Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 5/15 bl. 27-31
  • Die boek Prediker—’n les in regte waardes

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die boek Prediker—’n les in regte waardes
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “DIT IS ALLES TEVERGEEFS”
  • ’N PROEFNEMING MET WEELDE
  • RYKDOM EN ROEM
  • VERDRUKKING EN ONREG
  • WAT OM TE DOEN WANNEER DIE ONVERWAGTE GEBEUR
  • Bybelboek nommer 21—Prediker
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Glanspunte uit die boek Prediker
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Wat maak die lewe die moeite werd?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • “Die hele verpligting van die mens”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 5/15 bl. 27-31

Die boek Prediker—’n les in regte waardes

WAT is die beste manier waarop ’n mens jou tyd en energie kan bestee? Sal dit nuttig wees om ontspanningsbedrywighede jou hoofdoelwit te maak? Moet jy jou daarop toelê om materiële rykdom te vergaar of om ’n gevierde naam te maak? Watter strewes in die lewe het die grootste waarde?

Die Bybelboek Prediker bied goeie voorligting in hierdie verband. “Die woorde van die Prediker, die seun van Dawid, die koning in Jerusalem” word daarin aangetref (Pred. 1:1, 12). “Die Prediker” is klaarblyklik koning Salomo, wat internasionale roem met sy wysheid verwerf het. Die boek Prediker bevat sy raad oor dinge wat nutteloos is en die wat werklik waardevol is.

“DIT IS ALLES TEVERGEEFS”

Die boek Prediker begin met hierdie woorde: “Alles tevergeefs, sê die Prediker, alles tevergeefs, dit is alles tevergeefs! Watter voordeel het die mens van al sy moeite waarmee hy hom vermoei onder die son?” (Pred. 1:2, 3). Die Hebreeuse woord vir “tevergeefs” beteken letterlik “asem”. Dit dui iets aan wat nie stewig, stabiel en blywend is nie. “Alles tevergeefs” is ’n goeie beskrywing van menslike aangeleenthede.

Die Prediker meld vervolgens kringlope in die natuur. Geslagte mense kom en gaan voortdurend, die son bly opkom en ondergaan, winde waai gedurigdeur en riviere loop altyd in die see in sonder om dit vol te maak (Pred. 1:4-7). Nadat hy hieroor nagedink het, het die wyse koning gesê: “Al die dinge is so vermoeiend, geen mens kan dit uitspreek nie; die oog kry nie genoeg van sien nie, en die oor word nie vol van hoor nie. Wat gewees het, dit sal daar weer wees; en wat gebeur het, dit sal weer gebeur, en daar is glad niks nuuts onder die son nie.”—Pred. 1:8, 9.

Die oorpeinsing van al hierdie natuurlike kringlope het vir Salomo “vermoeiend” gelyk. Dit is natuurlik waar dat die ontsaglikheid en ingewikkeldheid van hierdie kringlope van so ’n aard is dat ’n man sy hele lewe daaraan kan wy en nooit alles sal verstaan nie. Sy woordeskat sal nooit voldoende wees om dit in besonderhede te beskryf nie. Maar ons onthou dat Salomo hier praat oor die tevergeefsheid waarmee onvolmaakte mense te kampe het. Ons kan dus besef hoe vermoeiend dit vir die mens kan wees om na te dink oor die meedoënlose herhaling van hierdie nimmereindigende kringlope en dit dan met sy eie kort lewensduur te vergelyk. Vir die een met ’n gebrek aan goddelike wysheid wek sy tydelikheid en sy onvermoë om vir ewig te lewe ’n gevoel van tevergeefsheid, en dit laat hom dikwels tevergeefs na iets anders, iets nuuts, soek—slegs om te vind dat dit op die ou end maar weer ‘dieselfde ou liedjie’ is. Dit is ook vermoeiend.

Hierdie kennis kan voorkom dat ons baie tyd, energie en geld verkwis in ’n poging om genoegdoening en geluk deur sinlike bevrediging te vind. Die soeke na nuwe dinge en ondervindings kan ’n mate van genot verskaf, maar dit bevredig nooit ten volle nie. En eindelik eindig alles in Sheol, waar daar “geen werk of oorleg of kennis of wysheid” is nie, want “die dooies weet glad niks nie”.—Pred. 9:5, 10.

’N PROEFNEMING MET WEELDE

Koning Salomo vertel van ’n interessante proefneming met ’n weelderige lewenswyse. Hy het hom met paradysagtige toestande omring en elke soort aangename bedrywigheid op die proef gestel (Pred. 2:3-9). “Alles wat my oë begeer het, het ek hulle nie ontsê nie”, skryf hy (Pred. 2:10a). Die koning het die proefneming met weelde tot ’n mate geniet. Hy sê: “My hart het ek van geen enkele vreugde teruggehou nie, want my hart het hom verheug vanweë al my moeitevolle arbeid, en dit was my deel van al my moeitevolle arbeid.”—Pred. 2:10b.

Maar oor die verkryging van ware genoegdoening en geluk op hierdie wyse erken die Prediker: “Toe het ek gekyk na al my werke wat my hande tot stand gebring het, en al die moeitevolle arbeid wat ek verrig het—en kyk, dit was alles tevergeefs en ’n gejaag na wind, en daar was geen voordeel onder die son nie.”—Pred. 2:11.

RYKDOM EN ROEM

Jy ken moontlik indiwidue wat dag en nag werk om ’n gerieflike “neseier” in die vorm van materiële rykdom te vergaar. Vir sulke mense bevat die boek Prediker hierdie belangrike les: “Hy wat geld liefhet, kry nie genoeg van geld nie, en wie rykdom liefhet, nie van inkomste nie; ook dit is dan tevergeefs” (Pred. 5:9). Een van die tevergeefse aspekte van die najaging van rykdom word in die volgende vers uiteengesit: “As die goed baie word, word die eters baie; watter voordeel het die besitter dan daarvan, behalwe dat sy oë dit aanskou?”—Pred. 5:10.

Selfs wanneer ’n persoon “die besitter” van groot rykdom word, bly hy ontevrede. Ware wysheid sou vir hom van veel groter waarde gewees het (Pred. 7:12). En hoe meer ’n persoon se besittings toeneem, des te groter word die behoefte aan huurlinge om daarvoor te sorg. Aangesien die ryk man sy diensknegte moet voed en versorg, is daar ’n ooreenstemmende vermeerdering in die aantal “eters” namate rykdom toeneem. ’n Werk deur Griekse skrywer Xenophon bevat hierdie kommentaar van ’n man wat eens arm was maar wat ryk geword het:

“Sacianus, meen jy dat ek meer genot uit die lewe put namate my besittings toeneem? Weet jy nie dat ek nou nie met ’n krieseltjie meer genot eet, drink of slaap as toe ek arm was nie? Maar deur hierdie oorvloed te besit het ek bloot die volgende verkry: ek moet meer oppas, meer aan ander uitdeel, en ek het die moeite om na meer om te sien; want ’n groot aantal huisbediendes eis nou van my hulle voedsel, hulle drank en hulle klere; party het geneeshere nodig; een bring vir my skape wat deur wolwe verskeur is, of osse wat dood is toe hulle oor kranse gestort het, of vertel vir my van ’n kwaal waaraan die beeste ly; sodat dit vir my lyk asof ek, weens ’n oorvloed besittings, meer probleme het as tevore toe ek min besit het. . . . Indien dit so aangenaam was om rykdom te besit as wat dit is om dit te vergaar, sou ryk mense baie gelukkiger as armes gewees het. Maar die een wat ’n oorvloed besit, is verplig om ’n oorvloed te bestee.”

Die boek Prediker bespreek ’n tragiese situasie waarin persone wat vasbeslote is om ryk te wees dikwels beland: “Weer het ek ’n vergeefse moeite gesien onder die son; daar is een allenig sonder ’n tweede, ook het hy geen seun of broer nie; tog is daar geen einde aan al sy moeitevolle arbeid nie, sy oë kry ook nie genoeg van rykdom nie. Vir wie tog vermoei ek my en laat my siel gebrek ly aan die goeie? Ook dit is tevergeefs en ’n verkeerde saak.”—Pred. 4:7, 8.

Tydens die soeke na rykdom offer mense alte dikwels menseverhoudinge binne sowel as buite die gesin op. Hoe ellendig is die gierigaard tog wat homself in sy najaging van materiële ware afsonder! Hy meen dat dit nuttig is om geen familie of vriende te hê nie, aangesien hy van sy geld aan hulle sou moes bestee. Enigeen wat geneig is om so te dink, moet homself afvra: “Vir wie tog vermoei ek my en laat my siel gebrek ly aan die goeie?” Dit maak nie saak hoe baie ’n ryk persoon besit nie, “sy oë kry . . . nie genoeg van rykdom nie”. Omdat Salomo hiervan bewus was, het hy geskryf:

“Twee is beter as een, want hulle het ’n goeie beloning vir hulle moeitevolle arbeid. Want as hulle val, kan die een sy maat optel, maar wee die een wat val sonder dat daar ’n tweede is om hom op te tel. Verder, as twee bymekaar lê, kry hulle warm; maar hoe kan een allenig warm word? En as iemand die een aanval, kan altwee hom teëstand bied; en ’n driedubbele lyn word nie gou verbreek nie.”—Pred. 4:9-12.

Hierdie woorde bevat ’n belangrike les. Menseverhoudings is lonender as besittings. Opregte besorgdheid oor jou medemens en pogings om hom te help, is baie waardevoller as goud, silwer of enige ander lewelose voorwerp.

VERDRUKKING EN ONREG

Die boek Prediker erken openlik dat die mens al baie verdrukking gely het: “Daarna weer het ek gesien al die verdrukkinge wat onder die son plaasvind, en kyk, daar was trane van verdruktes, en vir hulle was daar geen trooster nie; en aan die kant van hulle verdrukkers was mag, maar daar was vir hulle geen trooster nie” (Pred. 4:1). Wanneer die verdruktes by maghebbers verligting soek, seëvier ongeregtigheid dikwels. Salomo sê: “Verder het ek ook gesien onder die son die plek van die gereg—daar was onreg, en die plek van geregtigheid—daar was onreg.”—Pred. 3:16.

Hoe moet mense op algemene verdrukking en onreg reageer? Hulle moet eers die waarheid van hierdie geïnspireerde verklaring insien: “Wat krom is, kan nie reguit word nie, en wat ontbreek, kan nie getel word nie” (Pred. 1:15). Party indiwidue met suiwer beweegredes het hulle lewe daaraan gewy om regverdige toestande op aarde te probeer teweegbring, maar sonder welslae. Die Woord van God toon duidelik dat slegs God se koninkryk van goddeloosheid onder die mensdom ontslae kan raak (Dan. 2:44; 2 Pet. 3:13; Openb. 21:1-5). Geen hoeveelheid mensepogings kan die tallose “krom” aspekte van die mens se gedrag reguit maak nie.

Aangesien dit die geval is, bied die Prediker nog ’n nuttige rigsnoer: “Ek sê: Neem die bevel van die koning in ag, en wel ter wille van die eed by God. Haas jou nie om van hom af weg te gaan nie; laat jou nie in met ’n slegte saak nie, want alles wat hy wil, doen hy. Want die woord van die koning is magtig, en wie kan vir hom sê: Wat doen u?”—Pred. 8:2-4.

Die boek Prediker staan nie opstand en pogings om bestaande regerings omver te werp voor nie. Die verstandige weg is om gehoorsaam onderdanig aan die goewermentele “hoëre owerhede” te bly (Rom. 13:1-7. NW). In seldsame gevalle sal die begeerte om God se goedkeuring weg te dra iemand beweeg om sekere bevele van amptenare nie te gehoorsaam nie (Dan. 3:12, 16-18). Maar waar amptelike bevele of versoeke nie vereis dat ’n mens God se wet oortree nie, is dit die verstandige weg om “die bevel van die koning” in ag te neem.

Waar hy verder hieroor uitwei, sê die Prediker: “Hy wat die gebod onderhou, sal geen kwaad ondervind nie; en die hart van ’n wyse sal die tyd en die regterlike beslissing belewe. Want vir elke ding is daar ’n tyd en ’n beslissing; want die boosheid van die mens druk swaar op hom. Want hy weet nie wat sal wees nie; want hoe dit sal wees—wie kan hom dit te kenne gee?” (Pred. 8:5-7). Selfs wanneer ’n bewind hardvogtig en arbitrêr is, sal die verstandige persoon nie in opstand kom nie. Hy weet dat daar ’n “tyd” is wanneer iets sal gebeur om dinge ten goede te verander. Maar aangesien hy nie weet “hoe” dit presies sal plaasvind nie, is die versigtige weg voorlopig om hom met sy eie sake te bemoei en goeie oordeel aan die dag te lê wanneer hy met onaangename aspekte van die daaglikse lewe te kampe het.—Vergelyk Prediker 3:1-13.

WAT OM TE DOEN WANNEER DIE ONVERWAGTE GEBEUR

Nog ’n rede waarom baie mensepogings tevergeefs is, word in Prediker 9:11 gemeld: “Weer het ek onder die son gesien dat die wedloop nie is vir die vinniges en die oorlog nie vir die helde nie; en ook die brood is nie vir die wyse of ook rykdom vir die slimmes of ook guns vir die verstandiges nie; want tyd en lotgeval tref hulle almal.”

Dit sou voorkom of eienskappe soos spoed, krag en wysheid mense ’n sukses sou laat maak van alles wat hulle aanpak. Maar dikwels neem sake ’n onverwagte wending. Hoewel onvoorsiene omstandighede nou en dan gunstig is, neem hulle dikwels die vorm van ongelukke, siektes of ander rampe aan. En in die dood ‘is daar nie ’n voorkeur van die mens bo die veediere nie; want alles is tevergeefs’.—Pred. 3:19-21.

In die lig hiervan beveel die wyse Bybelskrywer veral twee dinge aan: (1) Wees elke dag vlytig; (2) ‘geniet die goeie’ vir al jou arbeid deur te geniet wat jy nou het. Woorde met hierdie strekking word aangetref in Prediker 5:17-19:

“Kyk, wat ek as ’n goeie ding gesien het, wat voortreflik is, is dat iemand eet en drink en die goeie geniet vir al sy arbeid waarmee hy hom vermoei onder die son gedurende die getal van sy lewensdae wat God hom gee; want dit is sy deel. Ook vir elke mens aan wie God rykdom en skatte gegee het, en wat Hy in staat stel om daarvan te eet en sy deel te neem en hom te verheug by sy moeitevolle arbeid, is dit ’n gawe van God. Want hy dink nie baie aan sy lewensdae nie, omdat God hom laat besig wees met die vreugde van sy hart.”

Hoewel daar vandag baie verdrukking, onreg en ander slegte aspekte aan menselewe verbonde is, laat die verstandige persoon nie toe dat dit sy vreugde demp oor dinge wat reg verloop nie. Hy is eerder vasbeslote om “sy deel” van huidige seëninge “te neem” deur hom te verheug oor wat hy het, selfs al is dit min.

Ruimte laat nie ’n breedvoeriger bespreking van die wysheid wat in die boek Prediker aangetref word hier toe nie. Maar ons hoop dat die paar voorbeelde wat hier gemeld is jou sal beweeg om die hele boek aandagtig te bestudeer. Dit sal help om te voorkom dat jy jou tyd en energie verkwis aan dinge wat nutteloos is en jou help om jou lewe en middele te wy aan iets wat waarlik die moeite werd is.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel