Jonatan ‘’n man duisend’
WYSE koning Salomo het gesê: “Een mens uit duisend het ek gevind” (Pred. 7:28). Dit toon dat ’n ideale man seldsaam is. Min munt uit op die gebied van sedelike voortreflikheid. Jonatan, die seun van koning Saul, het egter. Hy was dapper, lojaal en onselfsugtig. Indien daar ooit ’n man was wat rede gehad het om jaloers, mededingend of afgunstig te wees, was dit Jonatan. Maar hy was baie lief vir en lojaal teenoor die einste persoon wat minder edel manne as ’n ernstige bedreiging vir hulle posisie sou beskou het.
Vroeg tydens die bewind van sy vader het Jonatan hom as ’n dapper kryger onderskei. Met ’n duisend swak gewapende manne het hy die Filistynse garnisoen te Geba verslaan (1 Sam. 13:1-3). Jonatan moes destyds ten minste 20 jaar oud gewees het, want dit was ’n vereiste indien iemand ’n soldaat in Israel wou wees.—Num. 1:3.
Later het Jonatan en sy wapendraer, met God se hulp, 20 vyandelike Filistyne verslaan. Dit het die weg vir die Israeliete gebaan om ’n oorwinning oor hulle vyande te behaal. Tydens hierdie kampanje het Jonatan onwetend in stryd met sy vader se onbesonne eed opgetree. Indien Saul sy eed gestand wou doen, moes sy seun tereggestel word. Jonatan het nie uit vrees teruggedeins nie, maar vir sy vader gesê: “Hier is ek, ek sal sterwe.” Maar omdat die volk besef het dat Jehovah met Jonatan was, het hulle hom losgekoop.—1 Sam. 14:1-45.
Dit was amper 20 jaar later dat Dawid die Filistynse reus Goliat doodgemaak het. Dawid se dapper daad, wat verrig is met volle vertroue in Jehovah se vermoë om te red, het Jonatan se hart geroer. Die Bybel berig: “Die siel van Jonatan [het] verkleef geraak aan die siel van Dawid, en Jonatan het hom liefgekry soos sy eie siel” (1 Sam. 18:1). As blyk van sy vriendskap het Jonatan sy klere, sy swaard, sy boog en sy gordel aan Dawid gegee.—1 Sam. 18:4.
Toe Dawid later sy dapperheid getoon het deur die Israelitiese leër in die oorlog teen die Filistyne aan te voer, het die vroue die terugkerende oorwinnaars begroet met sang en danse. Hulle het gesing: “Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende!” (1 Sam. 18:5-7). Dit het Saul selfs jaloerser gemaak, en hy het Dawid met groot agterdog begin bejeën. Toe hy nie daarin slaag om Dawid met ’n spies dood te maak nie, het Saul later ingestem om sy dogter Migal as vrou aan Dawid te gee mits Dawid bewys lewer dat hy 100 vyandelike Filistyne doodgemaak het. Saul was daarvan oortuig dat Dawid deur die vyand gedood sou word wanneer hy probeer het om dit te doen. Dawid het egter teruggekeer met 200 voorhuide van die Filistyne—bewys dat hy soveel gedood het. Dit het slegs Saul se vrees en haat vir Dawid laat toeneem.—1 Sam. 18:8-29.
Maar Jonatan het nie toegelaat dat sy vader se jaloerse haat sy vriendskap met Dawid vernietig nie. Toe Saul openlik gesê het dat hy Dawid wil laat doodmaak, het Jonatan vir hom in die bres getree en daarin geslaag om sy vader te laat belowe dat hy nie sy vriend sou doodmaak nie. Later is Dawid egter gedwing om vir sy lewe te vlug aangesien Saul weer ’n spies na hom gegooi het. Die koning het ook manne na Dawid se huis gestuur om dit gedurende die nag dop te hou met dien verstande dat hulle hom in die oggend om die lewe sou bring. Daardie nag het Dawid deur ’n venster in sy huis ontsnap.—1 Sam. 19:1-12.
Daarna het Jonatan met Dawid saamgewerk om uit te vind hoe sy vader presies teenoor sy vriend gevoel het. Saul het woedend geword en losgetrek teen sy seun met die woorde: “Jou ontaarde, wederstrewige seun, weet ek nie dat jy die seun van Isai verkies tot jou skande en tot skande van jou moeder se naaktheid nie? Want al die dae dat die seun van Isai op die aarde lewe, sal jy en jou koningskap nie bevestig word nie; stuur dan nou en bring hom na my, want hy moet sterwe.” Toe Jonatan daarteen beswaar gemaak het, het sy woedende vader ’n spies na hom gegooi.—1 Sam. 20:1-33.
Daarna het Jonatan Dawid by ’n afgesproke plek ontmoet. Albei manne het hulle vriendskap vir en lojaliteit teenoor mekaar herbevestig (1 Sam. 20:35-42). Dat so ’n vriendskap ontstaan en voortgeduur het, is voorwaar merkwaardig. Jonatan was die regmatige erfgenaam van die troon en het geweet dat die koningskap uiteindelik Dawid s’n sou word. Daarbenewens was hy omtrent 30 jaar ouer as Dawid. Nogtans kon Jonatan saam met Dawid juig oor sy welslae en saam met hom ween in sy beproewing. Jonatan se vriendskap het Dawid ongetwyfeld gehelp om die regte agting vir die koning te behou en nie geleenthede om hom kwaad aan te doen te benut nie. Terwyl Saul Dawid meedoënloos agtervolg het, het Jonatan die geleentheid gehad om sy vriend te versterk. Ons lees van een voorval: “Daarop het Jonatan, die seun van Saul, hom klaargemaak en na Dawid in Hores gegaan. En hy het hom bemoedig in God en vir hom gesê: Vrees nie, want die hand van Saul, my vader, sal jou nie vind nie, maar jy sal koning word oor Israel, en ek sal die tweede onder jou wees; en my vader Saul weet dit ook goed.”—1 Sam. 23:16, 17.
Hoe edel tog van Jonatan om tevrede te wees om die tweede plek in die koninkryk te beklee! Sulke onselfsugtige toewyding was moontlik omdat Jonatan Dawid aanvaar het as Jehovah se keuse vir die koningskap en hom liefgehad het weens sy voortreflike eienskappe.
Jonatan het egter nooit die tweede plek in die koninkryk beklee nie, maar het saam met sy vader op die slagveld gesterf (1 Sam. 31:2). Saul en Jonatan se dood het Dawid ’n klaaglied met die titel “Die Booglied” laat komponeer. Hierdie klaaglied was aanvanklik deel van ’n versameling gedigte, liedere en ander geskrifte wat die Boek van die Opregte uitgemaak het. Daarna is “Die Booglied” in die geïnspireerde verslag van 2 Samuel opgeteken. Die lied moes aan die seuns van Juda geleer word.—2 Sam. 1:17-27.
Wanneer ons dink aan die wonderlike vriendskapsband wat tussen Dawid en Jonatan bestaan het, kan ons geredelik besef waarom Dawid hom met die woorde in “Die Booglied” uitgedruk het. Hy het soos volg getreur: “Ek is benoud om jou ontwil, my broer Jonatan! Jy was vir my baie lieflik; jou liefde was vir my wonderliker as die liefde van vroue” (2 Sam. 1:26). Jonatan was waarlik ‘’n man duisend’.