Blydskap in “die God wat hoop gee”
“U is my hoop, o Soewereine Heer Jehovah, my vertroue van my jeug af.”—Ps. 71:5, NW.
1, 2. (a) Watter Skriftuurlike bewys het ons dat God vir ons omgee? (b) Hoe kan ons blydskap volkome word?
DINK jy soms na oor jou kosbare verhouding met God? Hoe aangrypend is dit tog om te weet dat God vir ons omgee! Uit Jehovah se standpunt is die nasies soos ’n blote druppel aan ’n emmer. Hoe klein moet ons as indiwidue dan nie vir hom wees nie. Jesus Christus verseker ons egter: “Word twee mossies nie vir ’n stuiwer verkoop nie? En nie een van hulle sal op die aarde val sonder [dat] julle Vader [dit weet] nie. En van julle is selfs die hare van die hoof almal getel. Wees dan nie bevrees nie: julle is meer werd as baie mossies.”—Matt. 10:29-31; Jes. 40:15.
2 Indien God daarop ag gee as ’n mossie val, hoeveel meer medelye sal hy dan tog vir ons mense hê wat hy na sy gelykenis geskape het! (Gen. 1:26). Ons God skitter voorwaar op die gebied van wysheid en skeppingsvermoë, maar dit word verreweg oortref deur die wyse waarop hy vir die regverdige saak van verdruktes sorg en deur die grootheid van sy liefde wat hy aan die mensdom betoon (Ps. 33:4, 5). Dit is voorwaar ’n voorreg dat ons in sy liefde kan kom en daar kan bly, soos Jesus ons verseker het: “As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly.” En Jesus het bygevoeg: “Dit het Ek vir julle gesê, dat my blydskap in julle kan bly en julle blydskap volkome kan word.”—Joh. 15:10, 11.
3. Waarom het Dawid, en waarom kan ons, Jehovah volkome vertrou?
3 In hierdie moeilike tye kan ons ons ook daarin verbly dat ons liefdevolle God ons hoop bied. Dit wil voorkom of Dawid die 71ste Psalm geskryf het nadat hy groot beproewings verduur het, en daarin loof hy die Soewereine Heer Jehovah as sy hoop en vertroue van sy jeug af. Toe hy byvoorbeeld teen die logge reus Goliat te staan gekom het, het Dawid gesê: “Die Here wat my gered het uit die klou van die leeu en uit die klou van die beer, Hy sal my red uit die hand van hierdie Filistyn.” En dit is presies wat Jehovah gedoen het! (1 Sam. 17:37, 45-50). En tot vandag toe onderskraag Jehovah steeds die gesalfde oorblyfsel van sy getuies wat hom ‘van hulle jeug af’ met sterk geloof getrou gedien het.
DIE BEHOEFTE AAN ’N LEWENDE HOOP
4. Waarom is die dinge wat “tevore geskrywe” is ’n bron van hoop?
4 Die langtermynbeloftes van Jehovah, wat in sy Woord opgeteken is, is voorwaar ’n bron van hoop vir die toekoms. Dit is soos die apostel Paulus sê: “Alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê” (Rom. 15:4). Ons moet beslis hoop hê. Maar hoe bied die dinge wat “tevore geskrywe” is rede vir hoop? Waarom het ’n behoefte aan hoop in eerste instansie ontstaan?
5. (a) Hoe het die behoefte aan hoop ontstaan? (b) Waarom het ons eerste ouers tereg vir hulself die doodstraf op die hals gehaal, en waarom word ons daardeur geraak?
5 Die dinge wat “tevore geskrywe” is, vertel duidelik hoedat God ons eerste ouers geskape het en hulle in ’n paradys van genot geplaas het met die vooruitsig om vir ewig te lewe en die aarde met liefdevolle, gelukkige mense te bevolk wat nooit sou sterf nie (Gen. 1:26-28; 2:7-9, 18-25). Adam en Eva het egter hierdie voorreg verloor. Waarom? Dit was omdat hulle gesondig het en te kort geskiet het aan die standaard van volmaakte gehoorsaamheid aan hulle Vader, Jehovah God. Die Soewereine Heer Jehovah het hierdie ongehoorsame egpaar tereg ter dood veroordeel. Hulle het eiesinnig en onafhanklik geword en daar was nie meer ’n plek vir hulle onder God se lojale skepsele nie. Daarbenewens het hulle nie alleen vir hulself die doodvonnis op die hals gehaal nie, maar ook vir die miljarde kinders wat uit hierdie sondige ouers gebore sou word. Paulus deel ons mee dat “deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het”.—Rom. 5:12.
6. Op grond van watter hoop is die skepping in slawerny gedompel?
6 Paulus sê egter voorts dat hoewel “die skepping . . . aan die nietigheid onderworpe” is, dit ‘in hoop’ gedoen is. Watter hoop? ’n Lewende hoop dat dit “vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God”, net soos ons eerste ouers sulke vryheid in die paradys van Eden geniet het. Dit sou die hoop op ewige lewe insluit. Net God kon so ’n hoop voorhou.—Rom. 8:20, 21; Joh. 17:3.
HOOP OP DIE “SAAD”
7. Hoe word die beloofde “saad” geïdentifiseer?
7 Vroeg in die dinge wat “tevore geskrywe” is, lees ons God se belofte dat die “saad [nageslag]” van sy gemalinorganisasie in die hemel die slang se ‘kop sal vermorsel’, dit wil sê, Satan saam met sy hele gespuis sal vernietig (Gen. 3:14, 15). Maar wie is hierdie “saad”? Hy word later ook die “saad” van God se vriend Abraham genoem deur wie ‘al die nasies van die aarde geseën sal word’. Die apostel Paulus identifiseer hierdie “saad” wanneer hy sê: “Nou is aan Abraham die beloftes toegesê en aan sy saad. . . . En aan jou saad, dit is Christus.”—Gen. 22:18; Gal. 3:16.
8. (a) Hoe is Jesus se lewensweg op aarde lank tevore voorspel? (b) Hoe het God sy liefde vir die mensdom betoon?
8 Die dinge wat “tevore geskrywe” is, het Christus Jesus se lewensweg hier op aarde voorspel. Net soos Jesaja meer as 700 jaar voor die tyd voorspel het, is Jesus verag, het mense hom nie geag nie, is hy verdruk en was hy “soos ’n lam wat na die slagplek gelei word”. Ooreenkomstig sy Vader se wil, het hy “sy siel uitgestort” in die dood sodat hy “baie” uit slawerny aan sonde kon loskoop (Jes. 53:3-12). Jehovah het hom uit die dode opgewek en hom as “Leidsman tot die lewe” in die hemel ingehuldig, “sodat elkeen wat in Hom glo . . . die ewige lewe kan hê”. God het hierdie voorsiening getref omdat hy “die wêreld” of mensdom “so lief” gehad het (Joh. 3:15, 16; Hand. 3:15). Wat ’n wonderlike hoop het dit tog geopen!—Joh. 5:24-29.
’N VASTE GRONDSLAG VIR HOOP OP EWIGE LEWE
9. (a) Waardeur word ons hoop gewaarborg? (b) Watter uitwerking moet ons hoop op ons hê?
9 Ons gegronde hoop word gewaarborg deur die naam van ons God, Jehovah, self. Daardie naam beteken “Hy laat word”, wat daarop dui dat hy spesifieke dinge laat gebeur tydens die ontplooiing van sy voornemens. Hy is die God “wat nie kan lieg nie” en is die voorsiener van “die hoop” wat hy “van ewigheid af beloof het” (Tit. 1:2). Wat beteken daardie hoop vir jou? Beskou jy dit soos die mense van die valse Christendom hulle geloof beskou—as ’n vormdiens waaraan hulle bloot lippehulde bring? Of het jy, diep in jou hart, jou hele persoon, jou hele lewe, toegewy aan “die God wat hoop gee”? (Rom. 15:13, NW). Het daardie hoop vir jou so sterk geword dat dit reeds soos ’n werklikheid voel? Dan het dit jou geloof geword—’n lewende geloof vergesel van goeie werke wanneer jy vir ander van jou hoop getuig.—Hebr. 11:1; Jak. 2:17.
10. (a) Wat maak ons hoop wesenliker? (b) Waarom moet gesalfde Christene hulle nou in hulle hoop verheug?
10 Net soos ons Soewereine Heer Jehovah vir ewig lewe, bied sy beloftes ’n grondslag vir ’n “lewende hoop”. En sy verrese Seun, Jesus Christus, “omdat Hy vir ewig bly”, maak daardie hoop wesenliker, want hy kan “volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree” (Hebr. 7:24, 25) Die apostel Petrus het dus aan gesalfde Christene geskryf: “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ’n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode, sodat ons ’n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons wat in die krag van God bewaar word deur die geloof tot die saligheid wat gereed is om geopenbaar te word in die laaste tyd. Daarin verheug julle jul” (1 Pet. 1:3-6). Noudat ons die “laaste tyd” bereik het, bestaan daar gebiedende rede vir gesalfde Christene om hulle in daardie hoop te verheug.
11. (a) Watter “lewende hoop” het die “groot menigte” ook? (b) Watter vaste grondslag is daar vir daardie hoop?
11 Maar wat van die “groot menigte . . . uit alle nasies en stamme en volke en tale” wat uitsien na die ewige lewe op ’n paradysaarde? Hulle hoop is ook ’n “lewende hoop”, want hulle het die belofte: “Hulle sal nie meer honger en nie meer dors hê nie, en nooit sal die son of enige hitte op hulle val nie; want die Lam wat in die middel van [God se] troon is, sal hulle laat wei en hulle na lewende waterfonteine lei, en God sal alle trane van hulle oë afvee” (Openb. 7:9, 16, 17). Diegene wat hulle hoop in sulke “goeie nuus” stel, sal nie teleurgestel word nie, want dit is stewig op God se geïnspireerde Woord gegrond. Waar die apostel Petrus uit Jesaja 40:8 aanhaal, het hy van “die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly” gesê: “Alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos ’n blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af, maar die woord van die Here bly tot in ewigheid. En dit is die woord wat [as goeie nuus] aan julle verkondig is.”—1 Pet. 1:23-25, vgl. NW.
12. Hoe milddadig is God wanneer hy ewige lewe gee?
12 Waar hy homself as die goeie herder beskryf wat ‘sy lewe vir die skape aflê’, het Jesus gesê: “Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed” (Joh. 10:10, 11, NAB). Hierdie milddadigheid is nie beperk tot die “klein kuddetjie”, wat mede-erfgename van Christus in die hemele word nie (Luk. 12:32). Nee, want Jesus het dan gesê: “Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder. En Ek gee hulle die ewige lewe” (Joh. 10:16, 28). Benewens die “groot menigte” wat verwag om die “groot verdrukking” te oorlewe, sal daar getroue knegte van voorchristelike tye en die miljarde ander mensedode wees wat op aarde opgewek gaan word met die vooruitsig op ewige lewe (Matt. 24:21; Hebr. 11:35; Openb. 20:12). Hoe milddadig is dit tog van ons God dat hy hierdie voorsiening vir lewe getref het!
13. Hoe is God se liefde dus aan die mensdom bewys, en watter uitwerking behoort dit op ons te hê?
13 Jehovah se milddadigheid in die liefde wat hy aan mense betoon, word ook weerspieël in Jesus se vroeëre woorde: “So lief het God die wêreld [die mensdom] gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word. Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie” (Joh. 3:16-18). Moet ons nie, in die lig van Jehovah en sy Seun se milddadigheid, ook milddadig wees in die wyse waarop ons hierdie wonderlike “goeie nuus” aan ander verkondig nie?
14. (a) Waarom is die nasies soos mense “sonder hoop”? (b) Hoe word ons geloof en “lewende hoop” weerspieël?
14 Wanneer ons dit doen, het ons ’n aandeel aan “goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel”. Ons is nie meer soos diegene wat Paulus beskryf het as “vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte” en as persone “sonder hoop en sonder God in die wêreld” nie. Ons wandel nie meer “soos die ander heidene ook wandel in die verdwaasdheid van hulle gemoed nie—mense wat verduisterd is in die verstand en vervreemd van die lewe van God deur die onkunde wat in hulle is vanweë die verharding van hulle hart” (Ef. 2:10, 12; 4:17, 18). Nee, want ons wandel nou met God, en ons “goeie werke”, wat die verkondiging en onderrigting van die “goeie nuus” aan ander insluit, weerspieël ons geloof en die “lewende hoop” waarvan ons harte oorloop.—Matt. 4:17; 5:16; 9:35; 24:14.
HOOP OP ’N REGVERDIGE REGERING
15. (a) Waarom is goeie regering noodsaaklik as ons ’n “lewende hoop” wil hê? (b) Watter bemoedigende profesie het Jesaja in hierdie verband opgeteken?
15 Ons lewende hoop sluit veel meer in as net die vooruitsig op ewige lewe. Dink ’n bietjie: Hoe aangenaam sou dit wees om vir ewig te lewe onder wrede en verdrukkende menseregerings soos die wat so dikwels tydens die geskiedenis aan bewind was? Party verkies die dood bo sulke slawerny. Gelukkig sluit die lewende hoop van God se volk hoop in op ’n regverdige regering, die Koninkryk waarvoor Christene al lank bid, en wat Jehovah se naam sal heilig en sal toesien dat sy wil “geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (Matt. 6:9, 10). Tydens sy langdurige voorbereiding vir daardie koninkryk het Jehovah koning Dawid van Israel gebruik om Christus Jesus in Sy rol as Koning af te beeld. Die profeet Jesaja het Hom as die “Vredevors” beskryf en gesê: “Tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen.”—Jes. 9:5, 6.
16. Watter versekering het Gabriel en die psalmis aangaande die Koninkryk gegee?
16 Meer as 1 000 jaar later het die engel Gabriël aan ’n maagd, Maria, verskyn en vir haar gesê: “Jy het genade by God gevind. En kyk, jy sal swanger word en ’n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee, . . . en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie” (Luk. 1:30-33). Hierdie “Seun van die Allerhoogste” bied dus nie alleen die weg van redding tot ewige lewe nie, maar ook seëninge deur sy koninkryk. Hierdie regering sal in geregtigheid oor die hele mensdom heers en oorvloedige vrede vir sy onderdane op aarde bewerkstellig.—Ps. 72:1-8.
17. Waarom moet ons dus ‘oorvloedig wees in die hoop’, en hoe kan ons daardie hoop bely?
17 Die apostel Paulus verwys weer eens na die dinge wat “tevore geskrywe” is en skryf: “En Jesaja sê ook: Die wortel van Isai [Dawid se vader] sal daar wees, en Hy wat opstaan om oor die nasies te heers, op Hom sal die nasies hoop. En mag die God van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die Heilige Gees!” (Rom. 15:12, 13). Ons hoop op God se Koninkryk in die hande van Christus is voorwaar ’n bron van blydskap en gemoedsrus, en wanneer ons oorvloedig is in daardie hoop, word ons aangespoor om daardie hoop aan ander te verkondig in die krag wat God se gees verleen.—Sag. 4:6; Jes. 40:28-31.
18. Watter wonderlike beskrywing gee Jesaja van die Koninkryk?
18 Toe Paulus van “die wortel van Isai” gepraat het, het hy aangehaal uit Jesaja hoofstuk 11, wat hierdie pragtige beskrywing van Christus se Koninkryksbewind bevat: “Op Hom sal die Gees van die HERE rus, die Gees van wysheid en verstand, die Gees van raad en sterkte, die Gees van kennis en van die vrees van die HERE. En Hy het ’n welgevalle aan die vrees van die HERE; en Hy sal nie regspreek na wat sy oë sien nie, en nie oordeel na wat sy ore hoor nie; maar aan die armes sal Hy in geregtigheid reg doen en die sagmoediges van die land met billikheid oordeel.” Nadat die profesie die vrede van die geestelike paradys beskryf het wat God se volk selfs vandag geniet, asof die wilde diere van die aarde getem is, sê dit: “Die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek.” Wat ’n wonderlike hoop! Geen wonder nie dat baie lede van die nasies hulle vraend wend tot “die wortel van Isai”, die bekroonde Jesus, wat “daar staan as ’n banier van die volke”.—Ve. 1-10.
19. Waarom moet ons ons veral nou in die hoop verbly?
19 Sedert die veelbewoë jaar 1914 lewe die mensdom in “die voleinding van die wêreld”. “Die Seun van die mens” het gekom, en al die engele saam met hom, om op sy heerlike hemelse troon te sit. Hy het begin om die nasies vir oordeel te versamel en om “hulle van mekaar af [te] skei soos die herder die skape van die bokke afskei”. Vir die nasies en die “bokke” is dit ’n tyd van hopelose benoudheid, maar vir gehoorsame “skape” is dit tyd om ‘na bo te kyk en hulle hoofde op te hef, omdat hulle verlossing naby is’.—Matt. 24:3-8; 25:31-34; Luk. 21:26-28.
20. Deur wat te doen kan ons nou in hoop volhard?
20 Ons het egter volharding nodig om die verwesenliking van die hoop te beleef. Terwyl hierdie “laaste dae” ten einde loop, moet ons dinge beskou soos Jesus hulle beskou het, soos Paulus vermaan het: “Mag die God van lydsaamheid en bemoediging aan julle gee om eensgesind onder mekaar te wees ooreenkomstig die wil van Christus Jesus, sodat julle die God en Vader van onse Here Jesus Christus eendragtiglik uit een mond kan verheerlik” (Rom. 15:5, 6). Mag ons dus “eendragtiglik” en “uit een mond” voortgaan en met volharding dien terwyl ons hierdie goeie nuus van die Koninkryk “tot ’n getuienis vir al die nasies” verkondig, vol vertroue dat ‘die einde dan sal kom’ (Matt. 24:13, 14). Ja, laat ons onwrikbare vertroue stel in ons Soewereine Heer Jehovah, die “God wat hoop gee”.
[Prent op bladsy 9]
‘Deur een mens het die sonde in die wêreld ingekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot alle mense deurgedring.’—Rom. 5:12
“So lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, die verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”—Joh. 3:16