Hoofstuk 16
Is dit normaal dat ek so treur?
Hoewel hierdie hoofstuk spesifiek oor die dood van ’n ouer praat, is die beginsels wat bespreek word, ook van toepassing wanneer enige gesinslid of hegte vriend sterf.
“Toe my ma oorlede is, het ek heeltemal verlore en leeg gevoel. Sy was die gom wat ons gesin aanmekaargehou het.”—Karyn.
DAAR is min dinge in die lewe wat vir jou so pynlik sal wees soos die dood van ’n ouer. Agterna sal jy moontlik met ’n hele paar emosies worstel wat jy nog nooit tevore ondervind het nie. Brian, wat 13 was toe sy pa aan ’n hartaanval dood is, sê: “Die aand toe ons uitgevind het, kon ons niks anders doen as om net te huil en mekaar vas te hou nie.” Natalie, wat tien was toe haar pa aan kanker dood is, sê: “Ek het nie geweet wat om te voel nie. Daarom het ek niks gevoel nie. Ek het geen emosies gehad nie.”
Elke persoon word op ’n ander manier deur die dood geraak. Trouens, die Bybel sê dat “elkeen . . . sy eie plaag en sy eie pyn” het (2 Kronieke 6:29). Hou dit in gedagte terwyl jy ’n oomblik neem om te dink aan hoe jou ouer se dood jou geraak het. Beskryf hieronder (1) hoe jy gevoel het toe jy die eerste keer van jou ouer se dood gehoor het en (2) hoe jy nou voel.a
1 ․․․․․
2 ․․․․․
Dalk toon jou antwoorde dat jou emosies, ten minste in ’n mate, begin stabiliseer. Dit is normaal. Dit beteken nie dat jy jou ouer vergeet het nie. Aan die ander kant vind jy dalk dat jou emosies nog dieselfde of selfs intenser is. Dalk voel dit asof jou droefheid soos golwe is wat kom en gaan en dan op onverwagte oomblikke “teen die kus breek”. Dit is ook normaal—al gebeur dit jare ná jou ouer se dood. Die vraag is: Hoe kan jy jou droefheid—watter vorm dit ook al aanneem—verwerk?
Moenie die trane terughou nie! As ’n mens huil, help dit jou om die pyn van droefheid te verlig. Maar jy voel miskien soos Alicia gevoel het. Sy was 19 toe haar ma oorlede is. Alicia vertel: “Ek was bang ander sou dink dat ek nie genoeg geloof het as ek te veel treur nie.” Maar dink hieraan: Jesus Christus was ’n volmaakte man wat sterk geloof in God gehad het. Nogtans het hy “trane gestort” toe hy ander sien treur het oor die dood van sy geliefde vriend Lasarus (Johannes 11:35). Moet dus nie bang wees om te huil nie. Dit beteken nie dat jy ’n gebrek aan geloof het nie! Alicia sê: “Uiteindelik het ek gehuil. Baie. Elke dag.”b
Moenie skuldig voel nie. “Ek het my ma elke aand ’n nagsoentjie gaan gee”, sê Karyn, wat 13 was toe haar ma dood is. “Een aand het ek dit nie gedoen nie. Die volgende oggend is my ma oorlede. Al klink dit hoe onrealisties, ek voel skuldig dat ek haar nie daardie laaste aand gesien het nie—en oor wat die volgende oggend gebeur het. My pa het op ’n sakereis vertrek en het gevra dat ek en my suster na my ma moet omsien. Maar ons het laat geslaap. Toe ek in die slaapkamer ingaan, het my ma nie asemgehaal nie. Ek het aaklig gevoel, want toe my pa vertrek het, het dit nog redelik goed gegaan met haar!”
Soos Karyn, voel jy dalk in ’n mate skuldig oor dinge wat jy nie gedoen het nie. Jy pynig jou dalk selfs met gedagtes soos: ‘As ek maar net daarop aangedring het dat my pa dokter toe gaan.’ ‘As ek maar net vroeër by my ma ingeloer het.’ As sulke gedagtes jou teister, onthou: Dit is normaal om spyt te voel oor dinge wat jy wens jy anders gedoen het. Die feit is, jy sou dinge anders gedoen het as jy geweet het wat sou gebeur. Maar jy het nie geweet nie. Moet dus nie skuldig voel nie. Jy is nie vir jou ouer se dood verantwoordelik nie!c
Praat oor jou gevoelens. Spreuke 12:25 sê: “Liefdevolle woorde sal jou opbeur” (Today’s English Version). As jy jou gevoelens opkrop, sal dit vir jou moeilik wees om jou droefheid te verwerk. Maar as jy met iemand wat jy vertrou, oor jou gevoelens praat, sal jy bemoedigende, “liefdevolle woorde” ontvang wanneer jy dit die nodigste het.
Praat met God. Jy sal waarskynlik baie beter voel nadat jy ‘jou hart uitgestort het’ voor Jehovah God in gebed (Psalm 62:8). Dit is nie net ‘goed-voel-terapie’ nie. Wanneer jy bid, wend jy jou tot “die God van alle vertroosting, . . . wat ons in al ons verdrukking vertroos” (2 Korintiërs 1:3, 4). Een manier waarop God vertroosting bied, is deur middel van sy Woord, die Bybel (Romeine 15:4). Hou gerus ’n lys tekste byderhand wat jy vertroostend vind.d
Die treurproses verg tyd. Maar die Bybel kan ons vertroos, want dit gee ons die volgende versekering oor die nuwe wêreld wat God belowe: “Die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie” (Openbaring 21:3, 4). As jy oor sulke beloftes nadink, kan dit jou help om die dood van jou ouer te verwerk.
[Voetnote]
a As dit te moeilik is om hierdie vrae nou te beantwoord, kan jy dit later probeer doen.
b Moenie voel dat jy moet huil om jou droefheid te toon nie. Mense treur op verskillende maniere. Die belangrike ding is: As jy trane in jou oë voel opwel, moet jy besef dat dit moontlik “’n tyd [is] om te huil”.—Prediker 3:4.
c As sulke gedagtes jou bly teister, kan jy gerus met jou oorlewende ouer of met ’n ander volwassene praat oor hoe jy voel. Mettertyd sal jy ’n meer gebalanseerde beskouing kry.
d Party is al vertroos deur die volgende tekste: Psalm 34:18; 102:17; 147:3; Jesaja 25:8; Johannes 5:28, 29.
SLEUTELTEKSTE
“[God] sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.”—Openbaring 21:4.
WENK
Kry vir jou ’n boek waarin jy jou gedagtes oor die ouer wat jy verloor het, kan neerskryf. Dit kan jou baie help om jou droefheid te verwerk.
HET JY GEWEET . . . ?
Dit is nie ’n teken van swakheid om te huil nie. Selfs sterk manne soos Abraham, Josef en Dawid het gehuil toe hulle bedroef was.—Genesis 23:2; 50:1; 2 Samuel 1:11, 12; 18:33; Johannes 11:35.
AKSIEPLAN!
Wanneer ek deur droefheid oorweldig word, sal ek ․․․․․
Wat ek graag vir my oorlewende ouer hieroor wil vra ․․․․․
WAT DINK JY?
● Waarom is dit goed om te dink aan aangename herinneringe wat jy van jou oorlede ouer het?
● Waarom kan dit jou help om jou droefheid te verwerk as jy jou gedagtes neerskryf?
[Lokteks op bladsy 112
Ek het al my gevoelens opgekrop. Dit sou vir my beter gewees het om meer daaroor te praat. Ek sou dit beter kon verwerk het.’’—David
[Venster/Prent op bladsy 113]
CHANTELLE
‘‘My pa was omtrent vyf jaar lank siek, en sy gesondheid het agteruitgegaan. Ek was 16 toe hy sy lewe geneem het. Agterna het my ma vir my en my ouer broer op hoogte gehou van alles wat gebeur. Sy het ons selfs laat help met besluite oor die begrafnis. Dit het dit vir ons makliker gemaak. Ek dink nie kinders hou van die gevoel dat dinge vir hulle weggesteek word nie—veral nie sulke groot dinge nie. Later kon ek openlik oor my pa se dood praat. Wanneer ek ook al wou huil, het ek by ’n vriendin of sommer net êrens gaan huil. My raad is: As jy daaroor moet praat, gaan na jou familie en vriende toe. Doen wat jy ook al moet om aan jou droefheid uiting te gee.’’
[Venster/Prent op bladsye 113, 114]
LEAH
‘‘My ma het ’n ernstige beroerte gekry toe ek 19 was, en sy is drie jaar later oorlede. Ná haar dood het ek gedink dat ek sterk moet wees. Die laaste ding wat my pa nodig gehad het, was dat ek ineenstort. Terwyl ek grootgeword het, was my ma altyd daar wanneer ek siek was of nie lekker gevoel het nie. Ek onthou hoe haar hande gevoel het wanneer sy probeer vasstel het of ek ’n koors het. Ek is dikwels pynlik bewus van die feit dat sy nie meer daar is nie. Ek is geneig om my gevoelens te onderdruk, en dit is nie goed nie. Daarom kyk ek soms na foto’s net om my te laat huil. Dit help ook om met vriende te praat. Die Bybel belowe dat diegene wat gesterf het, op ’n paradysaarde opgewek sal word (Johannes 5:28, 29). Wanneer ek fokus op die hoop om my ma weer te sien—en wanneer ek fokus op wat ek moet doen om daar te wees—voel ek nie so hartseer nie.’’
[Venster/Prent op bladsy 114]
BETHANY
‘‘Ek wens ek kon onthou dat ek vir my pa gesê het: ‘Ek is lief vir Pappa.’ Ek is seker ek het, maar ek onthou dit nie, en ek wens ek het daardie herinnering gehad. Ek was net vyf jaar oud toe hy oorlede is. My pa het ’n beroerte gekry terwyl hy geslaap het en is vinnig na die hospitaal geneem. Toe ek die volgende oggend wakker word, het ek uitgevind dat hy dood is. Aan die begin het dit my gepla om oor my pa te praat, maar later het ek dit geniet om stories oor hom te hoor omdat dit my gehelp het om hom beter te leer ken. My raad aan enigiemand wie se ouer oorlede is, is om elke oomblik wat jy saam met jou ouer gehad het, te waardeer en om jou herinneringe neer te skryf sodat jy dit nie sal vergeet nie. Doen dan alles wat jy kan om jou geloof op te bou sodat jy daar sal wees wanneer jou ouer in God se nuwe wêreld opgewek word.’’
[Venster op bladsy 116]
Werkblad
skryf jou gedagtes neer
Skryf ’n paar aangename herinneringe neer wat jy van jou ouer het. ․․․․․
Skryf neer wat jy wens jy vir jou ouer gesê het terwyl hy of sy nog gelewe het. ․․․․․
Stel jou voor dat jy ’n jonger broer of suster het wat sukkel met skuldgevoelens oor die dood van julle ouer. Skryf neer wat jy sou sê om hom of haar te vertroos. (Dit kan jou ook help om jou eie skuldgevoelens in perspektief te plaas.) ․․․․․
Skryf twee of drie dinge neer wat jy wens jy van jou oorlede pa of ma geweet het, en vra jou oorlewende ouer dan of julle oor een van hierdie dinge kan gesels. ․․․․․
Lees Handelinge 24:15. Hoe help die hoop waarvan hierdie vers praat, jou om jou ouer se dood te verwerk? ․․․․․
[Prent op bladsy 115]
Droefheid kan soos golwe wees wat op onverwagte oomblikke teen die kus breek