Is jy vergenoeg met wat jy het?
DIE soeke na geluk is ’n aangebore menslike begeerte. Hierdie begeerte is reg en behoorlik. Dit is deur die Skepper in menseharte geplant, want as “die gelukkige God” wil hy hê dat al sy skepsele gelukkig moet wees.—1 Tim. 1:11, NW.
Die vraag is egter: Hoe kan ’n persoon geluk verkry? In die lig van die klem wat daar vandag op materiële geriewe geplaas word, assosieer baie mense geluk oënskynlik met materiële besittings. Wanneer daar vir hulle gevra word of hulle graag sou wou weet hoe om geluk in hulle lewens te smaak, antwoord hulle dikwels: ‘As ek geld gehad het, sou ek gelukkig gewees het.’
Die algemeenheid van sulke denke behoort ons nie te verbaas nie. Deur middel van allerhande advertensies en propaganda—waarvan party blatant en ander subtiel is—spoor die handelselemente van die wêreld mense voortdurend aan om meer te koop en meer te bestee. Mense word wysgemaak dat hulle in werklikheid kan bespaar deur die nuwe produkte te koop, ten spyte van die feit dat hulle reeds dieselfde artikel het, hoewel dit ’n ouer of ander model is. ’n Sekere advertensie in Hongkong sê byvoorbeeld: “Indien jy reeds ’n groot motor besit, skaf dan ook hierdie motor aan”, naamlik ’n kleiner model. ’n Ander adverteerder vra: “Verorber jou lugverkoeler tuis baie energie?” Dan kom die voorstel: “Vervang dit nou met ’n hoërendementeenheid.”
Mense is onvergenoeg, deels as gevolg van die aanslag van handelsreklame. Baie probeer om maniere te vind om meer geld te verdien ten einde meer materiële dinge te koop, want hulle dink dat dit vir hulle die geluk en sekuriteit sal gee waarna hulle smag. Maar hoe dikwels loop hulle pogings op mislukking en frustrasie uit! Omdat hulle nie daarin slaag om rykdom op wettige metodes te verkry nie, maak party van onwettige metodes gebruik—diefstal, gewapende roof, dwelmsmousery en dies meer. Dit onderstreep die waarheid van die Bybelspreuk: “Hy wat haastig is om ryk te word, sal nie onskuldig bly nie.”—Spr. 28:20, NW.
Maar party persone sal sê: ‘Hoewel dit waar is dat baie nie daarin geslaag het om ryk te word nie, het ander mos daarin geslaag, nie waar nie?’ Ja, in elke land is daar mense wat ryk geword het deur harde werk of vindingrykheid, hoewel daar maar betreklik min van hulle is. Die belangriker vraag is egter: Is hulle vergenoeg en gelukkig? Daar moet erken word dat selfs diegene wat daarin geslaag het om rykdom te vergaar, dikwels nie tevrede is nie en altyd probeer om nog ryker te word. Die Skepper van die mens is deeglik bewus van hierdie neiging van onvolmaakte mense. Sy Woord sê reguit: “Hy wat geld liefhet, kry nie genoeg van geld nie, en wie rykdom liefhet, nie van inkomste nie” (Pred. 5:9). Hoe akkuraat het hierdie waarneming tog geblyk te wees!
DIE SINLOOSHEID VAN RYKDOM
Die Skepper is ook deeglik bewus van die skade en ongelukkigheid wat ’n materialistiese lewenswyse tot gevolg kan hê. Weens God se liefdevolle besorgdheid oor die mensdom het hy baie raad in sy Woord gegee om die mens teen hierdie valstrik te waarsku. Ongeag hoe geslaagd ’n persoon daarin is om materiële rykdom te verwerf, hy sal al sy besittings by sy dood verloor. Dit is beslis sinloos om al ’n mens se krag te wy aan die verwerwing van rykdom wat vir ander nagelaat moet word. Wyse koning Salomo het die situasie raak beskryf met hierdie woorde: “Soos hy uit die skoot van sy moeder uitgegaan het, gaan hy naak weer heen soos hy gekom het; en hy sal vir sy moeitevolle arbeid niks wegdra wat hy met hom kan saamneem nie.” Die wyse man het dus goeie rede gehad om die volgende gevolgtrekking te maak: “So is dit dan ook ’n smartlike onheil: net soos hy gekom het, so sal hy heengaan; watter voordeel het hy dan dat hy hom vermoei het vir wind?”—Pred. 5:14, 15.
Daarbenewens ly diegene wat verteer word deur ’n begeerte om ryk te wees dikwels aan kwale wat veroorsaak word deur vernietigende emosies soos angs, vrees en jaloesie. Salomo, ’n fyn waarnemer van die lewe in die ou tyd, het tereg gesê: “Ook eet hy sy lewe lank in duisternis en het baie ergernis; daarby sy lyding”, klaarblyklik ook maagaandoenings (Pred. 5:16). Hedendaagse mediese navorsing het oorvloedige bewys gelewer van die uiters nadelige uitwerking wat negatiewe emosies op ’n persoon se gesondheid kan hê. Is swak gesondheid nie te veel om vir materiële rykdom te betaal nie?
’n Onbeteuelde begeerte na meer materiële gerief en besittings kan ook ’n persoon se geluk bederf. Baie mense werk byvoorbeeld oortyd of beklee meer as een betrekking om luukse-artikels te bekostig, slegs om te vind dat hulle te moeg of te besig is om sulke dinge te geniet wanneer hulle dit aanskaf. Ander koop luukse-artikels of onderneem duur reise op skuld. Sodoende dompel hulle hulself in die skuld en haal hulle hulle ’n swaar finansiële las op die hals. Baie is verplig om hulself bankrot te verklaar weens hulle onvermoë om sulke geldelike verpligtinge na te kom, en dit doen hulle en hulle gesinne groot leed en skande aan. Sou hierdie mense, indien hulle met die lewensbenodigdhede vergenoeg was, hulself en hulle dierbares soveel hartseer en benoudheid besorg het?
WARE GELUK EN VERGENOEGDHEID
Weens sy voortreflike wysheid weet die mens se Skepper watter weg tot ware vergenoegdheid en geluk lei. Deur die Christenapostel Paulus het hy liefdevol vermaan: “Die godsaligheid saam met vergenoegdheid is ’n groot wins. . . . as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees” (1 Tim. 6:6-8). ’n Persoon wat met die lewensbenodigdhede vergenoeg is, word nie deur hebsug of ambisie aangedryf om sy besittings te vermeerder nie. Hy word baie angs en die ongelukkigheid wat deur onvergenoegdheid verwek word, bespaar. Omdat hy tevrede is met wat hy het, is hy in staat om sy tyd en energie te wy aan dinge wat belangriker en lonender as materiële rykdom is.
Om waarlik gelukkig te wees, het ons ’n goeie verhouding met God nodig. Dit is slegs moontlik as ons ’n juiste kennis van die Skepper het en hom met ons hele hart dien. Maar party vra dalk: ‘Waarom moet ’n persoon aan God toegewy wees om gelukkig te wees? Is daar nie baie mense in die wêreld wat glad nie godsdienstig is nie en wat oënskynlik tog hulle materiële voorspoed en die goeie dinge in die lewe geniet nie?’ Dit is waar, maar ons moet onthou dat ware geluk meer is as net genot of die tydelike genieting van iets. Dit is ’n innige gevoel van welsyn en gemoedsrus. ’n Man se besittings kan hom genot verskaf. Maar hoe kan hy, in die lig van die onsekerheid van die lewe, seker wees dat hy more dieselfde geluk sal smaak? Selfs al meen hy dat hy gelukkig is, kan iets wat op ’n baie kortstondige grondslag berus tog nie as ware geluk beskou word nie, of hoe?
Die Bybel beskryf persone wat hulself gelukkig ag weens hulle materiële voorspoed. Die volgende woorde word aan hulle toegeskryf: “Dat ons skure vol mag wees, wat allerhande soorte voorraad oplewer; ons kleinvee by duisende mag aanteel, by tienduisende vermeerder word op ons velde; ons beeste gelaai mag wees; geen bres in ons mure en geen uittog daaruit, en geen geskreeu op ons pleine nie. Welgeluksalig is die volk met wie dit so gaan.” Dan wys die Bybel egter ’n voortrefliker geluk: “Welgeluksalig is die volk wie se God [Jehovah] is!”—Ps. 144:13-15.
’n Persoon wat aan God toegewy is en ’n intieme verhouding met sy Skepper geniet, ervaar ’n innige gevoel van veiligheid en vrede, wat onontbeerlik is vir ware geluk. Die indiwidu weet dat hy verseker is van God se liefdevolle sorg, ongeag watter onheil hom tref (Hebr. 13:5, 6). Omdat ’n persoon ’n kneg van God is, het hy ook ’n doel in die lewe en ’n wonderlike hoop vir die toekoms. Hy weet dat die Allerhoogste al die haat en goddeloosheid wat soveel pyn en verdriet op hierdie aarde veroorsaak het uit die weg gaan ruim. Die huidige stelsel sal vervang word deur ’n regverdige bewind waaronder mense ‘hulle nie tevergeefs sal vermoei of sal baar vir skielike ondergang nie’, maar in staat sal wees om die vrug van hulle arbeid vir ewig te geniet.—Jes. 65:17-25.
Dwarsdeur die wêreld is daar vandag duisende mense wat voorheen nie daarin geslaag het om geluk in materiële strewes te vind nie, maar wat later ware geluk en vergenoegdheid gesmaak het. Dit is toe hulle die waarheid in God se Woord geleer en daarvolgens begin lewe het.
In ’n land in Suidoos-Asië het ’n jong man uit ’n ryk gesin probeer om geluk te vind deur hom vir politieke hervormings te beywer. Dit het hom net by die regering in die moeilikheid laat beland. Toe het hy die sakewêreld betree en daarin geslaag om in ’n kort tydjie baie geld te maak. Maar geluk het hom steeds ontwyk. Dwelmmiddels het hom geen bevrediging verskaf nie. In wanhoop het hy eindelik by Jehovah se Getuies om hulp aangeklop en gou beset dat hy die waarheid gevind het. Na ’n tydperk van intensiewe studie het hy homself aan die Allerhoogste toegewy om Sy wil te doen. Dit het ’n algehele verandering in die jong man se lewensbeskouing meegebring. Omdat hy beset het dat ware geluk slegs verkry kan word deur God heelhartig te dien, het hy ’n voltydse verkondiger van die goeie nuus van God se koninkryk geword. Hy het sedertdien talle seëninge in sy nuwe loopbaan geniet, onder meer ’n sielsbevredigende geluk wat hy nooit tydens sy materialistiese strewes gesmaak het nie.
Ja, ware vergenoegdheid en geluk kan slegs verkry word as ’n mens materiële dinge in hulle ware perspektief sien. Hoewel ons liefdevolle Skepper dit vir ons genot voorsien het, is dit glad nie die vernaamste bron van geluk nie. Trouens, as ’n mens dit nastreef sonder inagneming van God se wil, kan dit slegs ongelukkigheid tot gevolg hê. Ware geluk en vergenoegdheid word gesmaak as ’n mens die grootse Skepper dien en sy wil doen. Dit stel ons in staat om die grootste genot uit God se materiële skepping en die grootste geluk uit geestelike dinge te put.