Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • jy hfst. 10 bl. 28-bl. 29 par. 7
  • Jesus se gesin gaan na Jerusalem

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jesus se gesin gaan na Jerusalem
  • Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
  • Soortgelyke materiaal
  • Reise na Jerusalem
    Die grootste mens wat nog geleef het
  • Reise na Jerusalem
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Die jong Jesus
    Lesse wat jy kan leer uit die Bybel
  • Jong Jesus in die tempel
    My boek met Bybelverhale
Sien nog
Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
jy hfst. 10 bl. 28-bl. 29 par. 7
Die twaalfjarige Jesus by die tempel waar hy Joodse leermeesters vrae vra

HOOFSTUK 10

Jesus se gesin gaan na Jerusalem

LUKAS 2:40-52

  • DIE TWAALFJARIGE JESUS VRA LEERMEESTERS VRAE

  • JESUS VERWYS NA JEHOVAH AS “MY VADER”

Dit is lente. Daarom is dit tyd vir Josef se gesin om saam met hulle vriende en familie na Jerusalem te reis, iets wat hulle elke jaar doen. Hulle gaan daarheen om die Pasga te vier, net soos die Wet beveel (Deuteronomium 16:16). Nasaret is omtrent 120 kilometer van Jerusalem af. Dit is ’n besige en opwindende tyd vir almal. Jesus, wat nou 12 jaar oud is, sien veral uit na die fees en om weer naby die tempel te wees.

Vir Jesus en sy gesin gaan die Pasga nie net oor een spesiale dag nie. Die dag ná die Pasga is die begin van die Fees van die Ongesuurde Brode, wat sewe dae lank is (Markus 14:1). Dit is deel van die Pasga-seisoen. Om van hulle huis in Nasaret na Jerusalem te reis, die tyd wat hulle daar spandeer en die reis terug huis toe, het omtrent twee weke geneem. Maar as gevolg van iets wat met Jesus te doen het, vat dit hierdie jaar ’n bietjie langer. Op pad terug van Jerusalem af kom hulle agter dat daar ’n probleem is.

GELUKKIGE TYE

Jesus en sy gesin op pad na Jerusalem

Almal het die reise na Jerusalem vir die drie jaarlikse feeste baie geniet (Deuteronomium 16:15). Gedurende hierdie tye het Jesus verskillende dele van die land gesien, meer oor die land geleer en mede-aanbidders uit ander gebiede ontmoet. Dit was beslis gelukkige tye!

Terwyl hulle op pad terug is, dink Josef en Maria dat Jesus tussen die groep familie en vriende is wat saam noordwaarts reis. Maar wanneer hulle stop om te oornag, kan hulle hom nie vind nie. Hulle gaan soek hom oral tussen die mense, maar hy is nie daar nie. Hulle kan hulle seun nêrens vind nie! Daarom gaan Josef en Maria terug Jerusalem toe om hom te gaan soek.

Hulle soek ’n hele dag lank na hom, maar hulle vind hom nie. Hulle vind hom ook nie op die tweede dag nie. Uiteindelik, op die derde dag, vind hulle hulle seun in een van die baie sale in die tempel. Hulle sien Jesus waar hy tussen ’n paar Joodse leermeesters sit. Hy luister na hulle, hy vra hulle vrae, en hulle is verbaas oor hoe goed hy alles verstaan.

Josef en Maria vind Jesus

“Kind, hoekom het jy so met ons gemaak?” vra Maria. “Ek en jou pa was bekommerd en het oral na jou gesoek.” – Lukas 2:48.

Jesus is verbaas dat hulle nie geweet het waar hy sou wees nie. Hy vra hulle: “Hoekom het julle na my gesoek? Het julle nie geweet dat ek in die huis van my Vader moet wees nie?” – Lukas 2:49.

Noudat hulle weer bymekaar is, gaan Jesus saam met Josef en Maria terug Nasaret toe. Terwyl hy groter en sterker word, bly hy gehoorsaam aan hulle en neem hy toe in wysheid. Al is hy nog jonk, het hy die goedkeuring van God sowel as mense. Ja, van kleintyd af stel Jesus ’n goeie voorbeeld, nie net omdat hy in geestelike dinge belangstel nie, maar ook omdat hy sy ouers respekteer.

  • Op watter reis gaan Jesus gewoonlik saam met sy familie in die lente, en hoekom?

  • Wanneer Jesus 12 jaar oud is, wat besef Josef en Maria terwyl hulle op pad terug is van Jerusalem af, en waar vind hulle hom?

  • Watter goeie voorbeeld stel Jesus vir jongmense van vandag?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel