Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 3/15 bl. 13-22
  • Aangespoor deur ons “LEWENDE HOOP”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Aangespoor deur ons “LEWENDE HOOP”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’N GEWISSE HOOP
  • DIE “VOLMAKER VAN ONS GELOOF”
  • ‘GROTER WERKE AS DIT’
  • HEDENDAAGSE GETUIES
  • DIE BETUIGING VAN ONS “LEWENDE HOOP”
  • Blydskap in “die God wat hoop gee”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Die oordeelsdag—’n tyd van hoop!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 3/15 bl. 13-22

Aangespoor deur ons “LEWENDE HOOP”

“Hiertoe werk ons hard en span ons ons in, omdat ons ons hoop gevestig het op ’n lewende God, wat ’n Redder is van alle soorte mense, in die besonder van getroues.”—1 Tim. 4:10, NW.

1. Waarom behoort God se Woord ons tot optrede aan te spoor?

DIT is in God se Woord, die Bybel, dat ons “welgevallige woorde” vind “wat reg geskrywe is—woorde van waarheid” (Pred. 12:10). Hierdie woorde is veral aangenaam omdat hulle ’n lewende hoop in ons wek—die hoop op ewige lewe in die Koninkryksbedeling wat die Soewereine Heer Jehovah so liefdevol deur sy Seun, Jesus Christus, voorsien het (Joh. 3:16; Rom. 15:12, 13). Dit is soos die Prediker gesê het, “die woorde van die wyse manne is soos prikkels”, wat hulle hoorders tot optrede aanspoor. Die woorde van wysheid en hoop wat ons in God se Woord lees, behoort ons dus aan te spoor om hard te werk en ons kragte in te span ter bevordering van die belange van sy regverdige koninkryk.—Pred. 12:11.

2. Waarna sien manne van geloof al lank uit?

2 Vandat Jehovah die belofte in Eden gemaak het, het manne met geloof in God uitgesien na die oordeelsdag wanneer die Messiaanse Saad die Slang se kop sou vermorsel (Gen. 3:15; Rom. 16:20). Dit sal die oordeelsdag vir Satan se wêreld wees, en dit sal ’n hoogtepunt bereik met die verlossing van almal wat hulle hoop in Jehovah se koninkryk in die hande van sy Christus gestel het.—2 Tim. 4:1, 18; Luk. 21:28.

’N GEWISSE HOOP

3. (a) Waarom is dit ’n gewisse hoop? (b) Wat moet ons aanspoor om ons hoop in die openbaar te verkondig?

3 Die Bybelboek Hebreërs, hoofstuk 11, bevat ’n lang lys name van manne en vroue wat voorbeeldige geloof aan die dag gelê het. Hulle het ‘’n vaste vertroue gehad op die dinge wat hulle gehoop het’. Daardie hoop was vir hulle ’n wesenlike hoop, en hulle het daarvolgens opgetree terwyl hulle “die stad verwag [het] wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is”. Hoewel die beloftes nie in hulle dag vervul is nie, het hulle “dit uit die verte gesien en geglo en begroet, en het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was” (Hebr. 11:1, 10, 13). Vandag is daardie hoop nie meer in “die verte” nie, want die Koninkryk is ophande! Hoeveel te meer rede het ons dus om ons hoop in die openbaar te bely!—Matt. 24:14, 33.

4. Waaroor het Henog geprofeteer, en waarom is dit vandag vir ons van belang?

4 Party van daardie getroue manne met ‘’n vaste vertroue op die dinge wat hulle gehoop het’, het gelewe in ’n tyd van God se oordeel, net soos dit vandag met ons die geval is. Jehovah het hulle gebruik om die goddelose te waarsku. In die dae voor die Vloed het Henog dus oor verdorwe manne geprofeteer: “Kyk, die Here het gekom met sy heilige tienduisendtalle, om gerig te hou oor almal en al die goddelose mense onder hulle te straf oor al hulle goddelose werke wat hulle goddelooslik gedoen het, en oor al die harde woorde wat die goddelose sondaars teen Hom gespreek het” (Jud. 14, 15). Daardie oordeel was ’n tipe van God se oordeel teen die wêreld van vandag, wat uiters goddeloos is.

5. Watter voorbeeld het Noag vir ons in werke van geloof gestel?

5 En Noag, wat die voltrekking van Jehovah se oordeel aan die goddelose wêreld oorleef het, was ’n “prediker van geregtigheid” (2 Pet. 2:5). Hy het sy kragte ingespan om werke van geloof te verrig en ’n “ark gereed gemaak tot redding van sy huisgesin, waardeur [deur sy geloof] hy die wêreld veroordeel het” (Hebr. 11:7). Noag was ’n goeie voorbeeld vir ons wat vandag lewe. “Die regverdige oordeel van God” sal binnekort voltrek word wanneer “die wat God nie ken nie . . . as straf ondergaan ’n ewige verderf, weg van die aangesig van die Here en van die heerlikheid van sy sterkte”. Namate ons daardie voltrekking van oordeel nader, is dit die tyd der tye om Jehovah se geregtigheid in die aarde te verkondig!—2 Thess. 1:5-10.

6. (a) Watter eertydse oordeel onderstreep die sekerheid van die “groot verdrukking”? (b) Hoe kan ons aan daardie oordeel ontkom?

6 Onder diegene wat hulle hoop in God se koninkryk in die openbaar “bely” het, was Abraham en Sara, asook Isak en Jakob. Abraham het gelewe in die tyd toe God ’n oordeel aan Sodom en Gomorra voltrek het. Dit was vir hom ’n saak van groot erns dat Sodom nie vernietig moes word nie, selfs al kon daar net 10 regverdige manne (soos sy neef Lot) in daardie stad gevind word. Eindelik het God vir hom gesê: “Ek sal dit ter wille van die tien nie verwoes nie.” Net soos Abraham hoop ons vandag dat menigtes tydens die naderende “groot verdrukking” gespaar sal word. Maar nee! Hierdie goddelose wêreld moet vernietig word, net soos Sodom en Gomorra vernietig is, en aldus sal die aarde gereinig word ter voorbereiding van die herstelde paradys. Die enigste manier om God se oordeel te oorleef, is om “nie van die wêreld” te word nie, net soos Lot en sy gesin uit Sodom gevlug het voor die stad se vurige vernietiging. En dit sal ook rampspoedig wees om terug te draai na die dinge van die wêreld. “Dink aan die vrou van Lot!”—Luk. 17:26-32; Gen. 18:22-32; 19:15-26; Matt. 24:21; Joh. 15:19.

7. Watter voorreg, soos die van Esegiël, het ons vandag, en wat moet ons daaromtrent doen?

7 Die “groot wolk van getuies” wat Paulus in Hebreërs 11 beskryf het as persone met ‘’n vaste vertroue op die dinge wat hulle gehoop het’, het “Samuel en die profete” ingesluit. En hoeveel moed het hulle tog aan die dag gelê toe hulle Jehovah se woord verkondig het! (Hebr. 11:32; 12:1). Hulle het Esegiël ingesluit, wat uit Babilon oor Jehovah se oordeel teen afvallige Jerusalem geprofeteer het—’n oordeel wat in 607 v.G.J. voltrek is. Die erns van Esegiël se opdrag blyk uit die “woord van die HERE” wat ’n aantal kere tot hom gekom het. Dit was: “As . . . die wag die swaard sien kom en met die basuin nie blaas nie, sodat die mense nie gewaarsku is nie, en die swaard kom en neem ’n siel uit hulle weg—dan is hy deur sy ongeregtigheid weggeneem, maar sy bloed sal Ek van die hand van die wag eis. En jy, o mensekind, Ek het jou as wag oor die huis van Israel aangestel; en as jy ’n woord uit my mond hoor, moet jy hulle van my kant waarsku” (Eseg. 33:6, 7; 3:17-21). Sien ons vandag dat ‘die swaard kom’? Besef ons dat die huidige “benoudheid” onder nasies meedoënloos op God se oorlog te Armageddon afstuur? Dan moet ons die ‘waarskuwingsbasuin’ blaas en vir mense die weg na God se koninkryk—hulle enigste hoop—wys. Wat ’n voorreg is dit tog om deel te neem aan hierdie waarskuwingswerk in hierdie huidige oordeelsdag, net soos Esegiël destyds gedoen het!—Matt. 24:3-8, 14; 25:31, 32; Openb. 16:13-16.

DIE “VOLMAKER VAN ONS GELOOF”

8. Watter goeie voorbeeld het Jesus gestel in die wyse waarop hy sy waarskuwingswerk gedoen het?

8 Nadat Paulus die “groot wolk van getuies” beskryf het waarvan baie ’n waarskuwingsboodskap tydens voorchristelike tye verkondig het, vestig hy die aandag op “die Vernaamste Bewerker en Volmaker van ons geloof, Jesus”. Hierdie Seun van God het ook God se koninkryk onverskrokke tydens ’n oordeelsdag verkondig—en die voltrekking van die oordeel was tydens die vernietiging van Jerusalem in 70 G.J. Paulus spoor ons, wat in ’n ander oordeelsdag lewe, aan om ‘die oog gevestig te hou op’ en ‘ag te gee op’ Jesus se voorbeeld toe hy onder druk verkeer het, dat ons “nie moeg word en beswyk in [ons] siele nie.”—Hebr. 12:1-3, NW; Joh. 12:31.

9, 10. (a) Watter voedsel het Jesus as die allerkosbaarste beskou? (b) In verband waarmee het Jesus sy dissipels onderrig?

9 Niemand het ooit harder ter bevordering van Jehovah se Koninkryksbelange gewerk as die Seun van God self nie. Hierin het hy die voorbeeld van sy Vader in die hemel gevolg, want hy het gesê: “My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.” Koninkryksdiens het meer vir Jesus beteken as stoflike voedsel, want hy het ook gesê: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring. . . . Kyk, Ek sê vir julle, slaan julle oë op en aanskou die lande dat hulle al wit is vir die oes. En Hy wat maai, ontvang loon en vergader vrug vir die ewige lewe.”—Joh. 5:17; 4:34-36.

10 Jesus het verwys na sy oeswerk onder mense, diegene wat “moeg en uitgeput was, soos skape wat geen herder het nie”, en hy het die voorbeeld in hierdie oeswerk gestel terwyl hy deur die stede en dorpe gereis het en die Koninkrykshoop verkondig en aan ander geleer het. Dit was ook ’n waarskuwingswerk, want toe Jesus sy 12 dissipels uitgestuur het, het hy hulle beveel: “As iemand julle nie ontvang nie en na julle woorde nie luister nie, gaan uit daardie huis of daardie stad uit en skud die stof van julle voete af. Voorwaar Ek sê vir julle, dit sal vir die land van Sodom en Gomorra verdraagliker wees in die oordeelsdag as vir daardie stad.”—Matt. 9:35-10:15.

‘GROTER WERKE AS DIT’

11. Watter buitengewone ding het Jesus gesê kort voor sy dood aan die paal?

11 Op die vooraand van sy dood aan die paal het Jesus vir sy dissipels vertel hoe nou hy met sy Vader saamgewerk het, en bygevoeg: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo—die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan” (Joh. 14:9-12). Na watter werke het Jesus verwys? Hoe kon dit groter wees as dié wat gedoen is deur die Seun van God self, wat intiem met sy Vader saamgewerk het?

12. Hoe het Jesus getoon wat hierdie “groter werke” sou insluit?

12 ’n Paar dae later, na sy dood en opstanding, het Jesus in Galilea aan sy dissipels verskyn en te kenne gegee wat hierdie “groter werke” sou uitmaak toe hy gesê het: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.” Veertig dae lank het Jesus voortgegaan om hulle oor die koninkryk van God te leer, en toe, kort voor sy hemelvaart, het hy vir hulle gesê: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde.”—Matt. 28:16-20; Hand. 1:3-8.

13. Watter “kragtige getuienis” is in apostoliese dae gegee?

13 Jesus het dus gepraat van ’n groot getuienis- en onderrigtingswerk wat die uithoeke van die aarde sou bereik. Nadat heilige gees op Pinkster op sy dissipels uitgestort is, is hierdie predikingsveldtog op tou gesit, met Jehovah se seën. Dit het ’n “kragtige getuienis” tot gevolg gehad, soos so dikwels in die Bybelboek Handelinge gemeld word. Die apostel Paulus was onder diegene wat die leiding in hierdie werk gegee het. Later het hy vir die ouere manne van die Christengemeente te Efese gesê: “Ek het my nie daarvan weerhou om alles wat nuttig is aan julle te vertel en julle in die openbaar en van huis tot huis te onderrig nie. Ek het nietemin aan Jode sowel as aan Grieke grondige getuienis afgelê oor berou teenoor God en geloof in onse Here Jesus.”—Hand. 20:20, 21, 24, NW; 2:40,  NW; 10:42; 23:11; 28:23.

14. (a) Hoe omvattend was die predikingswerk voor 70 G.J.? (b) Hoe het die werkers “godvrugtige toewyding” beskou?

14 Daardie eerste-eeuse Christene het die werk aangepak om die mense te waarsku en vir hulle die “goeie nuus” te leer, sodat die Jode volkome ingelig was omtrent Jerusalem se naderende vernietiging—wat in 70 G.J. verbasend skielik gekom het, net soos Jesus voorspel het (Matt. 23:37, 38; 24:15-22). Namate die tyd vir die voltrekking van daardie oordeel genader het, kon die apostel Paulus skryf dat die hoop van die “goeie nuus” “verkondig is in die ganse mensdom onder die hemel” (Kol. 1:23). Hierdie “kragtige getuienis” het voorwaar “werke” tot gevolg gehad wat selfs groter was as dié wat Jesus verrig het! En wie was die werkers? Hulle was nederige manne en vroue wat godvrugtige toewyding eerste in hulle lewens gestel het. Saam met die apostel Paulus kon hulle sê: “Godvrugtige toewyding is nuttig vir alle dinge, daar dit die belofte inhou van die teenwoordige en die toekomende lewe. . . . Want hiertoe werk ons hard en span ons ons in, omdat ons ons hoop gevestig het op ’n lewende God, wat ’n Redder is van alle soorte mense, in die besonder van getroues” (1 Tim. 4:8-10, NW). Hulle “kragtige getuienis” en deelname aan “groter werke” tydens daardie oordeelsdag is ryklik deur God geseën.

HEDENDAAGSE GETUIES

15. Hoe verskil die bedrywigheid van Jehovah se Getuies van dié van die kerke van die Christendom?

15 In hierdie laaste oordeelsdag van die goddelose wêreld, wat begin het toe die vasgestelde “tye van die nasies” in 1914 G.J. verstryk het, het ’n groot menigte getuies die aarde gedek tydens hulle verkondiging van Jehovah se naam en koninkryk. Die manier waarop hulle hulle hoop verkondig, word deur die valse Christendom afgekeur, net soos die Joodse godsdiensleiers op Jesus en sy apostels neergesien het (Luk. 21:24; Joh. 7:45-52; Hand. 5:27-29). Jehovah se Getuies maak nie staat op ’n paar uitgesoekte geestelikes, die produk van kweekskole, om hulle op ’n kansel of op die beeldradio of oor die radio te verteenwoordig nie. Hulle is eerder self ’n gemeenskap predikers, waarvan daar nou meer as tweemiljoen is, wat persoonlik vir ander getuig. Van huis tot huis, in openbare plekke en informeel verkondig hulle die hoop van die “goeie nuus” wat hulle in hulle harte aangeneem het (Hand. 5:42; 20:20, 21; 1 Pet. 3:15). Getrou rig hulle die waarskuwing dat hierdie wêreld in sy oordeelsdag verkeer en afstuur op ’n “groot verdrukking . . . soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie.”—Matt. 24:21, 22.

16. Watter soort persone het Jehovah gekies om sy werk vandag te doen?

16 In hedendaagse tye het die Christengetuies van Jehovah dus met die hulp van God se gees “groter”—omvattender—werke verrig as Jesus se werke toe hy op aarde was. Hulle aanvaar nie die eer hiervoor nie. Hulle is eerder bly dat hulle indiwidueel die soort persone is wat deur Paulus beskrywe is: “Let op julle roeping [deur God], broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie” (1 Kor. 1:26-29). Dit is dikwels die nederige Koninkryksgetuie, wat volgens wêreldlike standaarde “dwaas” is maar in werklikheid ryk aan geloof is, wat die harte bereik van diegene wat bereid is om te luister.

DIE BETUIGING VAN ONS “LEWENDE HOOP”

17. (a) Hoe het Jehovah sy volk ooreenkomstig Psalm 145:10-14 gedurende hulle 1979-diensjaar geseën? (b) Wat is ’n paar van die besonder goeie rapporte wat jy in die meegaande tabel opgemerk het?

17 Gedurende hulle 1979-diensjaar het Jehovah die getuieniswerk van sy volk aardwyd wonderlik geseën en hulle weer eens gehelp om “groter werke” te doen ondanks verbooie, vervolging en ekonomiese druk. Weer eens is ’n groot getuienis oor Jehovah se naam en koninkryk gelewer, soos die meegaande tabel toon.

18. (a) Wat toon die doopsyfer? (b) Hoe het die Koninkryksdiens vrug gedra? (c) Wat was die Gedenkmaalrapport vir 1979, en wat is ons hoop aangaande baie van diegene wat dit bygewoon het?

18 ’n Besonder goeie aspek van die rapport is die aantal wat gedoop is, naamlik 113 672—’n vermeerdering van 19,6 persent vergeleke met die vorige jaar se doopsyfer. Daar was ook vermeerderinge in die aantal Getuies in die veld, die aantal ure wat aan Koninkryksdiens gewy is, die herbesoeke wat by belangstellendes gedoen is en die Bybelstudies wat in die huise van sulke “skape” gehou is. Hierdie studiewerk dra vrug, en dit word gestaaf deur die feit dat die hoogste aantal persone ooit daardie allerbelangrikste vergadering van die jaar—die viering van die Gedenkmaal van Jesus se dood—bygewoon het, naamlik 5 323 766, ’n vermeerdering van 4,4 persent vergeleke met die vorige jaar. Dit is ons hoop dat die driemiljoen nie-Getuies wat dit bygewoon het, sal voortgaan om vordering te maak sodat hulle in die openbaar ‘belydenis kan doen tot redding’.—Rom. 10:8-10.

19. (a) Watter aangrypende verslae is daar oor die pionierdiens? (b) Op watter maniere dra pionierdiens tot “groter werke” by?

19 Dit is verblydend om die bestendige vermeerdering in die geledere van die voltydse “pionier”-verkondigers van die Koninkryk te sien. Die maandelikse gemiddelde van 127 558 was ’n vermeerdering van 10,5 persent vergeleke met 1978. Hulle het ’n wonderlike bydrae gelewer tot die verrigting van “groter werke” in hierdie “tyd van die einde”, en baie van hulle is geseën en vir hulle werk versterk deur die Pionierdiens-skole van twee weke elk wat dwarsoor die aarde gehou is (Dan. 12:4). Baie ander toon ook groot belangstelling om as voltydse “gewone pioniers” in te skryf. In Augustus alleen het 896 in die Verenigde State om hierdie diens aansoek gedoen, en 777 in Japan. ’n Groot aantal lande berig ook ’n hoogtepunt in die aantal wat “hulppionier”-werk doen—groter bedrywigheid vir net een maand of etlike maande—en dit spoor gemeentes steeds tot “groter werke” aan.

20. (a) Watter bemoediging moet ons uit die Diensrapport vir 1979 put? (b) Wat moet ons “lewende hoop” ons dus aanspoor om te doen?

20 Alles in ag geneem, behoort die Diensrapport vir 1979 Jehovah se Getuies oral groot rede tot blydskap te gee. Dit behoort iedereen aan te spoor om tot die mate moontlik “groter werke” te doen terwyl daar nog tyd is. Dit behoort ons te stimuleer om ‘die belydenis van ons hoop onwankelbaar vas te hou’ sodat ons deur Jesus gedurig “aan God ’n lofoffer [kan] bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely” (Hebr. 10:23; 13:15). Ja, mag ons “lewende hoop” altyd so wesenlik vir ons wees!

[Tabel op bladsye 18-21]

WÊRELDRAPPORT VAN JEHOVAH SE GETUIES VIR DIE 1979-DIENSJAAR

(Sien bundel)

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel