‘’n Liefde so sterk soos die dood’
“Liefde is sterk soos die dood, . . . sy gloed is ’n gloed van vuur, ’n vlam van die HERE.”—Hoogl. 8:6.
1, 2. Hoe het die eerste huwelik tot stand gekom en waarom sou die man en vrou mekaar aanhang?
DIT was hulle vreugdevolle troudag. En dit het in die paradys plaasgevind. Wat kon aangenamer wees? Jehovah het die eerste man, Adam, diep laat slaap. Toe het God een van die man se ribbebene geneem, die wond toegemaak en die ribbebeen gebruik as ’n basis om die eerste vrou te vorm.
2 Toe die volmaakte, pragtige helper en komplement na Adam gebring is, was hy verheug—maar nie stomgeslaan nie. Hy was so geroer dat poëtiese gedagtes oor sy lippe geborrel het: “Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees. Sy sal mannin genoem word, want sy is uit die man geneem” (Gen. 2:20-23). Ons word nie meegedeel hoe die vrou op daardie troudag gevoel het nie, hoewel daar later van die sondige en onvolmaakte vrou gesê is: “Na jou man sal jou begeerte wees” (Gen. 3:16). In haar volmaaktheid moes die eerste vrou, Eva, se maat haar beslis behaag het. Omdat sy uit die man se liggaam geneem is, sou hulle mekaar aanhang. God het die saak so gestel: “Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.”—Gen. 2:24; Matt. 19:4, 5.
3. Waarom was die huwelik nie bloot ’n formele reëling ontbloot van emosie nie?
3 Die huwelik, wat deur die Skepper in die Tuin van Eden ingestel is, was bedoel om ’n permanente verbintenis te wees. Dit het voorsiening gemaak vir kameraadskap en wedersydse hulp, en die basiese doel daarvan—die voortbring en grootmaak van lede van die mensdom—was ’n aangename vooruitsig (Gen. 1:27, 28; Matt. 19:6-9). Maar die huwelik moes nie bloot ’n formele reëling ontbloot van emosie wees nie. Mense is geskep met die vermoë om liefde te betoon—in die geval die huwelik, die innige toegeneentheid vir ’n persoon van die ander geslag wat die emosionele aansporing tot huwelikseenheid is, asook die hartlike gehegtheid wat ’n gesin saamsnoer.
4. Watter vrae kan met die oog op vandag se huweliksprobleme aangaande liefde en die huwelik gestel word?
4 Huwelikslewe in die paradys lyk vandag miskien baie idealisties. In ’n onvolmaakte menslike gemeenskap is talle gesinne immers besig om te verbrokkel. Dit lyk so dikwels of natuurlike liefde verkoel en dan word die huwelik ontbind. ’n Persoon wonder dalk: Is innige, blywende liefde werklik moontlik tussen huweliksmaats? Of is dit naïef om te dink dat wedersydse liefde en respek blywend kan wees?
“LIEFDE IS STERK SOOS DIE DOOD”
5. Wat is kortliks die inhoud van die Hooglied van Salomo, en wat openbaar hierdie Bybelboek oor die liefde tussen ’n man en ’n vrou?
5 Ware liefde tussen ’n man en ’n vrou kan uitermate sterk, vas en onversetlik wees. Hoe goed word dit tog getoon in ’n poëtiese boek van die Heilige Skrif, een wat sowat 3 000 jaar gelede deur wyse koning Salomo van Israel geskryf is! Dit word die Hooglied van Salomo genoem en vertel van die onwankelbare liefde wat tussen ’n herder en ’n boeremeisie van die dorp Sunem (Sulam) bestaan het. Hierdie “hooglied” toon ook dat die koning, met al sy prag en rykdom, nie daarin kon slaag om die liefde van daardie mooi Sulammitiese meisie te verower nie.—Hoogl. 1:1-14; 8:4.
6. Waarom is die Hooglied van Salomo ’n aansporing vir lede van Jesus Christus se “bruid” of geesverwekte gemeente?
6 Hierdie “hooglied” lig die skoonheid van konstante en duursame liefde toe. Sulke onwankelbare liefde word gesien in die verhouding tussen Jesus Christus en sy “bruid” of geesverwekte gemeente (Ef. 5:25-32; Openb. 21:2, 9). Die Hooglied van Salomo is dus ’n aansporing vir diegene wat bely dat hulle lede van daardie “bruid” is, om aan hulle hemelse Bruidegom getrou te bly (2 Kor. 11:2). Maar hierdie geïnspireerde boek ‘spreek boekdele’ oor die reine liefde wat tussen ’n godvresende man en vrou kan bestaan.
7. Watter faktore moet ongetroude persone wat aan Jehovah toegewy is in ag neem wanneer hulle ’n huweliksmaat soek?
7 Ter toeligting: Die Hooglied van Salomo toon duidelik dat dit nie moontlik is om sommer vir enigiemand romantiese liefde te hê nie. Die Sulammitiese meisie het byvoorbeeld glad nie tot koning Salomo aangetrokke gevoel nie en sy het gesê: “Ek besweer julle, dogters van Jerusalem, by die gemsbokke of by die takbokke van die veld, om nie die liefde wakker te maak of op te wek voordat dit die liefde behaag nie” (Hoogl. 2:7; 3:5). Hoe verstandig is dit dus vir ’n ongetroude persoon om geduldig te wag op die koms van ’n indiwidu wat hy of sy waarlik kan liefhê! En vir diegene wat aan Jehovah toegewy is, moet hierdie toekomstige huweliksmaat ’n man of ’n vrou wees wat ook aan God toegewy en getrou is (Deut. 7:3, 4; Esra 9:1-15; 1 Kor. 7:39). Dan sal die aanbidding van Jehovah van die allergrootste belang vir albei huweliksmaats wees. Hulle sal die lewe saam tegemoet kan gaan in huweliks- en geestelike eenheid, waarsonder daar ’n droewige leemte sou wees.
8. Hoe was die Sulammitiese meisie soos ’n muur en nie soos ’n deur nie?
8 Voordat daar met ’n medegelowige getrou word, moet ’n persoon wat God se goedkeuring wil wegdra egter sy of haar reinheid bewaar. Die broers van die Sulammitiese meisie was besorg oor haar kuisheid, selfs terwyl sy nog baie jonk was. In haar prille jeug het een van die meisie se broers van haar gesê: “Ons het ’n klein sustertjie wat nog nie borste het nie; wat moet ons met ons suster maak die dag as sy gevra word?” ’n Ander broer het geantwoord: “As sy ’n muur is, sal ons ’n silwerrand daarop bou, en as sy ’n deur is, sal ons dit met ’n sederplank toeslaan.” Koning Salomo het probeer om die Sulammitiese meisie se liefde te wen, maar sy was nie onbestendig op die gebied van liefde en kuisheid, soos ’n swaaiende deur wat met ’n plank toegeslaan moes word om te voorkom dat dit oopswaai vir ’n ongewenste of ongure karakter nie. Sy het nie geswig voor die verleiding van ’n koning nie, maar het soos ’n muur vasgestaan teen alle materiële aanloklikhede, het bewys van watter staal sy gemaak is en kon nou erken word as ’n ryp vrou met deugsame beginsels (Hoogl. 8:8-10). Wat ’n voortreflike voorbeeld vir ongetroude, godvresende vroue van vandag!
9. Hoe het die herder wat die Sulammitiese meisie liefgehad het haar beskou?
9 Die nederige Sulammitiese meisie was oorbeskeie, maar in die oë van die herder wat haar liefgehad het, was sy iemand besonder. “Ek is ’n narsing van Saron, ’n lelie van die dale”, het sy gesê. Nie vir die herder nie, want hy het geantwoord: “Soos ’n lelie tussen die dorings, so is my vriendin onder die dogters” (Hoogl. 2:1, 2). Dit was nie blote verliefdheid nie. Die meisie het Jehovah gedien, was bekwaam en bevallig, en het baie gehad wat haar aanbeveel het. Dui dit nie daarop dat jong ongetroude Christinne moet leer om die verantwoordelikhede van vroue na te kom terwyl hulle hulle ook daarop toelê om hulle geestelikheid te verhoog nie?
10. Hoe het die Sulammitiese meisie die herder beskou?
10 Maar let op die Sulammitiese meisie se agting vir die herder. “Soos ’n appelboom onder die bome van die bos”, het sy gesê, “so is my beminde onder die seuns” (Hoogl. 2:3). Hy was nie maar net nog een van die talle bome in ’n bos nie. Haar herder was toegewy aan Jehovah, het begeerlike karaktertrekke en vermoëns gehad en moes gewis ’n geestelikgesinde jong man gewees het. (Vergelyk 1 Korinthiërs 2:6-16.) Ja, vir die pragtige Sulammitiese meisie was hy “soos ’n appelboom onder die bome van die bos”. Moet ’n ongetroude Christen homself nie daarop toelê sodat sy beminde hom eendag so kan beskou nie?
11. Hoe kom opregte liefde met die dood en die doderyk ooreen, soos blyk uit die woorde van die Sulammitiese meisie?
11 Daar bestaan geen twyfel dat die Sulammitiese meisie en die jong man mekaar hartgrondig liefgehad het nie. Die meisie het sake voorwaar goed gestel toe sy vir haar beminde herder gesê het: “Dra my soos ’n seëlring op u hart, soos ’n seëlring op u arm: want liefde is sterk soos die dood, die liefdes-ywer is hard soos die doderyk, sy gloed is ’n gloed van vuur, ’n vlam van die HERE [Jehovah]. Groot waters kan die liefde nie uitblus en riviere dit nie oorstroom nie; al gee ’n man [soos Salomo] ook al die goed van sy huis vir die liefde, hulle sou hom diep verag” (Hoogl. 8:6, 7). Hoe waar tog! Liefde kan nie met materiële dinge gekoop word nie. Maar ware liefde is so sterk soos die dood, wat die lewens van die veroordeelde mensdom onfeilbaar opeis. Ja, en sulke liefde dring op net so ’n onverbiddelike wyse op uitsluitlike toewyding aan as wat Sheol of die doderyk hulle liggame eis. Maar wat van die ‘vlam van Jehovah’? ’n Bybelgeleerde het eenkeer gesê dat “die liefdevolle vlamme wat in die mensehart aangesteek word, afkomstig is van Jehovah”, die God van liefde wat mense hierdie wonderlike vermoë gegee het (1 Joh. 4:8). Ware liefde is voorwaar onfeilbaar, lojaal, duursaam. (Vergelyk 1 Korinthiërs 13:8.) Hoe verstandig is dit tog vir diegene wat graag wil trou om te wag en hulle te beywer vir ‘’n liefde so sterk soos die dood’!
HOE LIEFDE GROEI
12. Watter ervarings of faktore in die lewe kan die liefde tussen ’n man en sy vrou laat groei?
12 Maar liefde kan groei namate die lewens van ’n man en vrou al hoe meer ineengevleg raak. Op die rype ouderdom van 40 was Isak glad nie ’n verliefde penkop toe hy, nie ’n blote meisie nie, maar die “jong vrou” Rebekka as sy vrou geneem het nie. “En hy het haar liefgekry” (Gen. 24:57-67, NW). Met verloop van jare deel godvresende huweliksmaats geestelike dinge met mekaar. Hulle bied die lewe se beproewings en probleme saam die hoof. Hulle gesamentlike strewes laat mooi herinneringe wat hulle nader aan mekaar bring. Selfs eenvoudige dinge—moontlik aangename gesprekke wanneer hulle saam deur die woude en velde wandel—word onvergeetlik. Die pragtige Sulammitiese meisie het ook daarna gesmag om saam met haar herder deur die veld te loop! (Hoogl. 2:8-14). En nadat hulle getroud is, het hulle dit seker dikwels gedoen.
13. Waarom het ’n man rede om “’n deugsame vrou” lief te hê?
13 Maar daar is natuurlik ander gegronde redes waarom liefde groei. “’n Deugsame vrou is die kroon van haar man”, wat beslis rede het om haar lief te hê (Spr. 12:4). Volgens koning Lemuël (moontlik Salomo) is “’n deugsame vrou” kosbaarder as baie kosbare ornamente wat van kleurryke korale gemaak is. Sy is betroubaar en beloon haar man met “goed, en nie kwaad nie, al die dae van haar lewe” (Spr. 31:1, 10-12). Met gewillige hande maak sy warm kledingstukke vir haar gesin (Spr. 31:13, 19, 21-24). Sy sorg net so pligsgetrou dat haar huisgesin gesonde kos kry (Ve. 14, 15). Baie aspekte van die behartiging van ’n huisgesin kan met veiligheid aan haar toevertrou word, want sy is hardwerkend en waarlik bekwaam (Ve. 16-18, 27). So ’n vrou sê vriendelike dinge, is vrygewig en doen goed selfs aan indiwidue buite die gesinskring (Ve. 20, 26). Indien die fisiese skoonheid van ’n godvresende vrou met verloop van jare dus afneem, neem haar innerlike skoonheid toe en maak dit haar by haar dierbares bemind. “Die bevalligheid is bedrog, en die skoonheid is nietigheid”, sê Lemuël, maar “’n vrou wat die HERE vrees, sy moet geprys word.”—Spr. 31:30; 1 Pet. 3:3, 4.
14. Watter karaktertrekke van ’n godvresende man beweeg ’n Christen-eggenote om diepe eerbied vir hom te hê?
14 Die godvresende eggenoot kom andersyds sy hoofskapsverantwoordelikhede ten volle na, maar nie soos ’n tiran nie (Gen. 3:16; Mal. 2:14-16; 1 Kor. 11:3). Hy bly lief vir sy vrou en betoon dit op verskeie maniere. Hy word byvoorbeeld nie teen haar verbitter nie (Kol. 3:19). Hy werk hard om in die fisiese behoeftes van sy vrou en ander dierbare naasbestaandes te voorsien (1 Tim. 5:8). Die godvresende eggenoot betoon inderdaad aan sy vrou dieselfde soort liefdevolle sorg wat Jesus Christus aan Sy gemeente betoon (Ef. 5:25-32). Watter Christen-eggenote sal nie diepe eerbied vir so ’n man hê nie?
15. Watter soort verhouding sal die man en vrou geniet indien hulle Bybelse standaarde vir die huwelik handhaaf?
15 Dit sal voortdurende inspanning, toepassing van die Skrif, gebed en vertroue op Jehovah verg om die standaarde te handhaaf wat so pas gemeld is. Maar in die huweliksmilieu wat aldus geskep word, sal liefde gewis groei. Die man sal nie op respek hoef aan te dring nie. Dit sal natuurlik betoon word deur sy geestelikgesinde vrou wat hy goed behandel. Sy sal ook nie hoef te kla: ‘Jy het my nie lief nie!’ Watter Christen-eggenoot kan anders as om ’n deugsame en godvresende vrou lief te hê? (Vergelyk Rigters 14:15-17 met Rut 3:11.) In so ’n gesin waar elke maat die behoorlike Skriftuurlike rol vervul, sal dit nie moeilik wees om ag te slaan op die apostel se raad nie: “In alle geval moet elkeen van julle [mans] ook afsonderlik sy eie vrou liefhê net soos homself, en die vrou moet die man eerbiedig.”—Ef. 5:33.
“VERHEUG JOU OOR DIE VROU VAN JOU JEUG”
16. Hoe staan Spreuke hoofstuk 5 getrouheid aan ’n persoon se huweliksmaat voor?
16 Die huwelik was bedoel om vreugde aan mense te verskaf. Maar om vreugde te smaak en die huweliksliefde te laat voortduur, moet ’n persoon aan sy huweliksmaat getrou bly. In beeldspraak gebruik die Skrif die uitdrukking “fontein” om ’n bron van geslagsgenot aan te dui, iets wat nie buite die huwelik gesoek moet word nie. Die liefde tussen man en vrou sluit natuurlik tereg geslagsgemeenskap in, maar almal wat buite die huweliksverbintenis is, moet van die intiemhede daarvan uitgesluit word. Die man word heel gepas meegedeel: “Drink water uit jou eie reënbak . . . Sal jou fonteine buitentoe oorstroom . . . ? Hulle moet vir jou alleen wees en nie vir ander saam met jou nie. Mag jou fontein geseënd wees, en verheug jou oor die vrou van jou jeug—die lieflike wildsbokkie en aanvallige steenbokkie [moontlik met verwysing na grasie] . . . mag jy in haar liefde gedurigdeur bedwelmd wees.”—Spr. 5:15-23; 7:6-23.
17. Watter uitwerking sal tere agting vir mekaar op huweliksmaats hê?
17 Huweliksmaats word deur die Skrif verplig om met mekaar geslagsomgang te hê. Dit is een manier om innige liefde te betoon, en wanneer dit ’n natuurlike uitvloeisel van hartgrondige liefde binne die huwelik is, kan dit met ’n pragtige skildery vergelyk word. Hoe noodsaaklik is dit dan dat godvresende maats nie die toneel bederf nie en dat hulle gebruike vermy wat die huweliksbed sal besmet! (Hebr. 13:4). Tere agting vir mekaar in sulke intieme sake sal help om ’n pynlike verbrokkeling van die huwelik te voorkom en sal ook ’n beskerming wees sodat ’n persoon homself nie aan onsedelikheid skuldig maak nie.—1 Kor. 7:1-5.
18. Waarvan moet die godvresende man bewus wees terwyl hy probeer om in sy vrou se emosionele en verwante behoeftes te voorsien?
18 Die godvresende man sal dus bedagsaam probeer om in sy vrou se emosionele en verwante behoeftes te voorsien, maar met die bedwang wat pas by ’n indiwidu wat God se gees het en die vrug van selfbeheersing aan die dag lê (Gal. 5:22). As die Christen-eggenoot haar fisiese en biologiese beperkings in ag neem, net soos Jehovah dit gedoen het in die Wet wat aan Israel gegee is, sal hy “verstandig” optree en “aan die vroulike geslag as die swakkere, eer bewys”.—Lev. 18:19; 20:18; 1 Pet. 3:7.
19. (a) In watter soort huislike milieu is dit ’n seën om kinders groot te maak? (b) Watter soort tugtiging het kinders nodig?
19 Mettertyd sal die huwelik dalk kinders, “’n erfdeel van die HERE”, voortbring (Ps. 127:3). Dit is ’n seën wanneer hulle grootgemaak word in ’n huislike milieu wat gekenmerk word deur sterk liefde tussen hulle ouers en ’n groot agting vir geestelike dinge. Jongmense sal weliswaar raad en teregwysing nodig hê, “maar hy wat hom [sy kind] liefhet, besoek hom met tugtiging” (Spr. 13:24). Wanneer ouers hulle kinders op ’n liefdevolle wyse volgens die voorskrifte van die Bybel tugtig, sal dit groot voordele meebring.
VOLG DIE SULAMMITIESE MEISIE NA WAT UITSLUITLIKE TOEWYDING BETREF
20. Watter liefde en toewyding oortref die liefde tussen enige man en vrou?
20 Die Sulammitiese meisie se liefde vir haar herder was ‘so sterk soos die dood’, en die liefde van godvresende persone wat in die eg verbind is, kan vandag net so innig wees. Maar daardie meisie het ook gesê: “Aandrang op uitsluitlike toewyding is so onversetlik soos Sheol” (Hoogl. 8:6, NW). Jesus se liefde vir die liggaam van sy gesalfde volgelinge oortref die wat tussen enige man en vrou bestaan, en die toewyding van daardie gemeente aan Christus is so onversetlik soos Sheol. Maar Jesus het liefdevol nie net gesterf vir diegene wat sy hemelse “bruid” sal word nie, maar ook vir sy “ander skape”, wat nou verteenwoordig word deur ’n “groot menigte” met die geseënde vooruitsigte van die ewige lewe op aarde.—Joh. 10:16; Openb. 7:9.
21. (a) Watter merkwaardige voorbeeld het die Sulammitiese meisie gestel? (b) Hoe word ons bevoordeel as ons peins oor wat Jesus vir ons gedoen het?
21 Vir al hierdie knegte van Jehovah het die Sulammitiese meisie ’n besonder merkwaardige voorbeeld van uitsluitlike toewyding gestel. Deur te peins oor wat Jesus deur sy losprysoffer vir ons gedoen het, en deur na te dink oor sy liefdevolle betuigings en beloftes, groei ons liefde vir hom. Dit beskerm ons weer teen selfsugtige, materialistiese, ongeestelike strewes. Dit versterk ook ons band met Jehovah, die God wat dit vir mense moontlik gemaak het om ’n liefde te hê wat ‘so sterk soos die dood’ is.
[Prent op bladsy 19]
Die Skepper het bedoel dat die huwelik ’n permanente verbintenis moet wees
[Prent op bladsy 21]
Ware liefde tussen ’n man en ’n vrou kan uitermate sterk wees
[Prent op bladsy 22]
“En hy het haar liefgekry”