Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 6/1 bl. 12-17
  • Kies die beste lewenswyse

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kies die beste lewenswyse
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Bly by jou keuse!
  • Die verwesenliking van ons hoop
  • Veilig bewaar teen bloedskuld
  • Sy het goeie oordeel aan die dag gelê
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Abigail en Dawid
    My boek met Bybelverhale
  • Sy het goeie oordeel aan die dag gelê
    Volg hulle geloof na
  • Abigail-n buitengewoon verstandie vrou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 6/1 bl. 12-17

Kies die beste lewenswyse

“Omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar.”—1 Pet. 1:4, 5, NAB.

1, 2. Wat was ons almal se situasie voordat ons die “goeie nuus” aanvaar het, en waarom kan ons dus bly wees?

DIE apostel Paulus het aan Christene in die Asiatiese stad Efese geskryf: Julle [het] tevore gewandel . . . volgens die loop van hierdie wêreld . . . onder wie ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander. Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het, ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus—uit genade is julle gered.”—Ef. 2:2-5.

2 Voordat ons ’n kennis van die waarheid verkry het, het ons almal wat vandag daarna strewe om God te dien volgens die vlees gewandel. Maar is ons nie bly dat ons gebruik gemaak het van die vryheid van keuse wat God goedgunstiglik aan ons gegee het nie? En dat ons, deur dit te doen, ’n weg gekies het wat ons uit slawerny bevry het, een wat die belofte van ewige lewe vir ons inhou nie?

3. (a) Wat het ons nodig indien ons ons Bybelgebaseerde hoop verwesenlik wil sien? (b) Hoe het ons ons keuse gedoen, en watter vrae ontstaan oor ons vermoë om dit deur te voer?

3 Die apostel Petrus het aan die eerste-eeuse Christene gesê dat God ’n “lewende hoop” aan hulle gegee het (1 Pet. 1:3). Ons het ook ’n ware hoop vir die toekoms. Moet ons moed opgee omdat die dinge waarop ons hoop nog nie verwesenlik is nie—omdat ons nog nie die hoop vervul sien nie? Die apostel Paulus het gesê: “As ons hoop wat ons nie sien nie, dan wag ons daarop met volharding” (Rom. 8:25). Indien dinge nie verloop soos ons verwag het nie, bestaan daar dus des te meer rede om te volhard en ons hoop te versterk. Dit beteken dat ons, nadat ons die weg van ware lewe, die beste en, trouens, die enigste weg gekies het, by daardie keuse moet bly. Ons kan nie verwag dat daardie hoop verwesenlik sal word as ons besluiteloos en onbestendig is nie (Jak. 1:6-8). Ons het die keuse gedoen toe ons ons aan God toegewy en ons laat doop het. Maar ons het almal elke dag te kampe met probleme wat vereis dat ons kleiner besluite moet neem en keuses in harmonie met daardie eerste groot besluit moet doen. Kan ons voortgaan om daagliks die regte keuses te doen wat ons op die weg na die lewe sal hou? Kan ons daarvan seker wees dat ons hoop inderdaad mettertyd volkome verwesenlik sal word?

Bly by jou keuse!

4. (a) Waarom moet ons nie toelaat dat die teleurstelling weens foute ons van ons gekose weg laat afsien nie? (b) Watter verkeerde gesindhede het die begeerte dat hulle hoop vervul moet word dwarsdeur die geskiedenis by Christene laat ontstaan?

4 As ons getrou bly, sal God nie toelaat dat ons noodlottige foute begaan nie. Maar soms laat hy toe dat ons dwaal sodat ons kan sien dat dit vir ons nodig is om altyd op hom en sy Woord staat te maak. Dit versterk ons verhouding met hom en ons volharding terwyl ons wag. Ons leer uit ons foute dat dit nodig is om in die toekoms versigtiger te wees. Die begeerte dat die nuwe stelsel van dinge volkome beheer van die aarde moet oorneem, was deur die eeue heen nog altyd baie sterk in Christene. En weens hulle eie kort lewensduur het hulle ongetwyfeld daarna gehunker dat dit in hulle leeftyd moes kom. Diegene wat probeer het om God se oordeelstyd ‘goed in gedagte te hou’ het al meer as een keer in die geskiedenis oorywerig geword dat daardie dag moes aanbreek en het in hulle eie gedagtes probeer om die koms van die begeerde gebeure te verhaas (2 Pet. 3:12). In die eerste eeu het die apostel Paulus dit byvoorbeeld nodig gevind om soos volg aan Christene in Thessalonika te skryf, soos ons in 2 Thessalonicense 2:1-3 lees: “Maar ons vra julle, broeders, met die oog op die wederkoms van onse Here Jesus Christus en ons vereniging met Hom, om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie—deur gees of deur woord of deur brief wat van ons afkomstig sou wees—asof die dag van Christus al daar is. Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf.”

5. (a) Hoe het daar ’n groot verwagting ten opsigte van die jaar 1975 ontstaan? (b) Waarom het stellings wat tot versigtigheid maan nie sulke beheptheid met ’n datum bedwing nie?

5 In hedendaagse tye het sulke gretigheid, wat op sigself prysenswaardig is, aanleiding gegee tot pogings om jaartalle vas te stel vir die begeerde bevryding van die lyding en moeilikhede wat die lot van persone dwarsoor die aarde is. Met die verskyning van die boek Die ewige lewe in vryheid van die seuns van God, en die kommentaar daarin oor hoe gepas dit sou wees indien die duisendjarige bewind van Christus met die sewende millennium van die mens se bestaan saamval, is aansienlike verwagtinge ten opsigte van die jaar 1975 gewek. Daar is toe, sowel as daarna, stellings gemaak wat beklemtoon het dat dit slegs ’n moontlikheid is. Ongelukkig is daar ook saam met sulke informasie wat tot versigtigheid gemaan het ander stellings gepubliseer wat te kenne gegee het dat so ’n verwesenliking van verwagtings teen daardie jaar ’n waarskynlikheid eerder as ’n blote moontlikheid was. Dit is jammer dat hierdie laasgenoemde stellings klaarblyklik die wat tot versigtigheid gemaan het, oorskadu het en die verwagting wat reeds gewek is, versterk het.

6. Het die informasie in Die Wagtoring van 1 Oktober 1976 probeer voorgee dat sy lesers alleen of hoofsaaklik vir so ’n verwagting verantwoordelik was? Verduidelik.

6 In sy nommer van 1 Oktober 1976 het Die Wagtoring, waar dit gemeld het dat dit nie raadsaam is om ’n mens se visier op ’n sekere jaartal te stel nie, gesê: “As iemand teleurgestel is omdat hy nie hierdie denkwyse gevolg het nie, moet hy hom nou daarop toelê om sy gedagte reg te stel, om te sien dat dit nie die woord van God was wat hom in die steek gelaat of mislei het en teleurstelling gebring het nie, maar dat sy eie begrip op verkeerde veronderstellinge berus het.” Deur te sê “iemand” het Die Wagtoring al die teleurgesteldes onder Jehovah se Getuies ingesluit, gevolglik ook persone wat te doen gehad het met die publisering van die informasie wat daartoe bygedra het dat mense hulle hoop al hoe meer op daardie jaartal gevestig het.

7. (a) Watter uitwerking moet sulke menslike foute hê op ons geloof in wat God self beloof? (b) Wat beklemtoon God se Woord in werklikheid as die belangrike saak?

7 Daar bestaan nietemin vir ons geen rede om geloof in God se beloftes te verloor nie. Ons word gevolglik eerder almal beweeg om die Skrif deegliker te ondersoek om te sien wat dit sê in verband met hierdie onderwerp van ’n oordeelsdag. Wanneer ons dit doen, vind ons dat die belangrike saak nie die jaartal is nie. Wat wel belangrik is, is dat ons altyd in gedagte moet hou dat daar so ’n dag is—en dat dit nader kom en dat ons dan almal verantwoording sal moet doen. Petrus het gesê dat Christene tereg ‘die teenwoordigheid van die dag van Jehovah moet verwag en goed in gedagte moet hou’ (2 Pet. 3:12, NW). Dit is nie ’n sekere jaartal in die toekoms nie, maar dit is die daaglikse lewe van die Christen wat belangrik is. Nie ’n enkele dag moet verbygaan waarin hy nie in gedagte hou dat hy Jehovah se liefdevolle sorg en leiding geniet en hom daaraan moet onderwerp nie, en hy moet ook in gedagte hou dat hy verantwoording vir sy dade moet doen.

8. (a) Hoe beaam die woorde van Jesus en Paulus dat so ’n standpunt korrek is? (b) Ons moet tot die einde toe volhard; maar wanneer is daardie “einde” en kan ons uitreken wanneer dit gaan kom?

8 Jesus het die rede verstrek waarom ons so ’n standpunt moet huldig en gesê: “Want die Seun van die mens staan gereed om met sy engele in die heerlikheid van sy Vader te kom, en dan sal Hy elkeen vergeld volgens sy dade” (Matt. 16:27). Die apostel Paulus het ook op die volgende gewys: “Ons sal tog almal voor die regterstoel van God moet verskyn . . . Elkeen van ons sal dus oor homself aan God rekenskap moet gee” (Rom. 14:10-12, NAB). En: “Ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad” (2 Kor. 5:10). Hoeveel tyd het ons nog oor voordat ons so ’n rekenskap moet gee? Jesus het gesê: “Wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word” (Matt. 24:13). Wanneer is “die einde”? Daardie einde kan kom òf aan die einde van hierdie stelsel van dinge òf met die indiwidu se afsterwe voor daardie tyd. Hoeveel tyd het elkeen van ons dan? Niemand kan uitreken wanneer hy gaan sterf nie. Jesus het eweneens die volgende aan sy apostels gesê oor die tyd vir die oprigting van God se koninkryk: “Dit kom julle nie toe om die tye of geleenthede te weet wat die Vader deur sy eie mag bepaal het nie” (Hand. 1:7). Dit is vir ons onmoontlik om vooruit te bereken wanneer die wêreld se einde gaan kom.

Die verwesenliking van ons hoop

9. Watter woorde van Petrus gee ons vertroue om te bly by die keuse wat ons gedoen het?

9 Indien iemand bang is dat hy, weens beproewings wat kan kom, nie by sy keuse gaan bly om God en Christus te dien nie, laat hom dan luister na die woorde van die apostel Petrus. Die apostel verseker ons daarvan dat ons hoop seker is indien ons daaraan vashou deur geloof in God en sy gewisse beloftes. Hy sê: “Omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word” (1 Pet. 1:3-5, NAB). Wat leer ons uit hierdie woorde?

10, 11. (a) Wie moet eintlik die eer kry vir die feit dat ons die “goeie nuus” aanvaar het? (b) Hoe maak God dit vir mense moontlik om die lig van die waarheid te herken? (c) Wat toon 1 Korinthiërs 2:9 oor mense se vermoë om goddelike waarhede op hulle eie te onderskei?

10 Wel, kon ons, toe ons die eerste keer aandag geskenk het en met geloof geluister het na die “goeie nuus” wat aan ons verkondig is, onsself die eer daarvoor gee dat ons die verstand gehad het om dadelik die waarde daarvan te begryp en dit te verstaan? Nee. “Toe ons nog swak was”, magteloos om onsself te red, “toe ons nog sondaars was”, ja, toe ons nog vyande was, is ons “met God versoen . . . deur die dood van sy Seun” (Rom. 5:6-10). Aan wie kom ons dank dus toe vir die gunstige posisie waarin ons ons nou bevind? Jesus het vir sy dissipels gesê: “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie” (Joh. 6:44). Op ons eie sal ons nooit kennis van God verkry nie. Ons onvolmaakte, sondige menslike natuur sal ons nooit toelaat om dit te doen nie.

11 Maar ons kan hom soek, want “Hy [is] nie ver van elkeen van ons nie” (Hand. 17:27). As ons maar net na God wil soek of tas, behaag dit hom. Dan nader hy tot ons (Jak. 4:8). God ken die soeker se hartewens en stuur iemand met die “goeie nuus” na hom; en wanneer hy God se Woord ondersoek met behulp van die heilige gees wat God gee, skrik die soeker wakker en besef hy in watter situasie hy homself bevind. As hy dan geloof beoefen in wat God sê, is hy in staat om uit die duisternis te kom. Wat menslike vermoë betref, sê die Bybel: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ’n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet” (1 Kor. 2:9). As God nie vir ons jammer gevoel en ons persoonlik gehelp het nie, sou ons nooit met behulp van ons eie menslike denke en begeertes die waarheid kon verstaan nie.

12. (a) Wat moet ons voortdurend in gedagte hou om by ons aanvanklike keuse te bly? (b) Hoe kan God ons veilig bewaar teen gevare waarin ons gebrek aan insig ons kan laat beland?

12 Daar ons dus weet dat God van ons verknorsing bewus is en ons reg uit die staanspoor help, kan ons besef hoe dit moontlik is om by ons aanvanklike keuse te bly namate die jare verbygaan. Trouens, God kan ons geestelik laat groei. Soos Petrus sê, ons word deur God se krag veilig bewaar. Ons moet besef dat, nadat ons eenmaal Christene geword het, dit nie in ons eie krag, wysheid of insig is dat ons in staat is om seëvierend te volhard nie—ons kan nooit alleen die mas opkom nie. Ons is byvoorbeeld dikwels stadig van begrip. Baiekeer beland ons heeltemal onbewustelik in situasies en omstandighede wat groot gevaar vir ons Christelike onkreukbaarheid inhou (Gal. 6:1). Ons staan miskien op die punt om ’n stap te doen wat tot ons ondergang kan lei. Maar God, wat toekyk, het ons lief en kry ons jammer, hou sy beloftes aan ons en kan ons op die regte tyd uit die gevaar verlos. Koning Dawid van eertydse Israel het die volgende gesê nadat hy talle kere in God se waaksame sorg “veilig bewaar” is: “U het my siel gered van die dood—ja, my voete van struikeling—om te wandel voor die aangesig van God in die lig van die lewe.”—Ps. 56:14.

Veilig bewaar teen bloedskuld

13, 14. (a) Hoe het Dawid so hittete onskuldige bloed vergiet? (b) Hoe het Abigail hom van sy verkeerde weg laat afsien?

13 ’n Geval van waar God Dawid teen sy eie onvolmaakte denke en impulse veilig bewaar en hom gered het, staan opgeteken in 1 Samuel hoofstuk 25. Terwyl Dawid soos ’n voëlvryverklaarde gelewe het en moes vlug as gevolg van koning Saul se moorddadige mensejag, het Dawid en sy manne Israeliete gehelp, bewaar en beskerm wanneer die geleentheid hom voorgedoen het. Een van die manne aan wie hulle hulp verleen het, was ’n skatryk Israeliet genaamd Nabal. By een geleentheid, toe Dawid en sy manne naby Nabal se herders met hulle kuddes laer opgeslaan het, was Dawid se manne soos ’n beskermende muur teen rowers, en hulle het nooit enige vergoeding vir hulle dienste gevra of geneem nie. Later, toe Dawid se manne kos nodig gehad het, het Dawid Nabal as ’n mede-Israeliet vriendelik versoek om hom te help deur vir hulle kos te gee. In plaas daarvan om dankbaarheid te toon en die onselfsugtigheid wat die Mosaïese wet vereis het aan die dag te lê, het Nabal Dawid se manne uitgeskel.

14 Hierdie wrede, ondankbare daad het Dawid se toorn laat ontvlam sodat hy met ongeveer 400 man uitgetrek het om wraak te neem op Nabal en sy huisgesin. Maar toe Nabal se vrou Abigail van haar man se skandelike gedrag hoor, het sy haar na Dawid gehaas met ’n kosvoorraad as geskenk. Sy het Dawid op grond van sy verhouding met Jehovah gesmeek om van sy voorgenome wraak af te sien en gesê: “[Laat] daar vir u geen struikelblok en vir my heer geen gewetenswroeging wees dat u sonder oorsaak bloed vergiet het en my heer homself hulp verskaf het nie.” Dawid, wat tot besinning gekom het, het geantwoord: “Geseënd is die HERE, die God van Israel, wat jou vandag my tegemoet gestuur het! En geseënd jou verstandigheid en geseënd jy self wat my vandag teëgehou het om in bloedskuld te geraak en my met eie hand te help.”—1 Sam. 25:31-33.

15, 16. (a) Aan watter twee oortredings sou Dawid hom skuldig gemaak het indien hy op sy weg voortgegaan het, en wat het hom hiervan gered? (b) Watter les leer ons hieruit, en watter uitwerking moet dit op ons hê?

15 Dawid het, uit ’n menslike standpunt, geregverdig gevoel toe hy uitgetrek het om Nabal vir sy goddeloosheid te vergeld. Maar as hy dit gedoen het, sou hy op homself vertrou het vir wraak en regverdiging, en sou hy homself bloedskuldig gemaak het deur onskuldige lede van Nabal se huisgesin dood te maak. Wat het hom gered? Jehovah God het toegekyk en het hom van hierdie sonde veilig bewaar.

16 Uit hierdie voorbeeld kan ons sien dat ons nie op onsself moet vertrou om op die weg wat tot redding lei te bly nie, maar dat ons altyd op God moet staatmaak, want hy hou oor ons wag en help ons om veilig deur te kom. Dit behoort ons vertroue te gee en ons nederig te laat voel.

17. (a) Moet ons dink dat God vandag nie dieselfde vir een van sy nederige knegte sal doen nie? (b) Hoe kan God ons veilig bewaar teen ernstige oortredings?

17 Iemand sal dalk nietemin sê: ‘Dit was Jehovah se gesalfde koning Dawid, met wie God ’n verbond vir ’n koninkryk gesluit het. Miskien sal hy nie soveel aandag aan ons skenk nie.’ Kan ons waarlik sê dat God, wat ons met die kosbare bloed van sy Seun gekoop het, nie net so jaloers oor ons lewens waak nie? Hy doen dit beslis. Net soos God Dawid van ’n onbesonne, rampspoedige daad weerhou het deur Abigail te gebruik, sal hy ons sonder enige twyfel verlos. Net soos hy Abigail beweeg het om Dawid te red, kan hy sy Woord die Bybel, of sy engele, of ’n Christenmetgesel gebruik, of hy kan sake bestier om ons te keer sodat ons nie ’n dwase ding doen nie, mits ons glo en voortgaan om ’n biddende, nederige gesindheid te bewaar en op hom staatmaak.

18, 19. Hoe kan sulke kennis ons aanspoor om getrou te volhard op die weg wat ons gekies het, en watter vraag moet nog beantwoord word?

18 Hoe bemoedigend is hierdie begrip van sake tog! God sê nie: ‘Jy weet nou wat om te doen en dus hang alles van jou af nie. Hy stel eerder liefdevol belang in ons redding en beskerm ons daadwerklik solank ons ons geloof in hom en in die losprys wat deur sy Seun voorsien is, behou. “Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is”, en dat ons nie op ons eie daarin sal slaag om op die weg van geregtigheid te bly nie.—Ps. 103:10-14, 17, 18; vergelyk Psalm 38:5, 23; 40:13, 14; 130:3, 4.

19 Beteken dit dan dat ons feitlik niks hoef te doen om getrou te lewe nie—dat alles van God afhang? Glad nie, soos die volgende Skriftuurlike bespreking duidelik toon.

[Prent op bladsy 15]

Net soos Jehovah Dawid veilig bewaar het teen ’n onbesonne, rampspoedige daad deur Abigail te gebruik, sal hy ons sonder enige twyfel verlos

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel