Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 7/15 bl. 19-27
  • Vordering nadat ‘’n geloof’ verkry is

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vordering nadat ‘’n geloof’ verkry is
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Geloof—’n skat
  • Neem toe in kennis van God en Christus
  • Laat “goddelike krag” jou tot dade aanspoor
  • God se beloftes—’n aansporing om vordering te maak
  • Meer as geloof is nodig
  • Die belangrikheid van vordering
  • Beoefen geloof op grond van God se beloftes
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Laat ons vashou aan ons kosbare geloof!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Bybelboek nommer 61—2 Petrus
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Hoe ons ons keuse naleef
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 7/15 bl. 19-27

Vordering nadat ‘’n geloof’ verkry is

“Daarom ook moet julle . . . by julle geloof voeg die deug, en by die deug die kennis, en by die kennis die selfbeheersing, en by die selfbeheersing die lydsaamheid, en by die lydsaamheid die godsvrug, en by die godsvrug die broederliefde, en by die broederliefde die naasteliefde.”—2 Pet. 1:5-7.

1. Wat maak ’n skat werklik kosbaar, en hoe kan dit toegelig word?

’N WAARDEVOLLE skat wat in die grond begrawe lê, dien geen nuttige doel nie. Dit verskil nie veel van ’n klip wat deur ’n laag grond bedek word nie. Maar die skat besit die potensiaal om die besitter daarvan en selfs ander tot voordeel te strek. Dit kan gebruik word om siekes en behoeftiges te help, of dit kan wyslik belê word. Indien dit ’n groot som geld werd is, kan dit betrekkings skep en mense in staat stel om ’n bestaan te maak. Wanneer ’n skat produktief gebruik word, word dit kosbaarder.

2. Watter kosbare besitting het Christene volgens 2 Petrus 1:1 verkry?

2 Die geestelike skat wat in die besit van God se knegte is, het ’n selfs groter potensiaal om nut te stig. In sy tweede brief aan Christene praat die apostel Petrus van hierdie kosbare skat en open hy met hierdie woorde: “Simeon Petrus, ’n dienskneg en apostel van Jesus Christus, aan die wat net so ’n kosbare geloof as ons verkry het deur die geregtigheid van onse God en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Pet. 1:1). “Geloof”, dit wil sê, die geloof wat noodsaaklik is vir ewige lewe, was die kosbare skat wat diegene tot wie die apostel sy woorde gerig het, verkry het.

Geloof—’n skat

3. Waarom kon Petrus die geloof van diegene aan wie hy geskryf het, beskryf as “net so ’n kosbare geloof as [wat] ons verkry het”?

3 Hierdie geloof was nie die uitsluitlike besitting van Petrus en die ander apostels of van almal wat net soos hy gekerstende Jode was nie. Dit was die gemeenskaplike besitting van die hele liggaam gelowiges, Jode sowel as nie-Jode. Die allerhoogste God het dit vir hulle moontlik gemaak om hierdie geloof te verkry. Deur middel van die boodskap van die “goeie nuus” wat verkondig is, het hy mense deur sy Seun na hom getrek (Joh. 6:44). Hy het die harte van indiwidue geopen en hulle vatbaar gemaak vir sy “woord” of boodskap.—Hand. 16:14; Rom. 10:8.

4. Hoe word geloof “deur die geregtigheid van onse God en Saligmaker, Jesus Christus” verkry?

4 Soos die apostel Petrus gesê het, is hierdie geloof verkry “deur die geregtigheid van onse God en Saligmaker, Jesus Christus”. Die Almagtige het dit vir mense van alle stamme, volke, nasies en rasse moontlik gemaak om hierdie kosbare besitting te ontvang. Deur aldus geen voorkeur aan enige indiwidue te gee wanneer hy sondes op die grondslag van sy Seun se offerhande vergewe het en berouvolles as sy volk aanvaar het nie, het Jehovah God sy geregtigheid, sy billikheid, sy onpartydigheid getoon. Dit is die einste punt wat Petrus gestel het toe hy die “goeie nuus” na die Italiaanse hoofman oor honderd, Cornelius, en sy familielede en intieme vriende gebring het. “Ek sien waarlik”, het die apostel gesê, “dat God geen aannemer van die persoon is nie, maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is” (Hand. 10:34, 35). Ons Saligmaker, Jesus Christus, weerspieël daardie selfde gees van onpartydigheid. Hy het sy lewe gegee vir mense oral.—1 Tim. 2:5, 6.

Neem toe in kennis van God en Christus

5. Watter verantwoordelikheid het ons nadat ons ’n geloof verkry het, en wat is noodsaaklik om dit na te kom?

5 Nadat dissipels van Jesus Christus ‘’n geloof verkry het’, is dit hulle persoonlike verantwoordelikheid om hulle al hoe meer na God se wil vir hulle te skik. Juiste kennis sal ons help om dit te doen. Die apostel Petrus het die belangrikheid van juiste, deeglike of volledige kennis beklemtoon toe hy gesê het: “Mag genade [onverdiende goedheid] en vrede vir julle vermeerder word deur die [juiste] kennis van God en Jesus, onse Here!”—2 Pet. 1:2, vgl. NW.

6. (a) Wat word bedoel met ’n juiste “kennis van God en Jesus, onse Here”? (b) Hoe verkry ons so ’n kennis?

6 Juiste “kennis van God en Jesus, onse Here” beteken dat ons hulle as persone ken—hulle eienskappe, weë en handelinge—en dat ons hulle volmaakte voorbeeld navolg. (Vergelyk Jeremia 22:15, 16; Mattheus 7:21-23; 1 Johannes 2:3-6; 3:5, 6.) As ons die beginsels in God se Woord beter leer ken en toepas, leer ken ons die Vader en sy Seun al hoe beter. Dit bring mee dat ons selfs meer onverdiende goedheid en vrede geniet.

7. Hoe word “onverdiende goedheid” vermeerder “deur die [juiste] kennis van God en Jesus”?

7 Dit is slegs deur dinge te doen wat Jehovah God en Jesus Christus behaag dat ons steeds goddelike hulp en leiding sal ontvang. Omdat ons sondige mense is, het ons geen verdienste op ons eie nie. Alles wat ons Maker vir ons doen, is ’n blyk van sy onverdiende goedheid. As ons goddelike onverdiende goedheid wil ontvang, moet ons ons nietemin daarop toelê om soos ons hemelse Vader en sy Seun te wees. Wanneer ons dit doen, kan ons Jehovah God nader met die volle vertroue dat hy ons gebede sal verhoor. Die Christenapostel Johannes het gesê:

“Wat ons ook al bid, ontvang ons van Hom, omdat ons sy gebooie bewaar en doen wat welgevallig is voor Hom. En dit is sy gebod, dat ons in die Naam van sy Seun, Jesus Christus, moet glo en mekaar liefhê soos Hy ons ’n gebod gegee het. En hy wat sy gebooie bewaar, bly in Hom, en Hy in hom. En hieraan weet ons dat Hy in ons bly: aan die Gees wat Hy ons gegee het.”—1 Joh. 3:22-24.

8. Hoe word “vrede” vermeerder “deur die [juiste] kennis van God en Jesus”?

8 Wanneer ons nie net kennis nie, maar volledige, afgeronde kennis van ons hemelse Vader en sy Seun het, begryp ons duidelik wat hulle behaag. Ons bly in eendrag met hulle en verkeer in vrede met hulle terwyl ons intiemheid met hulle geniet as hulle vriende. Gevolglik geniet ons groter vrede as ons Jehovah God en sy Seun beter leer ken. Dit is die geval omdat ons al hoe meer die gesindhede, woorde en dade vermy wat strydig is met die voorbeeld van onse God en onse Here Jesus Christus.

9. Watter uitwerking het sonde op ons vrede met God?

9 As ons sondig, sal ons andersyds ons vrede met die Allerhoogste versteur, aangesien ons in stryd met sy wil sal optree. Slegs God se vergifnis, op grond van ons opregte berou en geloof in die versoeningsvoordele van Christus se offerande, kan die vrede herstel.—1 Joh. 2:1, 2.

Laat “goddelike krag” jou tot dade aanspoor

10. Wat kan ons help om meer onverdiende goedheid en vrede te geniet?

10 Jehovah God en Jesus Christus wil natuurlik hê dat ons meer onverdiende goedheid en vrede moet geniet. Ons moet dus met hulle saamwerk deur ’n vasberade poging aan te wend om hulle beter te leer ken. Een manier waarop ons dit kan doen, is deur met waardering te peins oor wat Jehovah God deur middel van sy Seun ten behoewe van ons gedoen het. Die apostel Petrus het geskryf: “Sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die [juiste] kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug, waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is.”—2 Pet. 1:3, 4, vgl. NW.

11, 12. (a) Waarom word “goddelike krag” met “juiste kennis” geassosieer? (b) Hoe word dit toegelig in die geval van die Christene in Thessalonika?

11 Let daarop dat Petrus “goddelike krag” met “juiste kennis” assosieer. Dit is uiters gepas, want God se woord of boodskap in verband met sy Seun, die “goeie nuus”, kan ’n kragtige uitwerking op die lewens van mense hê. Dit word goed toegelig deur wat die apostel Paulus aan die Thessalonicense geskryf het: “Ons evangelie het tot julle nie gekom in woord alleen nie, maar ook in krag” (1 Thess. 1:5). Die verkondiging van die “goeie nuus” in Thessalonika het goeie vrug gedra. Dit was nie net ’n geval dat mense woorde gehoor het en nie daarop gereageer het nie, dit wil sê, dit was nie ’n saak van “woord alleen” nie. Die Thessalonicense wat die Christelike geloof aanvaar het, is tot dade beweeg, iets wat aandui dat die “goeie nuus” krag uitgeoefen het. Daardie Christene het vir ander gelowiges ’n voorbeeld geword deur getrou vervolging te verduur ter wille van geregtigheid en deur voort te gaan om vir almal van die “goeie nuus” te vertel.

12 Omdat Thessalonika ’n hawestad was, het gelowiges aldaar in aanraking gekom met matrose, handelaars en ander uit afgeleë plekke. Die Christene in Thessalonika het hulle geleenthede om die “goeie nuus” met ander te deel, benut. Gevolglik is daar wyd en syd oor hulle geloof gepraat. Toe Paulus en sy metgeselle die waarheid in die openbaar in ander stede verkondig en geleer het, is daar vir hulle vertel van die Christene in Thessalonika. Waar hy hieroor kommentaar lewer, het die apostel geskryf:

“Van julle uit het die woord van die Here weerklink nie alleen in Macedonië en Achaje nie, maar ook op elke plek het julle geloof in God uitgegaan, sodat ons nie nodig het om daar iets van te sê nie. Want hulle vertel self aangaande ons watter ingang ons by julle gehad het en hoe julle jul van die afgode bekeer het tot God, om die lewende en waaragtige God te dien en sy Seun uit die hemele te verwag, wat Hy uit die dode opgewek het, Jesus wat ons van die toekomstige toorn verlos.”—1 Thess. 1:8-10.

13. Hoe het ons persoonlik die uitwerking van “goddelike krag” in ons ondervind, en wat behoort ons dus steeds te doen?

13 Ons wat vandag glo, het eweneens gevoel hoedat die “goddelike krag” in ons werk omdat ons die “goeie nuus”, God se woord of boodskap, aanvaar het. Daardie “goeie nuus” het ons veranderinge in ons lewens laat aanbring en ons ons na die goddelike wil laat skik. Ons is ook beweeg om die “goeie nuus” aan ander te verkondig. Die goddelike krag wat uitgeoefen word deur die “juiste kennis” wat in die “goeie nuus” bevat word, het aan ons alles gegee wat ons nodig het vir “die lewe en godsvrug”. As gevolg van die goddelike krag kan ons dus ’n opregte lewe lei met die ewigheid in die vooruitsig. Ons moet voortgaan om die goddelike krag toe te laat om ons te help om meer soos Christus te word in ons gedrag en bedrywigheid.

14. Hoe roep Jehovah God deur “heerlikheid en deug”?

14 Die wyse waarop Jehovah God indiwidue roep of na hom trek, behoort as ’n sterk aansporing te dien om steeds beter Christene te word. Die apostel Petrus het verwys na die juiste “kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug”. Jehovah God ‘roep’ of ‘trek’ mense deur sy Seun. Dit is veral in Jesus Christus dat “heerlikheid en deug” aan mense geopenbaar word. Die Christenapostel Johannes het aangaande die Seun geskryf: “Die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ’n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid” (Joh. 1:14). In die lewe van die Here Jesus Christus het Johannes en die ander apostels ’n heerlikheid, ’n glorie, ’n grootsheid gesien wat slegs geopenbaar kon word deur iemand wat die beeld van die hemelse Vader volmaak weerspieël het. Daarbenewens het die apostel Johannes, saam met Jakobus en Petrus, die gedaanteverandering van Jesus Christus aanskou. By daardie geleentheid ‘het sy aangesig geblink soos die son, en het sy klere wit geword soos die lig’ (Matt. 17:2). Net soos heerlikheid met die Seun van God geassosieer word, so ook deug. Jesus Christus was besonder deugsaam, ’n man van morele voortreflikheid. Selfs die verraderlike Judas Iskariot het erken: “Ek het gesondig deur onskuldige bloed te verraai” (Matt. 27:4). Dit was dus deur die “heerlikheid en deug” wat deur die Seun weerspieël is dat Jehovah mense geroep het.

God se beloftes—’n aansporing om vordering te maak

15. Waarom is die Godgegewe beloftes “die grootste en kosbare beloftes”?

15 God se wonderlike reëling vir redding soos in die “goeie nuus” geopenbaar word, het aan eerste-eeuse Christene “die grootste en kosbare beloftes geskenk”. Hierdie beloftes was kosbaar of waardevol om vertroosting, bemoediging en onderskragende krag te bied wanneer die wêreld se haat verduur moes word. Wanneer ons in aanmerking neem dat die gelowiges aan wie Petrus geskryf het daarna uitgesien het om as mede-erfgename in Christus se koninkryk in sy heerlikheid te deel, moet ons met die apostel saamstem dat hulle “die grootste . . . beloftes” ontvang het.—2 Pet. 1:4a.

16, 17. Watter uitwerking het die goddelike beloftes op gelowiges?

16 Wat het hierdie beloftes vir eerste-eeuse gelowiges gedoen? Petrus antwoord: “Sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is” (2 Pet. 1:4b). Met ander woorde, die beloftes van God het die grondslag gebied sodat hulle ‘deelgenote van die goddelike natuur’ kon word. Die eerste-eeuse Christene se hoop was om saam met Jesus Christus in die hemelse koninkryk te regeer en om soos hy te wees (Rom. 8:17). Aangesien die Seun ‘die afskynsel van God se heerlikheid en die afdruksel van sy wese is’, is almal wat soos Jesus Christus word ook soos die Vader (Hebr. 1:3). Die apostel Johannes het geskryf: “Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is. En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is.”—1 Joh. 3:2, 3.

17 Deur die heerlikheid van die Seun van God deelagtig te word, word geesverwekte Christene dus deelgenote van die “goddelike natuur”. Hierdie wonderlike hoop wat op God se gewisse beloftes gebaseer is, is vir hulle ’n sterk aansporing om hulle bes te doen om hulle van alle wêreldse besoedeling te reinig. Die apostel Petrus het dieselfde punt oor reinheid gestel, want hy het getoon dat ‘deelgenote van die goddelike natuur’ “die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is”. “Begeerlikheid”, ’n passie vir iets waarop ’n persoon nie geregtig is nie, is die bron van die wêreld se verdorwenheid of besoedeling. Dit is hierdie besoedeling wat gelowiges ontvlug het toe hulle gebruik gemaak het van God se reddingsmiddel en hulle daarna daarop toegelê het om hulle te skik na die goddelike standaard van heiligheid, reinheid of suiwerheid. Net soos in die geval van eerste-eeuse gelowiges kan die beloftes wat in die Skrif vervat word ons beweeg om aan te hou om onsself te reinig.

Meer as geloof is nodig

18, 19. Wat moet ons ooreenkomstig 2 Petrus 1:5-7 doen nadat ons ’n geloof verkry het, en waarom?

18 Almal wat vandag ware knegte van God is, het baat gevind by die goddelike krag wat deur die “goeie nuus” op hulle uitgeoefen is en by die wonderlike beloftes wat daarmee gepaard gaan. Dit is waarom ons goeie rede het om persone te wees wat ’n Christelike persoonlikheid aan die dag lê en ander daadwerklik help, veral geestelik. Die apostel Petrus het ons aangespoor: “Juis daarom ook moet julle met aanwending van alle ywer by julle geloof voeg die deug, en by die deug die kennis, en by die kennis die selfbeheersing, en by die selfbeheersing die lydsaamheid en by die lydsaamheid die godsvrug, en by die godsvrug die broederliefde, en by die broederliefde die naasteliefde.”—2 Pet. 1:5-7.

19 Ons moenie tevrede wees om bloot geloof te hê nie. Maar juis omdat ons die vermoë van ons hemelse Vader ontvang het om te glo, moet dit eerder ons begeerte wees om ander voortreflike eienskappe aan te kweek wat bewys lewer dat ons geloof het. Die apostel Petrus het daarop aangedring dat ons ‘alle ywer moet aanwend’ en al ons krag moet inspan om meer soos die Seun van God te word.

20. Wat word bedoel wanneer dit sê dat ons deug by ons geloof moet voeg?

20 Om deug by geloof te voeg, beteken dat ons ons daarop toelê om persone van morele voortreflikheid te wees in navolging van ons Voorbeeld, Christus. Sulke deug of morele voortreflikheid is ’n positiewe eienskap. Die besitter daarvan weerhou hom nie alleen daarvan om sy naaste kwaad aan te doen nie, maar probeer ook om goed te doen, om in die geestelike, fisiese en emosionele behoeftes van ander te voorsien. Deug is in werklikheid goedheid in aksie. Die lewe van ’n deugsame persoon word dus nie bloot gekenmerk deur negatiewe dinge soos sy vermyding van geslagsonsedelikheid, onreinheid, oneerlikheid en ander euwels wat God mishaag nie. In die eerste eeu G.J. was die Fariseërs trots daarop dat hulle “nie soos die ander mense is nie—rowers, onregverdiges, egbrekers” (Luk. 18:11). Maar hulle was nie deugsaam nie, want hulle het die gewone mense verag en geen barmhartigheid, jammerte of medelye betoon nie.—Mark. 3:1-6: Joh. 7:47-49.

21. Waarom is dit belangrik om meer kennis te verkry?

21 Deug, waarvan Jesus Christus as voorbeeld dien, kan nie sonder kennis bestaan nie. Kennis is nodig om tussen reg en verkeerd te onderskei (Hebr. 5:14). Dit is ook noodsaaklik om te bepaal hoe positiewe goedheid presies in ’n gegewe situasie betoon moet word (Filip. 1:9, 10). Anders as liggelowigheid word geloof wat stewig gegrond is nie deur kennis geskud nie. As ons dus die Heilige Skrif ywerig toepas, sal dit ons geloof versterk namate ons voortgaan om meer kennis van Jehovah God en sy Seun te verkry.

22. (a) Waarom is kennis noodsaaklik om selfbeheersing te verkry? (b) Wat is die verband tussen selfbeheersing en lydsaamheid of volharding?

22 Hierdie kennis keer dat ons voor sondige begeertes swig en ons buitensporig en bandeloos gedra of dat ons ons op ander maniere skuldig maak aan ’n ernstige versuim om die goddelike beeld in gesindheid, woord en daad te weerspieël. Ja, kennis help ons om selfbeheersing te hê, die vermoë om ’n mens se persoon, dade of woorde te beheer of in toom te hou. Deur voort te gaan om selfbeheersing aan die dag te lê, sal ons die noodsaaklike eienskap lydsaamheid of volharding hê. Wanneer ons onderwerp word aan druk deur die wêreld in die vorm van daaglikse sorge, vervolging of die verleidelikheid van genot of materiële besittings, sal ons nie toegee aan ons begeertes na ’n verandering van ons posisie as slawe van God en Christus nie, maar sal ons selfbeheersing aan die dag lê.

23. (a) Hoe kry ’n mens volharding? (b) Wat is godsvrug, en hoe openbaar dit ditself?

23 Die innerlike krag wat volharding ons gee, kan ons ook help om nie voor sondige begeertes te swig, ’n kompromis aan te gaan wanneer ons vervolg word of om al ons tyd in beslag te laat neem deur daaglikse sorge, genietinge of materiële besittings nie. Hierdie volharding spruit voort uit vertroue op die Allerhoogste vir krag en leiding. (Vergelyk Filippense 4:12, 13, NW; Jakobus 1:2-8.) Godsvrug of godvresendheid, moet by volharding gevoeg word. Sulke godvresendheid kenmerk die hele lewensweg van ’n ware Christen. Dit openbaar ditself in ’n heilsame agting vir die Skepper en die nodige eerbied vir en besorgdheid oor mense wat na God se beeld gemaak is.—1 Tim. 5:4.

24. Waarom kan daar geen godvresendheid sonder broederliefde wees nie?

24 Sonder broederliefde kan daar geen vroomheid of godvresendheid wees nie. Die apostel Johannes het gesê: “As iemand sê: Ek het God lief—en sy broeder haat, is hy ’n leuenaar; want wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie?” (1 Joh. 4:20). Ons moet ons gevolglik inspan om innige liefde vir medegelowiges aan te kweek en sodoende ‘broederliefde by die godsvrug voeg’.

25. Aan wie moet liefde bewys word, en waarom?

25 Liefde is die besondere eienskap wat veral in ons lewens te sien moet wees. Hierdie soort liefde moet nie tot ons Christenbroers beperk wees nie. Hoewel ons ons geestelike broers liefhet, moet liefde aan die hele mensdom bewys word. Hierdie liefde hang nie af van die sedelike posisie van die indiwidu nie. Net soos God se liefde vir die mensdom, word dit selfs aan vyande betoon. In sy Bergpredikasie het Jesus Christus gesê:

“Julle het gehoor dat daar gesê is: Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand moet jy haat. Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê . . . en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg; sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is: want Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges. Want as julle liefhet die wat vir julle liefhet, watter loon het julle? Doen die tollenaars nie ook dieselfde nie? En as julle net jul broeders groet, wat besonders doen julle dan? Doen die tollenaars nie ook so nie? Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is.”—Matt. 5:43-48.

26, 27. Wat sal gebeur wanneer ons die noodsaaklike eienskappe wat Petrus opgenoem het, by ons geloof voeg?

26 Wat is die gevolg wanneer deug, kennis, selfbeheersing, volharding, godsvrug, broederliefde en liefde by geloof gevoeg word? Die apostel Petrus antwoord: “As hierdie dinge by julle aanwesig is en toeneem [oorvloedig is, NW], dan laat dit julle nie ledig of onvrugbaar tot die kennis van onse Here Jesus Christus nie.”—2 Pet. 1:8.

27 Ja, die gevolg is aktiwiteit en vrugbaarheid. Wanneer ons die noodsaaklike eienskappe wat die apostel opgenoem het by ons geloof voeg en hulle ’n deel van ons maak tot die punt waar hulle oorvloedig is, sal ons nie geestelik stilstaan of geestelik onaktief of dood wees nie. Ons geestelike vordering sal voortduur. Ons sal die vrug van ’n Christelike persoonlikheid aan die dag lê en met ander oor die “goeie nuus” praat. As godvrugtige eienskappe in ons harte aanwesig is en waarlik ’n deel van ons is, sal dit ons beweeg om te dink, te praat en op te tree op ’n wyse wat deur God goedgekeur word.—Vergelyk Lukas 6:43-45.

Die belangrikheid van vordering

28. Wat is die situasie van ’n erkende Christen wat versuim om geestelik vordering te maak?

28 Indien ’n persoon versuim om as ’n Christen vordering te maak, sal hy in groot geestelike gevaar verkeer. Die apostel Petrus het van so ’n persoon gesê: “Hy by wie hierdie dinge [wat tevore opgenoem is] nie aanwesig is nie, is blind en kortsigtig, en het die reiniging van sy vorige sondes vergeet.”—2 Pet. 1:9.

29. Waarom is ’n persoon wat nie die vrug van ’n Christelike persoonlikheid het nie opsetlik blind?

29 Die indiwidu wat versuim om geestelik te vorder, wie se belydenis van geloof dit aan die vrug van ’n Christelike persoonlikheid ontbreek, is geestelik blind. Hy sien nie wat dit beteken om ’n Christen te wees nie. Hierdie blindheid is opsetlik, want sy aanvaarding van die “goeie nuus” het vereis dat hy voortgaan om hom daarop toe te lê om meer soos sy Meester, Christus, te wees.

30. Wat moet ‘’n reiniging van sonde’ ’n Christen beweeg om te doen?

30 So ’n persoon het ook die feit uit die oog verloor dat hy van sy sondes gereinig is op die grondslag van Jesus se vergote bloed. In harmonie met die reiniging wat hy ontvang het toe hy ’n gedoopte Christen geword het, moes hy hom steeds ingespan het om rein te bly, trouens, om homself tot ’n groter mate na die goddelike standaard van heiligheid te skik. Sy versuim in hierdie opsig kan maklik daartoe aanleiding gee dat hy afvallig word, dat hy die offerande van die Seun van God heeltemal verwerp.

31, 32. Op watter raad van Petrus moet ons ag slaan met die oog op die ernstige gevaar wat ontstaan wanneer ons versuim om as Christene vordering te maak?

31 Omdat dit geestelik gevaarlik is om nie as Christene vordering te maak nie, kan ons ons gerus inspan om die goddelike beeld al hoe beter te weerspieël. Waar hy hieroor kommentaar gelewer het, het Petrus gesê: “Daarom, broeders, moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie. Want so sal ryklik aan julle verleen word die ingang in die ewige koninkryk van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus.”—2 Pet. 1:10, 11.

32 Almal wat deur God ‘geroep en verkies’ is om sy volk te wees, behoort voorwaar ’n vasberade poging aan te wend om dit te bly. Petrus se geïnspireerde geskrifte het getoon dat hulle, indien hulle voortdurend Christelike eienskappe by hulle geloof gevoeg het, nie sou faal om die doel van hulle geloof—redding—te bereik nie. Niks sou hulle verhinder om ingang te verkry in die “ewige koninkryk” van Jesus Christus nie. Ingang in die koninkryk sou ‘ryklik verleen’ word.

33. Wat kan dit beteken dat ’n Christen se ingang in die koninkryk ‘ryklik verleen’ word?

33 Dit sou ’n glorieryke ingang wees, terwyl hulle Christelike eienskappe helder weerspieël word. Die uitdrukking ‘ryklik verleen’ kan egter ook slaan op ’n oortreffende graad van geluksaligheid wat geniet sal word deur diegene wat hulleself waarlik ingespan het in die wedloop om die lewe.—Filip. 3:14.

34. Hoe kan ’n oortreffende graad van geluksaligheid toegelig word?

34 Die verskil tussen lewe en lewe met spesiale seëninge kan toegelig word met twee skeepskapteins. Die een stuur die skip bedrewe deur ’n storm en bring die vaartuig veilig na die hawe. Maar die ander kaptein ly skipbreuk tydens dieselfde storm en red slegs sy lewe. Hoewel albei kapteins met hulle lewe daarvan afgekom het, sal die een wie se skip behoue gebly het beslis groter geluk en eer geniet.—Vergelyk 1 Korinthiërs 3:12-15.

35. Waarom is persoonlike inspanning nodig om die ewige lewe te verkry, selfs al is dit ’n gawe van God?

35 Hoewel die lewe ’n gawe van God is, word daar van ons verwag om ons opregte begeerte te toon om daardie gawe te ontvang deur ons bes te doen om ons hemelse Vader te behaag. Dit is ’n gawe, want ons sondige mense kan dit nooit met ons eie verdienste verkry nie. Maar ons kan dit verbeur indien ons lewensweg geen aanduiding gee dat ons hierdie gawe werklik waardeer en begeer nie. Mag ons ons dus ywerig daarop toelê om waarlik soos Christus te wees in gesindheid, woord en daad. Met goddelike hulp kan ons dan van sukses verseker wees en nie die lewe of enige bykomende seëninge verbeur wat ons hemelse Vader op ons sal uitstort omdat ons vrugbaar is nie.

36. Watter faktore, soos Petrus getoon het, maak vermanings nie oorbodig nie?

36 Ons kan onsself dus gerus herinner aan die belangrikheid van getrouheid. Dit is wat die apostel Petrus wou hê dat die lesers van sy tweede brief moes doen. Hy het geskryf:

“Daarom sal ek nie nalaat om julle altyd hieraan te herinner nie, alhoewel julle dit weet en vasstaan in die waarheid wat by julle is. En ek beskou dit as reg, so lank as ek in hierdie tentwoning is, om julle deur herinnering op te wek, omdat ek weet dat die aflegging van my tentwoning ophande is, soos onse Here Jesus Christus dit ook aan my bekend gemaak het. En ek sal my beywer, dat julle ook gedurig ná my heengaan hierdie dinge in gedagtenis kan hou” (2 Pet. 1:12-15).

Net soos diegene tot wie Petrus sy woorde in die eerste eeu gerig het, weet ons miskien wel hoe belangrik dit is om die “goeie nuus” te verkondig en ’n Christelike persoonlikheid immer beter aan die dag te lê. Ons staan miskien wel vas in Christelike waarheid tot die mate wat ons dit leer ken het. Ons het nogtans die vermanings nodig wat Petrus uiteengesit het, veral wanneer ons met beproewinge of moontlik met die slim argumente van valse leraars te kampe het.

37. Hoe was Petrus ’n goeie voorbeeld van een wat vermaan het?

37 Dit is vir ons goed om in gedagte te hou waarom hy hierdie vermanings neergeskryf het. Die apostel het geweet dat hy binnekort sou sterf, want Jesus Christus het persoonlik vir hom gesê dat hy ’n marteldood sou sterf (Joh. 21:18, 19). Hierdie vooruitsig het Petrus nie swartgallig gemaak nie. Hy het hom voorgeneem om die oorblywende tyd te gebruik om sy broers te versterk en hulle aan te spoor om bedrywig en vrugbaar te wees. Selfs na sy dood kon hulle dus bemoediging put uit sy vermanings en dit gebruik om mekaar op te bou.

38. Wat behoort ons te doen met die vermanings in Petrus se briewe?

38 Mag ons eweneens bemoediging uit Petrus se briewe put en ander versterk deur hulle aandag op sy vermanings te vestig. Mag ons dan voortgaan om die “goeie nuus” te verkondig en vordering te maak in ons pogings om meer soos ons hemelse Vader en sy Seun te wees terwyl ons met vertroue uitsien na die vervulling van Jehovah se wonderlike beloftes.

[Prent op bladsy 20]

“Voeg by julle geloof die deug, en die deug die kennis”

[Prent op bladsy 22]

‘Voeg by die lydsaamheid die godsvrug’

[Prent op bladsy 24]

‘Voeg by die godsvrug die broederliefde’

[Prent op bladsy 26]

‘As hierdie dinge by julle aanwesig is, dan laat dit julle nie ledig of onvrugbaar nie’

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel