Jakob se benoudheid en God se nuwe verbond
“Daar kom dae . . . dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ’n nuwe verbond sal sluit”—Jer. 31:31.
1, 2. (a) Watter rolle het Jakob en Ragel ten opsigte van die nasie Israel gespeel? (b) Hoe is ongeëwenaarde moeilikheid vir Jakob voorspel?
JAKOB en Ragel het mekaar bemin. Jakob, wat later as Israel bekend gestaan het, het die vader van die twaalfstamnasie Israel geword. Ragel, sy gunstelingvrou, het die moeder van die stam van Benjamin geword. Die stam van Juda was die afstammelinge van Jakob se minder beminde vrou Lea. Die naam Jakob het dus ’n simbool van die hele nasie geword, en Ragel het ’n geëerde moederlike verteenwoordiger van daardie nasie afgebeeld. Benoudheid sonder enige gelyke tot op daardie tyd is vir Jakob voorspel, en Ragel sou die smartlike uitwerking daarvan ervaar. By die vooruitsig van so ’n benoudheid in sy dag, is die profeet Jeremia, wat in Anatot in die gebied van Benjamin gewoon het, geïnspireer om te sê:
2 “Wee, want die dag is groot, sonder weerga [in die verlede]! En dit is ’n tyd van benoudheid vir Jakob; maar hy sal daaruit verlos word.”—Jer. 30:7.
3. (a) Oor watter situasie is daar voorspel dat Ragel ontroosbaar sou ween? (b) Wanneer het die “tyd van benoudheid” Jakob getref?
3 Die uitwerking van hierdie ongeëwenaarde “tyd van benoudheid vir Jakob” op simboliese Ragel is met die volgende woorde in Jeremia 31:15 voorspel: “’n Stem word gehoor in Rama [’n stad in die gebied van Benjamin], geklaag, bitter geween; Ragel ween oor haar kinders; sy weier om getroos te word oor haar kinders, omdat hulle daar nie is nie.” Dit het nie beteken dat hulle doodgemaak is nie, maar dat hulle gevange geneem en as ballinge uit hulle tuisland na ’n vyandelike land weggevoer is. O, ja! Na 18 maande van benoude beleëring deur die Babiloniese veroweraars, is Jerusalem, wat op die noordelike grens tussen die gebiede van Juda en Benjamin geleë was, vernietig, is sy tempel verwoes, is die koning, vorste en priesters gevange geneem en is die oorgrote meerderheid oorlewendes na Babilon weggevoer. Teen die middel van die sewende maanmaand (Tisjri) van 607 v.G.J. is die hele land van die Koninkryk van Juda deur die paar oorblywende Jode verlaat en woes gelaat, sonder enige mense en vee. God het beveel dat hierdie woeste, onbewoonde toestand van die land 70 jaar lank sou duur.
4. Wanneer sou Jakob uit die voorspelde benoudheid “verlos” word?
4 Wat ’n “tyd van benoudheid” was dit tog vir Jakob! Hy is dit nie gespaar nie, hy het dit nie ontvlug nie, en dit sou eers na daardie 70 jaar van algehele verwoesting van die land wees dat God die vertroostende woorde wat hy bygevoeg het, sou vervul: “Maar hy sal daaruit verlos word” (Jer. 30:7). Hoe sou hierdie verlossing bewerkstellig word?
5. Wat het Jehovah gesê om Ragel te vertroos, en hoe het hy sy belofte nagekom?
5 Jehovah het hieroor uitgebrei toe hy, nadat hy vertel het hoedat Ragel oor haar kinders sou ween, bygevoeg het: “So sê die HERE: Bedwing jou stem van geween en jou oë van trane; want daar is loon vir jou arbeid, spreek die HERE; en hulle [jou kinders] sal uit die land van die vyand terugkom” (Jer. 31:16). Die “land van die vyand” was Babilon (Miga 7:8-10). Babilon se greep op die “kinders” van Ragel sou dus verbreek word. As ’n herversekering hiervan aan die bedroefde Ragel het God voorts gesê: “Ja, daar is verwagting vir jou nakomelinge, spreek die HERE; en die kinders sal terugkom na hulle grondgebied” (Jer. 31:17). Tot die verbasing van die ongelowige vyandige nasies het hierdie terugkoms na hulle eie grondgebied, Rama inkluis, vanaf 537 v.G.J. plaasgevind (Neh. 7:30; 11:31-33). Wat ’n wonderdadige “genesing” het Jehovah tog teweeggebring na so ’n ontstellende volks-“verbreking” in 607 v.G.J.!
6. Hoe sou Jehovah Sion, of Jerusalem, se situasie verander sodat sy nie meer sou wees soos ’n verjaagde na wie niemand vra nie, aangesien hy haar “wonde” sou genees?
6 Hieromtrent het hy gesê: “Want Ek sal genesing vir jou tot stand laat kom en jou van jou wonde gesond maak, spreek die HERE; omdat hulle jou noem: die verjaagde. Dit is Sion, sê hulle, niemand vra na haar nie. So sê die HERE: Kyk, Ek verander die lot van die tente van Jakob en sal my oor sy wonings ontferm; en die stad [Sion, of, Jerusalem] sal op sy puinhoop herbou word, en die paleis sal op sy regte plek staan. En uit hulle sal danksegging uitgaan en ’n stem van spelers [diegene wat lag].”—Jer. 30:17-19, vgl. NW.
7. Wat in daardie woord van Jehovah toon of Jehovah die Wetsverbond ten tye van die “wonde” sou beëindig, maar hoe het die Jode daardie verbond bejeën?
7 Jehovah is ’n “gelukkige God”, en hy wil hê dat diegene wat in ’n verbondsverhouding met hom is, ook gelukkig moet wees. Hy self lag! Sy belofte van toekomstige gelag vir die verbanne Joodse volk het bewys dat hy nie die Wetsverbond wat deur die profeet Moses tussen Hom en die nasie Israel bemiddel is, verbreek het nie. Maar, o, hoe het die Israeliete tog die bepalings van daardie verbond oortree! “En”, het Jehovah vir hulle gesê, “hulle het die hoogtes van Baal gebou wat in die dal van die seun van Hinnom [ten suide van die tempel van Jerusalem] is, om hulle seuns en hulle dogters vir Molog [as mense-offers] deur die vuur te laat gaan—iets wat Ek hulle nie beveel het nie en wat in my hart nie opgekom het nie, dat hulle hierdie gruwel sou bedrywe om Juda [die Koninkryk van Juda] te laat sondig.”—Jer. 32:35.
8. Na watter verdiende ervaring sou die Israeliete dus ’n volk vir Jehovah word?
8 Weens sulke redes was dit die Israeliete se verdiende loon dat moeilikheid die Koninkryk van Juda en sy hoofstad, Jerusalem, soos ’n naderende storm tref. Maar nadat hy dit voorspel het, het Jehovah barmhartig voorts gesê: “In dié tyd [van Israel se herstelling], spreek die HERE, sal Ek vir al die geslagte van Israel ’n God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees.”—Jer. 30:23-31:1.
9, 10. Wat sou Jehovah in hulle hart gee sodat die herversamelde Israeliete onbepaald ’n gelukkige verhouding met hom kon geniet, en met watter gevolg?
9 Ondanks hulle skandelike geskiedenis, sou God met hulle handel volgens wat hulle nou was. Hy sou hulle welsyn op die hart dra en hulle die geleentheid bied om onbepaald ’n gelukkige verhouding met hom te hê. Hieroor het hy gesê:
10 “Kyk, Ek laat hulle bymekaarkom uit al die lande waarheen Ek hulle verdryf het in my toorn en in my grimmigheid en in groot gramskap; en Ek sal hulle na hierdie plek terugbring en hulle veilig laat woon. En hulle sal vir My ’n volk wees, en Ek sal vir hulle ’n God wees. En Ek sal hulle een hart en een weg gee om My altyd te vrees, hulle ten goede en hulle kinders ná hulle. En Ek sal ’n ewige verbond met hulle sluit, dat Ek My van hulle nie sal afwend om aan hulle goed te doen nie; en Ek sal my vrees in hulle hart gee, sodat hulle van My nie afwyk nie. En Ek sal My oor hulle verheug om aan hulle goed te doen; en Ek sal hulle duursaam in hierdie land plant, met my hele hart en met my hele siel.”—Jer. 32:37-43; ook 31:27-30.
’N BETER VERBOND
11, 12. (a) Hoe lank het Jerusalem staande gebly na so ’n gunstige nuwe begin, en waarom kon Jehovah nie die skuld daarvoor kry nie? (b) Het Jerusalem se vernietiging ’n einde aan die Wetsverbond gemaak, en wat het Jehovah aangedui deur sy verbanne volk na hulle land terug te bring?
11 Hoekom het herboude Jerusalem, na so ’n uitstekende nuwe begin, dan slegs 606 jaar gestaan, naamlik tot die noordelike somer van 70 G.J.? In die lig van hoe Jehovah in die pasaangehaalde woorde ’n verbond met sy volk gesluit het om hulle te steun, kan hy beslis nie die skuld daarvoor kry nie. Dit was nie weens enige tekortkominge aan sy kant dat ’n nuwe verbond nodig was nie. En tog het hy deur Jeremia aangekondig dat hy ’n nuwe en beter verbond sou sluit. Bowendien sou vleeslike Israel die eerste wees om dit te benut!
12 In 1513 v.G.J. het Jehovah ’n Wetsverbond met Israel gesluit deur middel van Moses as middelaar. Dit was 906 jaar voordat Jehovah Nebukadnesar, die koning van Babilon, gebruik het om Jerusalem en sy tempel te vernietig. Maar dit het nie sy Wetsverbond met Israel beëindig nie. Jehovah het dus nie nog ’n ander soort verbond nodig gehad om die Jode se wonde te genees deur hulle uit die vyandelike land Babilon te verlos en na hulle Godgegewe tuisland terug te bring nie. Maar deur dit te doen, het hy homself as hulle God herstel en hulle verseker dat hulle steeds sy volk was en dat Sion, of Jerusalem, nie langer ’n “verjaagde” was na wie niemand gevra het nie.
13, 14. (a) Hoe het daardie Israeliete wat van die swaard van die oorwinnaars vrygeraak het in ’n ‘woestynagtige’ toestand beland, en waar het hulle rus gesoek? (b) Met watter soort liefde het Jehovah Israel liefgehad, en met watter persoonlike eienskap sou hy hulle dus na hom toe trek?
13 Dit was Jehovah se voorneme om ’n ongeëwenaarde blyk van sy goedertierenheid vir sy verbondsvolk te gee. Dit is waarom hy nie toegelaat het dat die swaard van hulle veroweraars hulle heeltemal uitroei nie. Daar sou oorlewendes wees. Hulle sou vind dat ballingskap in ’n vyandige land ooreenkom met lewe in ’n woestyn waar hulle geen ware rus sou vind nie, want dit was nie hulle tuisland, hulle Godgegewe land nie. Deur hulle berouvol in hierdie ‘woestynagtige’ toestand tot Hom te keer, sou hulle sy guns verkry, want hy het nie sy verbond met hulle beëindig nie. Die blye gevolge is voorspel:
14 “Die volk van diegene wat van die swaard vrygeraak het, het genade gevind in die woestyn, op weg om sy rus [in sy Palestynse tuisland] te geniet, naamlik Israel. Die HERE het aan my verskyn uit die verte: Ja, Ek het jou liefgehad met ’n ewige liefde; daarom het Ek jou getrek met goedertierenheid. Ek sal jou weer bou, en jy sal gebou word, o jonkvrou van Israel! Jy sal jou weer versier met jou tamboeryne en uittrek in die koordans van die spelers. Jy sal weer wingerde plant op die berge van Samaria [wat voorheen deur die Noordelike Koninkryk van Israel bewoon is]; die planters sal plant en die vrugte geniet. Want die dag is daar dat die oppassers op die berge van Efraim [die vernaamste stam van die Noordelike Koninkryk van Israel] roep: Maak julle klaar en laat ons op trek na Sion [Jerusalem], na die HERE onse God.”—Jer. 31:2-9.
15, 16. (a) Waar sou al 12 stamme van Israel, volgens daardie pasaangehaalde profesie, hulle aanbidding van Jehovah hervat? (b) Wat sou hy daarna met die huis van Israel sluit, en met watter gevolg vir sy volk?
15 Ja, al die suidelike en noordelike stamme van Israel sou versamel en verenig word om Jehovah in Sion te aanbid! Dit het beteken dat Jakob (al 12 stamme van Israel) weens God se ewige liefde, verlos sou word uit die “tyd van benoudheid” wat vir hom ’n hoogtepunt bereik het met die vernietiging van Jerusalem en Juda in 607 v.G.J. (Jer. 30:7). Maar selfs voordat daardie “benoudheid” gekom het, het Jehovah se goedertierenheid hom beweeg om iets te voorspel wat baie wonderliker is as bloot die herversameling van sy verbanne volk:
16 “Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ’n nuwe verbond sal sluit; nie soos die verbond wat Ek met hulle vaders gesluit het op dié dag toe Ek hulle hand gegryp het om hulle uit Egipteland uit te lei nie—my verbond wat húlle verbreek het, alhoewel Ék gebieder [eggenoot, NW] oor hulle was, spreek die HERE. Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die HERE: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ’n God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees. En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die HERE; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die HERE; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie.”—Jer. 31:31-34.
’N NUWE MIDDELAAR NODIG
17. Waarom behoort ons vandag steeds in die nuwe verbond belang te stel, en hoe lank gelede was die Wetsverbond reeds oud en op die punt om te verdwyn?
17 Stel ons vandag in daardie nuwe verbond belang? Ons behoort, want dit is steeds van krag. Maar op wie was dit tot nou toe van krag? Die miljoene Jode dwarsoor die aarde beweer nie dat dit op hulle van krag is nie. Hulle glo dat hulle steeds in die verbond is wat met hulle voorvaders by die berg Sinai gesluit is. Dit was meer as 3 490 jaar gelede! Jehovah se belofte van ’n nuwe verbond is meer as 2 580 jaar gelede deur middel van Jeremia gemaak. Gestel daardie Jode het reg. Waarom het God dan so lank gewag voordat hy die beloofde nuwe verbond gesluit het? Meer as 1 900 jaar gelede was die Joodse Wetsverbond dan immers reeds oud en op die punt om te verdwyn om die weg vir die nuwe verbond te baan. Het dit?
18. (a) Wat het God se belofte van ’n “nuwe” verbond aangaande die Wetsverbond aangedui, en in watter ouderdomsgroep het dit dit geplaas? (b) Hoe is daardie Wet vir die nasie Israel beskik?
18 ’n Joodse student wat aan die voete van die bekende Fariseïese leraar Gamaliël in Jerusalem gesit het, het hieroor geskryf: “As Hy sê ’n nuwe verbond, het Hy die eerste oud gemaak; en wat oud word en verouder, is naby die verdwyning” (Hebr. 8:13; 2 Kor. 3:14). Dit was omstreeks die jaar 61 G.J. toe die Joodse skrywer hierdie woorde aan die gekerstende Hebreërs in Jerusalem geskryf het. In ’n vroeëre brief aan Christengemeentes in die Romeinse provinsie Galasië het hy geskryf: “Wat beteken die wet dan? Dit is [by die Abrahamitiese verbond oor die Saad] bygevoeg weens die oortredinge [van mense], totdat die saad [van Abraham] aan wie die belofte gedoen is, sou kom; en dit is deur engele beskik deur tussenkoms van ’n middelaar.”—Gal. 3:19.
19. Wat toon die feit dat die Wetsverbond Moses as middelaar nodig gehad het in verband met die nuwe verbond, wat ook tussen God en die mense gesluit word?
19 Daardie middelaar wie se naam nie verstrek is nie, was Moses. Indien hy nodig was as middelaar tussen God en onvolmaakte, sondige mense om die ou Wetsverbond te sluit, sou daar beslis ’n middelaar nodig wees om ’n nuwe verbond tussen God en die mense te sluit, selfs al word hy nie in Jeremia 31:31-34 gemeld nie. In Jeremia se dag was Moses lankal dood. Omdat hy die middelaar was, is die Wet van die ou verbond “die wet van Moses” genoem.—Hand. 15:5.
20, 21. (a) Hoe het God, toe hy die nuwe verbond voorspel het, getoon dat dit voortrefliker as die vorige verbond sou wees? (b) Wat sou God van die Israelitiese verbondmakers gemaak het indien hulle aan die verbond getrou was?
20 Omdat die nuwe verbond ’n voortrefliker verbond is, het dit ’n middelaar verdien wat voortrefliker as Moses is. Kom ons kyk nou hoe die hemelse Voorsiener van die nuwe verbond die voortreflikheid daarvan vergeleke met die vorige verbond aangedui het. Hy sê dit is “nie soos die verbond wat Ek met hulle vaders gesluit het op dié dag toe Ek hulle hand gegryp het om hulle uit Egipteland uit te lei nie—my verbond wat húlle verbreek het, alhoewel Ék gebieder [eggenoot] oor hulle was” (Jer. 31:32). Dit was sy voorneme om iets wonderliks van die Israeliete te maak deur middel van die verbond wat hy met hulle gesluit het nadat hy hulle uit Egipte gebring het. Hy het gevolglik vir hulle gesê:
21 “As julle dan nou terdeë na my stem luister en my verbond hou, [wat dan?] sal julle my eiendom uit al die volke wees, want die hele aarde is myne. En júlle sal vir My ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie wees.”—Ex. 19:5, 6.
22. (a) Watter soort regering sou so ’n “koninkryk van priesters” uitmaak, en vir wie sou dit geskik wees? (b) Vir wie sou daardie “heilige nasie” ’n “eiendom” wees, en in watter soort verhouding met hom?
22 Die woorde “’n koninkryk van priesters” dui voorwaar op ’n regering wat ideaal geskik is vir die behoeftes van die hele mensdom. Die priesters daarvan verteenwoordig en dien God, die Verlosser van die mensdom. Die “koninkryk van priesters” is op sigself ’n “nasie”, ’n volk wat rein genoeg is om ‘heilig’ genoem te word, geskik om deur God gebruik te word. God het dit onder al die ander nasies van die aarde uitgekies. Dit moes God se “eiendom” wees, net soos ’n vrou die eiendom van haar man is. Trouens, God het die vrygekoopte Israeliete van die ou tyd met ’n nasionale vrou vergelyk deur te sê dat hy hulle “eggenoot” was. Maar in plaas daarvan om soos ’n vrou onderdanig aan hom te wees deur sy heilige verbond te hou, het sy die spesiale verpligtinge van hierdie bevoorregte verhouding geïgnoreer (Jer. 3:1-3, 20). Sy het dit verdien dat hy van haar skei!
23. Was die Mosaïese Wetsverbond geslaagd, en wat het God gedoen omtrent die voorgenome ideale regering vir die mensdom?
23 Uit die latere geskiedenis van daardie eertydse verbondsvolk van Jehovah God weet ons dat dinge nie permanent vir hulle verbeter het nie. Die feit dat die Wetsverbond waarvan Moses die middelaar was, gefaal het, kan nie betwis word nie. Hoe bly kan ons dan wees dat God nie opgehou het om reëlings vir daardie wenslike “koninkryk van priesters” te tref nie! Met daardie ideale regering in gedagte het hy die ou verbond met ’n beter een vervang.
[Prent op bladsy 16]
Ragel ween oor haar kinders