Versterk deur die millenniumhoop
“Leer van die vyeboom hierdie gelykenis: Wanneer sy tak al sag word en sy blare uitbot, weet julle dat die somer naby is. So weet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, dat dit naby is, voor die deur.”—Mark. 13:28, 29.
1, 2. (a) Wat het ’n wêreldleier oor oorlog en vrede gesê? (b) Maar watter hoop het Jesus voorgehou? (Vergelyk Lukas 21:29-31.)
“IN DIE eeu van die waterstofbom is daar nie meer enige sinvolle onderskeid tussen globale oorlog en globale selfmoord nie.” Dit was die woorde van die president van die Verenigde State toe hy teruggekeer het nadat hy die SALT-ooreenkoms met die Sowjet-Unie onderteken het. Hy het ook gesê dat die wêreld in ’n “skemervrede” lewe met die sombere vooruitsig op “’n katastrofiese kernoorlog, ’n oorlog wat die gesamentlike oorloë van die mensdom se lang en bloedige geskiedenis op die gebied van afgryse en vernietiging en dood in die skadu sal stel.” Maar sal dit op globale selfmoord uitloop? Kom ons kyk wat “die Seun van die mens”, Jesus Christus, se antwoord is, soos dit in die boek Markus opgeteken is.
2 Toe Jesus die “dinge” wat in ons 20ste eeu gebeur, voorspel het, het hy hulle vergelyk met die vyeboom “wanneer sy tak al sag word en sy blare uitbot”—’n bewys dat die somer ophande is (Mark. 13:28, 29). Dit val saam met Jesus se koms om oordeel te voltrek. Dan sal “die duisend jaar” volg waartydens die Duiwel die nasies nie meer sal verlei nie.—Openb. 20:2, 3.
3. (a) Hoe is die mensdom geraak deur die “dinge” waarna Jesus verwys het? (b) Hoe moet Jesus se dissipels hierdie gebeure beskou?
3 Die “dinge [wat] gebeur”, is egter nie aangenaam nie. Waar hy hulle voorspel het, het Jesus ons met hierdie woorde bemoedig: “Wanneer julle hoor van oorloë en gerugte van oorloë, moet julle nie verskrik word nie, want dit moet kom. Maar dit is nog nie die einde nie. Want die een nasie sal teen die ander opstaan, en die een koninkryk teen die ander; en daar sal aardbewings wees op verskillende plekke, en daar sal hongersnode wees en beroeringe. Hierdie dinge is ’n begin van die smarte” (Mark. 13:4, 7, 8). Jesus se dissipels is dus nie onnodig verontrus oor die skrikwekkende gebeure op aarde sedert “die [vasgestelde] tye van die nasies” in 1914 verstryk het nie (Luk. 21:24-28). Hulle is almal ’n teken dat Christus Jesus, die Seun van die mens, “naby is, voor die deur”, en dat sy verrese voetstapnavolgers binnekort “die duisend jaar lank” saam met hom as konings sal heers.—Matt. 24:33; Openb. 20:4.
“GEE AG OP JULLESELF”
4. Waarom het Jehovah se Getuies dikwels meer as ander gely, en wat sê Markus 13:9 hieromtrent?
4 Tesame met talle ander van die mensdom het Jehovah se Getuies as gevolg van hierdie “smarte” gely. Soms moes hulle selfs meer as ander ly, want dit is die tydperk wanneer die Duiwel veral toornig is op diegene “wat die gebooie van God bewaar” (Openb. 12:12, 17). Jesus praat hiervan en sê: “Wat julle betref, gee ag op julleself; mense sal julle oorlewer aan plaaslike regbanke, en julle sal in die sinagoges geslaan word en voor goewerneurs en konings teregstaan om my ontwil, tot ’n getuienis vir hulle.”—Mark. 13:9, NW.
5. Wat was die ervaring van Jehovah se Getuies sedert 1914 terwyl hulle na die millenniumdoelwit voortbeweeg?
5 Hoe waar was dit tog in die tydvak sedert 1914! Gewetensgetroue Bybelstudente is vervolg deur die meeste nasies wat aan die Eerste Wêreldoorlog deelgeneem het. Vlae van vervolging het die Duitse getuies van Jehovah gedurende die dertigerjare en tot in die veertigerjare getref, maar nie daarin geslaag om hulle te vernietig nie. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het die meeste nasies van die aarde meegedoen aan ’n kampanje van haat teen Jehovah se Getuies. Maar ten spyte van hulle ontberings het hierdie Christene altyd die heldere hoop op die geseënde duisendjarige ryk gehad; en hulle beweeg steeds voort na die geluk van daardie tyd.—Openb. 20:6.
6. (a) Watter “getuienis” moet Jehovah se volk lewer? (b) In watter mate is Markus 13:10 in hedendaagse tye vervul?
6 Tot vandag toe moet Jehovah se volk voor regters en heersers in talle lande as “’n getuienis vir hulle” verskyn. Dit is omdat God se knegte hulle trou eerstens aan Christus se koninkryk gee, wat Jesus self beskryf het as iets wat “nie van hierdie wêreld [is] nie” (Joh. 18:36). Dit is ook omdat hulle ywerig deelneem aan die vervulling van die volgende woorde van Jesus se profesie: “En die evangelie [goeie nuus] moet eers aan al die nasies verkondig word” (Mark. 13:10). Is dit sedert 1914 gedoen? Beslis! Nie in die krag van blote mense nie, maar deur die krag van God se gees het Jehovah se Getuies die aarde gedek tydens ’n kampanje om te preek en dissipels te maak. Vandag verkondig meer as tweemiljoen Getuies die millenniumhoop “tot by die eindes van die wêreld”.—Sag. 4:6; Rom. 10:18.
7. Hoe ervaar Jehovah se Getuies die hulp van God se dinamiese energie? (Jesaja 40:28-31).
7 God onderskraag sy volk op ’n wonderlike wyse met dinamiese energie terwyl hulle steeds te kampe het met die situasies wat Jesus verder beskryf het toe hy gesê het: “En wanneer hulle jul weglei om julle oor te lewer, moenie julle vooraf kwel oor wat julle sal spreek nie, en moenie daaroor dink nie; maar wat julle in dié uur gegee word, dit moet julle spreek; want dit is nie julle wat spreek nie, maar die Heilige Gees. En die een broer sal die ander tot die dood oorlewer, en die vader sy kind, en die kinders sal teen hulle ouers opstaan en hulle doodmaak. En julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam.”—Mark. 13:11-13.
8. Hoe het “heilige gees” God se volk dikwels gehelp wanneer hulle onder druk verkeer het?
8 In hierdie dae wanneer Jesus se “teken” vervul word, is daar talle gevalle waar Jehovah “heilige gees” en leiding voorsien het wanneer dit dringend nodig was (Mark. 13:4). Een van Jehovah se Getuies, ’n getroue reisende opsiener, is onlangs in hegtenis geneem omdat hy die “goeie nuus” verkondig het, en sy gevangenemers het voorbereidings getref om hom om die lewe te bring. Hy het egter geprotesteer dat hulle hom eers ’n billike verhoor moet gee. Toe ’n verhoor toegestaan is, het hy versoek dat ’n griffier teenwoordig moet wees. Met die hulp van Jehovah se gees het die opsiener ’n goeie getuienis oor die Koninkryk gelewer en talle tekste aangehaal. Alles is in die hofverslag aangestip. Hy is egter ter dood veroordeel. Maar toe het hy vir die hof gesê dat die wet hom die reg gee om te appelleer. Hy is dus toegelaat om appèl aan te teken op grond van die skriftelike hofverslag. Die hoërhof het die vonnis nietig verklaar en die reisende opsiener vrygelaat om sy verkondiging van God se koninkryk voort te sit. Heilige gees het hom gehelp om die oorwinning te behaal!—Vergelyk Handelinge 4:13, 31; 5:32.
9. Watter probleme met familielede het ontstaan en is die hoof gebied?
9 Net soos Jesus voorspel het, het ongelowige gesinslede vervolgers geword. Getuies is al by geleentheid deur hulle eie opstandige kinders verraai, iets wat in ’n vlugtelingkamp in Afrika gebeur het. In betreklik vreedsame lande het Jehovah se Getuies soms ook te kampe met bittere teenstand deur huweliksmaats of ander familielede. Terwyl hulle taktvol getuig en liefdevol probeer om sulke teenstanders te help, word al hierdie Getuies onderskraag deur die versekering: “Wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.”—Mark. 13:13; vergelyk Markus 10:28-30; 1 Petrus 3:1-4.
ONDERSKEI DIE “GRUWEL”
10. Watter vraag ontstaan in verband met Markus 13:14?
10 Almal wat hunker na die komende millennium is diep betrokke by die vervulling van Jesus se volgende woorde: “En wanneer julle die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan waar dit nie behoort nie—laat hom wat lees, oplet—dan moet die wat in Judea is, na die berge vlug” (Mark. 13:14). Wat is hierdie “gruwel”?
11. (a) Watter kontras is daar tussen God se koninkryk en die “gruwel”? (b) Waarom is die Verenigde Volke ’n “gruwel” in Jehovah se oë?
11 Die “gruwel” vorm ’n kontras met die “koninkryk van onse Here [Jehovah God] en van sy Christus”, wat in 1914 in die hemele gebore is (Openb. 11:15—12:12, NW). Daardie koninkryk word profeties beskryf as “skoon deur sy verhewenheid” en as “die volkomenheid van skoonheid” (Ps. 48:3; 50:2). Maar die nasies het dadelik toornig geword op die Koninkryk (Ps. 2:1-6). Eerlank het hulle die Volkebond geskep, wat later weer as die Verenigde Volke verskyn het. In die Bybelboek Openbaring word hierdie internasionale liggaam uitgebeeld as iets wat waarlik ’n “gruwel” is—“’n skarlakenrooi dier, vol godslasterlike name, met sewe koppe en tien horings” (Openb. 17:3, 8). Wat ’n “gruwel” is dit tog in Jehovah se oë! Want dit is geloof as die werktuig om “vrede en veiligheid” te bring—iets wat slegs Christus se glorieryke Koninkryksbewind vir die mensdom kan bewerkstellig.—Jes. 9:5, 6; vergelyk 1 Thessalonicense 5:3.
12. Hoe het Babilon die Grote haar Jehovah se misnoeë op die hals gehaal, en met watter gevolg vir haar?
12 Wie het sulke aanmatigende bewerings oor hierdie mensewerktuig gemaak? Hoofsaaklik die geestelikes van die Christendom! In Desember 1918 het die Federale Raad van die Kerke van Christus in Amerika die destyds voorgestelde Volkebond geloof as “die politieke beliggaming van die Koninkryk van God op aarde”. Meer onlangs, in 1965, het pous Paulus VI gesê dat die Verenigde Volke “die laaste hoop op harmonie en vrede” is. Reg tot op hede het pouse en prelate voortgegaan om hulle flikkers by die V.V.O. te gooi. Maar aan wie behoort hierdie geestelikes? Hulle is verbonde aan ’n godsdienstige “hoer” wat in Openbaring beskryf word as “Babilon die Grote, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde” (Openb. 17:1, 3-6, NW). As die wêreldryk van valse godsdiens oefen hierdie ontugtige “vrou” haar beroep met die nasies se politieke leiers uit terwyl sy haar vertroue in die V.V.O.-”dier” uitspreek en haar dit selfs aanmatig om ‘as koningin’ bo-op daardie “dier” te ‘sit’ en dit te stuur (Openb. 18:7). Maar net wanneer dit lyk asof sy in ’n gunstige posisie by haar politieke “minnaars” verkeer, sal die radikale “tien horings” van daardie V.V.O. begin om “die hoer [te] haat en haar verlate maak en naak”, en haar heeltemal vernietig.—Openb. 17:16.
13, 14. (a) Waarom moet ons nou seker maak dat ons ons, vlug na die berge’ voltooi het? (b) Watter getuienis is daar dat baie steeds gehoorsaam is aan die bevel in Openbaring 18:4?
13 Met die onderskeidende oog van geloof kan Christene selfs nou sien hoe die “gruwel”—die V.V.O.—“staan waar dit nie behoort nie”, met “horings” wat die sogenaamde ‘heilige ryk’ van die valse Christendom bedreig (Mark. 13:14; Matt. 24:15). Die verwoesting van valse godsdiens kom nader! Sy het haar misreken toe sy haar vertroue in hierdie ‘gruwelike’ dier gestel het! Wat moet die leser doen wanneer hy hierdie dinge waarneem? Jesus antwoord: ‘Vlug na die berge.’
14 Gelukkig het “die wat in Judea is” nie hulle vlug na Jehovah se beskermende “berge” buitekant daardie ryk uitgestel nie. Gevolglik waarsku Jehovah se Getuies vandag in 205 lande en gebiede rondom die aardbol teen die vroeë einde van hierdie stelsel van dinge. Hulle het geluister na die stem uit die hemel wat sê: “Gaan uit [Babilon die Grote] uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie. Want haar sondes reik tot aan die hemel, en God het haar ongeregtighede onthou” (Openb. 18:4, 5). Jehovah se volk het gesorg dat hulle “nie van die wêreld is nie” (Joh. 15:19). Duisende vlug steeds, soos getoon deur die 416 167 wat gedurende die drie jaar na 1975 gedoop is.
’N DRINGENDE SITUASIE
15. Hoe kan ons die raad van Markus 13:15, 16 in ons lewens toepas?
15 Waar Jesus die dringendheid van die “voleinding” van die stelsel van dinge beklemtoon, sê hy voorts: “En wie op die dak is, moet nie afkom in die huis en ook nie ingaan om iets uit sy huis weg te neem nie; en wie op die land is, moet nie omdraai na wat agter is om sy kleed weg te neem nie” (Mark. 13:15, 16). Wanneer ’n ramp in Bybeltye gedreig het, sou dit roekeloos van ’n man gewees het om met die buitetrap van sy bovertrek af langs te kom en sy huis binne te gaan om sy besittings te red. Sy vinnigste ontsnaproete sou dikwels al met die aangrensende dakke langs gewees het. ’n Boer wat van sy klere uitgetrek het om op sy land te werk, sal ook sy kans om te ontsnap in gevaar stel indien hy teruggekeer het om ’n goeie kleed op te tel. ’n Mens sal vandag eweneens gered word as jy na God se koninkryk vlug en voortdurend Koninkryksbelange eerste stel—nie as jy probeer om materiële dinge in ’n gedoemde wêreld te red nie.—Vergelyk Lukas 9:62; 12:22-31; 17:31, 32.
16. (a) Wie sal dit baie moeilik vind wanneer die finale “verdrukking” toeslaan? (b) Watter vertroostende verwagting kan Godvresende ouers egter koester?
16 Jesus sê vervolgens: “Wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog, in daardie dae!” (Mark. 13:17). Dit was moeilik—baie moeilik—vir sulke persone toe die keiserlike leër van Rome Jerusalem in die jaar 70 G.J. verwoes het. En wanneer die finale “verdrukking” die aarde tref, sal dit ’n baie moeilike tyd wees vir gesinne wat Jehovah se voorsiening om te ontsnap geïgnoreer het. Gelukkig kan Godvresende ouers wat probeer om hulle kindertjies groot te maak “in die tug en vermaning van die Here”, verwag dat gehoorsame minderjariges die voordeel van gesinsverdienste sal geniet, iets wat hulle redding kan beteken. (Ef. 6:4; vergelyk 1 Korinthiërs 7:14.) Maar dit sal nie maklik wees om te oorlewe nie, soos Jesus se volgende woorde aandui:
17. (a) Wat kan ons van die “winter” van “verdrukking” verwag? (b) Hoe kan ons nou verstandig optree, en met watter hoop vir die toekoms? (Jes. 26:20, 21).
17 “En bid dat julle vlug nie in die winter mag plaasvind nie. Want daardie dae sal daar ’n groot verdrukking wees soos daar nie gewees het van die begin van die skepping af wat God geskape het tot nou toe, en ook nooit sal wees nie. En as die Here dié dae nie verkort het nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes wat Hy uitverkies het, het Hy dié dae verkort” (Mark. 13:18-20). Ons sal indiwidueel dalk nie paal haal” indien ons ons vlug gedurende ’n gunstige seisoen soos die somer uitstel tot die winter van “verdrukking” nie. In hierdie abnormale tye kan niemand verwag om ’n normale lewe te lei nie. Die verstandige weg vandag is om na die kant van God se koninkryk te vlug en om daar te bly terwyl jy ’n lewe van selfopoffering lei en jou ten behoewe van Koninkryksbelange bestee (Mark. 8:34-36; Matt. 6:33). Terwyl ons die grootste van alle verdrukkings tegemoet gaan, kan ons dankbaar wees oor Jesus se versekering dat Jehovah ‘dié dae sal verkort’ om “vlees” te red wat aan hom toegewy is—dié van die “uitverkorenes” wat later saam met Christus sal heers en dié van die “groot menigte” wat die kern vorm van diegene wat gedurende die millennium op aarde sal lewe.—Openb. 5:9, 10, NW; 7:4, 9-17.
18. Hoe kan ons verwag dat die “benoudheid van nasies” ’n klimaks sal bereik? (Jes. 45:18).
18 Nadat hy gewaarsku het teen “valse christusse en valse profete”, waarvan daar baie in hierdie laaste dae verskyn het, verwys Jesus na verskriklike gesigte in die hemele en na die “groot krag en heerlikheid” van sy koms as “die Seun van die mens”, wanneer hy oordeel voltrek en die wat aan hom behoort vir redding byeenbring (Matt. 24:24; Mark. 13:26). Met voedsel, brandstof en ander voorrade wat afneem en die voortdurende ophoping van wapens vir massavernietiging sal daar ongetwyfeld ’n toename wees in die “benoudheid van nasies in hulle radeloosheid . . . [terwyl] mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom” (Luk. 21:25, 26). Of daardie nasies die noodlottige weg van totale kernoorlog gaan inslaan, sal ons maar moet sien. Maar hulle kan nie en hulle sal nie die mensdom van die oppervlak van die aarde af uitwis nie! Die “uitverkorenes” en hulle metgeselle het die gewisse belofte van verlossing.—Luk. 21:28; Matt. 24:21, 22.
19. Wat kan ons verwag om in die nabye toekoms te sien?
19 Die “smarte” het voorwaar vir die mensdom veel droefheid veroorsaak sedert ‘nasie teen nasie begin opstaan het’ in wêreldoorlog (Mark. 13:8). Jesus verseker ons egter dat net soos ’n mens die koms van die somer kan herken aan die nuwe blare wat op die vyeboom uitbot, so moet “hierdie dinge [wat] gebeur” binnekort hulle klimaks bereik met Christus se koms om oordeel te voltrek. Hy sê: “Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie. Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie” (Mark. 13:21-27, 30, 31). Daarbenewens verseker die Openbaring wat Jesus later aan die apostel Johannes gegee het ons dat 1 000 jaar van God se koninkryk in die hande van Christus sal volg nadat die Duiwel en al sy werke van die toneel verwyder is.—Openb. 20:2, 3; 1 Joh. 3:8.
“WAAK”
20. (a) Waarom is dit gevaarlik om nou lomerig te word? (b) Hoe kan ons volgens Markus 13:34, 35 lojaliteit aan ons Meester toon?
20 Die slotwoorde van Jesus se groot profesie bevat vir ons almal ’n sterk waarskuwing. Party is dalk lomerig gemaak of selfs aan die slaap gesus omdat die “Seun van die mens” nie op ’n verwagte datum gekom het om met die nasies af te reken nie. Hoe gevaarlik tog! Jesus vermaan: “Van daardie dag en dié uur weet niemand nie, ook nie die engele in die hemel of die Seun nie, maar net die Vader. Pas op, waak en bid, want julle weet nie wanneer die tyd daar is nie.” Die feit dat ons nie weet wanneer daardie tyd is nie, bied ’n sterk rede om wawyd wakker te bly. Daarbenewens verg lojaliteit aan ons Meester, wat ons toon deur ons ywerige verkondiging van die “goeie nuus” oor sy koms, voortdurende waaksaamheid. “Dit is soos ’n man wat op reis is, wat sy huis agtergelaat en sy diensknegte volmag gegee het, en vir elkeen sy werk, en aan die deurwagter bevel gegee het om te waak. Waak dan, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis kom nie.”—Mark. 13:32-35.
21. In die lig van watter beloftes moet ons, “waak”?
21 Mag die “Seun van die mens” dan, wanneer hy “skielik” kom om oordeel te voltrek, ons nie aan die slaap vind nie, maar druk besig om ons Vader se wil te doen. Want ons sal geseën word as ons ag slaan op Jesus se woorde: “Wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Waak!” (Mark. 13:37). Mag ons dwarsdeur die “verdrukking” onderskraag word deur Jehovah se kosbare beloftes reg tot in die wonderlike vrede wat 1 000 jaar lank onder God se koninkryk in die hande van Christus sal duur!—Openb. 20:1-6; 21:1-5.
[Prent op bladsy 15]
Die mensdom se “smarte” het in 1914 begin en tot nou toe toegeneem