Skep moed! Die millennium is ophande
“In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.”—Joh. 16:33.
1. Waarom sou Jesus se dissipels baie moedig moes wees?
DIT was Jesus se afskeidswoorde van raad aan sy dissipels op die vooraand van sy inhegtenisname en teregstelling. Hy het self ’n merkwaardige hoeveelheid moed aan die dag gelê, en hy wou hê dat sy toegewyde volgelinge dieselfde moes doen. Hulle sou baie moedig moes wees, want Jesus het pas tevore vir hulle gesê: “As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het. As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle. Onthou die woord wat Ek vir julle gesê het: ’n Dienskneg is nie groter as sy heer nie. As hulle My vervolg het, sal hulle jul ook vervolg. As hulle my woord bewaar het, sal hulle jul woord ook bewaar. Maar al hierdie dinge sal hulle aan julle doen ter wille van my Naam, omdat hulle Hom nie ken wat My gestuur het nie.”—Joh. 15:18-21.
2. Wat behels Christelike moed? (Vergelyk Psalm 27:13, 14, NW; 31:25, vgl. NW.)
2 Maar wat behels moed soos die van Christus? Beteken dit “skuilgat”-dapperheid soos wat soldate aan die dag lê wanneer die geveg op sy ergste is? Nee, dit behels veel meer. Christelike moed verg die betoning van voorbeeldige morele krag te alle tye. Dit verg onwrikbare steun aan God se koninkryk onder enige en alle omstandighede. Dit vereis standvastigheid, volharding en ’n volgehoue lojaliteit aan regte beginsels. Ware moed sluit beslistheid en daadwerklike vasbeslotenheid in om voort te beur en te slaag, selfs in die aangesig van oënskynlik oorweldigende teenstand en moeilikheid. Dit behels die voorneme wat die apostel Paulus uitgespreek het toe hy gesê het: “Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry.”—Filip. 3:13, 14.
DANIËL SE VOORBEELD VAN MOED
3. Watter voorbeeldige moed het Daniël en sy metgeselle aan die dag gelê in verband met voedsel en drank?
3 God se Woord is vol verslae van groot moed in die aangesig van beproewings van geloof. God se profeet Daniël was een wat by verskeie geleenthede sulke moed aan die dag gelê het. As ’n jong man wat ’n slaaf in Babilon was, het hy “hom voorgeneem om hom nie te verontreinig met die spys van die koning of met die wyn wat hy gedrink het nie”, en hierin het Sadrag, Mesag en Abednego by hom aangesluit (Dan. 1:8-19). Dit het moed geverg, soortgelyk aan die moed wat vandag in party lande geverg word van jong getuies van Jehovah wanneer hulle byvoorbeeld skoolmaaltye wat bloedprodukte bevat, van die hand moet wys.—Hand. 15:28, 29.
4. Watter goeie voorbeeld het talle jongmense vandag in Daniël hoofstuk 3 gevind? (Rom. 15:4).
4 Toe daardie selfde drie metgeselle van Daniël later ’n ferme standpunt oor afgodediens ingeneem het, het Daniël ongetwyfeld hulle standpunt lojaal goedgekeur. Onder inspirasie het hy daardie gebeurtenis breedvoerig opgeteken vir ons vermaning in hierdie kritieke dae.—Dan. hfst. 3.
5. (a) Waarom het dit moed van Daniël geverg om voor Nebukadnesar en later voor Belsasar te praat? (b) Hoe het Jehovah se Getuies vandag soortgelyke moed nodig?
5 Dit het moed geverg van Daniël om voor magtige Nebukadnesar van Babilon te staan en daardie heerser se drome uit te lê—veral aangesien Daniël se profesieë vertel het van die uiteindelike omverwerping van die Babiloniese Ryk, asook die vernedering van die koning (Dan. 2:36-38, 44, 45; 4:24, 25, 33). Tydens Belsasar se afgodiese fees, toe die handskrif van Jehovah af op die muur van die koning se paleis verskyn het, moes Daniël ook baie moedig wees om vir die koning en sy maghebbers te vertel dat dit klaar was met die groot Babilon en dat dit aan Medo-Persië gegee sou word (Dan. 5:1-6, 17-28). Dit het vandag eweneens moed van die kant van talle van Jehovah se Getuies geverg om Jehovah se oordele oor Babilon die Grote en ander gedoemde stelsels van hierdie wêreld moedig bekend te maak.—Openb. 16:12-16, 19.
IN DIE LEEUKUIL
6, 7. (a) Waarom het Daniël tydens Darius se bewind ’n vername man geword? (b) Slegs waarin kon sy vyande ’n aanklag teen hom vind? (c) Watter soortgelyke situasies het in ons tyd ontstaan?
6 Tydens hulle beproewings het Daniël en sy metgeselle hulle in gebed op Jehovah verlaat (Dan. 2:17, 18). En dit was in verband met gebed dat daar weer eens van Daniël vereis is om onwrikbare moed aan die dag te lê. Babilon het geval, en Darius was nou heerser van Medo-Persië, die vierde wêreldmoondheid van die Bybelverslag. Weens die “voortreflike gees” wat sy God aan hom gegee het, het die bejaarde Daniël vernamer geword as al die ander amptenare van die koninkryk. Hierdie belangrike manne wat jaloers was op Daniël se wysheid en posisie, het na ’n manier gesoek om sy ondergang te bewerk. Maar hulle het geweet dat hulle geen voorwendsel kon vind nie, tensy dit in verband gestaan het met “sy godsdiens”.—Dan. 6:2-6.
7 Omdat hulle bewus was van Daniël se gewoonte om drie keer per dag te bid en sy God te loof, het die samesweerders die koning ’n bevel laat teken wat bepaal het dat enigeen wat gedurende 30 dae ’n versoek aan enige god of mens behalwe aan die koning rig, in die leeukuil gegooi moes word. Die bevel het die onveranderlike wet van die Meders en Perse geword (Dan. 6:7-10). Dit kom ooreen met die situasie wat vandag in talle lande bestaan waar kleinsielige amptenare of geestelikes, wat ontstoke is oor Jehovah se Getuies se weiering om deel van die wêreld te word of om Koninkryksbedrywigheid te verminder, en wat jaloers is op God se seën op hulle werk, probeer om die Getuies “vas te trek” en hulle uit aksie te stel. Hierdie teenstanders weet goed dat Jehovah se volk gewoonlik die mees wetsgehoorsame en eerlikste persone in die gemeenskap is. Hulle versin dus geskille in verband met afgodiese seremonies en salute, en die skreeu van guerilla- of patriotiese slagspreuke, soos “Heil Hitler”, “Viva Franco”, ensovoorts.
8. Hoe het getroue getuies vandag Daniël se voorbeeld van beginselvastheid gevolg?
8 Wat ’n wonderlike voorbeeld het Daniël tog vir ons gestel oor hoe om sulke geskille die hoof te bied! Die verslag deel ons mee: “En net toe Daniël verneem dat die bevelskrif geskrywe was, het hy in sy huis gegaan; en hy het in sy bo-kamer vensters gehad wat oop was in die rigting van Jerusalem, en hy het drie maal op ’n dag op sy knieë geval en gebid en lofprysinge uitgespreek voor sy God, net soos hy tevore gedoen het” (Dan. 6:11). Hy het nie sy gebruiklike aanbidding van Jehovah gestaak nie. Net so hou getroue hedendaagse getuies nie op om Jehovah te aanbid omdat ’n diktator hulle Christelike bedrywigheid in die ban gedoen of aan bande gelê het nie. Hulle sal dalk versigtig te werk gaan en net hier en daar ’n huis besoek wanneer hulle preek of net met die Bybel getuig of selfs deur die klem op informele werk te plaas. Maar hulle moet aanbid! Hulle ‘kan nie ophou spreek oor wat hulle gesien en gehoor het nie’.—Hand. 4:20.
9. Hoe is Daniël beskerm, en watter bemoediging bied dit vandag?
9 Weens hierdie weg van onkreukbaarheid is Daniël in die leeukuil gegooi. Maar het dit beteken dat sy God hom verlaat het? So nooit as te nimmer! Jehovah versaak ook nie vandag sy getuies wanneer hulle in smerige tronke gestop word nie. Daniël is selfs nie eens deur koning Darius verlaat nie, want hy het “met vas die nag deurgebring”—waarskynlik in gebed tot Daniël se God. Jehovah se beskerming was gewis sterker as die onveranderlike bevel van die Medo-Persiese wet. Toe die koning hom die volgende oggend na die leeukuil gehaas het en vir Daniël gevra het of sy God wat hy “gedurigdeur vereer” hom kon red, kon Daniël antwoord: “My God het sy engel gestuur en die bek van die leeus toegesluit, sodat hulle my geen leed aangedoen het nie, omdat ek voor Hom onskuldig bevind is en ek ook teen u, o koning, geen onreg gedoen het nie.”—Dan. 6:19-23.
10. Hoe kan Jehovah se volk die planne van daardie “brullende leeu”, die Duiwel, verydel?
10 Gebed tot Jehovah is vandag net so belangrik soos dit in Daniël se tyd was, en hoe doeltreffend kan dit tog wees! Hoewel Jehovah se Getuies deesdae nie in letterlike leeukuile gegooi word nie, lewe hulle in ’n wêreld waar hulle ‘teëstander, die duiwel, rondloop soos ’n brullende leeu en soek wie hy kan verslind’. Wat moet Christene dus doen wanneer hulle van aangesig tot aangesig kom met vervolging en ander beproewings? Hulle moet moedig wees. Hulle moet hulle nederig aan die beproewende omstandighede onderwerp en bid, terwyl hulle ook vol vertroue is dat hulle broers oral vurig vir hulle bid. Die apostel Petrus gee goeie raad: “Werp al julle bekommernis op [God], want Hy sorg vir julle. Wees nugter en waaksaam, . . . [Die Duiwel] moet julle teëstaan, standvastig in die geloof, omdat julle weet dat dieselfde lyding opgelê word aan julle broederskap wat in die wêreld is. En mag die God van alle genade self . . . nadat ons ’n kort tyd gely het, julle volmaak, bevestig, versterk en grondves! Aan Hom die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid!”—1 Pet. 5:6-11.
11. Watter hedendaagse voorbeelde is daar van hoe Jehovah se Getuies in ’n ‘leeukuil’ oorlewe het?
11 Daar is talle hedendaagse voorbeelde waar Jehovah se Getuies as ’t ware in ’n “leeukuil” gegooi is. Leeuagtige handlangers van daardie “brullende leeu”, die Duiwel, probeer voortdurend om God se volk te verslind. Maar sy Getuies volhard in die gebed, werp hulle bekommernis op Jehovah en bly “standvastig in die geloof”. Daar is byvoorbeeld ’n jong meisie in Rhodesië wat deur haar ouers goed in Bybelbeginsels onderlê is. Sy is deur guerillasoldate gevang. Haar ouers was baie besorg oor haar, aangesien die guerillas die gewoonte het om tienderjarige meisies te onteer of te indoktrineer. Al wat die ouers kon doen, was om oor haar veiligheid te bid. Na ’n paar dae het sy ongedeerd teruggekeer. “Wat het met jou gebeur?” het haar ouers gevra. “Ek het net aaneen vir hulle getuig”, het die meisie verduidelik. Haar gevangenemers het haar dus huis toe gestuur. Later het die guerillaleier na die stat gekom en haar ouers opgesoek. Hy het vir hulle gesê dat hy net graag die ouers van so ’n goed opgevoede meisie wou ontmoet.
12. Watter vurige gebed kan ons altyd tot Jehovah doen, en met watter vertroue?
12 Hoe waar is dit tog dat Jehovah vir sy biddende knegte sorg en hulle ondersteun! Ons kan met vertroue altyd bid soos Dawid gebid het: “HERE, my God, by U skuil ek; verlos my van al my vervolgers en red my; sodat hy nie soos ’n leeu my verskeur en wegruk sonder dat iemand red nie.” Ja, dit voel dalk soms vir ons of ons “onder leeus lê”, naamlik onder “wraakgieriges, mensekinders wie se tande spiese en pyle is, en wie tong ’n skerp swaard is”. Maar as ons vurig tot Jehovah bid en in die skaduwee van sy vleuels skuil, sal ons as handhawers van onkreukbaarheid uit hierdie beproewings kom (Ps. 7:2, 3; 57:2-5). Net soos Daniël “deur die geloof . . . bekke van leeus toegestop” het, kan ons ook.—Hebr. 11:33.
IN “’N TYD VAN BENOUDHEID”
13. (a) Waarom was dit nodig om Daniël tydens die bewind van Kores te versterk? (b) Watter soortgelyke moed het Jehovah se Getuies vandag nodig gehad?
13 Later, gedurende die bewind van koning Kores, het ’n engel in ’n gesig aan Daniël verskyn en hom versterk deur te sê: “Wees nie bevrees nie, geliefde man, vrede vir jou, wees sterk, ja, sterk!” (Dan. 10:1-19). Dit het moed van Daniël geverg om die kragtige profesie wat die engel vervolgens aan hom gegee het, en wat ons in Daniël hoofstukke 11 en 12 aantref, te ontvang en op te teken. En dit het moed van Jehovah se Getuies geverg om “nie van die wêreld” te wees nie gedurende die vervulling van die laaste deel van hierdie profesie waar dit die konfrontasie tussen die Kommunistiese “koning van die Noorde” en die kapitalistiese “koning van die Suide” in hierdie kerneeu beskryf.
14. (a) Wat identifiseer Migael as die Here Jesus Christus? (b) Hoe kan ons moed skep uit die verslag in Daniël hoofstuk 12?
14 Die boek Daniël maak etlike kere melding van Migael, wie se naam beteken “Wie is soos God?” (Dan. 10:13, 21). Aldus word hierdie groot vors geïdentifiseer as die Here Jesus Christus wat stry vir die regverdiging van Jehovah se soewereiniteit. Waar die engel van hierdie “tyd van die einde” praat, sê hy vir Daniël: “En in dié tyd sal Migael, die groot vors wat oor die kinders van jou volk staan, optree; en dit sal ’n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat ’n volk bestaan het tot op dié tyd nie; maar in dié tyd sal jou volk gered word, elkeen wat in die boek opgeskrywe staan” (Dan. 12:1, 4). Mag ons baie moedig wees om alles te doen wat Daniël se God van ons vereis, totdat daardie “tyd van benoudheid” Satan se goddelose wêreld weggevee het. Want dan sal die glorieryke dag van Jesus se duisendjarige ryk aanbreek. “Baie van die wat in die stof van die aarde slap, sal ontwaak” met die vooruitsig van ewige lewe op aarde. Die moedige Daniël sal ook “opstaan tot [sy] bestemming aan die einde van die dae”.—Dan. 12:2, 9, 13.
“WEES STERK EN VOL MOED”
15, 16. (a) Watter vroeëre situasie van Daniël se volk Israel het moed geverg? (b) Hoe kan die moed van God se volk vandag, net soos in Israel, versterk word?
15 God se volk staan vandag op die drumpel van die millennium. Die situasie kom ooreen met die van Daniël se volk, Israel, op ’n baie vroeër tydstip in hulle geskiedenis. Dit was terwyl hulle laer langs die Jordaanrivier was, gereed om na die Beloofde Land oor te trek. Die doel was in sig. Maar daar het nog beproewings en moeilikhede voorgelê. Moed was nodig. Gevolglik het ’n ander beroemde profeet van Jehovah, die bejaarde Moses, die volgende vir Israel gesê: “Wees sterk en vol moed; wees nie bevrees en word nie verskrik vir [julle vyande] nie; want dit is die HERE jou God wat saam met jou trek; Hy sal jou nie begewe of verlaat nie.” En Moses het sy eie aangewese opvolger, Josua, op soortgelyke wyse vermaan: “Wees sterk en vol moed.”—Deut. 31:1-8.
16 Die hele volk sou inderdaad baie moedig moes wees; en gevolglik het Moses die priesters, die Leviete en die oudstes van Israel onderrig oor wat elke sewe jaar tydens die Huttefees, wat deur almal gehou moes word, moes plaasvind: “Laat die volk byeenkom, die manne en die vroue en die kinders en jou vreemdeling wat in jou poorte is, dat hulle kan hoor en dat hulle kan leer om die HERE julle God te vrees en sorgvuldig al die woorde van hierdie wet te hou” (Deut. 31:9-12). Indien daardie nasie suksesvol wou wees, moes hulle die wet van Jehovah hoor, leer en gehoorsaam, en dit is ook vandag nodig indien God se volk die moed wil hê wat hulle in staat sal stel om die wêreld se einde te oorleef.
17, 18. Wat is nodig om “sterk en vol moed” te word, en waarom moet Christelike ouere manne veral hieraan aandag skenk?
17 Op daardie kritieke tyd in Israel moes die ouere man Josua voorbeeldige moed aan die dag lê, net soos Christelike ouere manne in die gemeente dit vandag moet doen. Jehovah se woorde wat regstreeks tot Josua gespreek is en wat gestaaf het wat Moses tevore gesê het, moet dus ons volle aandag geniet: “Wees sterk en vol moed; . . . Wees net baie sterk en vol moed, . . . Wees sterk en vol moed, wees nie bevrees of verskrik nie; want die HERE jou God is met jou oral waar jy heengaan” (Jos. 1:6, 7, 9). Jehovah het vir Josua gesê wat nodig was om “sterk en vol moed” te wees en om in alle situasies verstandig op te tree. En wat is dit? Laat die teks antwoord:
18 “Hierdie wetboek [van Jehovah] mag nie uit jou mond wyk nie; maar bepeins dit dag en nag, sodat jy nougeset kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan; want dan sal jy in jou weë voorspoedig wees, en dan sal jy met goeie gevolg handel.”—Jos. 1:8.
19, 20. Wat sal die uitslag wees as ons “sterk en vol moed” is?
19 Wat was eindelik die gevolg van Josua se verstandige optrede en die moedige gehoorsaamheid van die volk? Nadat alle hindernisse te bowe gekom is, nadat Jehovah aan Israel die oorwinning oor al hul vyande geskenk het en toe die volk hulle uiteindelik gevestig het in daardie “land wat oorloop van melk en heuning”, kon Josua hulle bemoedig deur te sê: “Julle moet erken met jul hele hart en met jul hele siel dat nie een woord van al die goeie woorde wat die HERE julle God oor julle gespreek het, onvervuld gebly het nie; alles het vir julle uitgekom, nie een woord daarvan het onvervuld gebly nie.”—Jos. 5:6; 23:14.
20 Wanneer Jehovah se hedendaagse moedige volk uiteindelik uit die rampspoedige “tyd van benoudheid” kom om Christus se duisendjarige vrederyk binne te gaan, sal hulle die vervulling van Jehovah se beloftes op ’n baie groter skaal, ja, op ’n permanente grondslag ervaar. Mag ons almal “sterk en vol moed” wees om tot in daardie millennium wat nou ophande is, behoue te bly!
[Prent op bladsy 21]
Net soos Jehovah Daniël beskerm het, beskerm hy getuies teen hedendaagse “leeus”