Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 6/15 bl. 22-27
  • Waarom ons goeie verwagtinge vir seker verwesenlik gaan word

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom ons goeie verwagtinge vir seker verwesenlik gaan word
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • GOD SE WERK SAL BESLIS TEN GOEDE MEEWERK
  • NOG ’N KLAS IS VOORBESTEM
  • ’n Talryke groot menigte
    Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
  • Het jy beheer oor jou lot?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • ’n Groot menigte voor Jehovah se troon
    Aanbid die enigste ware God
  • Blydskap in “die God wat hoop gee”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 6/15 bl. 22-27

Waarom ons goeie verwagtinge vir seker verwesenlik gaan word

“Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet.”—Rom. 8:28, NAB.

1. Waaromtrent is al hoe meer lede van die sugtende skepping in ons twintigste eeu ingelig, en wat is die toestand van hulle hoop na al hierdie dekades, en waarom?

IN ONS twintigste eeu word al hoe meer lede van die menseskepping ingelig oor die naderende “openbaarmaking van die kinders van God”, en hulle weet nou wat om binnekort te verwag. Ondanks al die ‘gesug en barensweë’ waaraan die menseskepping tot nou toe onderwerp is, verheug hierdie ingeligte, afwagtende persone hulle in die hoop wat hulle koester. Ten spyte van die feit dat daar reeds dekades verloop het sedert hierdie “groot menigte” verskyn het, is hulle hoop ook ’n lewende hoop. Soos ’n “lewensboom” lewe dit in hulle harte, omdat dit gegrond is op God se belofte wat op die bladsye van die Bybel geskrywe staan.—Spr. 13:12; Openb. 7:9; 21:5; Rom. 8:19-22.

2. (a) Vir die regverdiging van watter regmatige posisie van Jehovah God bid die “groot menigte”? (b) Vir watter optrede bid hulle wanneer hulle bid: “Laat u Naam geheilig word”, en wanneer sal dit vervul word?

2 Hulle hoop bowenal op die vroeë regverdiging van die universele soewereiniteit van Jehovah die Skepper. Hulle besef dat hy regverdig is in die wyse waarop hy sy soewereiniteit oor die heelal wat hy geskape het, uitoefen. Daarom is hulle onversetlik gekant teen die “oorspronklike slang”, Satan die Duiwel, wat Jehovah se soewereiniteit onderskat en verkeerd voorstel en wat die grootste deel van die menseskepping daarteen in opstand laat kom het. Hulle bid die Onse Vader tot Jehovah en sê: “Laat u Naam geheilig word” (Matt. 6:9, 10). Hulle bid dus dat Jehovah self sy naam moet heilig. Hy sal hierdie gebed beantwoord gedurende die naderende “groot verdrukking” wat sy klimaks sal bereik in die “oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” by Armageddon, waarna “die oorspronklike slang” en sy hele demon-“saad” gebind en in die afgrond gewerp sal word.—Eseg. 36:23; 38:16, 23; 39:27; Openb. 16:14, 16; 20:1, 2.

3. Watter gebeure sal die “groot menigte” hoopvolle persone volgens Openbaring 7:9, 10 sien?

3 Die “groot menigte” hoopvolle persone sal die groot verdrukking oorleef om die regverdiging van Jehovah se universele soewereiniteit en die heiliging van sy naam te sien. Dit is dus heel gepas dat Openbaring 7:9, 10 hulle profeties uitbeeld waar hulle daarná voor die troon van die geregverdigde God en voor sy selfopofferende Seun, Jesus Christus, staan en dankbaar uitroep: “Ons redding kom van ons God, wat op die troon sit, en van die Lam.”—NAB.

4. Wat doen die “groot menigte” met sagmoedigheid en groot eerbied voor wêreldlike owerhede omdat hulle nie vrees wat wêreldse mense vrees nie?

4 In die huidige situasie voor die “groot verdrukking” uitbreek, wanneer die wêreld lam van vrees sal wees, vrees die “groot menigte” nie die dinge wat wêreldse mense vrees nie. Hulle gehoorsaam onverskrokke die woorde van die apostel Petrus: “Heilig die Here God in julle harte en wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is, met sagmoedigheid en vrees.”—1 Pet. 3:15.

5. Hoe neem hulle deel aan die vervulling van Jesus se profesie in Mattheüs 24:14, en wat is hulle gesindheid teenoor Jesus se bevel in Mattheüs 28:19, 20?

5 Op ’n onselfsugtige wyse deel hulle hulle glorieryke hoop mee aan almal binne bereik. Aldus het hulle ’n aandeel aan die vervulling van Jesus se profesie: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies.” Dit is nou dringender as ooit tevore dat hulle Jesus se bevel gehoorsaam: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle . . . en leer hulle.”—Matt. 24:14; 28:19, 20.

6. Waarom sal ons meer bevoorreg wees as vroeëre Christene wat in vergange eeue ’n soortgelyke hoop gekoester het?

6 Daar is niemand anders wat ’n Bybelgegronde hoop soos ons s’n het nie. Dit is die beste ding wat ons met ander kan deel. Ons hoop is ’n skat waaroor ons ons kan verbly. Aan ons word gesê: “Verbly julle in die hoop” (Rom. 12:12). Ons kan vol vertroue verwag dat dit binnekort verwesenlik gaan word. Ons wag nie tevergeefs met volharding op die verwesenliking daarvan nie. Vroeë Christene kon maar net uitsien na dit wat ons binnekort gaan beleef. Hoe bevoorreg sal ons tog wees om inderdaad die wonderlike verwesenliking daarvan te beleef.

GOD SE WERK SAL BESLIS TEN GOEDE MEEWERK

7, 8. (a) Waarom verwag ons nie te veel nie? (b) Wat weet ons net soos die apostel Paulus in hierdie verband, soos in Romeine 8:28-30 uiteengesit is?

7 Ons koester nie te hoë verwagtinge indien dit in God se Woord opgeskrywe staan nie. Niks wat daar geskryf is, is vir hom onmoontlik nie! Hy kan nie in gebreke bly om sy glorieryke belofte te vervul nie, want hy is die almagtige God. Indien ons hom liefhet en dit deur ons gehoorsaamheid toon, sal hy nie in gebreke bly om al sy goeie beloftes ’n glorieryke werklikheid te maak nie. Net soos die apostel Paulus van die eerste eeu G.J. weet ons dit ook. In Romeine 8:28-30 (NW), wat omstreeks 56 G.J. geskrywe is, het Paulus hierdie versekering gegee:

8 “Ons weet dat God al sy werke laat saamwerk ten goede van die wat God liefhet,a die wat volgens sy voorneme geroep is; want die wat hy eerste erken het, het hy ook voorbestem om gevorm te word na die beeld van sy Seun, sodat hy die eersgeborene onder baie broers sou wees. Die wat hy voorbestem het, is bowendien diegene wat hy ook geroep het; en die wat hy geroep het, is diegene wat hy ook regverdig verklaar het. Ten slotte, diegene wat hy regverdig verklaar het, die het hy ook verheerlik.”

9. Hoe gee die Afrikaanse Bybel en ’n aantal hedendaagse Bybelvertalings Romeine 8:28 weer, maar hoe word hierdie vers in ander hedendaagse vertalings baie soos in die New World Translation vertaal?

9 In die Afrikaanse Bybel lui Romeine 8:28: “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.” ’n Hele aantal hedendaagse vertalings van hierdie Bybelvers lui dieselfde. Maar in Byington se The Bible in Living English lui dit: “En ons weet dat aan diegene wat God liefhet, God alle samewerking ten goede gee, aan diegene wat geroep is soos dit sy voorneme pas.” Rotherham se The Emphasised Bible gee dit so weer: “Ons weet verder dat vir hulle wat God liefhet, God alles ten goede laat meewerk.” Die 1979-vertaling van Die Nuwe Testament en die Psalms vertaal dit: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir die wat Hom liefhet, die wat volgens sy besluit geroep is.”—Kyk ook Lattey se The New Testament en Schonfield se The Authentic New Testament, bladsy 338, paragraaf 2.

10, 11. (a) Wat is die werke wat God tot voordeel van die geroepene laat meewerk? (b) Watter soort persoonlike handelinge moet nie ingesluit word onder “alles” wat in Romeine 8:28 gemeld word nie?

10 Alles wat in Romeine 8:28-30 gemeld word, is God se werke, nie die mens s’n nie. Dit is God se werke wat hy, volgens die verslag, laat meewerk tot die welsyn van die geroepenes wat hom liefhet, want hy wil hê dat hulle die Koninkryk moet verkry waartoe hy hulle geroep het. Maar indien enigiemand wat beweer dat hy ’n gedoopte Christen met die hoop op die hemelse koninkryk is in stryd met sy hemelse roeping optree, kan ons nie verwag dat God sulke optrede tot die oortreder se welsyn sal laat strek of selfs dat sy optrede outomaties tot sy voordeel sal strek nie. Gestel byvoorbeeld iemand wat sê dat hy ’n Christen met die hemelse roeping is, neem gedurende sy vrye tyd te kragtig aan ’n sport deel sodat hy ’n been of enkel breek. Laat God daardie besering tot die sportman se voordeel strek? Of gestel dat ’n geroepe Christen tydens ’n tydperk van swakheid en verkeerde neigings besluit om na ’n ongure buurt te gaan omdat hy nuuskierig is of om te kyk hoe ander mans deur prostitute tot onsedelikheid verlei word en dat hy dan self voor ’n hoer se toenadering swig en hoereer. Kan daar verwag word dat God daardie ervaring tot die sondaar se voordeel moet laat strek? Bring dit iets goeds mee wanneer God aldus op die proef gestel word?

11 Die gevolg van so ’n liggaamlike besering of sedelike skade hang alles daarvan af hoe die betrokke indiwidu gaan reageer op die nadraai van sy onbesonne optrede. Hy leer moontlik ’n les uit so ’n nare ondervinding. Maar maak die feit dat hy ’n les geleer het die hele aangeleentheid een van God se werke, veral aangesien hy dalk barmhartigheid in die saak betoon? Beslis nie! Dit moet nie ingesluit word onder “alles” wat Paulus in Romeine 8:28 meld nie.

12. Van watter aard is al God se werke wat in Romeine 8:29, 30 opgenoem word, en in watter volgorde meld Paulus hulle?

12 Wanneer ons voorts verse 29 en 30 lees en oplet na die werke van God wat daarin gemeld word, kan ons sien dat al God se werke ten opsigte van die voorbestemde, geroepe Christen sonder uitsondering goeies is. Hulle werk ook op elke stadium van God se hantering van sake tot die voordeel van die Koninkrykserfgenaam mee. Waar Paulus die stadiums van agter af opnoem, skryf hy: “Want die wat hy eerste erken het, het hy ook voorbestem om gevorm te word na die beeld van sy Seun, sodat hy die eersgeborene onder baie broers sou wees. Die wat hy voorbestem het, is bowendien diegene wat hy ook geroep het; en die wat hy geroep het, is diegene wat hy regverdig verklaar het. Ten slotte, diegene wat hy regverdig verklaar het, dié het hy ook verheerlik.”

13. (a) Wanneer verheerlik God diegene wat regverdig verklaar is? (b) Op grond waarvan word indiwidue regverdig verklaar?

13 Wanneer verheerlik God hulle? Wanneer hy aan die begunstigdes die heerlikheid van die kennis van sy eersgebore Seun, wat nou tot Sy regterhand verhoog is, gee. God plaas hulle aldus op die weg wat na hemelse heerlikheid lei. Na hierdie aanvanklike werk van God kan hy hulle regverdig verklaar, maar slegs indien hulle soveel geloof in die verheerlikte Jesus Christus stel dat hulle hulself onvoorwaardelik aan God oorgee of toewy.

14. (a) Hoe word ’n persoon een van diegene wat deur God “geroep” is? (b) Hoe word ’n persoon een van diegene wat deur God “voorbestem” is?

14 Hoe roep God nou ’n toegewyde, gedoopte dissipel van sy verheerlikte Seun sodat hy ‘oorgebring kan word in die koninkryk van die Seun van sy liefde’? (Kol. 1:13). God doen dit deur hom met Sy gees as ’n geesverwekte seun van God te verwek. Dit is dan dat God so ’n geestelike seun kan roep of nooi om deel te word van die hemelse koninkryk, wat slegs deur diegene geniet kan word wat uiteindelik tot geeslewe in die hemel opgewek word (1 Kor. 15:43-50). God het voorbestem dat daar ’n liggaam broers aan sy Seun verbonde moet wees wat dieselfde goddelike natuur het en wat gevorm is na die beeld van sy eersgebore Seun, Jesus Christus. Nadat hy geroep is, word die geesverwekte kind van God dus ’n lid van die voorbestemde klas waarin hy tot sy aardse dood getrou moet bly. God het hierdie klas voorbestem, maar hy het geen bepaalde indiwidu wat ’n lid van daardie klas word by name voorbestem nie. God het voorbestem dat daar 144 000 van Christus se hemelse broers sou wees, sonder om enige indiwidue in daardie verband by name te meld.—Openb. 14:1-3.

15. Wanneer en hoe het God die voorbestemdes ‘eerste erken’?

15 In Romeine 8:29, 30 wys die apostel Paulus daarop dat God die klas Christene wat Hy verheerlik of vereer en verhoog, regverdig verklaar, roep en voorbestem, “eerste erken het”. Dit is wat God lank gelede in die tuin van Eden gedoen het toe hy sy profesie aangaande die “saad” van sy eie “vrou” en die oorwinning van daardie “saad” gegee het (Gen. 3:15). Millenniums voordat daardie “saad” in aansyn gekom het, was God dus die eerste een om te besef dat dit nodig is en watter spesiale werk dit moes doen. Sedertdien het God sy verpligting om so ’n “saad” voort te bring “eerste erken”. Dit was dus bo-aan God se lys. Dit wat God ‘sy eerste erkenning’ waardig geag het, het hy dienooreenkomstig in gedagte en hart gehou reg tot by die voortbrenging van daardie “saad” in die vorm van sy seun Jesus Christus en die getroue geesverwekte dissipels van sy Seun. God het dit deurentyd tot by die verskyning van daardie “saad” voorsien en spesiaal gunstige erkenning daaraan verleen.

16. (a) Hoe doen elk van “al sy werke” wat in Romeine 8:28-30 opgenoem word, sy deel? (b) Wat is dus seker vir almal wat “volgens sy voorneme geroep is”?

16 Wie se “werke” word dus deurgaans vir ons in Romeine 8:28-30 uiteengesit? Dit is God se “werke”. En aangesien hy ’n konsekwente God is wat in volmaakte harmonie met homself en al sy handelinge is, laat hy “al sy werke . . . saamwerk ten goede van diegene wat God liefhet”. Nie een van “al sy werke” is strydig of uit harmonie met al sy ander doelgerigte werke nie. Hierdie werke verloop ordelik daar die een tot die ander lei en daarvoor voorberei. God se voorneme is groots, en hy weet presies hoe om dit met welslae te volbring. “Diegene wat volgens sy voorneme geroep is”, kan dus daarvan seker wees dat hy nooit sal faal nie. Indien hulle getrou bly en liefdevol met hom saamwerk, sal hulle gewis ’n rol by die volbrenging van sy voorneme speel deur saam met Jesus Christus ’n daadwerklike aandeel aan sy hemelse koninkryk te hê.

NOG ’N KLAS IS VOORBESTEM

17. Watter liefdevolle voorneme het God in verband met die geroepe voorbestemdes gehad, en sedert wanneer?

17 God het ’n liefdevolle voorneme wat hy wil vervul deur middel van die “geroepenes” wat hy “eerste erken het”. Dit is baie duidelik gemaak 2 083 jaar na Adam se skepping, naamlik in die jaar 1943 v.G.J. God het toe vir die getroue aartsvader Abraham gesê: “In jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.” Hierdie seën het dus die wêreld ingesluit en sou deur ’n “saad” van Abraham verkry word (Gen. 12:1-3; 22:17, 18, NW). Hierdie voorbestemde “saad” sou uit Jesus Christus en sy 144 000 ‘geroepe’ dissipels bestaan (Openb. 7:1-8; 14:1-3; Gal. 3:16, 29). God se eenvoudige belofte aan Abraham getuig van Sy voorkennis van ’n “saad”-klas sonder dat hy gesê het hoeveel daar van hulle sou wees. Slegs die laaste boek van die Bybel verstrek die getal.

18. Wat het God indiwidue en groepe in die ou tyd voor Christus laat illustreer of profeties laat afbeeld?

18 In die ou tyd voor Christus was daar indiwidue en groepe wat vriendskap betoon het aan Abraham se natuurlike afstammelinge. God het hulle gebruik as tipes of profetiese afbeeldings van mense in ons eie tyd wat vriendskap sou betoon en hulle sou vereenselwig met die klein oorblyfsel geroepenes wat nog op aarde is.

19. Hoe beskryf Openbaring 7:9-14 die bedrywige metgeselle van die oorblyfsel ‘geroepe’ dissipels van Christus, en watter voorreg sal hulle in die nabye toekoms geniet?

19 Die heel laaste boek van die Bybel, wat omstreeks die jaar 96 G.J. deur die Christenapostel Johannes geskryf is, het daardie bedrywige metgeselle van die oorblyfsel ‘geroepenes’ voorspel en as ’n tallose “groot menigte” uitgebeeld. Lede van hierdie “groot menigte” sal bewaar word deur die komende “groot verdrukking”, ja, deur die “oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” by Armageddon en sal ’n nuwe orde op ’n gereinigde aarde onder die duisendjarige bewind van Jesus Christus en sy 144 000 geroepenes binnegaan. Die profetiese beskrywing van hierdie “groot menigte” wat in Openbaring 7:9-14 opgeteken is, is in 1935 mondelings en deur middel van die gedrukte bladsy verduidelik.—Openb. 16:14, 16.

20. Hoeveel tipes en profesieë wat op die groot menigte slaan, is sedert 1935 in ons publikasies uiteengesit, en waarom is hulle hoop uniek en nogtans seker van vervulling?

20 Gedurende die 45 jaar sedertdien is ten minste 42 tipes of afbeeldings van daardie “groot menigte” Armageddon-oorlewendes in die publikasies van die Wagtoringgenootskap uiteengesit. (Kyk bladsye 368, 369 van U kan Armageddon oorlewe in God se nuwe wêreld in, wat in 1959 in Afrikaans gepubliseer is.) Al hierdie tipes en profesieë toon dat God slegs goeie dinge met sy voorbestemde ,.groot menigte” voorgehad het. Dit is omdat ook hulle hom liefhet. Baie van hulle was bereid om hulle onverbreeklike liefde vir hom selfs tot ’n martelaarsdood te bewys. Die hoop wat aan die “groot menigte” voorgehou is, is beslis nie een wat aan die oorgrote meerderheid van die menseskepping voorgehou is nie. Alhoewel hulle hoop ’n unieke en wonderlike hoop is, sien hulle met vertroue uit na die vroeë verwesenliking daarvan. Hierdie lewende hoop van hulle sal nooit teleurstel nie, want die God wat hierdie hoop gee, is getrou. Sy belofte aan hulle is betroubaar en sal vir seker vervul word: “Hy wat op die troon sit, sal sy tent oor hulle oopspan. Hulle sal nie meer honger en nie meer dors hê nie, en nooit sal die son of enige hitte op hulle val nie; want die Lam wat in die middel van die troon is, sal hulle laat wei en hulle na lewende waterfonteine lei, en God sal alle trane van hulle oë afvee.”—Openb. 7:15-17.

[Voetnoot]

a Hierdie lesing is volgens die Vatikaanse Manuskrip nr. 1209, die Alexandrynse Manuskrip en Papirus nr. 46. Kyk The Syriac New Testament deur dr. James Murdock.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel