Jehovah se volk word in die geloof versterk
“Die gemeentes is versterk in die geloof en het elke dag vermeerder in getal.”—HANDELINGE 16:5.
1. Hoe het God die apostel Paulus gebruik?
JEHOVAH GOD het Saulus van Tarsus as “’n uitverkore werktuig” gebruik. As die apostel Paulus het hy ‘baie dinge deurgemaak’. Maar deur middel van sy werk en dié van ander het Jehovah se organisasie eenheid en wonderlike uitbreiding geniet.—Handelinge 9:15, 16, vgl. NW.
2. Waarom sal dit voordelig wees om Handelinge 13:1–16:5 te bespreek?
2 Al hoe meer nie-Jode het Christene geword, en ’n belangrike vergadering van die bestuursliggaam het baie daartoe bygedra dat eenheid onder God se volk bevorder is en dat hulle in die geloof versterk is. Dit sal uiters voordelig wees om hierdie en ander gebeurtenisse te bespreek wat in Handelinge 13:1–16:5 opgeteken is, want Jehovah se Getuies geniet nou soortgelyke groei en geestelike seëninge (Jesaja 60:22). (Ons stel voor dat jy tydens jou privaat studie van die artikels oor Handelinge in hierdie tydskrif die gedeeltes van die boek lees wat in vet druk aangegee word.)
Sendelinge raak bedrywig
3. Watter werk is deur “profete en leraars” in Antiochië gedoen?
3 Mans wat deur die gemeente in Antiochië, Sirië, uitgestuur is, het gelowiges gehelp om in die geloof versterk te word (13:1-5). In Antiochië was die “profete en leraars” Barnabas, Simeon (Niger), Lucius die Cireneër, Manaen en Saulus van Tarsus. Profete het God se Woord verklaar en gebeurtenisse voorspel, terwyl leraars onderrig in die Skrif en in die godvrugtige leefwyse gegee het (1 Korinthiërs 13:8; 14:4). Barnabas en Saulus het ’n spesiale toewysing ontvang. Hulle het Barnabas se neef Markus saamgeneem en na Ciprus gegaan (Kolossense 4:10). Hulle het in sinagoges in die oostelike hawestad Salamis gepreek, maar sover bekend het die Jode nie goed gereageer nie. Aangesien sulke mense welgesteld was, het hulle nie gedink dat hulle die Messias nodig het nie.
4. Wat het gebeur toe die sendelinge aangehou het om in Ciprus te preek?
4 God het ander getuieniswerk in Ciprus geseën (13:6-12). In Pafos het die sendelinge die Joodse towenaar en valse profeet Bar-Jesus (Elimas) raakgeloop. Toe hy probeer keer dat goewerneur Sergius Paulus God se woord hoor, is Saulus met die heilige gees vervul en het hy gesê: ‘Kind van die duiwel, vol van bedrog en listigheid, vyand van alle geregtigheid, sal jy nie ophou om die reguit weë van Jehovah te verdraai nie?’ Toe het God se hand van tugtiging Elimas ’n tyd lank verblind, en Sergius Paulus ‘was verslae oor die leer van Jehovah en het geglo’.
5, 6. (a) Wat het Paulus oor Jesus gesê toe hy in die sinagoge in Pisidiese Antiochië gepraat het? (b) Watter uitwerking het Paulus se toespraak gehad?
5 Van Ciprus het die geselskap na die stad Perge in Klein-Asië gevaar. Paulus en Barnabas het toe noordwaarts deur bergpasse, waarskynlik ‘in gevare van riviere en rowers’, na Antiochië, Pisidië, gegaan (2 Korinthiërs 11:25, 26). Daar het Paulus in die sinagoge gepraat (13:13-41). Hy het ’n kort oorsig gegee van God se handelinge met Israel en het Dawid se afstammeling Jesus as die Verlosser geïdentifiseer. Hoewel Joodse heersers Jesus se dood geëis het, is die belofte aan hulle voorvaders vervul toe God hom opgewek het (Psalm 2:7; 16:10; Jesaja 55:3). Paulus het sy toehoorders gewaarsku om nie God se gawe van verlossing deur Christus te verag nie.—Habakuk 1:5, Septuagint.
6 Paulus se toespraak het belangstelling gewek, net soos openbare toesprake wat vandag deur Jehovah se Getuies gehou word belangstelling wek (13:42-52). Op die volgende Sabbat het byna die hele stad saamgekom om Jehovah se woord te hoor en dit het die Jode met jaloesie vervul. Die sendelinge het blykbaar in net een week meer nie-Jode bekeer as wat daardie Jode in hulle hele lewe bekeer het! Aangesien die Jode met lasterlike woorde weerspreek het wat Paulus gesê het, was dit tyd dat geestelike lig elders skyn, en hulle is meegedeel: ‘Aangesien julle God se woord verwerp en julleself die ewige lewe nie waardig ag nie, wend ons ons tot die heidene.’—Jesaja 49:6.
7. Hoe het Paulus en Barnabas op vervolging gereageer?
7 Die nie-Jode was nou bly en almal wat die regte gesindheid ten opsigte van die ewige lewe gehad het, het gelowig geword. Toe die woord van Jehovah deur die hele land versprei het, het die Jode egter agtenswaardige vroue (waarskynlik om druk op hulle mans of ander uit te oefen) en die vernaamste manne opgehits om Paulus en Barnabas te vervolg en buite hulle gebied te verdryf. Maar dit het die sendelinge nie gestuit nie. Hulle het eenvoudig “die stof van hul voete teen hulle afgeskud” en na Ikonium (hedendaagse Konia), ’n vername stad in die Romeinse provinsie Galasië, gegaan (Lukas 9:5; 10:11). Wel, wat van die dissipels wat in Pisidiese Antiochië agtergelaat is? Omdat hulle in die geloof versterk is, is hulle “vervul met blydskap en met die Heilige Gees”. Dit help ons om te besef dat teenstand nie geestelike vooruitgang hoef te belemmer nie.
Standvastig in die geloof ondanks vervolging
8. Wat was die resultaat van suksesvolle getuieniswerk in Ikonium?
8 Paulus en Barnabas was ondanks vervolging standvastig in die geloof (14:1-7). As gevolg van hulle prediking in die sinagoge in Ikonium het baie Jode en Grieke gelowig geword. Toe ongelowige Jode die nie-Jode teen die nuwe gelowiges opgehits het, het die twee arbeiders vrymoediglik gespreek kragtens die gesag van God, en hy het sy goedkeuring getoon deur hulle krag te gee om tekens te doen. Dit het die menigte verdeel en sommige het hulle aan die Jode se kant en ander het hulle aan die apostels (mense wat uitgestuur is) se kant geskaar. Die apostels was nie lafaards nie, maar toe hulle hoor van ’n sameswering om hulle te stenig, het hulle verstandig opgetree en vertrek om in Likaonië, ’n streek van Klein-Asië in suidelike Galasië, te gaan preek. Deur omsigtig te wees, kan ons ook dikwels bedrywig bly in die bediening ondanks teenstand.—Mattheüs 10:23.
9, 10. (a) Hoe het inwoners van Listre gereageer op die genesing van ’n verlamde man? (b) Hoe het Paulus en Barnabas in Listre opgetree?
9 Die Likaoniese stad Listre het vervolgens ’n getuienis gekry (14:8-18, vgl. NAV). Daar het Paulus ’n man genees wat van sy geboorte af verlam was. Die skare het nie besef dat Jehovah vir die wonderwerk verantwoordelik was nie en het uitgeroep: “Die gode het soos mense geword en neergedaal na ons toe.” Aangesien dit in Likaonies gesê is, het Paulus en Barnabas nie geweet wat aan die gang was nie. Omdat Paulus die woordvoerder was, het die mense hom vir Hermes (die welsprekende boodskapper van die gode) aangesien en gedink dat Barnabas Zeus, die Griekse oppergod, was.
10 Die priester van Zeus het selfs stiere en kranse gebring om aan Paulus en Barnabas te offer. Die besoekers het, waarskynlik deur algemeen verstaanbare Grieks te praat of deur ’n tolk te gebruik, gou verduidelik dat hulle ook mense met swakhede is en dat hulle die goeie nuus verkondig sodat mense hulle van “hierdie nietige dinge” (lewelose gode, of afgode) kan afwend en hulle tot die lewende God kan wend (1 Konings 16:13; Psalm 115:3-9; 146:6). Ja, God het die nasies (maar nie die Hebreërs nie) voorheen toegelaat om in hulle eie weë te wandel, al het hy homself nie van sy bestaan en goedheid onbetuig gelaat nie deur ‘hulle reën en vrugbare tye te gee en hulle harte met voedsel en vrolikheid te vervul’ (Psalm 147:8). Ondanks hierdie redenasie het Barnabas en Paulus die skare met moeite verhinder om aan hulle te offer. Maar die sendelinge het nie huldeblyke as gode aanvaar nie, en hulle het ook nie sulke gesag gebruik om die Christelike godsdiens in daardie gebied te vestig nie. Wat ’n goeie voorbeeld tog, veral as ons graag gevlei wil word vir iets wat Jehovah ons in staat stel om in sy diens te doen!
11. Wat kan ons leer uit die woorde: “Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan”?
11 Vervolging het skielik sy aaklige kop uitgesteek (14:19-28). Hoe so? Die skare wat deur Jode van Pisidiese Antiochië en Ikonium omgepraat is, het Paulus gestenig en hom buitekant die stad gesleep, met die gedagte dat hy dood was (2 Korinthiërs 11:24, 25). Maar toe die dissipels hom omring, het hy opgestaan en Listre ongesiens, miskien onder die sluier van die nag, binnegegaan. Hy en Barnabas het die volgende dag na Derbe gegaan, waar ’n hele paar mense dissipels geword het. Toe hulle Listre, Ikonium en Antiochië weer besoek het, het die sendelinge die dissipels versterk, hulle vermaan om in die geloof te bly en gesê: “Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan.” As Christene verwag ons ook dat ons verdrukkinge sal ondergaan, en ons moet dit nie probeer vryspring deur ’n kompromis ten opsigte van ons geloof aan te gaan nie (2 Timotheüs 3:12). Gedurende daardie tyd is ouere manne aangestel in gemeentes aan wie Paulus se brief aan die Galasiërs geskryf is.
12. Wat het die twee sendelinge gedoen toe Paulus se eerste sendingreis geëindig het?
12 Paulus en Barnabas het deur Pisidië gegaan en die woord in Perge, ’n vername stad van Pamfilië, verkondig. Hulle het mettertyd na Antiochië, Sirië, teruggekeer. Paulus se eerste sendingreis was nou verby, en die twee sendelinge het die gemeente ingelig oor “al die dinge wat God met hulle gedoen het, en dat Hy ’n deur van geloof vir die heidene geopen het”. Hulle het ’n ruk lank by die dissipels in Antiochië gebly, en dit het ongetwyfeld baie gehelp om hulle in die geloof te versterk. Besoeke deur reisende opsieners vandag het geestelik ’n soortgelyke uitwerking.
’n Belangrike kwessie word opgelos
13. Wat was nodig sodat die Christelike godsdiens nie in Hebreeuse en nie-Joodse faksies sou verdeel nie?
13 Standvastigheid in die geloof het eensgesindheid geverg (1 Korinthiërs 1:10). Om te voorkom dat die Christelike godsdiens in Hebreeuse en nie-Joodse faksies verdeel, was dit nodig dat die bestuursliggaam besluit of nie-Jode wat in God se organisasie instroom die Mosaïese Wet moes hou en besny moes word (15:1-5). Sekere persone van Judea het alreeds na Siriese Antiochië gereis en nie-Joodse gelowiges begin leer dat hulle nie gered kan word as hulle nie besny word nie (Exodus 12:48). Gevolglik is Paulus, Barnabas en ander na die apostels en ouere manne in Jerusalem gestuur. Selfs daar het gelowiges wat eens wettiese Fariseërs was daarop aangedring dat nie-Jode besny word en die Wet onderhou.
14. (a) Watter goeie voorbeeld is gestel hoewel daar ’n woordewisseling by die vergadering in Jerusalem was? (b) Wat was die kern van Petrus se redenasie by daardie geleentheid?
14 ’n Vergadering is gehou om vas te stel wat God se wil is (15:6-11). Ja, daar was ’n woordewisseling, maar daar was geen tweedrag toe mans met sterk oortuigings gespreek het nie—’n goeie voorbeeld vir ouere manne vandag! Petrus het mettertyd gesê: ‘God het verkies dat die heidene [soos Cornelius] deur my mond die woord van die evangelie sal hoor en gelowig word. Hy het vir hulle getuienis gegee deur aan hulle die Heilige Gees te skenk en het geen onderskeid tussen ons en hulle gemaak nie [Handelinge 10:44-47]. Waarom versoek julle God dan deur ’n juk [’n verpligting om die Wet te hou] op hulle nek te lê wat nòg ons nòg ons vaders in staat was om te dra? Ons [Jode in die vlees] glo dat ons deur die genade van die Here Jesus gered word op dieselfde manier as hulle.’ God se aanvaarding van onbesnede nie-Jode het getoon dat besnydenis en die onderhouding van die Wet nie vereistes vir redding was nie.—Galasiërs 5:1.
15. Watter basiese gedagtes het Jakobus beklemtoon, en wat het hy voorgestel moet hulle aan die nie-Joodse Christene skryf?
15 Die gemeente het geswyg toe Petrus sy toespraak afsluit, maar daar was nog dinge wat gesê moes word (15:12-21, vgl. NW). Barnabas en Paulus het vertel van die tekens wat God deur hulle onder die nie-Jode gedoen het. Toe het die voorsitter, Jesus se halfbroer Jakobus, gesê: ‘Simeon [Petrus se Hebreeuse naam] het vertel hoe God sy aandag op die nasies gerig het om ’n volk vir sy naam te neem.’ Jakobus het getoon dat die voorspelde oprigting van die “hut van Dawid” (herstelling van koningskap in Dawid se lyn) vervul is in die insameling van Jesus se dissipels (Koninkrykserfgename) onder Jode sowel as nie-Jode (Amos 9:11, 12, Septuagint; Romeine 8:17). Aangesien dit God se voorneme is, moes die dissipels dit aanvaar. Jakobus het aan die hand gedoen dat hulle aan nie-Joodse Christene skryf om hulle te onthou van (1) dinge wat deur afgode besoedel is, (2) hoerery en (3) bloed en van wat verwurg is. Hierdie verbooie was in Moses se geskrifte wat elke Sabbatdag in die sinagoges gelees is.—Genesis 9:3, 4; 12:15-17; 35:2, 4.
16. Oor watter drie punte gee die brief van die eerste-eeuse bestuursliggaam vandag nog leiding?
16 Die bestuursliggaam het nou ’n brief aan die nie-Joodse Christene in Antiochië, Sirië, en Cilicië gestuur (15:22-35). Die heilige gees en die briefskrywers het hulle versoek om hul te onthou van afgodsoffers; bloed (wat gereeld deur sommige mense ingeneem is); dinge wat verwurg is sonder om die bloed te laat uitloop (baie heidene het sulke vleis as ’n lekkerny beskou); en hoerery (Grieks, por·neiʹa, wat op ongeoorloofde geslagsomgang buite die skriftuurlike huwelik gedui het). Deur hulle hiervan te onthou, sou hulle geestelik voorspoedig wees, net soos Jehovah se Getuies nou geestelik voorspoedig is omdat hulle “hierdie noodsaaklike dinge” nakom. Die woorde “Ons wens julle goeie gesondheid toe” (NW) het neergekom op “Vaarwel”-groete, en hieruit moet nie afgelei word dat hierdie vereistes hoofsaaklik op gesondheidsmaatreëls betrekking gehad het nie. Toe die brief in Antiochië gelees is, was die gemeente bly oor die bemoediging wat dit gegee het. God se volk in Antiochië is ook gedurende daardie tyd in die geloof versterk deur die bemoedigende woorde van Paulus, Silas, Barnabas en ander. Mag ons ook na maniere soek om ons medegelowiges aan te moedig en op te bou.
Tweede sendingreis begin
17. (a) Watter probleem het ontstaan toe ’n tweede sendingreis voorgestel is? (b) Hoe het Paulus en Barnabas hulle onderonsie hanteer?
17 ’n Probleem het ontstaan toe ’n tweede sendingreis voorgestel is (15:36-41). Paulus het voorgestel dat hy en Barnabas die gemeentes in Ciprus en Klein-Asië weer besoek. Barnabas het ingestem, maar hy wou sy neef Markus saamneem. Paulus het nie saamgestem nie omdat Markus hulle in Pamfilië verlaat het. Daar was toe “’n skerp uitbarsting van toorn” (NW). Maar nòg Paulus nòg Barnabas het hulleself probeer regverdig deur ander ouere manne of die bestuursliggaam by hulle onderonsie te probeer betrek. Wat ’n goeie voorbeeld!
18. Wat was die gevolg van Paulus en Barnabas se skeiding, en wat kan ons uit hierdie voorval leer?
18 Hierdie geskil het egter ’n skeiding veroorsaak. Barnabas het Markus saam met hom na Ciprus geneem. Paulus, met Silas as sy metgesel, “het Sirië en Cilicië deurgegaan en die gemeentes versterk”. Barnabas is moontlik deur familiebande beïnvloed, maar hy moes Paulus se apostelskap en die feit dat hy as “’n uitverkore werktuig” gekies is, erken het (Handelinge 9:15). En wat van ons? Hierdie voorval behoort by ons tuis te bring hoe belangrik dit is om teokratiese gesag te erken en ten volle met “die getroue en verstandige dienskneg” saam te werk!—Mattheüs 24:45-47.
Vooruitgang in vrede
19. Watter voorbeeld is Timotheüs vir hedendaagse Christenjeugdiges?
19 Hulle het nie toegelaat dat hierdie geskil ’n uitwerking op die vrede van die gemeente het nie. God se volk is steeds in die geloof versterk (16:1-5). Paulus en Silas het na Derbe en daarna na Listre gegaan. Timotheüs, ’n seun van die Joodse gelowige Eunice en haar ongelowige Griekse man, het daar gewoon. Timotheüs was jonk, want selfs 18 of 20 jaar later is hy steeds meegedeel: “Laat niemand jou jonkheid verag nie” (1 Timotheüs 4:12). Aangesien hy “goeie getuienis gehad [het] van die broeders in Listre en [ongeveer 29 kilometer daarvandaan in] Ikonium”, was hy welbekend vir sy goeie bediening en godvrugtige eienskappe. Christenjeugdiges moet vandag Jehovah se hulp soek om ’n soortgelyke reputasie op te bou. Paulus het Timotheüs besny omdat hulle na huise en sinagoges van Jode sou gaan wat geweet het dat Timotheüs se vader nie ’n Jood was nie, en die apostel wou nie hê dat Joodse mans en vroue wat van die Messias moes leer deur enigiets verhinder word om na hulle te luister nie. Sonder om Bybelbeginsels te skend, doen Jehovah se Getuies vandag ook wat hulle kan om die goeie nuus vir alle soorte mense aanvaarbaar te maak.—1 Korinthiërs 9:19-23.
20. Wat was die gevolg van onderworpenheid aan die eerste-eeuse bestuursliggaam se brief, en hoe dink jy behoort dit ons te raak?
20 Paulus en Silas het, met Timotheüs as hulle metgesel, die verordeninge van die bestuursliggaam wat die dissipels moes onderhou aan hulle oorgedra. En wat was die gevolge? Lukas het waarskynlik na Sirië, Cilicië en Galasië verwys toe hy geskryf het: “Die gemeentes is versterk in die geloof en het elke dag vermeerder in getal.” Ja, onderworpenheid aan die bestuursliggaam se brief het tot eenheid en geestelike voorspoed gelei. Wat ’n goeie voorbeeld vir ons kritieke tye, wanneer Jehovah se volk verenig en sterk in die geloof moet bly!
Hoe sal jy antwoord?
◻ Hoe het Paulus en Barnabas op vervolging gereageer?
◻ Wat kan ons leer uit die woorde: “Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan”?
◻ Watter raad kry ons uit die drie punte in die brief wat deur die eerste-eeuse bestuursliggaam gestuur is?
◻ Hoe het faktore wat Jehovah se eerste-eeuse getuies in die geloof versterk het vandag op ons betrekking?