“Twee is beter as een”
OM GELUKKIG te wees, moet ons voel dat ander ons waardeer en nodig het—ja, ons liefhet. En om liefde te ontvang, moet ons liefde gee. Ons moet bereid wees om ander by ons bedrywighede te betrek. Wyse koning Salomo het gesê: “Twee is beter as een, want hulle het ’n goeie beloning vir hulle moeitevolle arbeid.”—Pred. 4:9.
Wat is hierdie beloning? Salomo gaan voort: “Want as hulle val, kan die een sy maat optel, maar wee die een wat val sonder dat daar ’n tweede is om hom op te tel. Verder, as twee bymekaar lê, kry hulle warm; maar hoe kan een allenig warm word? En as iemand die een aanval, kan altwee hom teëstand bied” (Pred. 4:10-12). As ons saam met ’n goeie metgesel werk, hou dit beloninge in in die vorm van bystand, bemoediging en beskerming. En het jy nie al gevind dat wanneer jy ’n taak saam met ’n vriend verrig dit makliker is en dit voel asof die tyd vlieg nie? Selfs as die taak onaangenaam is, voel dit nie meer asof jy sleurwerk doen nie.
Dit is nie net in sekulêre strewes dat ’n betroubare metgesel ’n seën is nie. Die lewensbelangrike werk om die “goeie nuus” te verkondig is ook ’n bedrywigheid waar ‘twee beter is as een’. Dit word bevestig deur wat Jesus Christus gedoen het toe hy die 70 beveel het om te gaan preek: “Die koninkryk van God het naby julle gekom.” Hy het “hulle twee-twee voor Hom uitgestuur”. Hierdie reëling het hulle in staat gestel om mekaar op te bou en te help.—Luk. 10:1, 5-9.
WANNEER DIE “GOEIE NUUS” VERKONDIG WORD
Na Jesus se opstanding en hemelvaart was dit dikwels vir sy dissipels nuttig om saam met metgeselle te arbei. Toe hulle hoor dat baie in Samaria gunstig gereageer het op Filippus se predikingswerk, het die apostels Petrus en Johannes gestuur sodat die gelowige Samaritane die ‘heilige gees’ kon ontvang (Hand. 8:14, 15). Hoewel Barnabas alleen vanaf Jerusalem gestuur is om die gemeente in Antiochië by te staan, het hy eerlank besef dat hy ’n metgesel nodig het om hom te help om die “goeie nuus” daar te verkondig. Hy het dus na Tarsus vertrek om Saulus (Paulus) te vind. Daarna het albei manne saam daaraan gearbei om dissipels in Antiochië te maak en te leer. Hulle gesamentlike poging is ryklik met vermeerdering geseën (Hand. 11:22-26). Later het die heilige gees bepaal dat Paulus en Barnabas die “goeie nuus” op die eiland Ciprus en in Klein-Asië verkondig.—Hand. 13:2.
Let daarop dat Barnabas groot moeite gedoen het om ’n metgesel te vind wat hy gemeen het vir hom van hulp sou wees. Indien hy oor land gereis het, het hy meer as 200 kilometer ver gereis om by Tarsus te kom, waarna hy naarstig na Paulus gesoek het. Jou poging om ’n metgesel te kry om die “goeie nuus” saam met jou aan jou medemens te verkondig, sal dalk nie soveel inspanning verg nie. Maar is jy soos Barnabas in die sin dat jy werklik ’n maat wil hê? Saam met watter lid of lede van die gemeente waaraan jy verbonde is, sal jy graag die werk wil doen? Het jy al die inisiatief geneem om die persoon of persone te vra?
MOENIE TE VEEL VERWAG NIE
Ons moet natuurlik nie te veel van ons metgeselle verwag nie; ons moet ook nie tou opgooi wanneer sake nie na wense verloop nie. Hoewel Paulus en Barnabas jare lank as evangeliedienaars saamgewerk het, het hulle nie maats gebly nie. Nadat hulle saam baie nuwe gemeentes gestig het, het Paulus aanbeveel dat hulle terugkeer om hierdie gemeentes te besoek. Barnabas het ingestem, maar hy wou sy neef Markus saamneem. Paulus wou egter nie daarvan hoor nie, want Markus het hulle tydens hulle eerste sendingreis verlaat. Gevolglik het Barnabas besluit om saam met Markus na Ciprus te gaan, terwyl Paulus Silas as sy metgesel gekies het en deur Sirië en Cilicië gereis “en die gemeentes versterk” het.—Hand. 15:36-41.
Soos die Bybelboek Handelinge toon, het hierdie verandering nie die verkondiging van die “goeie nuus” verhinder nie. Net so moet jy nie mismoedig raak indien jy ’n maat verloor saam met wie jy geruime tyd in die getuieniswerk gearbei het nie. Daar is ander lede van die gemeente wat sy of haar plek kan inneem indien jy bereid is om vir hulle plek te maak. Jy sal heel moontlik verbaas wees oor hoe verkwikkend dit kan wees om saam met ander medegelowiges van huis tot huis te preek. Dit beteken natuurlik nie dat ons altyd deur iemand vergesel moet word nie. ’n Mens kan baie verrig deur alleen te werk terwyl jou metgeselle in die omgewing getuig.
VIND BAAT BY BYBELSE VOORBEELD
Die Bybelse voorbeelde van diegene wat getrou saam met ander daaraan gearbei het om die “goeie nuus” te bevorder, kan ons vandag help om ‘’n goeie beloning vir ons moeitevolle arbeid’ te sien. Barnabas was ’n hartlike, medelydende man. Dit is trouens waarom die apostels hom die bynaam Barnabas gegee het, wat “seun van vertroosting” beteken (Hand. 4:36). Hoewel hy goeie eienskappe gehad het, blyk dit dat Paulus groter gawes gehad het. Wat die aanbieding van die “goeie nuus” betref, was Paulus klaarblyklik die “woordvoerder” (Hand. 14:12). Maar daar is geen teken dat dit ooit tot jaloesie of mededinging aanleiding gegee het nie. Indien ons dus genot uit diens saam met ander wil put, moet ons besef dat Jehovah God al die lede van die gemeente gebruik om hierdie werk te doen (1 Kor. 3:9). Ons kan by mekaar leer en deur mekaar bemoedig en opgebou word. Die apostel Paulus het dit besef en kon dus aan die Romeine skryf: “Ek verlang om julle te sien, om julle een of ander geestelike genadegawe mee te deel, sodat julle versterk kan word; dit is, dat ek saam bemoedig kan word onder julle deur die gemeenskaplike geloof, van julle sowel as van my.”—Rom. 1:11, 12.
Wanneer ons waarlik die vermoëns en goeie eienskappe van ons medegelowiges waardeer, sal dit ons beweeg om ons eie gawes beter te gebruik. ’n Persoon kan byvoorbeeld dink dat hy vriendelik en gaaf is teenoor die mense wat hy in sy getuieniswerk ontmoet. Maar nadat hy saam met ’n medelydende oupa of ouma gewerk het, besef hy moontlik dat hy slegs oppervlakkige vriendelikheid besit. Deur iemand te vergesel wat ’n ywerige student van die Skrif is, een oor wie se lippe die woorde sommer borrel, kan ’n persoon besef dat hy meer aandag moet skenk aan wat hy sê. Benewens die feit dat ons mekaar deur ons voorbeeld help, sal dit dikwels beteken dat ons langer getuig as ons saam met ’n metgesel werk, aangesien ons nie ons maat alleen verder wil laat werk nie.
Dit behaag Jehovah God en die Here Jesus Christus om gewone mense te gebruik om hierdie allerbelangrikste werk op die aardbodem te doen. Daardie werk is om ander te help om getroue knegte van die Allerhoogste as lojale dissipels van sy Seun te word en te bly (Matt. 28:19, 20; 1 Kor. 1:26, 27). Omdat dit God se werk is, weet ons nie hoe Jehovah God indiwidue se harte sal open nie. Dit is nie bloot ’n kwessie van die gesproke woord nie. Die gees waarmee die boodskap aangebied word, is veral belangrik. Wanneer twee persone saamwerk, dra albei hulle deel tot daardie gees by. Maande of selfs jare later sal ons miskien uitvind dat dit nie ons vlot aanbieding uit God se Woord was wat iemand na ons laat luister het nie. Dit was dalk eerder die breë glimlag van ons metgesel wat kort tevore begin het om die “goeie nuus” saam met ons te verkondig.
Geniet jy op die oomblik die seën wat ’n mens ontvang wanneer jy saam met ’n metgesel getuig? Het jy gevind dat dit jou gehelp het om meer tyd aan die verkondiging van die “goeie nuus” te wy en dat jy dit meer geniet? Indien jy andersyds meestal alleen getuig, kan jy aan Filippus die evangelis dink. Weens vervolging in Jerusalem het hy na Samaria gevlug en gelowige Samaritane gedoop. Later het Jehovah se engel hom gestuur om die Ethiopiese hofdienaar te bekeer en te doop. Daarna “het die Gees van die Here Filippus skielik weggevoer . . . Filippus is in Asdod gevind. En hy het die land deurgegaan en die evangelie verkondig in al die stede, totdat hy in Cesarea gekom het” (Hand. 8:1-40). In hedendaagse tye het moedige Getuies wat alleen met die hulp van God se gees gewerk het in baie gebiede baanbrekerswerk met die Koninkryksboodskap gedoen.
[Prent op bladsy 9]
Net soos in Jesus se dag is dit opbouend om die “goeie nuus” saam met ’n metgesel te verkondig.