Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 5/15 bl. 3-5
  • Ongeduldigheid kan jou jou lewe kos

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ongeduldigheid kan jou jou lewe kos
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • OORSAKE VAN ONGEDULDIGHEID
  • “WEES MET ALMAL GEDULDIG”
  • Ongeduld kan nadelig wees
    Ontwaak!—2012
  • Geduld—Waarom so skaars?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Hoe om geduldiger te wees
    Ontwaak!—2012
  • Kan jy geduld beoefen?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 5/15 bl. 3-5

Ongeduldigheid kan jou jou lewe kos

“Ongeduld kos hom sy lewe.” Dit was die aangrypende opskrif van ’n kort artikel in die Duitse Süddeutsche Zeitung van 16 Oktober 1978. Die onophoudelike getoet van ’n motor voor die geslote slagbome by ’n spoorwegoorgang het die jong dame wat daar diens gedoen het die slagbome te gou laat oplig. Dit het “’n ongeduldige motoris” kans gegee om deur te ry. Net toe hy halfpad was, het ’n voortsnellende trein sy motor getref en dit 180 meter ver gesleep. Die artikel het geëindig met die woorde: “Die 44-jarige bestuurder het met sy lewe geboet vir sy ongeduld.”

Dit is beslis ’n drastiese voorbeeld, maar een wat toelig hoe gevaarlik ongeduldigheid kan wees. Jy het ongetwyfeld al gehoor van persone wat ’n insinking ervaar het bloot omdat hulle ongeduldig geword het en te gou na ’n ernstige siekte opgestaan of weer gaan werk het. En insinkings kan baie ernstig, selfs dodelik, wees. Ja, ongeduldige mense kan hulself in gevaar stel, selfs die ernstige gevaar om die lewe self te verloor.

Die woorde “geduld” en “geduldig”, asook die verwante woord “lankmoedigheid”, kom meer as 30 keer in die Heilige Skrif voor. ’n Interessante voorbeeld word gevind in 1 Thessalonicense 5:14, waar Christene vermaan word: “Wees lankmoedig teenoor almal.” Of soos die 1979-vertaling van Die Nuwe Testament en die Psalms (NAB) dit stel: “Wees met almal geduldig.” Dit is makliker gesê as gedaan. Maar waarom? Wat veroorsaak dat ons ongeduldig word?

OORSAKE VAN ONGEDULDIGHEID

Onkunde kan soms ongeduld veroorsaak. ’n Persoon met beperkte kennis sien dalk nie die nodigheid vir geduld nie. Maar met ’n juiste kennis van al die feite sal ’n indiwidu moontlik anders reageer. Indien die “ongeduldige motoris” presies geweet het hoe naby die trein was wat hom getref het en teen watter snelheid dit gery het, sou hy ongetwyfeld geduldig gewees het.

Nog ’n rede vir ongeduld is dat ’n persoon ’n hoë dunk van homself het of homself te ernstig opneem. Die Bybel sê gepas: “’n Lankmoedige is beter as ’n hoogmoedige” (Pred. 7:8). ’n “Hoogmoedige” is ongeduldig met persone wat hom laat wag of wat hom vertraag. Maar is sy tyd kosbaarder as hulle s’n? Hy dink oor die algemeen so. Die ongeduldige persoon is onbedagsaam en het ’n gebrek aan empatie, die vermoë om homself in die ander persoon se posisie te stel. Hy sien maklik ander se swakhede en tekortkominge raak. Hy is nie alleen ‘hoogmoedig’ nie, maar het ook ’n gebrek aan liefde.

Wat ook al die oorsaak, ’n ongeduldige persoon kan onbesonne, dwaas optree. Ja, want Spreuke 14:29 sê: “Die lankmoedige is groot van verstand, maar die kortgebondene behaal sotheid.” Die voorbeeld wat aan die begin gemeld is, lig beslis toe hoe dwaas ongeduldigheid kan wees. Moes hierdie ongeduldige bestuurder iets doen wat so belangrik was dat dit nie twee of drie minute kon wag nie? As hy ’n rukkie moes wag, kon dit hom natuurlik laat gemaak het vir ’n afspraak. Maar soos sake verloop het, het hy, weens sy ongeduldigheid, glad geen afspraak nagekom nie! Leer dus om geduldig te wees indien jy nie dwaas wil handel nie.

“WEES MET ALMAL GEDULDIG”

Hoe dikwels raak mense tog ongeduldig met vreemdelinge! Hulle vind fout met die manier waarop ander bestuur of kla oor die diens van klerke of kelners in winkels of restaurante. Maar dit is dikwels selfs moeiliker om met familielede en vriende geduldig te wees. ’n Verkoper lê miskien heeldag groot geduld aan die dag terwyl hy probeer om klante te behaag, net om in die aand huis toe te kom en allesbehalwe geduldig met sy vrou en kinders te wees.

Soms is ons dan glad met onsself ongeduldig! Maar dit is belangrik dat ons dit ook beveg, anders kan ons mismoedig word weens ons beperkings en onvolmaakthede. Ongeduld met onsself kan ons laat dink dat ons ’n vergeefse stryd voer en veroorsaak dat ons vol wanhoop in ons wedloop om die lewe uitsak. Dit sou uiters gevaarlik wees.

Die Skrif is baie realisties waar dit ons aanspoor om ons met die Christelike persoonlikheid te beklee. Hoewel dit Christene beveel om veranderinge in hulle lewens aan te bring, sê die Bybel nêrens dat hierdie nodige persoonlikheidsveranderinge oornag aangebring kan word of gee dit te kenne dat almal dit maklik sal vind om dit te doen nie (Kol. 3:5-10). Beskou byvoorbeeld die rookgewoonte. Party gewese rokers het gevind dat dit werklik nie baie moeilik was om op te hou rook nie. Maar ander het ’n stryd gevoer voordat hulle eindelik met die gewoonte gebreek het. Hulle volharding is egter mettertyd met welslae bekroon, terwyl ongeduld hulle vroeg reeds kon laat tou opgooi het.

Die toppunt van dwaasheid is natuurlik om met God ongeduldig te wees. En tog het jy sekerlik al die klagte gehoor: “As God van plan is om iets omtrent goddeloosheid te doen, is dit hoog tyd daarvoor.” Wel, die Bybel verseker ons: “Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer” (2 Pet. 3:9, NAB). Dit is eienaardig dat dit hierdie einste geduld van God is wat ons soms ongeduldig maak.

Gestel hierdie stelsel het langer geduur as wat ons eens gedink of gehoop het dit sou. Dan was dit nie sonder rede nie. Die apostel Petrus het ook geskryf: “Beskou die geduld wat ons Here met ons het as geleentheid om gered te word” (2 Pet. 3:15, NAB). ’n Juiste kennis van God se voornemens en ’n nederige taksering van ons eie betreklike onbelangrikheid sal ons in staat stel om geduldig te bly solank as wat Jehovah dit goedvind om met hierdie ou stelsel en sy mense geduldig te wees.

Die Bybelskrywer Jakobus spoor Christene aan om geduldig te wees waar hy sê: “Wees dan geduldig, broeders, tot op die wederkoms van die Here. Kyk, die landbouer wag op die kostelike vrug van die aarde en het geduld daarmee totdat dit die vroeë en die laat reën ontvang het. Julle moet ook geduldig wees; versterk julle harte, want die wederkoms van die Here is naby.”—Jak. 5:7, 8.

Mag ons nooit die fout begaan om met God ongeduldig te word nie. Ons moet ook waak teen ongeduld met ons geestelike broers en susters, ons familielede, vriende en vreemdelinge. Dit is soos die Skrif sê: ‘Laat ons teenoor almal lankmoedig of geduldig wees.’ Onthou, ongeduldigheid kan jou jou lewe kos!

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel