Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • jr hfst. 7 bl. 81-91
  • “Ek sal die moeë siel verkwik”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Ek sal die moeë siel verkwik”
  • God se woord vir ons deur Jeremia
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DADE WAT ONTMOEDIGEND KAN WEES
  • SAL JY MOEË SIELE VERKWIK?
  • “Ek kan nie stilbly nie”
    God se woord vir ons deur Jeremia
  • Watter soort vriende sal jy kies?
    God se woord vir ons deur Jeremia
  • “Ek het my woorde in jou mond gelê”
    God se woord vir ons deur Jeremia
  • Jehovah stuur Jeremia om te preek
    Lesse wat jy kan leer uit die Bybel
Sien nog
God se woord vir ons deur Jeremia
jr hfst. 7 bl. 81-91

HOOFSTUK SEWE

“Ek sal die moeë siel verkwik”

1. Na watter seën van die nuwe wêreld sien jy die meeste uit?

“DIE nuwe wêreld.” Dink jy aan party van die voorspelde sigbare seëninge wanneer jy hierdie woorde hoor? Miskien ’n volmaakte liggaam, volop gesonde kos, vreedsame diere of veilige behuising. Jy kan waarskynlik Bybelverse aanhaal waarop jy hierdie verwagtinge grond. Maar moenie hierdie seën oor die hoof sien nie—goeie geestelike en emosionele gesondheid. Daarsonder sal alle ander vreugdes gou verdwyn.

2, 3. Watter spesiale seën help Jeremia se geskrifte ons om te verwag?

2 Toe God Jeremia laat voorspel het dat die Jode uit Babilon sou terugkeer, het Hy die aandag gevestig op hoe hulle sou voel: “Jy sal jou weer met jou tamboeryne versier en uitgaan in die dans van dié wat lag.” (Lees Jeremia 30:18, 19; 31:4, 12-14.) God het iets bygevoeg wat moontlik jou hart sal raak: “Ek sal die moeë siel verkwik, en elke kwynende siel sal ek vul.” Die NET Bible gee God se belofte só weer: “Ek sal die behoeftes van dié wat moeg is, ten volle bevredig en die siele van dié wat swak is, ten volle verkwik.”—Jer. 31:25.

3 Wat ’n vooruitsig! Jehovah het gesê dat hy die moeë en mismoedige persoon sal verkwik, of ten volle sal bevredig. Ja, en wat God belowe, doen hy. Jeremia se geskrifte gee ons die vertroue dat ons ook bevredig sal word. Wat meer is, hierdie geskrifte bied ons insig in hoe ons nou reeds aangemoedig en optimisties kan voel. Dit lig ook praktiese maniere toe waarop ons ander kan aanmoedig en hulle sodoende kan help om hulle moeë siel te bevredig.

4. Waarom kan ons ons met Jeremia se gevoelens vereenselwig?

4 Hierdie belofte was ’n bron van vertroosting vir Jeremia, en dit kan ons ook vertroos. Waarom? Dink aan ’n punt wat in Hoofstuk 1 van hierdie boek gemeld is—dat Jeremia “’n mens met gevoelens soos ons s’n” was, net soos Elia (Jak. 5:17). Dink nou aan net ’n paar redes waarom Jeremia soms ontmoedig of selfs effens terneergedruk kon gevoel het. Terwyl jy dit doen, kan jy jou probeer indink hoe jy in soortgelyke situasies sal voel en waarom omstandighede wat jy ondervind, jou kan ontmoedig.—Rom. 15:4.

5. Wat kon Jeremia ontmoedig het?

5 Jeremia se ontmoediging het moontlik deels van sy tuisdorp gekom. Hy het in Anatot grootgeword. Dit was ’n Levitiese stad ’n paar kilometer noordoos van Jerusalem. Die profeet sou kennisse en miskien familielede in Anatot gehad het. Jesus het gesê dat ’n profeet in sy vaderland geen eer geniet nie, en dit was die geval met Jeremia (Joh. 4:44). Die dorpsmense het nie net ’n gebrek aan belangstelling in of respek vir Jeremia getoon nie. God het gesê dat “die manne van Anatot” by een geleentheid Jeremia se ‘siel gesoek het’. Hulle het strydlustig gesê: “Jy moenie in die naam van Jehovah profeteer nie, sodat jy nie deur ons hand sterf nie.” Wat ’n dreigement van bure en moontlik familielede, wat hom eintlik moes ondersteun het!—Jer. 1:1; 11:21.

Prent op bladsy 83

6. Hoe kan jy by Jeremia se ondervinding met “die manne van Anatot” baat vind as werksmaats of ander jou teëstaan?

6 As jy druk van bure, skool- of werksmaats of selfs party familielede ondervind, kan jy vertroosting put uit hoe Jehovah met Jeremia gehandel het. God het destyds gesê dat hy ‘sy aandag sou rig op’ dié in Anatot wat sy profeet teëgestaan het. (Lees Jeremia 11:22, 23.) God se versekering het Jeremia ongetwyfeld gehelp om enige ontmoediging weens hierdie plaaslike teenstand te bowe te kom. Later sou—en het—God se aandag “rampspoed oor die manne van Anatot” tot gevolg gehad. In jou geval kan jy verseker wees dat Jehovah sake waarneem, of aandag daaraan skenk (Ps. 11:4; 66:7). As jy “bly by” Bybelleringe en doen wat reg is, sal dit dalk sommige teenstanders help om die rampspoed te vermy wat hulle andersins sal tref.—1 Tim. 4:16.

Wat in die boek Jeremia toon dat God in die gevoelens van sy knegte belangstel, en hoe het dit die profeet moontlik gehelp?

DADE WAT ONTMOEDIGEND KAN WEES

7, 8. Watter soort mishandeling het Jeremia verduur, en watter uitwerking het dit op hom gehad?

7 Jeremia het met baie meer as net dreigemente van mense in sy tuisdorp te kampe gehad. Een geval het verband gehou met ’n vooraanstaande man in Jerusalem, ’n priester met die naam Pasgur.a Toe hy ’n goddelike profesie gehoor het, “het Pasgur die profeet Jeremia geslaan en hom in die blok gesit” (Jer. 20:1, 2). Hierdie woorde verwys waarskynlik na baie meer as net ’n klap in die gesig. Party maak die gevolgtrekking dat Pasgur Jeremia laat slaan of gesel het met tot 40 houe (Deut. 25:3). Terwyl Jeremia fisies gely het, het mense hom moontlik uitgejou en luidkeels sleggesê, miskien selfs op hom gespoeg. Dit het nie daar geëindig nie. Pasgur het Jeremia oornag “in die blok gesit”. Die Hebreeuse woord wat gebruik word, gee te kenne dat die liggaam verwronge en gebuig was. Ja, Jeremia is wreedaardig gedwing om ’n pynlike nag te verduur terwyl hy waarskynlik in ’n houtraam vasgemaak was.

8 Watter uitwerking het hierdie behandeling op Jeremia gehad? Hy het vir God gesê: “Ek het die hele dag ’n voorwerp van gelag geword” (Jer. 20:3-7). Die gedagte het selfs by hom opgekom om op te hou om in God se naam te spreek. Jy weet egter dat Jeremia dit nie kon doen of gedoen het nie. Inteendeel, die goddelike boodskap wat hy beveel is om bekend te maak, was “soos ’n brandende vuur, opgesluit in [Jeremia se] gebeente”, en hy moes eenvoudig namens Jehovah spreek.—Lees Jeremia 20:8, 9.

Prent op bladsy 84, 85

9. Waarom is dit vir ons nuttig om oor Jeremia se ondervinding na te dink?

9 Hierdie verslag kan ons help as ons venynige bespotting moet verduur van mense wat ons ken, hetsy dit familielede, bure, werks- of skoolmaats is. Ons hoef nie geskok te wees as sulke teenstand ons soms ietwat mismoedig laat voel nie. Dit kan ook gebeur as ons fisiese mishandeling ondergaan omdat ons ware aanbidding beoefen. Hierdie dinge het ’n uitwerking op die onvolmaakte man Jeremia gehad—en het ons nie menslike gevoelens net soos hy nie? Maar ons moenie vergeet dat Jeremia, met God se hulp, sy vreugde en vertroue herwin het nie. Die ontmoediging was nie blywend nie, en dit hoef ook nie in ons geval blywend te wees nie.—2 Kor. 4:16-18.

10. Watter insig gee die Bybel ons in Jeremia se gemoedstemming?

10 Soms het Jeremia se gemoedstemming verander, selfs in groot mate. Het jy al iets soortgelyks ondervind—miskien het jy optimisties en positief gevoel maar dan terneergedruk en droefgeestig? Wat die eersgenoemde gevoel betref, let op die woorde in Jeremia 20:12, 13. (Lees.) Ná wat Pasgur hom laat deurmaak het, het Jeremia hom daaroor verheug dat hy soos een van die armes was wat “uit die hand van die kwaaddoeners” verlos is. Jy het miskien al soms lus gevoel om te jubel, om tot Jehovah te sing, hetsy dit was nadat jy op die een of ander manier verlos is of in reaksie op ’n vreugdevolle gebeurtenis in jou lewe of Christelike diens. Hoe aangenaam is dit tog om so te voel!—Hand. 16:25, 26.

Prent op bladsy 86

Watter uitwerking kan teenstand of bespotting op ons emosies hê?

11. Wat moet ons omtrent Jeremia in gedagte hou as ons geneig is tot veranderinge in gemoedstemming?

11 Maar omdat ons onvolmaak is, kan ons gemoedstemming verander, soos met Jeremia die geval was. Nadat hy uitgeroep het: “Sing tot Jehovah”, het hy in diepe wanhoop verval, moontlik selfs gehuil. (Lees Jeremia 20:14-16.) Hy was so terneergedruk dat hy gewonder het wat die nut daarvan was dat hy gebore is! In sy droefgeestige toestand het hy gesê dat die man wat sy geboorte aangekondig het, net so betreurenswaardig is soos Sodom en Gomorra. Maar hier is ’n belangrike punt: Het Jeremia wanhopig gebly? Het hy tou opgegooi en hom oorgegee aan voortslepende gevoelens van mismoedigheid? Nee. Hy het hom ongetwyfeld eerder daarop toegelê om sy mismoedigheid te bowe te kom, en hy het daarin geslaag. Kyk na wat die boek Jeremia vervolgens sê. Die ander Pasgur, die vors, het na Jeremia toe gekom met ’n vraag van koning Sedekia oor die Babiloniërs se beleëring van Jerusalem. Jeremia het positief gereageer en moedig Jehovah se oordeel bekend gemaak, asook hoe sake sou afloop (Jer. 21:1-7). Dit is duidelik dat Jeremia bedrywig gebly het as ’n profeet!

12, 13. Wat kan ons doen om wesenlike veranderinge in ons gemoedstemming die hoof te bied?

12 Vandag ervaar party van God se knegte ook veranderinge in gemoedstemming. Dit kan ’n fisiese oorsaak hê—miskien ’n skielike verandering in hormoonvlakke of ’n biochemiese wanbalans—en ’n bekwame dokter kan maniere voorstel waarop die intensiteit van hierdie gemoedswisselinge beperk kan word (Luk. 5:31). Maar vir die meeste van ons is die opgeruimdheid of droefgeestigheid wat ons soms ervaar, nie uitermatig of abnormaal nie. Die meeste negatiewe gevoelens is waarskynlik deel van die onvolmaakte menselewe. Dit kan die gevolg wees van moegheid of die dood van ’n geliefde. As ons ons in so ’n situasie bevind, kan ons daaraan dink dat Jeremia ondanks veranderinge in gemoedstemming in God se guns gebly het. Om aan die gang te bly, moet ons dalk aanpassings in ons roetine maak sodat ons meer rus kan kry. Of ons moet ons tyd gun om vertroosting te vind ná ons pynlike verlies. Dit is egter van die allergrootste belang dat ons aanhou om Christelike vergaderinge by te woon en gereeld aan teokratiese bedrywighede deel te neem. Dit is sleutelfaktore as ons gebalanseerd wil bly en God met vreugde wil dien.—Matt. 5:3; Rom. 12:10-12.

13 Hetsy jou terneergedruktheid iets seldsaams is of deel is van ’n patroon van veranderinge in gemoedstemming, Jeremia se ondervinding kan jou help. Soos gemeld is, het hy soms redelik bedruk gevoel. Hy het nogtans nie toegelaat dat mismoedigheid hom die rug laat keer op die God vir wie hy lief was en getrou gedien het nie. Wanneer sy teenstanders die goeie dinge wat hy gedoen het, met kwaad vergeld het, het hy hom tot Jehovah gewend en op hom vertrou (Jer. 18:19, 20, 23). Wees vasbeslote om Jeremia na te volg.—Klaagl. 3:55-57.

Hoe kan jy toepas wat jy in die boek Jeremia lees as jy soms mismoedig of droefgeestig voel?

SAL JY MOEË SIELE VERKWIK?

14. Hoe is Jeremia hoofsaaklik aangemoedig?

14 Dit sal verstandig wees van ons om aandag te skenk aan hoe Jeremia aangemoedig is en hoe hy ander aangemoedig het wat ‘moeë siele’ was (Jer. 31:25). Die profeet het hoofsaaklik van Jehovah aanmoediging ontvang. Dink net hoe opbouend dit vir jou sou gewees het om Jehovah vir jou te hoor sê: “Wat my betref, kyk, ek het jou vandag ’n versterkte stad . . . gemaak . . . Hulle sal vir seker teen jou veg, maar hulle sal nie die oorhand oor jou kry nie, want ‘ek is met jou’, is die woord van Jehovah, ‘om jou te verlos’” (Jer. 1:18, 19). Jeremia het met goeie rede na Jehovah verwys as “my sterkte en my vesting en my toevlug in die dag van benoudheid”.—Jer. 16:19.

15, 16. Watter aanduiding gee die manier waarop Jehovah Jeremia aangemoedig het, ons van wat ons kan doen om ander aan te moedig?

15 Dit is opmerkenswaardig dat Jehovah vir Jeremia gesê het: “Ek is met jou.” Gee dit jou ’n aanduiding van wat jy kan doen wanneer iemand wat jy ken, aanmoediging nodig het? Dit is een ding om te besef dat ’n Christenbroer of -suster of miskien ’n familielid ’n behoefte hieraan het; dit is iets anders om doeltreffend in hierdie behoefte te voorsien. In baie gevalle is dit die doeltreffendste om te doen wat God vir Jeremia gedoen het—om net by die geteisterde te wees. Dan, op die een of ander stadium, kan jy hom of haar met woorde aanmoedig, maar nie met ’n stortvloed woorde nie. Minder woorde sal waarskynlik van groter hulp wees as dit woorde is wat gekies is om gerus te stel en op te bou. Wat jy sê, hoef nie besonder indrukwekkend te wees nie. Gebruik eenvoudige woorde wat belangstelling, besorgdheid en Christelike liefde openbaar. Sulke woorde kan baie help.—Lees Spreuke 25:11.

16 Jeremia het gevra: “O Jehovah, dink aan my en rig u aandag op my.” En toe? Die profeet vertel: “U woorde is gevind en ek het hulle opgeëet; en u woord word vir my die verheuging en die blydskap van my hart” (Jer. 15:15, 16). Die een wat jy wil aanmoedig, het dalk eweneens liefdevolle aandag nodig. Jou woorde is weliswaar nie op dieselfde vlak as dié van Jehovah nie. Maar jy kan van God se woorde insluit by wat jy sê. Sulke opregte, hartlike woorde wat op die Bybel gegrond is, kan die hart van die mismoedige waarlik bly maak.—Lees Jeremia 17:7, 8.

17. Watter belangrike les kan ons leer uit hoe Jeremia met Sedekia en Johanan gehandel het?

17 Let daarop dat Jeremia nie net aanmoediging van God ontvang het nie, maar dat hy ook ander aangemoedig het. Hoe? By een geleentheid het koning Sedekia vir Jeremia vertel dat hy bang is vir die Jode wat hulle aan die kant van die Babiloniërs geskaar het. Die profeet het die koning met aanmoedigende woorde aangespoor om Jehovah te gehoorsaam en ’n positiewe uitkoms te sien (Jer. 38:19, 20). Nadat Jerusalem geval en net ’n oorblyfsel Jode in die land agtergebly het, het hulle krygshoof Johanan dit oorweeg om die mense na Egipte te neem. Maar hy het Jeremia eers geraadpleeg. Die profeet het geluister na wat Johanan gesê het en toe tot Jehovah gebid. Later het hy Jehovah se aanmoedigende antwoord oorgedra en gemeld dat sake goed sal afloop as hulle God se bevel om in die land te bly, gehoorsaam (Jer. 42:1-12). In albei gevalle het Jeremia geluister voordat hy gepraat het. Dit is noodsaaklik om te luister as jy ander wil aanmoedig. Laat die geteisterde sy hart uitstort. Luister na sy kwellinge, sy vrese. Wanneer dit dan gepas is, kan jy aanmoedigend met hom praat. Jy sal nie ’n goddelike openbaring hê om oor te dra aan die een wat aanmoediging nodig het nie, maar jy kan positiewe gedagtes uit die Woord van God insluit, gedagtes oor wat die toekoms inhou.—Jer. 31:7-14.

Prent op bladsy 91

18, 19. Watter voorbeeld in verband met die aanmoediging van ander kan in die verslae oor die Regabiete en Ebed-Meleg gesien word?

18 Nie Sedekia of Johanan het die aanmoedigende raad aanvaar wat Jeremia oorgedra het nie, en vandag lyk dit dalk of party nie op jou raad reageer nie. Moenie dat dit jou ontmoedig nie. Ander het wel gunstig gereageer op die aanmoediging wat Jeremia hulle gegee het, en heel moontlik sal baie op jou aanmoediging reageer. Dink aan die Regabiete, ’n groep Keniete wat jare lank bande met die Jode gehad het. Een van die gebooie wat hulle voorvader Jonadab gegee het, was dat hulle as inwonende vreemdelinge geen wyn moet drink nie. Gedurende die Babiloniërs se aanval het Jeremia die Regabiete na ’n eetkamer in die tempel gebring. Op God se bevel het Jeremia wyn voor hulle gesit. Uit eerbied vir hulle voorvader en in teenstelling met Israel se ongehoorsaamheid was die Regabiete gehoorsaam en het hulle geweier om die wyn te drink (Jer. 35:3-10). Jeremia het Jehovah se lof en Sy belofte omtrent hulle toekoms aan hulle oorgedra. (Lees Jeremia 35:14, 17-19.) Dit is ’n voorbeeld wat jy kan volg wanneer jy aanmoediging gee: Prys ander opreg, wanneer moontlik.

19 Jeremia het dit ook gedoen met Ebed-Meleg, ’n Etiopiër wat blykbaar as ’n beampte aan die hof van koning Sedekia gedien het. Judese vorste het Jeremia ten onregte in ’n modderput laat gooi en hom daar gelos om te sterf. Ebed-Meleg het ’n beroep op koning Sedekia gedoen, wat hom toestemming gegee het om die profeet te red. Hierdie uitlander het dit gedoen, ondanks die moontlikheid van gewelddadige inmenging (Jer. 38:7-13). Aangesien Ebed-Meleg hom waarskynlik daardie Judese vorste se misnoeë op die hals gehaal het, was hy miskien bekommerd oor sy toekoms. Jeremia het nie stilgebly en maar net gehoop dat Ebed-Meleg sy bekommernis te bowe sou kom nie. Hy het die kwessie aangeroer en aanmoedigende woorde oorgedra omtrent God se toekomstige seëninge vir Ebed-Meleg.—Jer. 39:15-18.

20. Wat moet ons vir ons broers, jonk of oud, wil doen?

20 Wanneer ons die boek Jeremia lees, vind ons inderdaad uitstekende voorbeelde van hoe ons persoonlik kan doen wat die apostel Paulus ons broers in Tessalonika aangespoor het om te doen: “Hou . . . aan om mekaar te vertroos en mekaar op te bou . . . Mag die onverdiende goedhartigheid van ons Here Jesus Christus met julle wees.”—1 Tess. 5:11, 28.

Watter lesse wat ons uit die boek Jeremia leer, is jy van plan om toe te pas terwyl jy moeë siele probeer aanmoedig?

a Gedurende Sedekia se heerskappy was daar ’n ander Pasgur, ’n vors wat die koning gevra het om Jeremia te laat doodmaak.—Jer. 38:1-5.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel