Hoe om tot Jehovah te bid om verhoor te word
“Hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ’n beloner is van die wat Hom soek.”—Hebr. 11:6.
1-3. (a) Wat leer die ondervinding van ’n dogtertjie ons? (b) Watter les bevat dit vir alle ouers?
DIT het in ‘n Koninkryksaal van Jehovah se Getuies gebeur. Ondanks die feit dat haar moeder ’n paar keer kwaai na haar gekyk het en vir haar gefluister het om stil te sit, het die dogtertjie haar nie gedra nie. Die moeder het toe vir die vader beduie om oor te neem, en hy het. Met sy dogtertjie aan die hand het hy na die vertrekkie aan die agterkant van die saal geloop. Omdat sy besef het wat op haar wag, het die dogtertjie uitgeroep: “O Jehovah, help my asseblief!”
2 Mense lag wanneer hulle hierdie staaltjie hoor, en hulle het rede daartoe. Maar is dit net snaaks, of bevat dit ’n les? Dit bevat voorwaar ’n les. Die dogtertjie het geweet wat die naam van God, die Skepper, is, naamlik Jehovah, iets wat baie min dogtertjies weet. Daar is vir haar geleer hoe waardevol gebed is en dat ons ons tot Jehovah kan wend vir hulp in moeilike tye. Dit is nou wel snaaks dat sy Jehovah sou vra om haar teen nodige dissipline te beskerm. Maar is dit net naïewe dogtertjies wat sulke versoeke rig? Glad nie. Die nasie Israel het keer op keer presies dieselfde gedoen, veral in die dae van die rigters. Herhaaldelik, wanneer hulle verdiende straf ontvang het, het hulle tot God gebid vir verligting.—Rigt. 2:11-18; 4:1-3, 23, 24; 10:6-16; 11:32, 33.
3 Dit bevat ’n les vir alle Christenouers. Begin vroeg in die lewe om geloof in Jehovah God by julle kinders in te skerp. Help hulle om te besef en te verstaan dat Jehovah ’n werklike persoon is wat gebede hoor en verhoor. Leer hulle van kleins af hoe belangrik gebed is. Dit sal baie daartoe bydra dat kinders Godvresend is wanneer hulle die ouderdom van aanspreeklikheid bereik.—Vergelyk Psalm 22:10, 11; Spreuke 22:6; 2 Timotheüs 3:14, 15.
WAAROM JY AANDAG AAN JOU GEBEDE MOET SKENK
4, 5. (a) Watter vrae in verband met gebed kan ons ons gerus afvra? (b) Waarom is sulke vrae baie ter sake?
4 Maar watter rol speel gebed in jou lewe? Hoe dikwels bid jy? Is jy dikwels te besig selfs om te bid? Of rammel jy moontlik jou gebede werktuiglik af asof dit ’n taak, ’n plig is wat uitgevoer moet word? Wat is die gehalte van jou gebede?
5 Hierdie gedagteprikkelende vrae is ter sake. Selfs onder diegene wat sê dat hulle Jehovah se knegte is, is daar persone wat nie gereeld bid nie. Ander meen dat hulle gebede oppervlakkig en niksseggend is. Dit is iets wat ’n Christen nie ligtelik moet beskou nie, want die gehalte van sy gebede weerspieël sy geestelike toestand. ’n Persoon se geestelike gesondheid hang weer grootliks af van sy bewustheid van sy geestelike behoefte en of hy iets daaromtrent doen (Matt. 5:3, NW). Deur aandag aan die gehalte van sy gebede te skenk, kan die indiwidu terselfdertyd sy geestelike toestand verbeter.
WAAROM ONS JEHOVAH MET VERTROUE KAN NADER
6. Waarom kan ons met vertroue tot God bid met die oog op wat die Bybel in Psalm 65:3, Filippense 4:6 en 1 Thessalonicense 5:17 sê?
6 Waarom kan ons Jehovah met vertroue nader en verwag dat hy na ons gebede gaan luister? Eerstens, omdat hy homself as die “Hoorder van die gebed” identifiseer en ons herhaaldelik beveel om te bid (Ps. 65:3). Sy Woord bevat bevele soos: “Bid, dat julle nie in versoeking kom nie” (Matt. 26:41). “Bid vir mekaar” (Jak. 5:16). “Volhard in die gebed” (Rom. 12:12). “Bid sonder ophou” (1 Thess. 5:17). “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.”—Filip. 4:6.
7. Wie was ’n paar voorbeeldige gebedsmanne?
7 Die Bybel bevat ook voorbeelde, in werklikheid, indirekte bevele dat ons moet bid. Van Genesis tot Openbaring wemel die geïnspireerde verslag van voorbeelde van gebedsmanne. Ons lees van Abraham wat tot Jehovah gebid het (Gen. 12:8). Vanaf sy doop in die Jordaan totdat hy aan die folterpaal gehang het, het Jesus Christus herhaaldelik tot sy Vader gebid (Luk. 3:21; 23:46). Die apostel Paulus meld die onderwerp van gebed letterlik dosyne kere in sy briewe. Hy sê herhaaldelik dat daar vir ander gebid moet word, spoor ander aan om te bid of vra dat ander vir hom moet bid (Filip. 1:9-11; Ef. 6:18, 19). Die boek Openbaring, wat deur die apostel Johannes geskryf is, sluit met twee gebede.—Openb. 22:20, 21.
8. Weens watter geskil kan ons God met vertroue nader?
8 ’n Tweede rede waarom ons God met vertroue in gebed kan nader, is omdat sy naam by die saak betrokke is. Dit sluit sy naam of reputasie as die “Hoorder van die gebed” in. En aangesien sy naam oor sy volk uitgeroep is, sal waarnemers, wanneer dit lyk asof hy hulle versaak het, dit verkeerd vertolk as ’n blyk van Jehovah se onvermoë om sy eiesinnige knegte te help. Dit sal sy naam smaad aandoen. Ons lees dus in Psalm 79:9: “Help ons, o God van ons heil, om die eer van u Naam, en red ons en doen versoening oor ons sondes ter wille van u Naam”. Moses, Josua, Dawid en Hiskia het almal iets soortgelyks gebid (Ex. 32:11, 12; Jos. 7:8, 9; 2 Kon. 19:15-19; Ps. 25:11). En die profeet Daniel het soos volg gesmeek: ‘O Jehovah, merk op en doen dit, vertoef tog nie, want u Naam is oor u stad en u volk uitgeroep’ (Dan. 9:19). Ja, indien ons werklik Jehovah se naam dra, kan ons op daardie grondslag by hom pleit.
9. Waarom kan ons met vertroue by God om genade en vergifnis pleit?
9 ’n Derde rede waarom ons kan verwag dat Jehovah ons gebede sal hoor. is dat hy bewus is van ons beperkings en ons wil help. Die psalmis Dawid het dit soos volg gestel: “So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons. Soos ’n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees. Want Hy, Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is.” (Ps. 103:12-14; kyk ook Psalm 51:7.) Wanneer ons deur ’n fout oorval word, wanneer ons dinge verbrou of ’n ernstige fout begaan, kan ons by Jehovah God pleit op grond van ons swakhede en onvolmaakthede.
10. Waarom kan ons God met vertroue nader, soos toegelig in die geval van Job, Paulus en ander?
10 Nog ’n belangrike rede waarom ons Jehovah met vertroue kan nader, is dat hy ons gebede sal hoor omdat ons ons onkreukbaarheid handhaaf. Job het ’n welsprekende pleidooi met daardie strekking gelewer: “Laat Hy my dan weeg op ’n regte weegskaal, sodat God my onskuld kan weet!” (Job 31:6). Paulus het eweneens vir sy medegelowiges gevra: “Bid vir ons, want ons is oortuig dat ons ’n goeie gewete het, omdat ons in alles goed wil wandel” (Hebr. 13:18). Die apostel Johannes se woorde toon ook dat ons in God se oë regskape moet wees: “Geliefdes, as ons hart ons nie veroordeel nie, dan het ons vrymoedigheid teenoor God; en wat ons ook al bid, ontvang ons van Hom, omdat ons sy gebooie bewaar en doen wat welgevallig is voor Hom.”—1 Joh. 3:21, 22.
BID DEUR JESUS CHRISTUS, NIE TOT HOM NIE
11. Deur wie alleen kan ons God in gebed nader?
11 Hoe kan ons toegang tot die groot “Hoorder van die gebed” verkry? Hy het bepaal dat dit slegs deur Jesus Christus is. Daar is slegs een Middelaar tussen God en die mense, en een Hoëpriester, Jesus Christus (1 Tim. 2:5; Hebr. 7:25, 26). Jesus self het dit baie duidelik gestel: “Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Joh. 14:6). “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle die Vader sal vra in my Naam, sal Hy julle gee. . . . Bid en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.”—Joh. 16:23, 24.
12, 13. (a) Watter vrae kan gestel word met die oog op wat die apostel Johannes en Stefanus gedoen het? (b) Maar waarom kan die voorbeelde van Stefanus en die apostel Johannes nie as redes gebruik word om regstreeks tot Jesus te bid nie?
12 Party persone wonder dalk: ‘Kan ons nie ook regstreeks vir Jesus dinge vra nie? Het die dissipel Stefanus Jesus nie regstreeks in gebed aangespreek nie, en het die apostel Johannes nie dieselfde gedoen nie?’ Ja, net voordat Stefanus gesterf het, het hy gesê: “Here Jesus, ontvang my gees!” (Hand. 7:59). En die apostel Johannes het gebid: “Amen, ja kom, Here Jesus!”—Openb. 22:20.
13 Dit is egter goed om die omstandighede in ag te neem. Stefanus het byvoorbeeld ’n gesig gehad, want hy het gesê: “Kyk, ek sien die hemele geopend en die Seun van die mens aan die regterhand van God staan.” Omdat hy Jesus in ’n gesig gesien het, kon Stefanus die Seun van God regstreeks aanspreek (Hand. 7:56). Die apostel Johannes het eweneens ’n gesig van hemelse dinge gehad (Openb. 1:1, 10; 4:1, 2). Terwyl die apostel hierdie gesig gehad het, het hy Jesus gesien en hom hoor sê: “Hy wat dit getuig, sê: Ja, Ek kom gou” (Openb. 22:20). Johannes het dus geantwoord op wat hy Jesus pas tevore hoor sê het. Sulke gevalle kom ooreen met wat plaasgevind het toe die vervolger Saulus van Tarsus op pad na Damaskus was. Jesus Christus het hom aan Saulus geopenbaar en gesê: “Saul, Saul, waarom vervolg jy My?” Net soos die apostel Johannes en Stefanus het Saulus sy antwoord regstreeks tot Jesus gerig: “Wie is U, Here?”—Hand. 9:4, 5.
MET DIE NODIGE EERBIED
14, 15. Wat moet ons gesindheid, woorde en stemtoon aandui wanneer ons bid, en waarom?
14 Wanneer ons die groot Soewerein van die heelal in gebed nader, moet ons ook op die regte manier na hom kom. Ons mag hom slegs met die grootste eerbied, ontsag en diepe nederigheid nader. Die feit dat God se Woord vir ons sê dat ons God met “vrymoedigheid” mag nader, beteken nie dat ons familiêr of vrypostig met die groot Skepper mag wees nie (Hebr. 4:16; 1 Joh. 3:21, 22). Hoe onbedagsaam en onvanpas sal dit tog wees om ’n gebed te open met ’n uitdrukking soos: “Goeiemiddag, Jehovah!” Ons kan hom met vrymoedigheid nader weens ons geloof en vertroue in Sy gewilligheid om te luister en omdat ons ons onkreukbaarheid handhaaf. Maar ons moet dit met groot respek, met eerbied doen.—Vergelyk Prediker 4:17; 5:1.
15 Ons moet nooit vergeet dat Jehovah God hoog bo ons verhewe is nie. Weens ons aardse bestaan en organisme is ons laer as die engele wat krag en heerlikheid betref (Hebr. 2:7). Daarbenewens is ons onvolmaakte, sondige mense. Ons moet dus heel gepas in ons gebede woorde en ’n stemtoon gebruik wat toon dat ons ons verhouding met Jehovah God verstaan en waardeer, want hy luister slegs na die nederiges ‘wat bewe vir sy woord’ (Jes. 66:2). Hoe goed het Jesus Christus tog hierdie beginsel onderstreep in sy gelykenis oor die twee manne wat na die tempel in Jerusalem gegaan het om te bid! Jehovah God het geen aandag aan die trotse, eiegeregtige Fariseër geskenk nie, maar hy het klaarblyklik na die gebed van die nederige, boetvaardige tollenaar geluister en dit verhoor.—Luk. 18:9-14.
IN GELOOF EN MET VOLHARDING
16. Watter tekste toon hoe belangrik geloof in gebed is?
16 Nog ’n belangrike vereiste as ’n mens wil hê dat Jehovah jou gebed moet hoor, is om in geloof na hom te kom. Hierdie vereiste vir gebed word herhaaldelik in God se Woord onder ons aandag gebring. Jesus het gesê: “As julle geloof het soos ’n mosterdsaad sal . . . niks . . . vir julle onmoontlik wees nie” (Matt. 17:20). In Hebreërs 11:6 word ons meegedeel dat ons, as ons God wil behaag, nie net moet glo dat hy bestaan nie, maar ook dat hy ’n beloner is van “die wat Hom soek”. Die dissipel Jakobus het geskryf: “Hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel” sal nie “iets van die Here . . . ontvang nie”.—Jak. 1:6, 7.
17. Watter raad gee die Skrif oor volharding in gebed?
17 As ons wil hê dat ons versoeke toegestaan moet word, moet ons ook in gebed volhard. Dit moet ons begeerte wees om gebed ’n gewoonte te maak. Die Bybel vermaan ons: “Volhard in die gebed” (Rom. 12:12). Jesus het herhaaldelik hierdie aspek van gebed beklemtoon. In sy Bergpredikasie het hy gesê: “Hou aan vra, en daar sal vir julle gegee word; hou aan soek, en julle sal vind; hou aan klop, en daar sal vir julle oopgemaak word” (Matt. 7:7, NW). In sy gelykenis van die weduwee wat ’n regter, wat God nie gevrees en geen mens ontsien het nie, oorreed het om aan haar reg te doen, het Jesus eweneens die belangrikheid daarvan beklemtoon om in die gebed te volhard (Luk. 18:1-8). Indien ons waarlik opreg is oor die dinge wat ons Jehovah God vra, sal ons “volhard in die gebed” en “bid sonder ophou”.—Rom. 12:12; 1 Thess. 5:17.
18. Watter dinge moet ons nie ons tyd vir gebed in beslag laat neem nie?
18 As ’n mens in die gebed wil volhard, is dit baie belangrik om tyd opsy te sit om te bid. Ons moet nooit te besig wees om te bid nie. Die meeste van ons daaglikse 24 uur word nou wel in beslag geneem deur noodsaaklike dinge soos ons daaglikse werk, eet, persoonsversorging en slaap. Maar is daar nie baie ander dinge wat ons tyd meer in beslag kan neem as wat hulle behoort te doen nie? Dit kan dinge insluit soos om die koerant te lees, na die TV te kyk, aan sport of ander vorms van vermaak deel te neem of om te ontspan. Tensy ons die kosbare voorreg van gebed waarlik waardeer, sal ons heel moontlik vind dat ons dit verwaarloos omdat sulke dinge al ons tyd in beslag neem.
GELEENTHEDE VIR GEBED
19. Wat is party van die talle geleenthede wat ons het om te bid?
19 Daar is voorwaar talle geleenthede vir gebed. As ons “sonder ophou” wil bid, moet ons by alle geleenthede bid—wanneer ons soggens opstaan, wanneer ons saans gaan slaap, voor maaltye en wanneer ons snags wakker lê. (Kyk Psalm 5:4; 92:2, 3; 119:147-149, 164; 1 Timotheüs 4:4, 5.) Ons het moontlik met ernstige probleme te kampe of beleef spanningsvolle tye; ons dra dalk groot verantwoordelikhede; ons moet miskien ’n Christengehoor toespreek of ons geloof voor regeringsamptenare verdedig. Dit is beslis tye om ons sorge aan Jehovah toe te vertrou. Ja, “ken [God] in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak” (Spr. 3:6). Wanneer ons daarbenewens die een of ander besondere seën ontvang, veral as dit onverwags of iets is wat ons baie begeer het, moet ons harte oorloop van dank teenoor Jehovah. Maar ons het natuurlik nie spesiale redes nodig nie. Ons harte en ons verstande kan ons beweeg om te enige ander tyd dank te betuig.
20. Wat kan gesê word oor ons liggaamsposisie tydens gebed?
20 Beteken dit, daar ons te eniger tyd en te alle tye kan bid, dat ons nie aandag aan ons liggaamsposisie tydens gebed hoef te skenk nie? Die Bybel skryf weliswaar nie ’n sekere posisie, soos om te kniel of die hande te vou, voor vir diegene wat bid nie. Maar ons lees wel van persone wat gebid het terwyl hulle gestaan, gekniel of neergebuig en hulle hande uitgestrek het. (Kyk Genesis 24:26, 48; 1 Konings 8:22, 42, 44, 54; Nehemia 2:1-4; Markus 11:25.) Dit dui daarop dat dit, wanneer moontlik, gepas is om ’n eerbiedige liggaamshouding aan te neem wanneer ons bid. By ’n gemeentelike vergadering kan ons byvoorbeeld opstaan en ons hoofde buig. So ’n verandering in liggaamsposisie kan ons ook help om te konsentreer op die gebed wat ten behoewe van ons gedoen word. Dit wil voorkom of ’n knielende posisie veral ’n gepaste posisie tydens private gebede is. (Vergelyk Daniel 6:11; Filippense 2:9, 10.) Selfs al lê ons plat in die bed wanneer ons bid voordat ons gaan slaap, moet ons sorg dat ons ag slaan op die apostoliese opdrag om te “waak” en wakker en oplettend te bly terwyl ons bid.—Ef. 6:18.
21. Hoe moet ons bid as ons wil hê dat God ons gebede moet verhoor?
21 Gebed tot Jehovah is inderdaad iets wat ons ernstig wil beskou. Hoe dankbaar moet ons tog wees dat ons ons hemelse Vader kan nader met die vertroue dat hy te eniger tyd na ons sal luister! Dit hang natuurlik daarvan af of ons in geloof, deur die regte kanaal en met die regte gesindheid na hom kom en of ons in gebed volhard en nooit te besig is om te bid nie. En indien julle kinders het, moet julle hulle geduldig deur woord en voorbeeld leer hoe belangrik gebed is.