DEEL 2
Wees lojaal aan mekaar
“Wat God . . . onder een juk saamgevoeg het, moet geen mens skei nie.”—Markus 10:9
Jehovah vereis dat sy knegte lojaal moet wees (Psalm 18:25). Dit is veral belangrik in julle huwelik, want sonder lojaliteit is daar geen vertroue nie. En vertroue is noodsaaklik vir liefde om te floreer.
Vandag word lojaliteit in die huwelik bedreig. Om julle huwelik te beskerm, moet julle vasbeslote wees om twee dinge te doen.
1 GEE PRIORITEIT AAN JOU HUWELIK
WAT DIE BYBEL SÊ: “Maak [seker] van die belangriker dinge” (Filippense 1:10). Jou huwelik is een van die belangrikste dinge in jou lewe. Dit moet voorkeur geniet.
Jehovah wil hê dat jy op jou maat ingestel moet wees en dat julle saam ‘die lewe moet geniet’ (Prediker 9:9). Hy maak dit duidelik dat jy nooit jou maat moet afskeep nie, maar dat julle eerder albei na maniere moet soek om mekaar gelukkig te maak (1 Korintiërs 10:24). Laat jou maat voel dat jy hom of haar nodig het en waardeer.
WAT JY KAN DOEN:
Maak seker dat julle gereeld saam tyd deurbring, en gee jou maat dan jou onverdeelde aandag
Dink in terme van “ons” eerder as “ek”
2 BEWAAK JOU HART
WAT DIE BYBEL SÊ: “Elkeen wat aanhou om na ’n vrou te kyk om hartstog vir haar te hê, [het] reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg” (Matteus 5:28). As iemand aanhou om aan onsedelike dinge te dink, is hy in sekere sin ontrou aan sy maat.
Jehovah sê dat jy ‘jou hart moet bewaak’ (Spreuke 4:23; Jeremia 17:9). Om dit te doen, moet jy jou oë bewaak (Matteus 5:29, 30). Volg die voorbeeld van die aartsvader Job, wat ’n verbond met sy oë gesluit het om nooit met hartstog na ’n ander vrou te kyk nie (Job 31:1). Wees vasbeslote om nooit na pornografie te kyk of enige romantiese verbintenis met enigiemand behalwe jou maat te vorm nie.
WAT JY KAN DOEN:
Laat ander duidelik sien dat jy heeltemal getrou is aan jou maat
Neem jou maat se gevoelens in ag, en beëindig onmiddellik enige verhouding wat jou maat ongemaklik sal laat voel