Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 4/1 bl. 16-21
  • Is jy ’n lojale onderdaan van God se regering?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is jy ’n lojale onderdaan van God se regering?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • KENNIS NODIG OM ’N ONDERDAAN TE WORD
  • REGVERDIGE GEDRAG VEREIS
  • GOD VEREIS LOJALE STEUN
  • WAAR STAAN JY?
  • Wat is God se Koninkryk? Hoe ons kan wys dat ons dit wil hê
    Leer by die Groot Onderwyser
  • God se regering—die mensdom se enigste hoop
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 4/1 bl. 16-21

Is jy ’n lojale onderdaan van God se regering?

1. Watter soort regering sou jy meen dat almal graag wil hê?

GESTEL daar was vandag ’n nasie op aarde wat sy burgers heeltemal van siekte kon bevry, wat al sy kreupeles kon genees, sy blindes kon laat sien, sy dowes se ore kon ontsluit en selfs sy dooies weer kon opwek. Sou die regering van daardie nasie nie oor sulke prestasies spog nie? En sou almal op aarde nie dadelik alles in hulle vermoë doen om vir hulself ’n plek onder daardie regering te verseker nie? ’n Mens sou so dink. Maar die geskiedenis toon dat talle ’n ander neiging het.

2, 3. Wat het eerste-eeuse Joodse heersers en hulle onderdane God se koning laat verwerp?

2 Beskou die situasie in die eerste eeu toe Jesus Christus, die aangewese Koning van God se regering, sulke wonderlike dinge gedoen het. Hoe het die mense hom ontvang? Hulle is maklik deur die Joodse heersers beïnvloed en was verdeeld in hulle lojaliteit. Hierdie heersers het meer daarin belanggestel om hulle plekke en posisies in menseregering te behou as om die belange van die volk te beskerm, soos die Bybel toon:

“Die owerpriesters en die Fariseërs het die Raad byeengeroep en gesê: Wat sal ons doen?—want hierdie man [Jesus] doen baie tekens. As ons Hom so laat begaan, sal almal in Hom glo; en die Romeine sal kom en ons land en ons nasie albei afneem. En een van hulle, Kajafas, wat daardie jaar hoëpriester was, sê vir hulle: Julle weet niks nie en dink nie daaraan dat dit vir ons voordelig is dat een man vir die volk sterwe en nie die hele nasie omkom nie. . . . Van dié dag af het hulle toe saam beraadslaag om Hom om die lewe te bring.”—Joh. 11:47-53.

3 Die selfsugtige belange van die Joodse heersers het hulle nie alleen verhoed om hulle trou aan God se regering toe te sê nie, maar hulle selfsug het hulle ook die mense laat beïnvloed om Jesus te verwerp. Die Bybel sê dat toe die Romeinse goewerneur Pontius Pilatus Jesus na hulle uitgebring en gesê het: “Dáár is julle Koning!” die mense uitgeroep het: “Neem weg, neem weg, kruisig Hom! Pilatus sê vir hulle: Moet ek julle Koning kruisig? Die owerpriesters antwoord: Ons het geen koning behalwe die keiser nie.” Dit was dus die godsdiensleiers wat die mense oorreed het om teen God se koning en koninkryk te stem.—Joh. 19:14, 15.

4. Voor watter keuse kom elk van ons vandag te staan?

4 Of jy dit nou besef of nie, jy staan vandag voor ’n soortgelyke keuse. En dit is: Jy moet òf ’n lojale onderdaan van God se regering wees, òf jy moet die kant kies van diegene wat teen die bewind daarvan gekant is. Die feit dat Jesus Christus en die persone wat saam met hom gaan heers in die hemel en onsigbaar is, maak hulle geensins minder werklik nie. Die getuienis is oorweldigend: Christus is uit die dode opgewek, en hy gaan binnekort saam met sy medeheersers optree op God se bevel om ontslae te raak van alle aardse regerings en hulle ondersteuners (Dan. 2:44; 2 Thess. 1:6-9; Openb. 2:26, 27). Wat is dus jou keuse? Is dit vír bewind deur mense of vír regering deur God?

KENNIS NODIG OM ’N ONDERDAAN TE WORD

5. Wat is ’n vereiste wat een regering aan buitelanders stel om burgerskap te verkry?

5 Jy kan nie bloot jou hand oplig en sê “Ek wil ’n onderdaan van God se regering wees” nie. Dit is te begrype dat meer nodig is. Indien ’n buitelander byvoorbeeld graag ’n burger van die Verenigde State van Amerika wil word, moet hy aan sekere vereistes voldoen. The World Book Encyclopedia verduidelik: “Amptenare van die Immigrasie- en Naturalisasiediens stel ondersoek in en voer ’n onderhoud met die buitelander. . . . Hy moet toon dat hy eenvoudige Engels kan lees, skryf en praat . . . Die buitelander moet ook toon dat hy iets van die geskiedenis en regeringsvorm van die Verenigde State af weet.”—Uitgawe van 1973, DI. 14, bl. 52.

6. Watter “taal” moet ons leer as ons as onderdane van God se koninkryk wil kwalifiseer?

6 Om as ’n onderdaan van God se regering te kwalifiseer, moet jy aan soortgelyke vereistes voldoen. Jy moet eerstens die “taal” leer van diegene wat onder die bewind van God se koninkryk gaan lewe. In sy Woord, die Bybel, sê Jehovah: “Want dan sal ek die volke tot ’n suiwer taal laat oorgaan, sodat hulle almal die naam van Jehovah kan aanroep, sodat hulle hom skouer aan skouer kan dien” (Sef. 3:9, NW). Hierdie “suiwer taal” is die waarheid van God uit die Bybel, veral in verband met sy koninkryk wat vrede op aarde gaan bring. Jesus en sy dissipels het hierdie “suiwer taal” gepraat toe hulle op aarde was. Hulle het vir die waarheid oor die Koninkryk getuig en daardie boodskap op die voorgrond gehou. Vandag moet diegene wat onderdane van God se koninkryk wil word, dieselfde doen.—Joh. 18:36; Luk. 8:1; 10:8-11.

7. Wat is party van die vrae wat ’n onderdaan van God se regering moet kan beantwoord? Kan jy hulle beantwoord?

7 Om as ’n onderdaan van God se regering te kwalifiseer, moet jy daarbenewens iets omtrent die geskiedenis sowel as die heersers daarvan weet. Kan jy toon dat dit die geval is deur vrae soos die volgende te beantwoord: Wanneer het God begin om reëlings vir sy Koninkryksregering te tref? Wie was party van die voorchristelike knegte van Jehovah wat daarna uitgesien het om onderdane van sy regverdige regering te wees? Hoe het hulle hulle geloof in daardie regering getoon? Hoeveel sal as heersers in God se regering dien? Wie is party van die persone wat in die Bybel gemeld word wat bewys het dat hulle kwalifiseer om medeheersers van Christus te wees? Wat het hulle gedoen om hulle getrouheid te toon? Hoe het Jesus aan die vereistes voldoen om koning te wees? Watter toestande sal onder God se Koninkryksbewind bestaan wat sy liefde vir die mensdom sal toon? Dit is noodsaaklik dat ons sulke dinge weet, want in gebed tot sy Vader het Jesus gesê: “Dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.”—Joh. 17:3.

REGVERDIGE GEDRAG VEREIS

8. Wat is nog ’n vereiste wat een regering aan buitelanders stel om burgerskap te verkry?

8 Net soos daar ander vereistes is om burgers van aardse regerings te word, so is daar ook om ’n onderdaan van God se koninkryk te word. The World Book Encyclopedia sê van ’n persoon wat vir burgerskap in die Verenigde State van Amerika wil kwalifiseer: “Hy moet van goeie morele inbors wees . . . Die wet bepaal dat ’n buitelander nie van goeie morele inbors is nie indien hy ’n dronkaard is, owerspel gepleeg het, meer as een vrou het, ’n bestaan deur dobbelary maak”, ensovoorts. Diegene wat as onderdane van God se regering wil kwalifiseer, moet eweneens aan morele vereistes voldoen. Dit word in die Bybel uiteengesit.

9. Aan watter sedelike vereistes moet ’n persoon voldoen om as ’n onderdaan van God se regering te kwalifiseer?

9 ’n Voornemende Koninkryksonderdaan moet byvoorbeeld in sy lewe toepas wat die Bybel oor eerlikheid sê. Hy kan nie ’n leuenaar of ’n dief wees nie (Ef. 4:25, 28; Openb. 21:8). Hy moet ook ag slaan op die Bybel se verbod op dronkenskap (Ef. 5:18; 1 Pet. 4:3, 4). Gebruike soos hoerery, owerspel of homoseksualiteit is daarbenewens ’n skending van God se vereistes en diskwalifiseer persone wat hulle daaraan skuldig maak vir lewe onder God se koninkryk (1 Kor. 6:18; Hebr. 13:4; Rom. 1:24-27). Persone wat hulle egter eens aan sulke dinge skuldig gemaak het maar nou daarmee opgehou het, word nie gediskwalifiseer deur hulle eertydse onsedelike lewenswyse nie (1 Kor. 6:9-11). Die punt is: God sal nie moedswillige oortreding van sy wette duld nie; persone moet aan die morele vereistes in sy Woord voldoen indien hulle as onderdane van sy regering wil kwalifiseer.

10. Watter reëling vir leiding moet onderdane van God se regering respekteer?

10 Dit beteken dat diegene wat onder God se koninkryk wil lewe, hulle gewilliglik moet skik na wat God se Woord sê. Maar meer is nodig. Hulle moet ook respek toon vir die raad en besluite van diegene wat God in posisies van verantwoordelikheid binne die Christengemeente plaas. Hulle kan nie persone wees wat ‘hulle eie kop volg’ ongeag die voorligting wat ontvang word van die “getroue en verstandige dienskneg” wat Christus oor Koninkryksbelange op aarde aangestel het nie (Matt. 24:45). Die apostel Petrus het geskryf oor mense wat gesag verag het en hulle beskryf as “die wat die vlees in vuile begeerlikheid agternaloop en die heerskappy verag”. Waar hy hulle verder beskryf, sê die apostel: “Vermetel en aanmatigend, skroom hulle nie om die heerlike wesens [persone wat toevertrou is met toesig in God se gemeente] te belaster nie.”—2 Pet. 2:10.

11. (a) Watter bevele van God se koning moet alle Koninkryksonderdane gehoorsaam? (b) Hoe word hierdie bevele uitgevoer, en waarom is gehoorsaamheid daaraan so belangrik?

11 Maar dit is nie genoeg vir onderdane van God se regering om hulle bloot van ’n oneerbiedige, onsedelike lewenswyse te weerhou nie. Hulle moet ook die inisiatief neem en goeie dade vir ander verrig. Hulle moet lewe volgens die goddelike reël wat deur die Koning, Jesus Christus, gegee is: “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen” (Matt. 7:12). Christus het die voorbeeld gestel in sy liefde vir ander. Hy het selfs sy lewe vir die mensdom opgeoffer. En hy het sy volgelinge beveel: “Julle [moet] mekaar . . . liefhê; soos Ek julle liefgehad het” (Joh. 13:34; 1 Joh. 3:16). Dit is hierdie selfopofferende liefde en besorgdheid oor ander wat die lewe onder die bewind van God se koninkryk ’n ware genot sal maak. Kwalifiseer jou gedrag jou om dan te lewe? Wend jy werklik die poging aan om goeie dade vir ander te verrig?

GOD VEREIS LOJALE STEUN

12. Wat is nog ’n vereiste wat een regering aan buitelanders stel om burgerskap te verkry?

12 Dit behoort ’n mens nie te verbaas dat Jehovah God verwag dat sy onderdane sy Koninkryksregering lojaal steun nie, want menseregerings verwag dieselfde. The World Book Encyclopedia sê voorts die volgende oor ’n buitelander wat ’n burger van die Verenigde State wil word: “Hy verbind hom daartoe om die Grondwet te steun en te verdedig en om die wapen op te neem ter wille van die Verenigde State.” Daarbenewens “lê hy ’n eed af waarin hy afstand doen van alle buitelandse burgerskappe en trou aan enige ander land”. Maar op watter wyse verwag God dat persone sy koninkryk lojaal moet ondersteun?

13. Wat toon dat dit verkeerd is vir Christene om met fisiese wapens ten behoewe van God se regering te veg?

13 Dit is nie deur vleeslike wapens op te neem om ten behoewe van die Koninkryk te veg nie. Jesus het vir die Romeinse goewerneur Pontius Pilatus verduidelik: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie” (Joh. 18:36). Vroeër, toe die apostel Petrus probeer het om sy Meester te verdedig, het Jesus vir hom gesê; “Sit jou swaard in sy plek terug; want almal wat die swaard neem, sal deur die swaard vergaan. Of dink jy dat Ek nie nou my Vader kan bid en Hy vir My meer as twaalf legioene van engele beskikbaar sal stel nie?” (Matt. 26:52, 53). Christene sal nie help om God se vyande te vernietig nie; dit is die werk van God se hemelse leërs. Die Bybel toon dat Christene nie aan fisiese, vleeslike oorlogvoering moet deelneem nie.—Vergelyk 2 Korinthiërs 10:3-5; 2 Timotheüs 2:24, NW.

14. (a) Watter werk vereis God dat sy Koninkryksonderdane doen? (b) Hoe moet hulle hulle toewyding aan God toon?

14 God verwag eerder dat sy aardse knegte woordvoerders vir sy regering moet wees—Koninkryksvoorstanders of -verkondigers. ‘Met die mond bely hulle dus tot redding’ (Rom. 10:10). Daarbenewens verg God toewyding en trou aan hom van sy onderdane. Jesus Christus het homself aangebied om God se wil te doen, en hy is gedoop om dit te simboliseer (Matt. 3:16, 17; Hebr. 10:5-10). Christene moet dieselfde doen. Nadat hulle die nodige kennis ingeneem het en hulle na God se morele vereistes geskik het, moet hulle hulle lewens aan hom toewy en dit deur waterdoop simboliseer. Dan moet hulle heelhartig deelneem aan die groot reklamewerk wat Jehovah gedoen wil hê.

15, 16. (a) Wat was Jesus se vernaamste werk op aarde, en hoe het hy vir sy dissipels getoon dat dit ook hulle vernaamste werk moet wees? (b) Waar moes mense besoek word om Jesus se instruksies te gehoorsaam?

15 Dit is Jehovah se wil dat almal moet weet wat sy koninkryk is en hoe dit die mensdom se probleme gaan oplos. Daardie regering lê God na aan die hart, want dit is die middel waardeur hy sy naam van alle smaad sal reinig en sy volk sal seën. Die Bybel sê dus die volgende oor die vernaamste werk van God se Seun op aarde: “Jesus het by al die stede en dorpe rondgegaan . . . en die evangelie van die koninkryk verkondig” (Matt. 9:35). En by ’n ander geleentheid het Jesus gesê: “Ek moet aan die ander stede ook die evangelie van die koninkryk van God bring, want daarvoor is Ek gestuur.”—Luk. 4:43.

16 Jesus het sy volgelinge opgelei om hierdie selfde werk te doen. Hy het eers sy 12 apostels uitgestuur en hulle beveel: “Gaan preek en sê: Die koninkryk van die hemele het naby gekom. . . . En in watter stad of dorp julle ook al mag ingaan, ondersoek wie daarin waardig is, en bly dáár totdat julle vertrek. En as julle die huis ingaan, groet dit; en as die huis dit waardig is, laat julle vrede daarop kom” (Matt. 10:5-14). Om hierdie instruksies uit te voer, het die apostels die huise van mense besoek en by die wat “waardig” is, gebly en die koninkryksboodskap aan hulle verkondig. Later het Jesus 70 van sy dissipels beveel: “In watter stad julle ook al mag ingaan en hulle jul ontvang . . . sê vir hulle: Die koninkryk van God het naby julle gekom” (Luk. 10:1-11). Ja, Jesus het sy volgelinge uitgestuur om Koninkrykswerk te doen.

17. (a) Waarom het dit moed geverg om Koninkrykspredikingswerk in die eerste eeu te doen? (b) Hoe het vroeë Christene hulle moed in die predikingswerk getoon?

17 Deelname aan hierdie werk het ware moed geverg. Jesus is op aansporing van Koninkryksteenstanders vermoor, en mettertyd is sy volgelinge Stefanus en die apostel Jakobus ook doodgemaak (Hand. 7:54-60; 12:2). Maar Jesus se volgelinge is nie afgeskrik nie. Selfs nadat die apostels geslaan is, sê die Bybel: “Hulle het nie opgehou om elke dag in die tempel en van huis tot huis te leer nie, en die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is” (Hand. 5:42). Jare later het ’n gepeupel in Thessalonika die apostel Paulus en sy metgeselle beskuldig: “Hulle almal handel teen die bevele van die keiser en sê dat daar ’n ander koning is, naamlik Jesus” (Hand. 17:17). Maar daardie vervolging het hulle nie laat ophou preek nie. Die Skrif toon dat Paulus nie opgehou het om ‘die goeie nuus te verkondig nie’. Hy het kragtig getuig vir Jode en ander wat hulle moes bekeer en hulle ‘in die openbaar en in hulle huise onderrig’.—Hand. 20:20, 21.

WAAR STAAN JY?

18, 19. (a) Wat wil God hê moet nou gedoen word? (b) As ons watter dinge onthou, sal dit ons help om die Koninkrykspredikingswerk te doen?

18 Dit verg vandag net soveel moed om ’n Koninkryksvoorstander te wees. Die teenstand teen die Koninkryksboodskap is nou net so groot soos wat dit in die eerste eeu was. Die vraag is dus: Waar staan jy? Gaan jy God se koninkryk lojaal steun? Dit is sy wil dat ’n groot Koninkryksgetuienis gegee moet word voordat die einde kom. Gaan jy daaraan deelneem?—Matt. 24:14.

19 Jy vind dit dalk moeilik om die inisiatief te neem om met ander oor God se regering te praat. Maar jy kan dit doen. Sodoende sal jy bewys van jou liefde vir Jehovah lewer (1 Joh. 5:3). Jy sal onthou dat God Abraham die moeilike opdrag gegee het om sy seun op te offer. Toe Abraham hom gehoorsaam het, het God gekeer dat hy sy seun opoffer en vir hom gesê: “Want nou weet Ek dat jy God vrees.” Ja, Abraham se gehoorsaamheid het getoon dat hy God volkome vertrou het (Gen. 22:12; Hebr. 11:17-19). Deur ons ywerige Koninkrykspredikingswerk toon ons eweneens ons lojale steun vir sy regering, en hy verg hierdie steun van sy onderdane. Ons toon terselfdertyd ons liefde vir en besorgdheid oor mense, want die enigste manier waarop hulle vernietiging tydens die vinnig naderende “groot verdrukking” kan ontvlug, is deur die Koninkryksboodskap te hoor en daaraan gehoorsaam te wees.—Matt. 24:21; 1 Joh. 2:17.

20. Hoe kan Moses se voorbeeld ons help om ’n verstandige standpunt in te neem ten opsigte van God se morele vereistes?

20 Ons lojale steun aan God se regering word ook getoon deur ons nakoming van God se morele vereistes. Waar staan ons in hierdie saak? Party gee voorkeur aan hulle eie begeertes en ‘volg hulle eie kop’. En dit is waar dat dit aangenaam kan wees om deel te wees van ’n groep met ’n plesiergeoriënteerde, losbandige lewenswyse. Maar die genot is slegs tydelik. Moses was verstandig en het nie so ’n weg verkies nie. “Deur die geloof het Moses, toe hy grootgeword het, geweier om die seun van Farao se dogter genoem te word, omdat hy verkies het om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om ’n tyd lank die genot van die sonde te hê . . . want hy het uitgesien na die beloning” (Hebr. 11:24-26). Dit kom neer op wat vir ons die belangrikste is. Is dit bloot die bevrediging van ons eie selfsugtige neigings? Of is dit om dinge te doen wat ons Skepper behaag en die belange van sy Koninkryksregering bevorder?

21. (a) Hoe het Jesus die keuse gestel wat ons almal moet doen? (b) Wat is jy vasbeslote om te kies?

21 Daar is in werklikheid maar net twee dinge waaruit ons kan kies. Christus het dit vergelyk met die keuse tussen een van twee paaie. Volgens hom is die een pad “breed” en “wyd”. Die reisigers daarop word toegelaat om ‘te doen wat hulle wil’. Die ander pad is egter “smal”. Ja, daar word van diegene op daardie pad vereis om God se leiding te gehoorsaam. Jesus het gesê dat die meerderheid die breë pad kies, en net ’n paar die smal pad. Watter een gaan jy kies? Hou die volgende in gedagte wanneer jy kies: Die breë pad sal skielik doodloop—in vernietiging! Die smal pad sal andersyds reg tot in God se nuwe stelsel lei waar jy vir ewig as ’n lojale Koninkryksonderdaan kan lewe (Matt. 7:13, 14). Die keuse is joune! Wat gaan jy kies?

[Prent op bladsy 16]

Die godsdiensleiers van Jesus se dag was daarop uit om hulle posisies in menseregering te behou. Hulle het dus saam raad gehou om hom om die lewe te bring

[Prent op bladsy 17]

Die onderdane van God se regering moet die “suiwer taal” van Bybelwaarheid leer

[Prent op bladsy 19]

Toe Petrus probeer het om sy Meester te verdedig, het Jesus vir hom gesê: “Sit jou swaard in sy plek terug.” Vandag neem lojale onderdane van God se koninkryk nie aan fisiese oorlogvoering deel nie.

[Prent op bladsy 21]

Abraham se gehoorsaamheid het bewys dat hy God volkome vertrou het. Ons Iojale steun vir Sy regering word eweneens deur ywerige Koninkryksprediking getoon

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel