsamptenaar. Soos Barug, het Seraja later saam met Jeremia gewerk om Jehovah se profetiese boodskappe oor te dra (Jer. 36:32; 51:59-64). Die gewilligheid van hierdie twee seuns van Neria om tydens daardie moeilike tye saam met Jeremia te werk, het die profeet sekerlik versterk en aangemoedig. Jy kan ook krag en bemoediging ontvang van dié wat getrou sy aan sy met jou in Jehovah se diens werk.
Wat kan jy uit Jeremia se keuse van vriende leer?
13. Hoe het Ebed-Meleg bewys dat hy ’n goeie vriend van Jeremia was, soos uitgebeeld word op bladsy 63?
13 Ebed-Meleg was nog ’n uitsonderlike ondersteuner van Jeremia. Toe woedende vorste Jeremia in ’n leë reënput gegooi het om te sterf, was die man wat dit gewaag het om hom te verdedig, ’n uitlander, Ebed-Meleg, die Etiopiër. Hy was ’n eunug, dit wil sê ’n amptenaar in die koning se huis. Hy het Sedekia, wat in die Benjaminspoort gesit het, in die openbaar genader. Ebed-Meleg het Sedekia moedig om toestemming gevra om Jeremia uit die modderput te red. Hy het 30 manne saam met hom geneem om dit te doen, wat te kenne gee dat Ebed-Meleg dalk verwag het dat Jeremia se vyande hom sou probeer keer (Jer. 38:7-13). Ons weet nie presies hoeveel Ebed-Meleg met Jeremia geassosieer het nie. In die lig van hulle vriendskap met Jehovah is dit logies om aan te neem dat die twee goeie vriende was. Ebed-Meleg het geweet dat Jeremia Jehovah se profeet is. Hy het die vorste se optrede as “sleg” bestempel en was bereid om sy eie posisie in gevaar te stel om te doen wat reg is. Ja, Ebed-Meleg was ’n goeie man. Hy was so goed dat Jehovah hom verseker het: “Ek sal jou in [die dag van Jerusalem se rampspoed] verlos . . . omdat jy op my vertrou het.” (Lees Jeremia 39:15-18.) Wat ’n aanbeveling! Is dit nie die soort vriend wat jy wil hê nie?
14. Wat weet ons van Safan se familie en hulle kontak met Jeremia?
14 Jeremia se ander vriende het drie seuns en ’n kleinseun van Safan ingesluit. Hulle het aan ’n familie van hooggeplaaste manne behoort; Safan het vroeër as die sekretaris van koning Josia gedien. Toe Jeremia se vyande die profeet die eerste keer wou doodmaak, “was die hand van Ahikam, die seun van Safan, met Jeremia, sodat hy nie in die hand van die volk gegee is” nie (Jer. 26:24). Ahikam het ’n broer gehad met die naam Gemarja. Toe Barug God se oordele in die openbaar voorgelees het, het Gemarja se seun Migaja hom gehoor en sy vader en ander vorste gewaarsku. Hulle was bekommerd oor hoe Jojakim sou reageer en het Jeremia en Barug dus aangeraai om weg te kruip. En toe die koning die goddelike boodskap verwerp het, was Gemarja onder dié wat by die koning gepleit het om nie die boekrol te verbrand nie (Jer. 36:9-25). Jeremia het aan nog ’n seun van Safan, Elasa, ’n profetiese brief aan die Joodse ballinge in Babilon toevertrou (Jer. 29:1-3). Daar was dus drie seuns en een kleinseun van Safan wat almal God se profeet ondersteun het. Dink net hoe Jeremia tog hierdie mans moes waardeer het! Hulle was vriende, maar nie omdat hulle van dieselfde kos of drank of van dieselfde vermaak of stokperdjies gehou het nie. Die vriendskap was gegrond op baie meer.
KIES JOU VRIENDE WYSLIK
15. Watter goeie voorbeeld het Jeremia gestel in sy keuse van vriende?
15 Jy kan leer uit Jeremia se handelinge met sy tydgenote, die slegtes en die goeies. Die koning, baie vorste, valse profete en krygshoofde het druk op hom geplaas om sy boodskap te verander. Maar Jeremia het onwrikbaar gebly. Sy standpunt het hom nie by daardie mans gewild gemaak nie, maar Jeremia het nie húlle vriendskap gesoek nie. Sy beste vriend was altyddeur Jehovah. As vyandigheid in sekere kringe die prys was vir getrouheid aan sy God, dan was Jeremia bereid om dit te betaal. (Lees Klaagliedere 3:52-59.) Maar soos ons gesien het, was Jeremia nie alleen in sy vasbeslotenheid om Jehovah te dien nie.
16, 17. (a) Watter hulp kan ’n kneg van Jehovah van ’n goeie vriend ontvang? (b) Waar kan jy die beste vriende vind, ongeag in watter land jy woon?
16 Dit was Ebed-Meleg se geloof en vertroue in Jehovah wat hom ’n goeie vriend gemaak het. Hierdie man het die moed gehad om daadwerklik op te tree en het Jeremia se lewe gered. Barug het gewillig baie tyd saam met Jeremia deurgebring en het hom gehelp om Jehovah se boodskappe bekend te maak. Vandag kan goeie vriende in die Christengemeente net so kosbaar soos hierdie mans wees. Cameron, ’n 20-jarige gewone pionier, waardeer die goeie invloed wat Kara, ook ’n pionier, op haar gehad het. Cameron sê: “Kara het my deur haar voorbeeld sowel as haar woorde aangemoedig om Jehovah altyd eerste in my lewe te stel.” Die twee susters het redelik ver van mekaar af gewoon, maar Kara het gereeld vir Cameron gebel of geskryf om seker te maak dat dit goed gaan met haar vriendin asook vir wedersydse aanmoediging. “Sy het alles omtrent ons gesinsomstandighede geweet”, vertel Cameron. “Sy het geweet wat die situasie met my suster was en hoe moeilik dit vir my was toe my suster gerebelleer en die waarheid verlaat het. Sy het my deur dit alles ondersteun, en ek weet nie wat ek sonder haar positiewe invloed en hulp sou gedoen het nie. Sy was vir my ’n wonderlike steunpilaar.”
17 Jy kan goeie vriende in die Christengemeente vind, of hulle dieselfde ouderdom as jy is of nie. Jou broers en susters het dieselfde geloof, waardes, liefde vir Jehovah en verwagtinge as jy en verduur waarskynlik soortgelyke beproewinge as jy. Jy kan sy aan sy met hulle in die Christelike bediening werk. Hulle sal jou kan aanmoedig wanneer jy deur moeilike tye gaan, en jy hulle. Hulle sal saam met jou bly wees wanneer jy goeie tye in Jehovah se diens geniet. Wat meer is, sulke vriendskappe kan tot in ewigheid voortduur.—Spr. 17:17; 18:24; 27:9.
18. Wat leer jy uit Jeremia se keuse van vriende?
18 Die les wat ons uit Jeremia se keuse van vriende kan leer, behoort voor die hand liggend te wees. Hou hierdie onbetwisbare waarheid in gedagte: Jy kan nie werklik die vriendskap soek van mense wie se opvattings strydig is met Bybelleringe en nog steeds aan jou oortuigings getrou bly nie. Om in ooreenstemming met hierdie feit op te tree, is vandag net so belangrik as wat dit in Jeremia se dag was. Jeremia was bereid om anders te wees as die meeste van sy tydgenote sodat hy sy opdrag getrou en met Jehovah se seën kon uitvoer. Is dit nie ook met jou die geval nie? Jeremia het vriende gekies wat dieselfde geloof as hy gehad het en wat hom in die uitvoering van sy opdrag ondersteun het. Ja, vandag kan alle getroue Christene by Jeremia leer om hulle vriende wyslik te kies!—Spr. 13:20; 22:17.
Hoe kan jy Jeremia se voorbeeld volg wanneer jy kies met wie jy vriende sal wees en met wie nie?