Vrae van lesers
• Waarna verwys “die kroon van die lewe” wat in Jakobus 1:12 gemeld word, en wie ontvang hierdie kroon?
Jakobus 1:12 lui: “Salig is die man wat versoeking verdra, want as hy die toets deurstaan het, sal hy die kroon van die lewe ontvang wat die Here beloof het aan die wat Hom liefhet.”
Daar is al gesê dat “die kroon van die lewe” verwys na die hoogste lewensvorm, onsterflikheid, soos die wat Christus se gesalfde voetstapnavolgers tydens die eerste opstanding ontvang (1 Kor. 15:53, 54; Openb. 20:4, 6). Daar bestaan geen twyfel dat sulke lewe ’n kroon sal wees vir diegene wat dit besit en dat dit die hoogste lewensvorm is nie. Maar het Jakobus, toe hy die woord “kroon” gebruik het, na so ’n oortreffende lewensvorm verwys?
Dit lyk nie asof ons die gedagte van iets oortreffends aan die uitdrukking “kroon van die lewe” moet heg nie. Die Griekse woord is stefanos. Dit kom van ’n wortel wat beteken “om te omring”, en dit word dus gebruik om te verwys na ’n kroon, krans, prys of beloning wat ’n wenner in ’n wedloop ontvang. Die apostel Paulus het dus in 2 Timotheüs 4:7, 8 geskryf: “Ek het die wedloop voleindig; . . . Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee.” Hy het nie verwys na oortreffende geregtigheid nie, maar na die prys, die beloning, van geregtigheid wat hy sou ontvang. (Vergelyk Filippense 4:1; 1 Thessalonicense 2:19, 20.) In Jakobus 1:12 is “die kroon van die lewe” dus die prys of gawe van lewe wat ’n persoon ontvang omdat hy versoeking verdra het. Daar kan gesê word dat die “groot menigte” verdrukkingoorlewendes “die kroon van die lewe” sal ontvang indien hulle getrou volhard, maar dit sal ewige lewe op aarde wees.—Openb. 7:9, 10.
In Openbaring 2:10 het ons ’n soortgelyke uitdrukking wat na die die lewe as prys verwys. Diegene wat dit ontvang, is persone wat tot die dood toe getrou volhard het. In hierdie geval is die persone wat aangespreek word egter die gesalfde Christene wat onsterflikheid in die hemele kan verkry (Openb. 2:26, 27). Daar kan gesê word dat die woorde in Jakobus 1:12 ’n algemene beginsel uiteensit en nie na ’n spesifieke klas mense verwys soos dit in Openbaring 2:10 die geval is nie.