Die “goeie herder” en die “klein kuddetjie”
“Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het ’n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee”—Luk 12:32
1. Waarmee vergelyk die psalmis Dawid en die profeet Jesaja Jehovah as ’n oppasser?
DIE eertydse herderseun van Betlehem, koning Dawid, het een van sy geïnspireerde psalms geopen met die woorde: “[Jehovah] is my herder; niks sal my ontbreek nie” (Ps. 23:1). ’n Mede-Bybelskrywer, die profeet Jesaja, vergelyk Jehovah ook met ’n herder wanneer hy sê: “Hy sal sy kudde laat wei soos ’n herder; Hy sal die lammers in sy arm vergader” (Jes. 40:11). Maar Jehovah het ’n onderherder. Hy noem hom gepas “my kneg Dawid”.
2. (a) Wie is die Dawid op wie Esegiël 37:24, 25 van toepassing is? (b) Hoe het Jesus die profesie in Sagaria 13:7 toegepas, en waarom so?
2 Honderde jare nadat koning Dawid gesterf het, het Jehovah ’n ander Bybelskrywer, Esegiël, geïnspireer om te profeteer: “En my kneg Dawid sal koning oor hulle wees, en hulle sal almal een herder hê; . . . en my kneg Dawid sal vors wees vir ewig” (Eseg. 37:24, 25). Daardie profesie moet verwys na Jehovah se onderherder, die Grotere Dawid, Jesus Christus. Op die nag van 14 Nisan 33 G.J., toe Jesus Christus verraai en in hegtenis geneem en deur sy vyande verhoor is, is die profesie in Sagaria 13:7 vervul: “Ontwaak, o swaard, teen my herder, en teen die man wat my metgesel is! spreek die HERE van die leërskare. Slaan die herder, sodat die skape verstrooi word.” Jesus Christus het self die profesie so toegepas.—Matt. 26:31; Mark. 14:27.
3, 4. (a) Waarom het sonde by daardie Jode gebly wat met Jesus gestry het nadat hy ’n man wat blind gebore was, genees het? (b) Waarom het Jesus later, tydens die winterfees van die tempelwyding, nie die Jode wat met hom gestry het onder sy “skape” gereken nie?
3 Dit was dus heeltemal in orde en Jesus Christus was glad nie aanmatigend toe hy homself met ’n herder vergelyk het en homself “die goeie herder” genoem het nie (Joh. 10:6, 11, 14). Dit het plaasgevind kort nadat hy ’n man wat blind gebore was wonderdadig genees het. Ongelowiges onder sy eie volk het hieroor met hom gestry en hulle het gevra: “Is ons dan ook blind?” Wat het op hierdie uitdagende vraag gevolg? “Jesus antwoord hulle: As julle blind was, sou julle geen sonde hê nie; maar nou sê julle: Ons sien! Daarom bly julle sonde” (Joh. 9:40, 41). ’n Ruk later, tydens die fees van die tempelwyding in Jerusalem gedurende die noordelike winter (Desember) van 32 G.J., het Jesus die volgende gesê aan sekere ongelowige Jode wat hom omring het:
4 “Die werke wat Ek doen in die Naam van my Vader, dié getuig van My. Maar julle glo nie, want julle is nie van my skape nie, soos Ek vir julle gesê het. My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My. En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. My Vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie. Ek en die Vader is een.”—Joh. 10:19-30.
5. Waarmee het Jesus die voorloper wat hom aan Israel voorgestel het in Johannes 10:1-5 vergelyk?
5 Daardie ongelowiges het nie alleen die getuienis verwerp wat Jesus se werke oor sy identiteit gelewer het nie, maar hulle het ook die getuienis verwerp van Jesus se voorloper, die man deur wie Jesus aan die Israeliete as die Messias, die Christus, voorgestel is. Jesus het verwys na die nodigheid vir die ware herder om so ’n identifikasie te hê toe hy gesê het: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie nie by die deur in die skaapstal ingaan nie, maar van ’n ander kant af inklim, hy is ’n dief en ’n rower. Maar hy wat by die deur ingaan, is ’n herder van die skape. Vir hom maak die deurwagter oop, en die skape luister na sy stem; en hy roep sy eie skape by hulle naam en lei hulle uit. En wanneer hy sy eie skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit; en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken. Hulle sal ’n vreemde nooit volg nie, maar van hom wegvlug, omdat hulle die stem van die vreemdes nie ken nie.”—Joh. 10:1-5.
“DIE SKAAPSTAL” EN “DIE DEURWAGTER”
6. Waarom was die simboliese “skaapstal” waarin die “deurwagter” hom gebring het nie die Wetsverbondreëling nie?
6 Wat beeld “die skaapstal” en “die deurwagter” af, aangesien Jesus ’n timmerman in Nasaret geword het en nooit ’n herder van letterlike skape was nie? Eerstens, die “skaapstal” was nie ’n afbeelding van die Wetsverbondreëling wat Jehovah God met die nasie Israel deur Moses as middelaar tot stand gebring het nie. Dit was beslis nie vir Jesus nodig om as ’t ware deur ’n Joodse “deurwagter” met die Wetsverbondreëling kennis te maak nie. Jesus is onder daardie reëling gebore. Galasiërs 4:4, 5 sê: “Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ’n vrou, gebore onder die wet, om die wat onder die wet was, los te koop.” Om hulle los te koop, het Jesus gesterf.
7. (a) Op watter dag in 33 G.J. het Jehovah die Wetsverbondreëling met Israel afgeskaf, en waarom? (b) Waarom was daar sedert Pinksterdag van 33 G.J. geen Wetsverbondreëling waaronder Jesus die Jode kon uitlei nie?
7 Om die losprys aan God aan te bied, is Jesus op die derde dag van sy dood in 33 G.J. opgewek. Op die 40ste dag na sy opstanding het Jesus opgevaar hemel toe. Tien dae daarna het die Joodse lentefees Pinkster op 6 Siwan 33 G.J. aangebreek. Op daardie dag het God hom gebruik om heilige gees uit te stort op sy dissipels wat in Jerusalem gewag het. Dit het beteken dat hy in God se teenwoordigheid verskyn het om die waarde van sy volmaakte menselewe aan te bied om alle mense wat onder sonde verkoop was, Jode inkluis, los te koop. Gevolglik het Jehovah God die Wetsverbond op daardie dag afgeskaf en dit met die beloofde nuwe verbond vervang, wat hy nie met Jode gesluit het nie, maar met die geesverwekte dissipels van die Middelaar, Jesus Christus (Kol. 2:13, 14). Daar was dus nie langer enige Joodse Wetsverbond waaronder die Herder Jesus gelowige Jode kon uitlei nie.
8. (a) Wat het die “skaapstal” dus afgebeeld? (b) Wat het die natuurlike afstammelinge van Abraham dus verwag?
8 In die lig van die voorgaande word die vraag opnuut gestel: Wat beeld die “skaapstal” wat deur Jesus in Johannes 10:1 gemeld is, waarlik af? Dit moet ongetwyfeld iets afbeeld wat ouer en omvattender en blywender as die Wetsverbond van 1513 v.G.J. is. Dit was die Abrahamitiese verbond. Toe die aartsvader Abraham die Beloofde Land in 1943 v.G.J. binnegegaan het deur die Eufraatrivier oor te steek, het God se belofte aan hom en sy toekomstige nageslag in werking getree: “Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word” (Gen. 12:3). Jare later, toe Abraham sy bereidwilligheid getoon het om sy seun Isak op te offer, het God sy belofte uitgebrei: “En in jou nageslag [saad, NW] sal al die nasies van die aarde geseën word, omdat jy na my stem geluister het” (Gen. 22:17, 18). Van toe af verwag die afstammelinge van Abraham daardie “saad” wat sou kom. Die “skaapstal” het dus die Abrahamitiese Verbondsreëling afgebeeld. Die ‘skape’ daarin het diegene afgebeeld wat gewag het vir die beloofde “saad” wat sou kom.
9. Wie sou die “deurwagter” nie tot die “skaapstal” toelaat nie?
9 Of sulke ‘skape’ nou voor die tyd van die “saad” geweet het of nie, hulle sou hom verwelkom wanneer hy bekend gemaak en aan hulle voorgestel word. Enigeen wat sou probeer om daardie “skape” deur valse metodes in die hande te kry om hulle uit te buit, sou “’n dief en ’n rower” wees. Die “deurwagter” van die skaapstal sou nie so ’n valse Christus of Messias voorstel nie. Enigiemand wat by daardie “deurwagter” verby en deur die “deur” gekom het, sou die ware “herder”, die Abrahamitiese “saad” wees.
10. Wie was daardie “deurwagter”, en volgens watter profesie?
10 Wie was egter daardie “deurwagter”? Dit was Johannes die Doper, ’n man van die priesterlike familie van die stam van Levi. God het beloof om ’n voorloper voor die beloofde “saad” van Abraham uit te stuur. In Maleagi 3:1 is daar voorspel: “Kyk, Ek stuur my boodskapper wat die weg voor My uit sal baan; dan sal skielik na sy tempel kom die Here na wie julle soek, naamlik die Engel [boodskapper, NW] van die verbond, na wie julle ’n begeerte het. Kyk, Hy kom, sê die HERE van die leërskare” (Mark. 1:1-11). Johannes het dus gewag op die koms van die beloofde ‘saad van Abraham’ en gevolglik was hy ’n ‘skaap’ net soos diegene wat in die skaapstal, die Abrahamitiese Verbondsreëling, was. Johannes is egter doodgemaak na ’n jaar of wat van sy spesiale bediening. Hy het dus nie voortgeleef tot Pinkster van 33 G.J. om een van die “klein kuddetjie” gesalfde erfgename van die hemelse koninkryk te word nie.—Matt. 11:11-14; 14:1-12; Luk. 12:32; Gal. 3:16.
11. (a) Hoe het Jesus bevestig dat Johannes die Doper sy voorloper was? (b) Van watter verbond was Jesus die “boodskapper” toe hy die Here Jehovah na die tempel vergesel het?
11 Toe Jesus die rol bespreek het wat Johannes die Doper in die ontplooiing van Jehovah se voorneme gespeel het, het hy vir die Jode gesê: “Dit is hy van wie daar geskrywe is: Kyk, Ek stuur my boodskapper voor u aangesig, wat u weg voor U uit sal regmaak” (Matt. 11:10). Jesus het dus die profesie van Maleagi 3:1 toegepas op Johannes die Doper as die een wat voor Jehovah en sy “boodskapper van die verbond” uitgestuur is. Jesus Christus, wat die Here Jehovah na die tempel vergesel om ondersoek in te stel, is die boodskapper, nie van die Wetsverbond nie, maar van die Abrahamitiese verbond. Diegene in die Abrahamitiese verbondsreëling wat Jehovah se profesieë vertrou het, het uitgesien na die koms van hierdie Messiaanse “boodskapper”.
12. Hoe het Johannes die Doper gesê het hy die basiese lid van die ‘saad van Abraham’ leer ‘ken’?
12 Van die vernaamste en basiese lid van die ‘saad van Abraham’ het Johannes die Doper gesê: “Ek het die Gees soos ’n duif uit die hemel sien neerdaal, en Hy het op Hom gebly. En ek het Hom nie geken nie; maar Hy wat my gestuur het om met water te doop, Hy het aan my gesê: Op wie jy die Gees sien neerdaal en op Hom bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop. En ek het gesien en getuig dat Hy die Seun van God is.”—Joh. 1:31-34.
13. (a) Wanneer het Johannes die Doper die “deur” vir die ware Herder oopgemaak? (b) Na watter soort ‘saad van Abraham’ het Johannes toe gewys?
13 Jesus het nie probeer om op ’n ander manier as deur die “deur” in die skaapstal te kom nie. Op die ouderdom van 30 jaar het hy na Johannes die Doper gegaan om in water gedoop te word. Nadat hy 40 dae in die woestyn deurgebring het en versoek is, het hy vol vertroue teruggekeer na waar Johannes die Doper met ’n aantal van sy dissipels was. Toe hy die figuurlike “deurwagter” van die skaapstal, die Abrahamitiese Verbond, genader het, het Johannes hom sien kom en uitgeroep: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Joh. 1:29, 36). Nie die Lam wat die sonde van die nasie Israel wegneem nie, maar “die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem”. Johannes die Doper het dus die figuurlike “deur” oopgemaak vir die ware Herder wat die nodige identifikasie van die Universele Herder, Jehovah God, gehad het. Toe hy sy dissipels se aandag op die naderende Jesus gevestig het, het Johannes nie gewys na ’n blote besnede Jood en vleeslike afstammeling van aardse Abraham nie. Nee, hy het gewys na die Gesalfde, die geesverwekte afstammeling van die Grotere Abraham, Jehovah God. Hy was die vernaamste lid van daardie “saad” van die Hemelse Abraham deur wie al die nasies van die aarde hulself sal seën.
14. (a) Het Jesus, toe hy die “skaapstal” genader het, net na natuurlike Jode en ander mense oor die algemeen gesoek? (b) Hoe kon ’n herder in die Midde-Ooste ’n spesifieke skaap na hom toe roep?
14 Hy het dus verdien om deur die “deurwagter” tot die figuurlike “skaapstal”, die Abrahamitiese Verbondsreëling, toegelaat te word. Hy was die ware herder, en hy het nie na Jode of ander mense oor die algemeen kom soek nie, maar na diegene wat die geleentheid sou aangryp om saam met hom deel te word van die samegestelde ‘saad van Abraham’ deur wie al die nasies ’n seën sou verkry. Die meeste natuurlike Jode het hom verwerp, maar ’n oorblyfsel vleeslike Jode het hom aanvaar. Hulle was die “skape” wat na sy stem geluister het. Toe hy “sy eie skape by hulle naam” geroep het, het hulle gereageer en het hy hulle na die weiveld gelei. In die Midde-Ooste het die herder elkeen van sy skape ’n naam gegee.
15. (a) Hoe sal die herder sy hele kudde tegelyk na hom toe roep, en waarom sal hulle nie bedrieg word om “vreemdes” te volg nie? (b) Vir wie is dit vandag ’n veilige voorbeeld om te volg?
15 Maar wanneer die herder sy hele kudde tegelyk na hom wou roep, sou hy ’n algemene roepgeluid gebruik, byvoorbeeld ’n vinnige geluid soos Dr-r-r-r-r-rt op ’n sekere toonhoogte en met ’n soort stem wat ander herders nie kon namaak nie. “Wanneer hy sy eie skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit; en die skape volg hom”, want hulle herken die onnamaakbare toon van sy stem. Hulle ore is skerp genoeg om vas te stel wie “vreemdes” en nabootsers is. Hulle sal nie bedrieg word om sulke verdagte en moontlik boosaardige “vreemdes” te volg nie. Dit is ’n goeie voorbeeld vir die “skape” wat die “klein kuddetjie” uitmaak aan wie dit die goedkeurende Grotere Abraham behaag om die Koninkryk te gee.
16. Waarom het die Jode nie die betekenis van die gelykenis wat Jesus oor die herder en sy kudde tot hulle gespreek het, gesnap nie?
16 Verstaan ons vandag waarvan Jesus hier gepraat het? Die ongelowige Jode in die Wetsverbondreëling het nie gesnap wat die toepassing van Jesus se gelykenis was nie. Die verslag lui: “Hierdie gelykenis het Jesus aan hulle vertel; maar hulle het nie verstaan wat dit was wat Hy tot hulle gespreek het nie” (Joh. 10:6). Hulle het nie die stem van die Messiaanse Herder geken nie, en hy het hulle nie geken en hulle nie by hulle eiename genoem nie. Selfopgelegde blindheid het verhoed dat hulle hom herken. Laat ons nie vandag soos hulle wees nie.
“DIE DEUR VAN DIE SKAPE”
17. Met watter ander deel van ’n skaapstal het Jesus homself volgens Johannes 10:7-10 vergelyk?
17 Op hierdie stadium het Jesus ’n ander metafoor gebruik om nog ’n belangrike aspek van die saak toe te lig. “Jesus het toe weer vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, Ek is die deur van die skape. Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers; maar die skape het nie na hulle geluister nie. Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word, en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind. Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.”—Joh. 10:7-10.
18. (a) Wie op aarde probeer om as ’n deurwagter vir Jesus, die simboliese “deur”, te dien? (b) Van watter klas het Jesus as ’n deel van die teken van die “voleinding van die wêreld” gepraat, en dien hierdie klas as ’n deurwagter vir Jesus, die “deur”?
18 Let daarop dat Jesus nie van ’n “deurwagter” praat wanneer hy na homself as ’n “deur” verwys nie. Hy praat nie van ’n sogenaamde “stedehouer van Christus”, ’n hoof van ’n godsdienssekte wat beweer dat hy onfeilbaar is nie. Jesus het gesê: “Ek is die deur van die skape.” En ’n paar maande later het hy die verdere aanspraak gemaak: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Joh. 14:6). Dit laat nie die feit buite rekening dat Jesus, toe hy sy lang profesie oor “die teken van [sy] koms en van die voleinding van die wêreld” gegee het, ’n “getroue en verstandige dienskneg” voorspel het vir wie sy heer ‘oor al sy besittings sou aanstel nie’ (Matt. 24:3. 45-47). Maar dit verwys na ’n “dienskneg”-klas van sy getroue, verstandige volgelinge wie hy sou aanstel om toesig te hou oor sy sigbare besittings op aarde, veral gedurende hierdie “voleinding van die wêreld”. So ’n aanstelling maak daardie “dienskneg”-klas egter nie Jesus se “deurwagter” nie.
19. Hoe ’n groot ‘kudde’ maak diegene in die skaapstal van die Abrahamitiese Verbondsreëling uit, en deur watter ingang is hulle redding?
19 Jesus is die figuurlike “deur” vir daardie volgelinge van hom wat soos skape is en wat saam met hom deel van die ‘saad van Abraham’ gemaak word. Hulle is dus in die “skaapstal” van die Abrahamitiese Verbondsreëling. Saam maak hulle slegs ’n betreklik “klein kuddetjie” van net 144 000 onder hom, hulle Herder, uit. Hulle vorm as ’t ware die 12 stamme van geestelike Israel, en hulle staan saam met Jesus Christus, “die Lam” van God, op die geestelike berg Sion (Luk. 12:32; Openb. 7:1-8; 14:1-5). Hulle is hulle redding tot ’n hemelse erfenis nie aan ’n plaasvervanger vir Christus te danke nie, maar aan die een wat “die deur van die skape” is. Want Jesus het gesê: “As iemand deur My ingaan, sal hy gered word, en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind” (Joh. 10:9). Waar hy namens die “klein kuddetjie” met die hemelse hoop praat, verwys die apostel Paulus na “onse Here Jesus Christus; deur wie ons ook deur die geloof die toegang verkry het tot hierdie genade waarin ons staan; en ons roem in die hoop op die heerlikheid van God”.—Rom. 5:1, 2; Ef. 2:18; 3:12.
20. Hoe het Jehovah se onderherder ’n teenstelling gevorm met die “valse christusse en valse profete” wat “in die plek van” Jesus gekom het?
20 In sy profesie oor die “voleinding van die wêreld” het Jesus voorspel dat baie bedrieglike “valse christusse en valse profete” sou opstaan. Hulle het “in die plek van” die ware Christus gekom, en die misleide persone wat sulke bedrieërs gevolg het, is godsdienstig gesteel en geestelik geslag en verwoes, indien nie ook letterlik nie (Matt. 24:3, 24, 25; Joh. 10:8, 10, vgl. NW). Jesus het andersyds as ’n lewensredder gekom, en om die weg te baan sodat mense oorvloediger lewe kan geniet as wat hulle nou het, ewige lewe in volmaaktheid en in die voorsienings vir veiligheid wat getref is deur die Groot Herder oor almal, Jehovah God. Sy selfopofferende onderherder, Jesus Christus, is dus die een wat ons moet volg indien ons ewige lewe as “skape” van God wil beërf.