Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 6/1 bl. 17-23
  • Hoe ons ons keuse naleef

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe ons ons keuse naleef
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Bybelstudie baie belangrik
  • Gebruik jou gawe reg
  • Hoe lyding tot ons voordeel strek
  • Is jy ’n ‘bestuurder van God se onverdiende goedhartigheid’?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Vordering nadat ‘’n geloof’ verkry is
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Bybelboek nommer 60—1 Petrus
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Laat ons vashou aan ons kosbare geloof!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 6/1 bl. 17-23

Hoe ons ons keuse naleef

1. Wat vereis dit van elkeen van ons om by ons keuse te bly, soos getoon deur Spreuke 16:9 en 1 Petrus 1:13?

AS ONS die lewe kies wat God voorhou, kies ons ook om die weg van God te bewandel—die besige, eerlike, Christelike weg. Ons moet op daardie weg bly, iets wat geloof in God se beloftes asook inspanning en volharding verg. Maar tydens daardie inspanning maak ons op God staat om ons besluite te rig terwyl ons die hele tyd by ons aanvanklike, weldeurdagte keuse bly. Die Skrif sê: “Die hart van die mens dink sy weg uit, maar die HERE rig sy voetstappe” (Spr. 16:9). Petrus sê hieromtrent: “Omgord die lendene van julle verstand, wees nugter en hoop volkome op die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus.”—1 Pet. 1:13.

2, 3. Wat kan ons baie help om “die lendene van ons verstand” vir aksie “te omgord”?

2 Wat is die beste manier om ‘die lendene van ons verstand te omgord’? Hoe kan ons seker wees dat ons “nugter” bly en nie ongebalanseerd raak nie?

3 Eerstens: ons kan nadink oor die ongeëwenaarde seën wat ons het om ’n ontvanger van God se waarheid te wees. Ons het nou ’n beter lewe met minder van die bekommernisse, smart en weë wat die wêreld ervaar. Indien ons wel ly, weet ons waarom ons ly, en ons besef ook dat indien ons met volle geloof en vertroue volhard, ons op die ou end beter en nuttiger Christene sal wees. En ons opstandingshoop skakel ‘n groot deel van die vrees vir die dood uit, asook droefheid oor dierbares wat sterf. Dit laat al die ongewenste dinge wat ons deurmaak nietig lyk in vergelyking met die ewige lewe wat voorlê. Jesus het vir sy dissipels gesê: “Salig is die oë wat sien wat julle sien; want Ek sê vir julle, baie profete en konings het gewens om te sien wat julle sien, en het dit nie gesien nie, en om te hoor wat julle hoor, en het dit nie gehoor nie.”—Luk. 10:23, 24.

4, 5. (a) Waarom het engele soveel belangstelling in sake rakende die mensdom se redding getoon, soos aangedui deur 1 Petrus 1:12? (b) Hoe behoort ons dan te voel daar ons weet hoe hulle dit beskou?

4 Ja, die redding wat ons geniet, is ’n prys van onskatbare waarde, en God bring dit na mense op ’n wonderlike wyse. Petrus sê dat die profete begeer het om te weet hoe dit bewerkstellig sou word en dat “engele begerig is om [daarin] te sien” (1 Pet. 1:10-12). Ons weet dat die engele bestaan het toe die aarde geformeer is, en selfs ontelbare jare voor dit (Job 38:7). Hulle het God se heerlikheid, wysheid en mag en ander fasette van sy persoonlikheid in die miljarde skeppingswerke waargeneem. Maar hier op aarde was iets nuuts. Hoe kon God die sondige mensdom red? Die engele het baie hierin belanggestel. Hulle wou graag weet hoe die mens se sonde op grond van ’n menseoffer vergewe kon word, want hulle het nog nooit so iets sien plaasvind nie. Die wonderlike eienskap barmhartigheid, ’n voortreflike faset van God se persoonlikheid, wat aantrekliker en hartverblydender as mag en selfs wysheid is, is geopenbaar toe hy Christus gestuur het om die mensdom vry te koop. En God bewys sy liefde vir sondaars deurdat hy diegene met geloof in sy Seun lei.

5 As engele hierdie barmhartigheid van God as een van die grootste dinge in die heelal beskou, hoeveel te meer moet ons, aan wie daardie barmhartigheid betoon is en wat dit elke dag ervaar, ons daarin verheug en dit bo alle ander dinge op prys stel! Watter groter aansporing kan ons tog hê om bly te wees oor ons keuse en daarby te bly!

Bybelstudie baie belangrik

6. Watter rol moet Skriflesing en Bybelstudie volgens 1 Petrus 2:2, 3 in ons lewens speel?

6 Wat kan ons vandag doen om ons hoop vas te maak? Petrus antwoord: “Verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei, as julle ten minste gesmaak het dat die Here goedertieren is” (1 Pet. 2:2, 3). Slegs deur die Bybel noukeurig te lees en te bestudeer kan ons die geestelike krag hê wat ons moet hê. Daar is geen ander manier nie. Ons moet die Bybel self lees, nadink oor wat dit sê, dit saam met ons gesin lees en die waarhede daarvan bespreek. As ons dit doen, sal ons ’n groter liefde vir die woord verkry en na meer daarvan verlang. As God se wet van die konings in Israel vereis het om ’n afskrif van die Wet, wat hulle in hulle dag gehad het, te maak en dit elke dag te lees, moet ons, wat die hele Skrif het, iets wat ons wys kan maak tot saligheid, dit dan nie ook doen nie?—Deut. 17:19, 20; 2 Tim. 3:15.

7, 8. (a) Wat het die mense in die sinagoge in Berea gedoen wat vir hulle God se lof verwerf het? (b) Waarom is dit so belangrik dat die waarhede in die Bybel self gelees word?

7 Wie is deur God in sy Woord geloof toe die apostels die “goeie nuus” verkondig het? Die mense in die sinagoge in Berea, want, soos die Bybel sê, “hulle het die woord [van die goeie nuus wat deur Paulus en Silas gespreek is] met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge [wat selfs die apostel Paulus gesê het] so was” (Hand. 17:10, 11). Hulle het hierdie dinge hulle eie gemaak deur nie net instemmend te luister nie, maar ook deur die vaste Skriftuurlike grondslag vir die dinge wat hulle so ywerig in hulle verstande en harte ontvang het, te ondersoek.

8 Ons moet die voorbeeld van daardie opregte Bereane volg. Waarom? Omdat ons kan hoor hoe menslike onderrigters die waarheid verkondig en aan ander leer, maar wanneer ons dit in die Bybel lees, word dit ’n deeglik gevestigde, permanente dryfkrag in ons harte, want “die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ’n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart” (Hebr. 4:12). Voortdurende studie van die Bybel voorkom dat ons geestelike babas bly. God se Woord vul ons harte met sy gees en maak ons sterk en ryp. Dieselfde beginsel geld wanneer ons die “goeie nuus” aan ander verkondig. Dit het groter krag wanneer ons mense dit in die Bybel laat lees as wanneer ons ons eie woorde gebruik.

9. Watter nadelige uitwerking kan beproewings en ontberings op ons hê, en wat sal ons help om so ’n slegte uitwerking te vermy?

9 Waar Petrus verduidelik wat ons as Christene moet doen om ons redding seker te maak en om ’n beloning van God te ontvang, raai hy ons in sy eerste brief af om mismoedig te word tydens ontberings, beproewings en vervolging. Ons moenie toelaat dat hierdie dinge verbitterde, ongehoorsame en bandelose mense van ons maak nie. Aangesien ons gekoop is met die allerkosbaarste ding, die bloed van Jesus Christus, wat ons sondes gedra het toe hy vir ons gesterf het, behoort ons “dood” te wees ten opsigte van sondes. Ons besef dat wanneer ons Christus se soenoffer vir ons sondes aanvaar, ons erken dat ons nie langer moet aanhou sondig nie. Ons moet dus nie eers ’n oomblik lank aan dinge soos boosheid, bedrog, geveinsdheid, afguns en kwaadpratery dink of ons daaraan skuldig maak nie.—1 Pet. 2:1.

10. Hoe kan ons die apostel se raad toepas dat die wêreld se onreine gebruik nie eers onder ons “genoem” moet word nie?

10 Die apostel Paulus druk die saak baie sterk uit, naamlik dat die dinge wat die wêreld doen en wat die Christen dalk gedoen het voordat hy die waarheid leer ken het, so sleg is dat hulle nie eens onder Christene “genoem” moet word nie (Ef. 5:3). Paulus het natuurlik die onskriftuurlike dinge “genoem”, maar slegs om hulle as sleg te identifiseer. Hy het Christene egter vermaan om nie voortdurend daaroor na te dink, dit in aaklike besonderhede te beskryf, te praat oor die manier waarop hierdie dinge gedoen word of hulle as onderwerpe vir gesprekke te gebruik nie. Iemand wat homself in die verlede aan hierdie dinge skuldig gemaak het, moet dit nie met ’n gevoel van vleeslike bevrediging herroep nie, maar moet skaam wees daaroor.—Rom. 6:21.

11. Watter positiewe blyke van ons geloof beklemtoon Petrus in 1 Petrus 4:8, 9 as iets wat vir ons van die grootste belang is, en hoe sal sulke dinge duidelik word?

11 Daarbenewens sluit die Christen se weg na die hoop wat voorlê meer in as die vermyding van slegte, negatiewe dinge. In 1 Petrus 4:8, 9 skryf die apostel Petrus: “Maar bo alles moet julle mekaar vurig liefhê, want die liefde sal ’n menigte sondes bedek. Wees gasvry jeens mekaar sonder om te murmureer.” Ons het ’n voortdurende plig teenoor ons naaste, veral die wat huisgenote van die geloof is. Ons liefde sal talle foute en sondes in ons broers oorsien. Ware Christene is nie daarop uit om met ander fout te vind en raak nie agterdogtig of veroordeel ’n ander omdat hulle gebreke in hom sien nie. Is ons gretig om gasvryheid te betoon? Is ons bereid om moeite te doen om vriendelik en hulpvaardig teenoor ander te wees? Of murmureer ons wanneer so ’n geleentheid hom voordoen? Indien ons dit doen, bederf ons al die vreugde wat ons andersins kon smaak en verloor ons ook die beloning wat ons sal kry as ons goed doen. As iets nie van harte gedoen word nie, behaag dit God nie.

Gebruik jou gawe reg

12. (a) Wie ontvang nuttige “gawes” in die gemeente, en word daar van almal verwag om dieselfde vermoëns te besit? (b) In watter opsig word hulle “bedienaars” van God, en met watter verantwoordelikheid?

12 Petrus praat ook oor die gebruik van ons gawes. Elkeen het ’n vermoë of vermoëns, maar geeneen het almal nie. Party het ook ’n groter mate van ’n sekere gawe as ander. Ons kan nie verwag dat ander moet doen net wat ons doen of as’t ware in dieselfde vorm moet pas nie. Petrus sê: “Namate elkeen ’n genadegawe ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien soos goeie bedienaars van die veelvuldige genade van God” (1 Pet. 4:10). Indien ’n persoon ’n vermoë besit wat die gemeente tot voordeel kan strek, moet hy homself as ’n bedienaar van God beskou wat die gebruik van daardie gawe betref. Hy weet dat die gawe van God, die Gewer van elke goeie en volmaakte gif, af kom. Die indiwidu wat die gawe besit, word ’n bedienaar wat voor die gewer daarvan en sy heer aanspreeklik is vir die wyse waarop hy dit gebruik (1 Kor. 4:2; Jak. 1:17). Dit is deur God se onverdiende goedheid dat hy dit ontvang het, en hierdie onverdiende goedheid voorsien die Christengemeente van die nodige. Hierdie onverdiende goedheid word op veelvuldige wyse betoon, en verskillende persone in die gemeente voorsien wat nodig is. As iemand ’n vermoë besit en dit nie tot voordeel van die gemeente gebruik nie, faal hy in sy rentmeesterskap.

13. Hoe word daar van diegene wat in die gemeente spreek, verwag om as’t ware “woorde van God” te spreek?

13 Die apostel gaan voort om die soorte gawes te beskryf, asook hoe hulle gebruik moet word. Hy sê: “As iemand spreek, laat dit wees soos woorde van God” (1 Pet. 4:11a). Dit beteken nie dat wanneer hy praat, hy meen dat hy altyd reg het en mense moet doen wat hy sê nie. Maar wanneer hy praat, moet hy nie sy eie opinie gee of bewerings maak waarvoor hy nie bewys het nie. Hy moet seker wees dat wat hy sê die waarheid is—dat dit stewig op die woorde van God gebaseer en in harmonie met die gees van die Bybel is—dat hy met die Bybel kan bewys wat hy sê. Slegs op hierdie wyse kan hy ander help.

14. (a) Hoe kan ’n mens ander volgens 1 Petrus 4:11 in die gemeente “dien”? (b) Wat moet so ’n persoon altyd in gedagte hou wanneer hy aldus dien, en hoe sal hy beloon word?

14 Petrus verander die onderwerp van woorde na dade wanneer hy sê: “As iemand dien, laat dit wees soos uit die krag wat God verleen” (1 Pet. 4:11a). ’n Lid van die gemeente wat die materiële middele besit om ’n broer of behoeftige medemens te help, of wat ’n geleentheid het om behulpsaam te wees, kan liefde onder sy broers bevorder. As hy so ’n vermoë besit, moet hy die hulp verleen met die erkenning dat die geleentheid en die middele deur God aan hom gegee is. Dit behaag God nie alleen nie, maar maak die Christen se bediening doeltreffend, want God sal die een seën wat nederig dien. Die persoon self sal beloon word met groter geloof en die geleentheid om dinge te doen, soos die spreekwoord sê: “Die siel wat seën, word versadig; en hy wat laaf, word self ook gelaaf.”—Spr. 11:25.

15. Hoe kan God deur Jesus Christus verheerlik word as ons ons bedieningswerk getrou verrig?

15 Wat is die vernaamste gevolg as ons ons gawes of vermoëns so gebruik? Bring dit ons nader aan die volle verwesenliking van ons hoop? Ja, want dit bevorder die vernaamste rede waarom ons ons oorspronklike keuse gedoen het om God te dien. Dit is: “Sodat God in alles verheerlik kan word deur Jesus Christus” (1 Pet. 4:11b). Wanneer ons goeie werke verrig wat in harmonie met die Bybel is, word Christus verheerlik, want dit is deur hom dat ons ’n naam by God en die vooruitsig op redding het. En God word verheerlik, want hy is die Een wat sy Seun gestuur het; wanneer ons Christus verheerlik, verheerlik ons God dus.

Hoe lyding tot ons voordeel strek

16. Waarom het die Christen rede om hom te verheug ondanks druk en vervolging?

16 Hierdie lewenswyse verheerlik Jehovah God sowel as sy Seun Jesus Christus, en dit verskaf ons nou vreugde as ons hulle dien. Ons kan tevrede en blymoedig wees weens hierdie kennis. Daar kan talle vorms van druk, selfs ontberings en vervolging wees. Ons kan nietemin geluk in ons lewenswyse behou. Die apostel Petrus sê baie in sy twee briewe oor lyding—wat die oorsaak, die doel en die uitslag is as ’n mens dit getrou verdra. Hy het aan Christene van sy dag geskryf oor hulle hoop en die beskerming wat God hulle gee, en gesê: “Daarin verheug julle jul, al word julle nou—as dit nodig is—’n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge, sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus.”—1 Pet. 1:6, 7.

17, 18. (a) Waarom sê die apostel Petrus, waar hy van Christene se lyding praat, “as die wil van God dit eis”? (b) Hoe moet die Christen vandag, net soos die apostel Paulus, die lyding beskou wat volg omdat hy bly by die keuse wat hy gedoen het?

17 In hoofstuk drie van sy eerste brief vestig Petrus die aandag op die Christen se lyding en sê: “Want dit is beter, as die wil van God dit eis, dat julle ly wanneer julle goed doen as wanneer julle kwaad doen” (V. 17). Waarom sê hy in verband met sulke lyding: “as die wil van God dit eis”? Hy verduidelik: “Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie; maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel. As julle beledig word oor die Naam van Christus, is julle gelukkig, omdat die Gees van die heerlikheid en van God op julle rus.”—1 Pet. 4:12-14; vergelyk Handelinge 5:41, 42.

18 Hoewel die Christen verkies om nie te ly nie, en hy nie probeer om ’n martelaar te wees nie, is hy gelukkig indien daar van hom vereis word om te ly omdat hy sy Heer, Christus, getrou navolg. Geen groter eer kan ’n Christen te beurt val as om vir sy geloof te sterf nie. Voordat hy gekies het om ’n volgeling van Christus te word, ’n weg wat met veel smaad en lyding gepaard gegaan het, was die apostel Paulus ’n man wat die rooskleurigste vooruitsig vir roem, eer en posisie gehad het. Kyk hoe hy sy beskouing oor die saak uitgedruk het: “Wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag. Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry . . . sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word” (Filip. 3:7-10). Paulus het begeer om in elke opsig soos Christus te wees en dit die hoogste eer geag indien daar van hom vereis sou word om soos Christus te sterwe.

19, 20. (a)  Tot watter mate laat God toe dat sy knegte ly? (b) Hoe kan die grimmigheid van teenstanders en vervolgers eindelik tot God se lof strek? (c) Watter ander faktor in verband met die omvang van lyding wat deur God toegelaat word, kan ons aanspoor om te volhard?

19 Daarbenewens wys Petrus daarop dat daar nie alleen ’n beloning is nie, maar dat wanneer God lyding toelaat, hy dit slegs in die mate toelaat waartoe dit opleiding en tugtiging vir ons bied op die maniere wat ons indiwidueel nodig het. Die psalmis het geskrywe: “Die grimmigheid van die mens moet U loof” (Ps. 76:11). Indien God toelaat dat die mens sy grimmigheid op ons uitstort, kan ons daarvan seker wees dat ons lyding of dood iets goeds tot gevolg sal hê. Dit sal nie alleen as opleiding vir ons dien nie, maar God sal die doel van die goddelose dwarsboom deur ander Hom te laat verheerlik wanneer hulle sien hoedat ons getrou vir sy naam ly. Die lyding is bowendien net vir ’n betreklik kort rukkie en sal ten einde loop.

20 Petrus troos Christene dus: “Mag die God van alle genade self, wat ons geroep het tot sy ewige heerlikheid in Christus Jesus, nadat ons ’n kort tyd gely het, julle volmaak, bevestig, versterk en grondves!”—1 Pet. 5:10.

21. (a)  Watter persoonlike vrae kan ons onsself nou met nut afvra? (b) Watter versterkende gedagtes meld die apostel Petrus in die slot van sy tweede brief?

21 Meen jy dat jy die regte keuse gedoen het? Meen jy dat jy by daardie keuse kan bly, nie alleen deur passief die dinge wat voorlê te verdra nie, maar ook deur daadwerklik te dien? Is jy bereid om jouself in te span om jou gawes te gebruik om jou broers te help? Het jy ’n begeerte, ja, ’n ywer om ander te help om die “goeie nuus” te leer en dieselfde keuse te doen, en is jy bereid om hulle te help om vas te staan terwyl hulle hulle keuse naleef? Petrus vertroos en versterk ons met die slotwoorde van sy tweede brief: “Noudat julle dit dan vooruit weet, geliefdes, moet julle op jul hoede wees dat julle nie miskien meegesleep word deur die dwaling van sedelose mense en wegval uit jul eie vastigheid nie. Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus. Aan Hom kom die heerlikheid toe, nou sowel as in die dag van die ewigheid.”—2 Pet. 3:17, 18.

[Prent op bladsy 20]

As ons die Bybel self lees, kan dit help om die waarheid by ons harte in te skerp

[Prent op bladsy 21]

Sorg dat jou raad op die Bybel gebaseer is indien jy iemand waarlik wil help

[Prent op bladsy 22]

Die nederige gebruik van ons vermoëns om nuttige dienste te lewer, bevorder liefde en verkry God se seën

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel