Hoe vrede op aarde kan kom
WÊRELDVREDE kan nie tot stand gebring word bloot deur ontwapeningspogings of deur vredesverdrae of selfs deur ’n einde aan koue oorloë of warm oorloë te maak nie. Selfs voorstanders van vrede sê nou dat vrede gegrond moet wees op gemeenskapslewe en selfs ook op gesinslewe. James Laue van die Kampanje vir ’n Nasionale Vredesakademie sê: “Toe ons [vrede] met vredestigting op ’n gemeenskapsvlak verbind het, het dit ons in staat gestel om te definieer wat vrede is. Die volgehoue ontwikkeling van tegnieke om konflik by te lê wat elke dag by die huis en by die skool ontstaan, kan help om vrede tussen nasies tot stand te bring.”
Dit is baie moeilik. In ’n artikel in To the Point International met die opskrif “Ja, wêreldvrede is iets wat ons almal moet nastreef”, sê George Mikes:
“Ons is geleer om ons naaste lief te hê. ’n Bitter moeilike en vermoeiende ding om te doen. Jy kan amper almal liefhê behalwe jou bure. Eerstens, almal se buurman is ’n walglike, aanstootlike en bemoeisieke vent—terwyl die man wat ’n paar huise verder woon, gaaf, aangenaam en hoflik is. Indien jy in Chelsea woon, sal jy geen rusies hê met die bewoners van Turnham Green nie en sal jy goed oor die weg kom met mense in Crouch End [afgeleë plekke]. Net so hou die Britte van die Australiërs en die Nieu-Seelanders—aan die ander kant van die wêreld—maar hulle het nie altyd van die Franse of die Duitsers gehou nie.”
Daar kan dus geen wêreldvrede wees nie tensy ons eers klaarkom met diegene naaste aan ons. Is daar waarlik die een of ander “tegniek” waarmee dit bereik kan word? Glad nie. Om die waarheid te sê, die mens is baie intelligent en veral goed met tegnieke. Hy pas hulle op elke gebied toe, onder andere vredestigting. Hy het oor die algemeen op amper elke gebied—die wetenskap, politiek, handel, verkope en reklame—’n mate van sukses behaal, behalwe op die gebied van vredestigting, waarby die intiemste menseverhoudinge betrokke is. Tegnieke is hier nutteloos. Waarom? Omdat vrede, wat waarlik tuis begin, uit die hart moet kom. Vrede is nie bloot verdraagsaamheid of ’n magsewewig nie, maar ’n opregte liefde en begrip vir die ander persoon of die ander gesin of gemeenskap of nasie—ongeag wat hulle ras, godsdiens of sosiale stand is.
Kan dit bereik word? Op die oomblik deur net ’n paar. Maar ongeag die wêreldsituasie kan hierdie paar mense nou vrede geniet. Hulle kan vrede in hulle eie kring bevorder. Hoe?
HOE N PERSOON VREDE KAN VERKRY
Eerstens, ’n persoon maak vrede met God deur die Bybel persoonlik te ondersoek en te probeer vasstel watter reëlings God getref het sodat hy Hom kan nader. Die indiwidu kan dit nie doen deur oppervlakkig te studeer nie. Hy moet soek. Hy moet ‘alle dinge beproef en die goeie behou’.—1 Thess. 5:21.
Die persoon wat dit doen, besef eerstens dat hy ’n sondaar is en hulp nodig het. Hy moet erken dat hy nie self die mag het om werke te verrig wat God behaag nie en dat hy nie die wysheid het om ware, blywende vrede met enigiemand tot stand te bring nie. Die enigste manier om vrede met God te verkry, is om ontslae te raak van die skeidsmuur in die weg van vrede—ons eie sonde wat die pad versper. Dit is nie moeilik nie. Dit verg nie groot wysheid of vermoë nie. Geloof in God en in sy beloftes is die eenvoudige, maklike manier. Hierdie manier word baie duidelik beskryf in die Bybelboek Romeine hoofstuk 5, waar ons lees:
“Want toe ons nog swak was, het Christus op die regte tyd vir die goddelose gesterwe. Want nouliks sal iemand vir ’n regverdige sterwe—vir ’n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe—maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. Veel meer dan sal ons, nou dat ons geregverdig is in sy bloed, deur Hom gered word van die toorn. Want as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, veel meer sal ons deur sy lewe gered word nou dat ons versoen is.”—Rom. 5:6-10.
Hierdie versoening het vrede met God tot gevolg. Die apostel Paulus skryf: “Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus” (Rom. 5:1). En dit is nie bloot ’n “skietstilstand” of tydelike vrede waartydens die sondes wat ’n mens in die verlede gepleeg het, oorgesien word nie. Dit is ’n duursame vrede met God deur Christus wat die persoon help om voortaan ’n weg te bewandel wat die vrede bewaar. God word die indiwidu se beste vriend.—Vergelyk Johannes 15:15.
Jesus het hierdie vrede vir sy apostels beskryf toe hy gesê het: “Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie” (Joh. 14:27, Nuwe Afrikaanse Bybel). Die wêreld gee ’n mate van vrede deur ’n paar vriende, genot, rykdom, roem, posisie, bevordering, ’n mate van kalmte, ensovoorts, asook deur filosofie en valse godsdiens. Maar die vrede wat Christus gee aan die een wat waarlik geloof in sy soenoffer stel, verskil hemelsbreed hiervan. So ’n persoon verkry eerstens ’n rein gewete, sielsrus, gemoedsrus, ’n vredeliewende gesindheid wat goeie verhoudinge met ander in die hand werk, ’n groter doel in die lewe en ’n gewisse hoop vir die toekoms.
Hoe? Die apostel Petrus deel ons mee dat wanneer ’n persoon die “goeie nuus” glo, sy lewe aan God toewy en gedoop word, sy doop “’n bede tot God om ’n goeie gewete” is (1 Pet. 3:21). Weens aangebore sondigheid het die indiwidu in die verlede ’n slegte gewete gehad, een waaronder hy gebuk gegaan het soos onder ’n swaar las. Hieromtrent het Jesus gesê: “Salig is die wat treur [wat hartseer is oor hulle swak geestelike toestand], want hulle sal vertroos word” (Matt. 5:4). Hy rig hierdie uitnodiging aan almal: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.”—Matt. 11:28.
Hoe verkwikkend is dit ook om die Koninkrykspredikingswerk te doen wat Jesus ingestel het toe hy hier op aarde was, waarvoor hy sy dissipels opgelei het en wat hy gesê het nou, tydens die voleinding van die stelsel van dinge, ’n hoogtepunt sou bereik! (Matt. 4:17; 9:35; 10:7; 24:3, 14). As ’n mens God se wil op hierdie wyse doen, is dit geestelik opbouend, bevredigend en ’n hulp om die vrede met God te bewaar. Wanneer Jehovah se Getuies in sy diens uitgaan met “die bereidheid vir die evangelie van vrede” ‘as skoene aan hulle voete’, kan hulle seker wees van sy sorg en beskerming in elke situasie.—Ef. 6:14-16.
Die apostel Paulus sê dat Christene se harte “deur besprinkeling gereinig [is] van ’n slegte gewete”. Dit is omdat God gesê het: “Aan hulle sondes en hulle ongeregtighede sal Ek nooit meer dink nie” (Hebr. 10:17, 22). Omdat die Christen se gewete gereinig is, kan hy ware sielsrus, gemoedsrus, geniet. Hy bekommer hom minder oor wêreldtoestande. Selfs siekte en die dood word nie meer soos tevore gevrees nie. Die kennis van die opstandingsvoorsiening stil sulke vrese.—1 Thess. 4:13, 14.
HOE OM MET ANDER VREDE TE MAAK
Die toegewyde, gedoopte persoon is in die regte toestand om vrede met ander te maak. Sy optrede teenoor sy medemens moet in liefde geskied. Hy moet nooit toelaat dat selfsug, hebsug, trots, jaloesie of wraaksug sy dryfkrag is nie. Mense herken opregtheid, gasvryheid, ware liefde, en beantwoord dit met soortgelyke eienskappe. Jesus het ’n beginsel gemeld waarvolgens ’n mens ’n voorstander van vrede kan wees. Hy het gesê: “Gee, en aan julle sal gegee word. ’n Goeie maat wat ingedruk en geskud en oorlopend is, sal hulle in jul skoot gee, want met dieselfde maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.”—Luk. 6:38.
Hierdie liefde en hierdie vrygewigheid moet nie op ’n eng, partydige of bevooroordeelde wyse betoon word as ’n mens wil hê dat dit waarlik vrede moet bevorder nie. Ons moet waarlik die naaste wees van alle mense onder wie ons ons bevind, ongeag hulle geloof, nasionaliteit, kleur of sosiale stand. Die apostel Paulus het daarop gewys dat dit ’n vereiste vir ’n Christen is. Hy het gesê: “Jaag die vrede na met almal”, en “As dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense” (Hebr. 12:14; Rom. 12:18). Jesus het op ’n kragtige wyse die nodigheid toegelig om ’n goeie, liefdevolle, behulpsame naaste vir almal te wees, om tyd opsy te sit om die “goeie nuus” aan almal bekend te maak en om die poging aan te wend en materiële dinge te gebruik om hulpbehoewendes te help wanneer die geleentheid hom voordoen. Jesus het hierdie gedagte so sterk moontlik tuisgebring deur ’n Samaritaan as ’n goeie naaste uit te beeld, want daar was algemene vyandskap tussen die Jode en die Samaritane.—Luk. 10:29-37.
Maar gestel nou sulke naasteliefde word nie beantwoord nie? Die Christen het geen beheer hieroor nie, maar hy kan self vredeliewend bly. Indien enige ander persoon die vrede wil verstoor of wil baklei, kan die Christen hom tot God wend vir hulp om gebalanseerd te bly en nie met gelyke munt terug te betaal nie. Die Bybelraad is: “Vergeld niemand kwaad vir kwaad nie; . . . Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn” (Rom. 12:17-19). Indien groot gevaar dreig, kan die Christen op God vertrou om hom teen blywende leed te beskerm. Die apostel Paulus het hierdie vertroue uitgespreek toe hy gesê het: “Ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte . . . of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.”—Rom. 8:38, 39.
WÊRELDVREDE
‘Maar hoe’, sal iemand dalk vra, ‘sal so ’n vredeliewende lewenswyse van ’n paar WÊRELDVREDE bring?’ Ons indiwiduele vrede sal dit nie op sigself kan doen nie. Maar die God van Christene is die “God wat vrede gee” en Christus Jesus is die “Vredevors” (Rom. 16:20, NAB; 1 Kor. 14:33; Jes. 9:5). Diegene wat hoegenaamd nie vrede begeer nie, wat voortdurend rusverstoorders is, wat geen rus het tensy hulle heers nie, sal van die aarde af verwyder word. God sê dat hy “die verderwers van die aarde [sal] verderf” net soos hy vantevore gedoen het tydens die sondvloed van Noag se dag (Openb. 11:18; Gen. 6:12, 13). Daar is ’n prys wat vir vrede betaal moet word, en volgens die Bybel is dit die volgende: “Die goddelose is ’n losprys vir die regverdige, en in die plek van die opregtes kom die ontroue” (Spr. 21:18). God sal al die goddelose vernietig.
Die Vredevors, God se koning oor die hele aarde, sal ’n einde aan nasionale konflikte maak. Net soos God in die ou tyd sy volk Israel beskerm het, sal hy dit aardwyd en permanent deur sy aangestelde Koning doen. Die 46ste Psalm, wat vertel hoe God Jerusalem teen vyandige nasies rondomheen beskerm het, bied ’n voorbeeld van wat hy ten behoewe van alle vredeliewendes sal doen. Dit sê: “Die HERE van die leërskare is met ons; die God van Jakob is ’n rotsvesting vir ons. . . . Kom, aanskou die dade van die HERE, wat verskriklike dinge oor die aarde bring, wat die oorloë laat ophou tot by die einde van die aarde, die boog verbreek en die spies stukkend slaan, die strydwaens met vuur verbrand.”—Ps. 46:8-10.
Wanneer vrede en harmonie op die aarde heers, sal werke tot voordeel van die aarde ongehinderd verrig kan word, sal gemeenskapsrykdom nie aangewend word vir oorlogsdoeleindes nie en sal al die klem op nuttige projekte wees. Die ryk opbrings van die aarde sal nie verkwis word nie. Die indiwidu sal sy talente en vermoëns kan ontwikkel en vryelik tot die algemene welsyn van ander kan bydra. Slegs deur ’n vrede wat met God gemaak is, kan ware wêreldvrede tot stand gebring en bewaar word. So ’n toestand van harmonie tussen God en die mens word in hierdie woorde van die 85ste Psalm beskryf: “Goedertierenheid en trou ontmoet mekaar; geregtigheid en vrede kus mekaar. Trou spruit uit die aarde, en geregtigheid kyk uit die hemel neer. Ook gee die HERE die goeie, en ons land lewer sy opbrings.”—Ps. 85:11-13.
Indien jy vredeliewend is, kan jy nou vrede met God en met medechristene geniet, asook ’n mate van vrede met ander, as ’n voorsmaak van die algehele vrede wat binnekort in God se nuwe orde geniet sal word. Vrede met God is dus onontbeerlik om vrede met medegelowiges en met alle mense te geniet, so ver as dit van jou afhang. God verseker volmaakte, duursame vrede op sy bestemde tyd. Dit sal binnekort kom, nadat hy ‘die verderwers van die aarde verderf het’.—Openb. 11:18.
[Prent op bladsy 8]
God se Woord dui die weg tot vrede met hom aan
[Prent op bladsy 9]
Ons kan “die evangelie van vrede” met ons naaste deel