Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • yp1 hfst. 21 bl. 150-155
  • Hoe kan ek my tyd goed bestuur?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe kan ek my tyd goed bestuur?
  • Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 1
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Uitdaging #1: Om ’n rooster op te stel
  • Uitdaging #2: Om by ’n rooster te bly
  • Uitdaging #3: Om netjies en georganiseerd te wees
  • Hoe kan ek my tyd goed bestuur?
    Ontwaak!—2009
  • Die vernietiging van Sodom en Gomorra
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Jesus genees mense wonderdadig
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • My dagboek—Skool en jou portuurs
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2
Sien nog
Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 1
yp1 hfst. 21 bl. 150-155

Hoofstuk 21

Hoe kan ek my tyd goed bestuur?

Hoeveel ekstra ure sou jy in ’n dag wou hê? ․․․․․

Waarvoor sou jy die ekstra tyd gebruik?

□ Om saam met vriende te kuier

□ Om te slaap

□ Om te studeer

□ Ander ․․․․․

TYD is soos ’n vurige perd—as jy wil hê dat dit vir jou moet werk, moet jy leer om dit te beheer. As jy jou tyd goed bestuur, sal jy waarskynlik minder stres hê, beter punte kry en sal jou ouers jou heel moontlik meer vertrou. “Dit klink wonderlik”, sê jy dalk, “maar dit is makliker gesê as gedaan!” Daar sal wel uitdagings wees, maar jy kan dit te bowe kom. Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde.

Uitdaging #1: Om ’n rooster op te stel

Wat jou dalk sal keer. Die blote gedagte aan ’n rooster laat jou vasgekeer voel! Jy wil eerder dinge spontaan doen as om deur ’n rooster beheer te word.

Redes om dit wel te doen. Koning Salomo het geskryf: “Die planne van die vlytige lei gewis tot voordeel” (Spreuke 21:5). Salomo was ’n besige man. Hy was getroud, het kinders gehad en hy was ’n koning. En namate hy ouer geword het, het sy lewe waarskynlik besiger geraak. Jy het ook nou ’n besige lewe. Maar namate jy ouer word, sal dit heel moontlik selfs doller gaan. Hoe gouer jy georganiseerd raak, hoe beter!

Wat jou portuurs sê. “Ongeveer ses maande gelede het ek gereeld ’n rooster begin opstel. Ek het dinge makliker probeer maak, en om ’n rooster te hê, was blykbaar die antwoord!”—Joey.

“As ek ’n lysie maak van wat ek moet doen, help dit my om by my rooster te bly. Wanneer ek baie het om te doen, skryf ek en my ma alles neer om te sien hoe ons mekaar kan help om ons doelwitte te bereik.”—Mallory.

Wat jou sal help. Dink so daaraan: Sê nou julle gaan op ’n reis. Elke gesinslid gooi sommer net sy of haar tasse agter in die motor se kattebak in. Dit lyk asof daar nie genoeg plek vir alles gaan wees nie. Wat kan jy doen? Jy kan alles uithaal en weer begin deur die grootste tasse eerste in te pak en daarna die kleiner tasse in te pas.

Dit werk ook so in die lewe. As jy jou tyd eers aan kleiner dingetjies bestee, loop jy die gevaar om nie tyd vir die belangrike dinge te hê nie. Maak eers tyd vir die groot dinge, en jy sal verbaas wees hoeveel tyd jy nog vir die res sal oorhê!—Filippense 1:10.

Wat is die belangrikste dinge wat jy moet doen?

․․․․․

Gaan nou terug en stel prioriteite—nommer die dinge wat jy moet doen in volgorde van belangrikheid. As jy die groot dinge eerste afhandel, sal jy dalk verbaas wees oor hoeveel tyd jy oorhet om die klein dingetjies te doen.

Wat jy kan doen. Kry ’n dagboekie, en skryf wat jy moet doen, in volgorde van belangrikheid neer. Of dalk sal een van die volgende alternatiewe vir jou werk.

□ Selfoonkalender

□ Notaboekie

□ Rekenaarkalender

□ Tafelkalender

Uitdaging #2: Om by ’n rooster te bly

Wat jou dalk sal keer. Ná skool wil jy net ’n paar minute lank ontspan en TV kyk. Of jy was van plan om te leer, maar jy kry ’n SMS van iemand wat jou nooi om te gaan fliek. Die fliek gaan nie wag nie, maar jy kan nog vanaand studeer. Jy sê vir jouself: ‘Dit lyk in elk geval asof ek beter doen as daar so ’n bietjie druk op my is.’

Redes om dit wel te doen. Jy sal dalk beter punte kry as jy leer wanneer jou verstand helderder is. En het jy nie al klaar genoeg druk nie? Waarom dit vererger deur laat in die aand vir ’n toets te leer? Wat sal die volgende oggend gebeur? Dalk sal jy verslaap, meer stres ondervind, haastig by die deur moet uithardloop en laat wees vir skool.—Spreuke 6:10, 11.

Wat jou portuurs sê. “Ek hou baie daarvan om TV te kyk, ghitaar te speel en saam met my vriende te wees. Daar is niks met hierdie dinge verkeerd nie, maar soms veroorsaak dit dat ek die belangriker dinge afskeep en dan op die ou end moet jaag.”—Julian.

Wat jou sal help. Moenie net dinge op jou rooster skryf wat jy moet doen nie—sluit ook dinge in wat jy geniet. “Dis makliker om te doen wat ek moet, as ek weet dat ek iets lekkers vir later beplan het”, sê Julian. Nog ’n idee: Stel ’n doelwit, en stel dan kleiner doelwitte om seker te maak dat jy daardie doelwit voor oë hou.

Wat jy kan doen. Wat is een of twee realistiese doelwitte wat jy binne die volgende ses maande kan bereik?

․․․․․

Wat is ’n realistiese doelwit wat jy binne die volgende twee jaar kan bereik, en wat moet jy nou begin doen om hierdie doelwit te bereik?a

․․․․․

Uitdaging #3: Om netjies en georganiseerd te wees

Wat jou dalk sal keer. Jy verstaan nie juis hoe dit jou gaan help om jou tyd beter te bestuur as jy netjies en georganiseerd is nie. Buitendien is dit skynbaar soveel makliker om slordig te wees. Jy kan jou kamer altyd môre skoonmaak—of glad nie! As die chaos jóú nie pla nie, is dit mos nie ’n probleem nie. Of is dit wel?

Redes om dit wel te doen. As alles netjies en ordelik is, sal dit jou tyd spaar wanneer jy na iets soek. Dit sal jou ook gemoedsrus gee, wat baie belangrik is.—1 Korintiërs 14:40.

Wat jou portuurs sê. “Soms, wanneer ek nie tyd het om my klere weg te sit nie, vind ek dat die dinge wat ek nodig het, op die een of ander manier in die chaos verdwyn het!”—Mandy.

“Ek het ’n week lank na my beursie gesoek. Dit was nogal stresvol. Ek het dit uiteindelik gekry toe ek my kamer skoonmaak.”—Frank.

Wat jou sal help. Probeer om dinge so gou as moontlik op hulle plek te bêre. Doen dit gereeld eerder as om te wag totdat alles heeltemal deurmekaar is.

Wat jy kan doen. Probeer om netheid ’n gewoonte te maak. Hou alles netjieser, en kyk of dit die lewe makliker maak.

Almal—jy, jou portuurs en jou ouers—het elke dag dieselfde hoeveelheid tyd. As jy dit mors, sal jy daaronder ly. Bestuur dit wyslik, en jy sal die voordele daarvan geniet. Dit is jou keuse.

IN ONS VOLGENDE HOOFSTUK

Is jou ouers immigrante? Voel jy dat jy nie inpas nie—nie by die skool of by die huis nie? Leer hoe om jou omstandighede tot jou voordeel te gebruik.

[Voetnoot]

a Vir meer inligting, sien Hoofstuk 39 van hierdie boek.

SLEUTELTEKSTE

‘Maak seker van die belangriker dinge.’—Filippense 1:10.

WENK

Moenie probeer om al die wenke in hierdie hoofstuk terselfdertyd toe te pas nie. Pas eerder gedurende die volgende maand net een toe. Wanneer jy dit onder die knie het, kan jy ’n ander wenk probeer toepas.

HET JY GEWEET . . . ?

As jy te veel dinge in ’n dag probeer pas, sal jy meer stres hê. As jy prioriteite stel, sal jy weet watter dinge om te doen en watter om uit te sny.

AKSIEPLAN!

Ek kan minder tyd bestee aan ․․․․․

Ek sal die tyd wat ek spaar, gebruik om die volgende te doen ․․․․․

Wat ek graag vir my ouer(s) hieroor wil vra ․․․․․

WAT DINK JY?

● Hoe kan dit jou help om jou eie huis in die toekoms te bestuur as jy nou leer hoe om jou tyd te beplan?

● Watter lesse oor tydbestuur kan jy by jou ouers leer?

● Watter aanpassings kan jy maak om jou rooster, as jy reeds een het, doeltreffender te maak?

[Lokteks op bladsy 154]

Ek het iemand in ’n grap hoor sê dat ’n mens vir my moet sê om drieuur by ’n plek te wees as jy wil hê dat ek teen vieruur daar moet wees. Toe het ek besef dat ek my tyd beter moet bestuur!’’—Ricky.

[Venster op bladsy 155]

waaraan bestee ek my tyd?

Gemiddelde ure wat jongmense tussen die ouderdomme van 8 en 18 in ’n week aan die volgende dinge bestee het:

17

saam met hulle ouers

30

by die skool

44

om TV te kyk, videospeletjies te speel, SMS’e te stuur en na musiek te luister

Tel die ure bymekaar wat jy elke week daaraan bestee om

TV te kyk ․․․․․

videospeletjies te speel ․․․․․

die Internet te gebruik ․․․․․

na musiek te luister ․․․․․

Totaal ․․․․․

Ure wat ek gerus vir belangriker dinge kan gebruik ․․․․․

[Prent op bladsy 153]]

Tyd is soos ’n vurige perd—jy moet leer om dit te beheer

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel