Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 9/1 bl. 8-11
  • Wat nodig is om afgeskeie te bly van die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat nodig is om afgeskeie te bly van die wêreld
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • GELOOF EN MOED NODIG
  • GETROUHEID IN KLEIN DINGETJIES
  • NEDERIGHEID EN SELFBEHEERSING
  • VREES VIR JEHOVAH EN ONSELFSUGTIGE LIEFDE
  • BELONINGS AS ONS AFGESKEIE BLY
  • Waarom moet Christene afgeskeie bly van die wêreld?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Oorlewendes moet “nie van die wêreld” wees nie
    Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind?
  • Neutrale Christene in die laaste dae
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • ‘Julle is geen deel van die wêreld nie’
    Ons Christelike lewe en bediening — Vergaderingwerkboek — 2018
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 9/1 bl. 8-11

Wat nodig is om afgeskeie te bly van die wêreld

AS ONS besef presies hoe goddeloos en verdorwe Satan se wêreld is, sal dit ons ongetwyfeld help om afgeskeie van die wêreld te bly. Hierdie besef sal dit vir ons maklik maak om gehoorsaam te wees aan die bevel in Psalm 97:10: “O liefhebbers van die HERE, haat die kwaad!” Hoe aangenaam en hoe aanloklik goddelose dinge ook al vir die sondige vlees is, ons moet dit verafsku, soos die apostel beveel (Rom. 12:9). En dit is nie al nie. Ons moet diegene haat wat moedswillige haters van Jehovah en haters van die goeie is. Dawid van die ou tyd het dit soos volg gestel: “HERE, sou ek dié nie haat wat vir U haat, en ’n afsku hê van die wat teen U opstaan nie? Ek haat hulle met ’n volkome haat; vyande is hulle vir my!” (Ps. 139:21, 22). Ons haat hulle nie in die sin dat ons hulle leed wil aandoen of leed toewens nie, maar in die sin dat ons hulle vermy soos ons gif of ’n giftige slang sal vermy, want hulle kan ons geestelik vergiftig. Dit is waarom ons gewaarsku word: “Moenie dwaal nie; slegte gesprekke bederf goeie sedes.”—1 Kor. 15:33.

En laat ons daarop let dat ons vermyding van goddelose persone nie net betrekking het op persone wat ons toevallig raakloop of met wie ons verplig is om in ons daaglikse lewe te assosieer nie, maar ook op die persone wat ons as metgeselle verkies waar dit by vermaak kom. Onthou, ons is beveel: “Hoerery en allerhande onreinheid of hebsug moet onder julle selfs nie genoem word nie, soos dit die heiliges betaam: ook nie gemeenheid . . . nie” (Ef. 5:3, 4). Dit beteken dat ons nie alleen self nie oor sulke onderwerpe sal gesels nie, maar ook dat ons nie sal toelaat dat sulke dinge in ons teenwoordigheid gemeld word deur na ’n TV-program of ’n rolprent te kyk waar sulke dinge die onderwerp van bespreking is nie. Laat ons ons dit eerder ten doel stel om om te gaan met ten volle toegewyde medegelowiges, nie alleen by die gemeente en velddiens nie, maar ook op sosiale gebied. Ja, om afgeskeie van die wêreld te bly, moet ons op ons omgang let; ons moet enersyds slegte omgang vermy en andersyds hard probeer om om te gaan met diegene wat net soos ons nie van die wêreld is nie.

GELOOF EN MOED NODIG

Dit verg ook geloof en moed om afgeskeie te bly van die wêreld. Om ons geloof te versterk, moet ons ’n gesonde geestelike eetlus aankweek en te alle tye van ons geestelike behoefte bewus wees (Matt. 5:3, NW). Dit beteken dat ons ’n gewoonte daarvan moet maak om die Bybel persoonlik te bestudeer en gereeld Christenvergaderinge moet bywoon. Dit is ’n opsig waarin baie lede van Jehovah se volk in gebreke bly. Ons moet almal gereeld tyd opsy sit vir persoonlike Bybelstudie. Ons moet, indien nodig, ’n halfuur vroeër opstaan. Dit is wat baie doen om persoonlike studie te doen. Ons wil die waardering vir God se Woord hê wat die psalmis gehad het toe hy uitgeroep het: “Hoe lief het ek u wet; dit is my bepeinsing die hele dag. Ek is vrolik oor u belofte soos een wat ’n groot buit vind.”—Ps. 119:97, 162.

Die rol wat sterk geloof speel in ons strewe om afgeskeie te bly van die wêreld, kan gesien word in die voorbeeld van getroue manne van die ou tyd. In Hebreërs hoofstuk 11 lees ons die volgende: “Die wêreld was hulle nie werd nie.” Hulle het hulle hoop op God se koninkryk gestel en het dus hierdie dinge ‘uit die verte gesien en begroet en besef dat hulle vreemdelinge en bywoners’ was wat hierdie wêreld betref.

As ons die goeie nuus van God se koninkryk moedig van huis tot huis verkondig, is dit nie alleen ’n blyk van ons geloof en iets wat ons geloof versterk nie, maar is dit ook ’n groot hulp om afgeskeie van die wêreld te bly. Dit skerp by ons verstande in watter groot kloof daar tussen wêreldse mense en Christene bestaan; en wanneer ons die gebrek aan belangstelling, onverskilligheid, vooroordeel en openlike teenstand van baie van die huisbewoners sien, help dit ons om wêreldlike versoekings te weerstaan. Dieselfde geld ook vir informele getuieniswerk. Omdat hulle dit doen, vind gewese hippies dit selde moeilik om hulle bande met ou metgeselle te verbreek: laasgenoemdes bly weg want hulle wil nie hê dat hulle eertydse metgeselle vir hulle moet preek nie.

GETROUHEID IN KLEIN DINGETJIES

As ons afgeskeie van die wêreld wil bly, moet ons ook in klein dingetjies getrou wees. Dit is soos Jesus gesê het: “Hy wat getrou is in die minste, is ook in die grote getrou: en hy wat onregverdig is in die minste, is ook in die grote onregverdig” (Luk. 16:10). Indien ons versigtig is om nie die wêreld na te volg en in klein dingetjies daardeur beïnvloed te word nie, soos prikkelende kleredrag en persoonsversorging, oneerlike geldsake, belastingontduiking, slegte werkgewoontes, die neiging om onnodige kanse te waag, onverskillige gedrag tussen die geslagte—sal al hierdie dinge ons daarvan weerhou om God se wet in ernstiger sake te oortree.

Hierdie beginsel word toegelig deur die vier Hebreërs wat as gevangenes na Babilon geneem is, soos opgeteken in die boek Daniël. Omdat hulle getrou was in die oënskynlik onbelangrike saak van kos, kon hulle seëvier in sake van lewe of dood, toe hulle moes kies of hulle God of die mens gaan gehoorsaam.—Dan. 1:1-17; 3:1-30; 6:5-24.

NEDERIGHEID EN SELFBEHEERSING

Nederigheid is nog ’n eienskap wat ons baie sal help om afgeskeie te bly van die wêreld. Dit beteken dat ons ’n lae dunk van onsself moet hê en nooit meer van onsself moet dink as wat nodig is nie (Rom. 12:3). Diegene wat te veel van hulleself dink, is ’n maklike prooi vir die vleiers van hierdie wêreld. Daar kan gesê word dat Satan ’n vleiende argument gebruik het om Eva te bedrieg (Gen. 3:1-7). As ons nederig is, sal dit ons help om vergenoeg te wees met ons geestelike en materiële seëninge. Indien ons godsaligheid en vergenoegdheid het, soos ons in 1 Timotheüs 6:6 aangespoor word om te hê, sal ons nie rusteloos die verbode plesier, opwinding of sensasie begeer wat mense kry wanneer hulle geweld op die TV of silwerdoek dophou nie; ons sal nie versoek word om oneerlik in ons verhoudinge met ander te wees of om selfsugtige gewin te begeer nie. As ons ’n lae dunk van onsself het, sal ons tevrede wees met ons huweliksmaat en nie met hartstog na ander kyk wat oënskynlik bekoorliker is en meer genot of kameraadskap bied nie.

Dit verg ook selfbeheersing om afgeskeie te bly van die wêreld. Selfbeheersing sal ons in staat stel om pyn te verduur sodat ons nie tydens hewige vervolging ’n kompromis aangaan nie, terwyl ons ons voortdurend tot Jehovah God wend vir die nodige krag. Dieselfde is waar van versoekings wat Satan se wêreld of omstandighede voor ons plaas, dit wil sê, versoekings om te swig voor die werke van die vlees (Gal. 5:19-21). Indien ons die vrug van selfbeheersing aangekweek het, sal ons in staat wees om al sulke versoekings te weerstaan en te doen wat die apostel Paulus gedoen het: “Ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie.”—1 Kor. 9:27.

VREES VIR JEHOVAH EN ONSELFSUGTIGE LIEFDE

Om van die wêreld afgeskeie te bly, verg ook vrees vir Jehovah, en dit is die beginsel van die wysheid (Ps. 111:10). Die godvrugtige vrees om ons hemelse Vader te mishaag, sal ons afgeskeie van die goddelose wêreld hou. Die wêreld is baie sleg, en die vrees vir Jehovah beteken om te haat wat sleg is.

Dit vereis bowenal onselfsugtige liefde om afgeskeie van die wêreld te bly. Die wêreld buit mense se selfsug uit. Hoe onselfsugtiger ons is, des te minder aantrekkingskrag sal die wêreld se versoekings vir ons hê. Indien ons Jehovah God waarlik met ons hele hart en siel, met ons hele verstand en krag liefhet, sal ons aan hom lojaal wees en dus nooit met sy vyande omgaan nie. Ons sal nie ontrou aan hom wees nie. En as ons ons Christenbroers liefhet, sal ons afgeskeie van die wêreld bly, want andersins kan ons hulle laat struikel omdat ons ’n slegte voorbeeld stel. Indien ons die lede van ons gesin liefhet, sal ons wegbly van alle wêreldse verlokkings wat ons kan versoek om in gedagte, woord en daad aan hulle ontrou te wees.

BELONINGS AS ONS AFGESKEIE BLY

Wat is die belonings indien ons afgeskeie bly van die wêreld? Ons kan onder andere die reine vriendskap van Jehovah God, Jesus Christus en ons Christenbroers geniet. As ons afgeskeie van die wêreld bly, sal ons daarbenewens ’n skoon gewete behou en die slegte vrugte van die werke van die vlees vermy (Gal. 6:7, 8). As ons afgeskeie van Babilon die Grote bly, sal ons nie gemeenskap met haar sondes hê en haar plae ontvang nie.—Openb. 18:4.

Afgeskeidenheid van die politieke nasies is ook lonend. Hoewel dit dikwels meegebring het dat ware Christene ontberinge moes verduur, het afgeskeidenheid van nasionalistiese botsings ook keer op keer tot hulle voordeel gestrek. In oorloggeteisterde lande soos Libanon en Noord-Ierland het hulle neutrale standpunt hulle in staat gestel om vryelik in hulle getuieniswerk rond te beweeg en het dit selfs hulle lewens gered.

En deur afgeskeie te bly van die wêreld, sal ons, met voordeel vir onsself, die bevel in Sefanja 2:3 kan gehoorsaam: “Soek die HERE, o alle ootmoediges van die land, wat sy ordening onderhou; soek geregtigheid, soek ootmoedigheid—miskien sal julle verborge bly op die dag van die toorn van die HERE.” Sodoende sal ons die “groot verdrukking” oorleef om die ewige lewe in God se nuwe orde te geniet.—Matt. 24:21; 2 Pet. 3:13.

Mag alle waarlik toegewyde Christene dus altyd in gedagte hou dat hulle afgeskeie moet bly van die wêreld wat deur Satan die Duiwel oorheers word. Mag hulle altyd bewus wees van die redes waarom hulle dit moet doen. En mag hulle die eienskappe wat nodig is om afgeskeie van die wêreld te bly ywerig aankweek.

Soos die volgende studie-artikels toon, word ons diep beïnvloed deur ons gesindheid teenoor hierdie wêreld. Ons “maai” inderdaad wat ons “saai”.

[Prente op bladsy 9]

HAAT EN VERMY DIE KWAAD

GEWELD

EUWELS

BOU STERK GELOOF IN GOD

STUDIE

GEBED

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel