Vereer jy die dooies?
HET jy al ooit die gevoel van groot verlies na die dood van ’n dierbare ervaar? Talle bedroefde persone word oorweldig deur die finaliteit van die dood en die gepaardgaande gevoel van hulpeloosheid. Daar bestaan dikwels ’n begeerte om hiervoor te vergoed met dade om die dooies te vereer. Omdat talle glo dat die siel onsterflik is, sluit begrafnisritusse dikwels seremonies in wat veronderstel is om die dooies te paai en hulle guns af te smeek, of om hulle in die geesteryk te help.
Dit is natuurlik om die nagedagtenis van ’n dierbare in ere te hou. Normale menslike gevoelens eis dat ’n “ordentlike begrafnis” gereël word. Dieselfde gevoel wek die begeerte om aan die oorledene se laaste versoeke gehoor te gee, solank dit nie die persoon se gewete en sy sin vir wat reg is, sal verkrag nie. Die meeste persone weerhou hulle ook van dade wat minagting vir die dooies toon.
Maar diegene wat hulle deur God se standaarde wil laat lei, sal seker maak dat hulle gebruike nie die gevolg is van die opvatting dat die dode bewus is van wat gedoen word nie. Waarom nie? Omdat so ’n opvatting nie op waarheid gebaseer is nie, maar op bygelowe wat van eertydse Babilon af kom. Dit is ook gegrond op die bedrog van demone wat hulleself vir dooies uitgee.
Fisiese getuienis steun die Bybel se leerstelling dat die dood ’n einde van alle lewe is en dat die mens geen onsterflike siel het wat in die geesteryk voortlewe nie. Die mens self is die siel, want in die Skrif word ons meegedeel: “Die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ’n lewende siel geword.” By die dood keer mense tot stof terug en eindig hulle dinkprosesse.—Gen. 2:7; 3:19; Ps. 146:4; Eseg. 18:4.
Daar is natuurlik opvattings wat hiermee bots. Maar hoe kan ons die waarheid ondersteun deur ons optrede teenoor die dooies? En hoe kan ons dit doen wanneer ons uiting gee aan ons smart oor die verlies van ’n dierbare?
HOE TOON JY SMART?
As ’n mens uiting gee aan smart, stel dit emosionele spanning vry, maar indien daar op onbeheerste wyse aan emosies uiting gegee word, sal dit emosionele ongebalanseerdheid tot gevolg hê. Dit is dus verstandig om blyke van smart te beheers.
God se knegte van die verlede was bedroef wanneer dierbares gesterf het (Gen. 23:2; Deut. 34:8; Joh. 11:33). Hulle is egter verbied om dinge te doen wat daarop sou dui dat hulle geglo het dat die dode in ’n geesteryk voortlewe. Jehovah se volk moes nie hulle godsdiens besmet deur die nasies na te volg en dinge te doen wat ’n verkeerde gesindheid teenoor die dooies weerspeël het nie.—Lev. 19:28; Deut. 14:1; 18:10-12.
Jesus het oor die dood van Lasarus geween en voorspel dat sy volgelinge uit smart oor sy dood sou vas (Joh. 11:35, 38; Mark. 2:20). Maar hy het ook gesê dat hulle só moes vas dat hulle slegs deur God gesien word en nie deur mense nie. Hulle smart moes uit die hart kom en nie net vir die skyn wees nie. (Matt. 6:16-18; vergelyk Joel 2:12, 13.) Jesus het vir sy dissipels gesê dat hulle geen deel van die wêreld is nie. En hy wou natuurlik nie hê dat hulle die goedkeuring van die wêreld moes nastreef deur strydig met die waarheid te handel nie.—Joh. 15:19.
Al hierdie dinge ontmoedig Christene om die gebruik na te volg om swart as teken van rou te dra. Maar ten tye van droefheid weens ’n sterfgeval sal godvrugtige persone waardig geklee wil wees wanneer hulle in die openbaar verskyn, aangesien dit dan nie van goeie smaak sal getuig om slenterdrag te dra nie.—Pred. 3:1, 4.
Sal dit ook die gebruik om by die lyk te waak uitskakel? Die manier waarop verskeie gelowe hierdie gebruik volg, is deur die hele nag lank droefgeestig te sing en te ween. Dit skep ’n sombere en neerdrukkende atmosfeer vir die bedroefde gesin. Lykwake het klaarblyklik weens vrees vir die dooies ontstaan, en die doel van die gebruik is om die oorledene te paai en om boosaardige geeste weg te hou. Maar aangesien die Bybel toon dat die dooies ‘glad niks weet nie’, is so ’n gebruik op ’n leuen gebaseer en kan dit nie met die ware Christelike geloof versoen word nie.—Pred. 9:5, 10.
Dit sal egter gepas wees om ’n bedroefde gesin te besoek. Dit kan gedoen word selfs nog voordat die oorledene se lyk uit die huis verwyder is, alhoewel ’n Christen nie sal deelneem aan ’n tradisionele lykwaak wat op onskriftuurlike beskouings en gebruike gebaseer is nie. Dit sal natuurlik nie troos bied of smart verminder as ’n mens net in ’n sombere atmosfeer rondsit nie. Dit sal ook nie bedagsaam wees om die bedroefde persone op te saal met die finansiële las om ’n groot hoeveelheid kos vir besoekers te voorsien nie. Dit sal bedagsaam wees om jou besoek kort te maak, tensy jy ’n lid van die gesin of ’n boesemvriend is. Maar dit sal hulle opbou as jy hulp aanbied en ‘die terneergedruktes bemoedig’ (1 Thess. 5:14, vgl. NW). Jy kan moontlik hand bysit met huiswerkies of inkopies of deur die nodige maaltye te voorsien.
Hoe gee jy egter uiting aan jou smart indien jy ’n dierbare aan die dood afgegee het? Christene rou nie op oordrewe wyse en hulle vrees nie die dooies nie. Hulle glo ook nie dat die oorledene die lewendes se hulp nodig het nie. Christene het eerder die hoop dat die dooies weer sal lewe, want die apostel Paulus het gesê: “Ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie” (1 Thess. 4:13). ’n Christen se droefheid word dus deur hoop versag en gebalanseer.—Joh. 11:24; Hand. 24:15.
Indien jy ’n dierbare aan die dood afgestaan het, sal hierdie hoop op ’n opstanding jou help om jou gevoelens van verlies en smart te bowe te kom. Dit sal jou in staat stel om jou huidige omstandighede ten beste te benut en sal jou versterk om ander te help. Jy kan byvoorbeeld vir ander bedroefde persone van jou hoop op ’n opstanding vertel en hulle aldus help om hulle smart die hoof te bied.—Joh. 5:28, 29.
WAT VAN BEGRAFNISSE?
’n Christelike begrafnis bied die geleentheid om van die lyk ontslae te raak op ’n manier wat aan die wetlike gesondheidsvereistes voldoen en sosiaal aanvaarbaar is. Dit bied geleentheid om die bedroefdes te vertroos en ’n boodskap van hoop aan alle aanwesiges te gee. Nee, ’n Christelike begrafnis is nòg ’n sakrament om die siel die sogenaamde rus te laat binnegaan, nòg ’n poging om die “heengegane gees” te paai. Christene meen ook nie dat dit moontlik is om die dooies te “heilig” deur die manier waarop hulle begrawe word nie. Aangesien die dooies ‘glad niks weet nie’, kan dinge wat vir hulle gedoen word hulle nie tot voordeel strek of paai of hulle naam by God beïnvloed nie (Ps. 6:6; 115:17). Maar die begrafnis (of gedenkdiens, wanneer die lyk nie daar is nie) troos wel die oorlewende familielede en getuig van die agting waarmee die gestorwe dierbare bejeën is.
Maar watter nut sal ’n duur begrafnis hê indien die ontslapene nie met dieselfde agting behandel is toe hy nog gelewe het nie? Party redeneer dat ’n duur begrafnis en die gepaardgaande fees nodig is om respek te toon en om waardering vir die goeie lewe wat die persoon gelei het te betuig. Maar sulke waardering sal meer waarde hê indien dit gedurende die persoon se lewe aan hom betoon is toe hy of sy dit kon sien en daarby baat kon vind.
Hoewel ’n mens dankbaar kan wees dat ’n oorledene ’n goeie lewe gelei het, bly die dood ’n vyand (1 Kor. 15:26). Dit is ’n tyd van droefheid, nie blydskap nie, ’n tyd om nugter na te dink oor die belangrikheid daarvan om ’n mens se lewe ooreenkomstig God se wil te gebruik.—Pred. 7:2; 9:10.
Hierdie gedagtes kan met nut in aanmerking geneem word wanneer ’n mens moet besluit hoe ver jy moet gaan in jou eerbetoning aan ’n gestorwe dierbare. Aangesien die dooies onbewus is en niks kan doen nie, is gebede vir hulle of offers aan hulle dus nie alleen tevergeefs nie, maar verkeerd (Jes. 8:19; 38:18). Koning Dawid het byvoorbeeld gebid en gevas terwyl sy siek baba nog gelewe het. Maar toe Dawid besef het dat die kind dood is, het hy sy gebede en vas gestaak.—2 Sam. 12:16-23.
HOE WORD DIE CHRISTENGEMEENTE GERAAK?
Indien die oorledene aan die Christengemeente verbonde was, is dit normaal dat daardie gemeente versoek word om die begrafnis te hou. Trouens, die oorledene het moontlik daardie wens uitgespreek, en dit sal vir oorlewende kinders of ander familielede gepas wees om dit te eerbiedig. Dit is natuurlik die gesin se verantwoordelikheid om die begrafnisreëlings te tref. Hoewel hulle die onkoste dek en na die wetlike en roetinesake omsien, kan die gesin die gemeente deur die ouere manne versoek om die begrafnis waar te neem.—1 Tim. 5:8.
Indien daar egter werklik ’n behoefte bestaan, kan die gemeente sekere begrafnisverantwoordelikhede aanvaar vir ’n getroue Christen wat brandarm sterf en geen familielede het wat na hierdie sake kan omsien nie. (Vergelyk 1 Timotheüs 5:9, 10.) Dit is iets waaroor die plaaslike liggaam van ouere manne moet besluit. Indien ongelowige familielede die begrafnisreëlings tref, is die Christengemeente natuurlik nie verplig om ’n soort gesamentlike begrafnisdiens te reël wat kan beteken dat hulle by ’n interkerklike beweging betrokke raak nie.—2 Kor. 6:14-17; Openb. 18:4.
Dit is noodsaaklik dat ’n mens in ooreenstemming met die waarheid handel in alle aangeleenthede in verband met die roudienste. Christene vermy dus enigiets wat na vooroueraanbidding of geloof in “heengegane geeste” sweem. Godvrugtige persone toon geloof in die opstanding en vasbeslotenheid om Jehovah te loof deur deel te neem aan aanbidding wat nie deur enige vorm van onwaarheid besoedel is nie.—Joh. 4:23, 24; Jak. 1:27.
[Prente op bladsy 5]
Vul jy ’n klaaghuis met somberheid OF
Bemoedig jy treurendes met hoop uit God se Woord?