Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 4/1 bl. 5-8
  • Is menseregering opgewasse teen die taak?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is menseregering opgewasse teen die taak?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • MENSEPOGINGS DUUR VOORT
  • SLAAG HUIDIGE POGINGS?
  • WAT MENSE NIE KAN DOEN NIE
  • HOE GOD SE KONINKRYK GAAN KOM
  • Regering
    Redenering uit die Skrif
  • God se regering—die mensdom se enigste hoop
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Wat is God se Koninkryk?
    Wat kan die Bybel ons leer?
  • ’n Verandering in wêreldheerskappy
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 4/1 bl. 5-8

Is menseregering opgewasse teen die taak?

Daar is eens geleer “dat die Kerk op aarde die Koninkryk van God is”.a Hierdie leer het ontstaan omdat die Rooms-Katolieke Kerk destyds ’n oorheersende wêreldmag was. Teen die tweede helfte van die Middeleeue was die pouse se politieke gesag amper gelyk aan die van konings. Hulle het magtige leërs aangevoer. In sy History of the Christian Church verduidelik John F. Hurst: “Die pouse het die rol van konings geëwenaar, en hulle het geen steen onaangeroer gelaat om arbiters in sekulêre sake te word nie.”

Die leiers van die Kerk het beweer dat hulle geheers het met gesag wat hulle van God ontvang het. Later het die konings van verskeie nasies ook beweer dat hulle by die grasie Gods regeer. Die New Catholic Encyclopedia sê: “Die gedagte van godgewilde koningskap het die konings van nasionale state in ’n posisie geplaas waar hulle hulle gesag kon regverdig as iets wat net so goddelik soos dié van die pous was.”

Maar was pouse en ander heersers wat daarop aanspraak gemaak het dat hulle by die grasie Gods regeer opgewasse teen die taak om goeie regering te voorsien? Het hulle onderdane lewe, vryheid en geluk geniet?

Nee, hulle het nie! Hierdie heerskappye is eerder deur verskriklike ongeregtigheid en verdrukking gekenmerk. Die mense is gemobiliseer om sinlose oorloë te voer en deel te neem aan bloedige kruistogte wat miljoene se lewens geruïneer en hulle geluk bederf het. Daar was ook wrede inkwisisies wat duisende slagoffers op die afgryslikste maniere doodgemartel het. Wat ’n skande is dit inderdaad vir God as mense sy koninkryk assosieer met die bewind van die kerk, of met die bewind van konings wat op godgewilde koningskap aanspraak gemaak het!

MENSEPOGINGS DUUR VOORT

Meer onlangs is godsdiensbeskouings aangepas. “Die gedagte van party hedendaagse teologiese skrywers”, verduidelik The Dictionary of the Apostolic Church wat in 1916 uitgegee is, is “dat hierdie wêreld soos ons dit ken, onder Christelike invloed sal ontwikkel totdat dit die Koninkryk word.” Maar het dit?

Gedurende die leeftyd van miljoene wat vandag nog lewe, was sogenaamde Christennasies verantwoordelik vir die grootste bloedbaddens in mensegeskiedenis. Die Kerkgeskiedskrywer Roland H. Bainton het gesê: “Veral die kerke in die Verenigde State se houding teenoor die eerste wêreldoorlog was soos die teenoor ’n kruistog.”

Volgens Amerikaanse kerkleiers “was dit ’n heilige oorlog. . . . Die Duitsers was Hunne. Om hulle dood te maak, was om die aarde van monsters te bevry”, het Bainton verduidelik. Die biskop van Londen, A. F. Winnington-Ingram, het eweneens die Britse volk soos volg aangevuur: “Maak die Duitsers dood—maak hulle gewis dood . . . Soos ek al vele male gesê het: Ek beskou dit as ’n oorlog in die belang van reinheid.”

Maar die Duitsers het ook bely dat hulle Christene is! Die Katolieke aartsbiskop van Keulen, Duitsland, het dus terselfdertyd vir Duitse soldate gesê: “God is met ons in hierdie stryd om geregtigheid waarin ons teen ons sin betrokke geraak het. Ons beveel julle in die naam van God om tot julle laaste druppel bloed te veg vir die eer en glorie van die land.”

Net meer as 20 jaar later, in 1939, het die nasies in ’n tweede wêreldoorlog verswelg geraak. Weer eens het die meeste nasies wat daarby betrokke was, bely dat hulle Christene is. Dit is duidelik dat die wêreld soos ons dit ken nie onder Christelike invloed in die rigting van God se koninkryk ontwikkel het nie.

Maar wat van die 35 jaar sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog in 1945? Lyk dit asof menseregerings uiteindelik in die mensdom se behoeftes voorsien?

SLAAG HUIDIGE POGINGS?

In plaas daarvan dat hulle hoop op verligting verwesenlik word, sien mense vandag hoedat wêreldwye probleme voortduur. Trouens, die mens se mislukkings het nuwe ernstige afmetings aangeneem sodat dit inderdaad die beskawing self bedreig. Beskou die mens se pogings om oorlog uit te skakel. Het dit geslaag?

Hoegenaamd nie! Sedert 1945 is meer as 25 miljoen mense gedood in sowat 150 oorloë wat rondom die aardbol gevoer is. Op enige bepaalde dag was daar gemiddeld 12 oorloë êrens in die wêreld aan die gang. Menseregerings bestee baie meer as R870 000 000 per dag aan militêre paraatheid en gebruik geld wat andersins nuttig bestee kon word aan konstruksie, verfraaiing van die land, die onderwys, navorsing, ensovoorts. Wat ’n versuim om in die behoeftes van mense te voorsien!

Logika sou voorskryf dat regerings saam raad hou en besluit om hulself te ontwapen. Maar doen hulle dit? Hulle kan nie eenstemmigheid bereik nie. Hulle gaan dus voort met hulle wapenwedloop om ‘’n balans van terreur’ te behou. Verlede somer het die Verenigde State se Minister van Buitelandse Sake, Cyrus Vance, ’n idee gegee van die vernietigingskrag wat tot sy land se beskikking is toe hy gesê het:

“Party van vandag se missiele dra—in ’n enkele wapen—vyf keer soveel plofkrag as wat in alle oorlogsvelde tydens die hele Tweede Wêreldoorlog deur ons bomwerpers gegooi is. Die meeste van ons wapens is natuurlik kleiner. Maar ons het altesaam meer as 9 000 kernplofkoppe en -bomme wat onder ons missiele en afstandsbomwerpers versprei is. Die Sowjet-Unie het sowat 5 000 wat op ons gerig is—en die vermoë om daardie aantal dramaties te verhoog. Net een of twee van daardie wapens kan ’n stad soos Milwaukee uitwis.”

Hulle het die vermoë om die aarde en elke lewende ding daarop heeltemal te vernietig! Laat so ’n vermoë om kernverwoesting te saai jou veilig voel? Dra dit by tot ‘lewe, vryheid en geluk’ vir jou en jou dierbares? Waarskynlik nie.

Maar jy is dalk meer besorg oor menseregerings se onvermoë om misdadigheid te beheer. Albert Szent-Gyorgyi, M.D., van die Verenigde State wat die Nobelprys ontvang het, het gesê: “Ons kan nie ons huis na donker in ons tuisdorp verlaat nie uit vrees dat ons beroof of vermoor sal word, en ons voel selfs tuis onveilig.” Hoe jammer tog dat misdadigheid miljoene persone gevangenes in hulle eie huise gemaak het! En regerings was glad nie in staat om die situasie reg te stel nie.

Daarbenewens ly miljoene mense dwarsoor die wêreld honger. In party plekke is graanskure egter propvol voedsel. Maar selfs in lande met voedseloorskotte skiet pryse so vinnig die hoogte in dat talle nie in staat is om genoeg kos te koop om gesond te bly nie. Menseregerings se versuim om hierdie probleem op te los, is voorwaar hartverskeurend.

Dan is daar die energieprobleem. ’n Ontsaglike hoeveelheid onuitputlike, nie-besoedelende energie is beskikbaar vanaf die son, wind, riviere, mere en oseane. Maar wat het menseregerings gedoen? Met betreurenswaardige gebrek aan versiendheid het hulle die aarde se beperkte olie- en gasvoorrade misbruik en sodoende ook die lug wat ons inasem tot ’n mate besoedel.

Tot watter gevolgtrekking lei ’n ondersoek van mense se pogings om die aarde se aangeleenthede te beheer?

WAT MENSE NIE KAN DOEN NIE

Die volgende: Mense was nie in staat om ’n geslaagde regering tot stand te bring wat in die behoeftes van die mense voorsien het nie. “Elke beskawing wat nog ooit bestaan het, het uiteindelik ineengestort”, het Henry Kissinger, gewese Amerikaanse Minister van Buitelandse Sake, gesê. “Die geskiedenis is ’n verhaal van pogings wat misluk het, van begeertes wat nie verwesenlik is nie . . . As ’n geskiedkundige moet ’n mens dus lewe met ’n gevoel dat tragedie onvermydelik is.”

Bestaan daar werklik, wanneer jy daaroor nadink, enige rede om te verwag dat vandag se staatsmanne wêreldprobleme sal kan oplos wat baie ingewikkelder is as die wat leiers van die verlede nie kon oplos nie? James M. Fallows, wat twee en ’n halwe jaar lank president Carter se vernaamste toespraakskrywer was, het onlangs gesê: “Ek word getref deur die feitlike onmoontlikheid om regering te verander. . . . Ek begin nou twyfel dat hierdie regering verander kan word, hetsy deur Carter of enige ander president.” Maar moet die mens se herhaalde mislukkings op die gebied van selfbestuur ons verbaas? Nie as ons Bybelstudente is nie. ’n Ondersoek van mense se pogings op die gebied van selfbestuur onderstreep eenvoudig die waaragtigheid van die goddelike verklaring dat “aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie”.—Jer. 10:23.

Maar sedert die opstand van die eerste mensepaar teen Sy gesag het die almagtige God mense nietemin toegelaat om met selfbestuur te eksperimenteer. Waarom? Om as ’n treffende les vir mense en engele te dien. En wat moes uit hierdie les geleer word? Presies wat ons gesê het: Dat mense nie in staat is om met welslae oor hulself te regeer nie. Ons moes dus ook die volgende geleer het: Dat, alhoewel God menseregerings toegelaat het om te bestaan, mense God se koninkryk nodig het om die soort wêreld te geniet waarin ons almal wil lewe.

HOE GOD SE KONINKRYK GAAN KOM

Iemand sal dalk protesteer: “Moet mense nie probeer om opgewasse te wees teen die taak wat aan ’n regering opgelê word nie? Verwag God dit nie van ons nie? Hoe anders sal die wêreld ’n beter plek gemaak word indien ons ons nie daarop toelê om goeie regering tot stand te bring nie?”

In die lig van die kerke se leerstelling dat God mense sal gebruik om sy koninkryk op te rig, kan ’n mens verstaan waarom so ’n beswaar geopper word. Maar die Bybel leer nie dat die Koninkryk deur mense se pogings gaan kom nie. Jesus Christus het geweier om ’n benoeming as mensekoning te aanvaar. Hy het gesê: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie” (Joh. 6:15; 18:36). The Zondervan Pictorial Encyclopedia of the Bible sê tereg:

“Die koninkryk van God beteken nooit ’n daad wat mense aanpak of ’n ryk wat hulle tot stand bring nie. Hoe edel die gedagte ook al mag wees om te arbei om die koninkryk van God op te rig, die Bybelse terminologie kom glad nie ooreen met die taal van hedendaagse liberale teologie nie. Die koninkryk is ’n goddelike daad, nie ’n menslike prestasie of selfs die prestasie van toegewyde Christene nie.”

Hoe sal God se koninkryk dan kom in antwoord op die gebede van Christene? Let noukeurig op die Bybel se antwoord. Nadat dit menseregerings en hulle nutteloosheid beskryf het, sê dit: “In die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, . . . dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan.”—Dan. 2:44.

Is dit hardvogtig of onregverdig van God om menseregerings te vernietig om die weg vir sy eie te baan? Dit sal dalk so lyk vir mense wat die huidige onbevredigende regeringsvorms wil laat voortbestaan. Maar vir die menigtes wat uitsien na God se volmaakte regering, en wat behoue gaan bly, sal dit ’n rede tot vreugde wees. Met verwysing na die bewind van daardie “nuwe hemele” wat seëninge op die mense op aarde gaan uitstort, het Jehovah gesê: “Wees julle bly en juig vir ewig oor wat Ek skep.”—Jes. 65:17-19.

Kan ons nie almal, in die lig van mense se onvermoë om ’n regering tot stand te bring wat in mense se behoeftes voorsien, dan beslis saamstem dat dit tydig en gepas vir God is om sy eie op te rig nie? Ons behoort soveel moontlik te wil leer oor God se koninkryk en hoe ons dit kan ondersteun, want dit sal tot ons ewige voordeel strek. Dit is daarmee in gedagte dat ons jou nooi om die volgende artikels te lees.

[Voetnoot]

a The Dictionary of the Apostolic Church, soos geredigeer deur James Hastings, Dl. 1, bl. 678, 1916

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel