Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 10/15 bl. 3-4
  • Gee jy op die goeie, die beter of die beste manier?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Gee jy op die goeie, die beter of die beste manier?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Soortgelyke materiaal
  • ‘Stel die egtheid van julle liefde op die proef’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Wanneer gee vreugde verskaf
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Die dryfkrag van Christus se vrygewigheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Ewige geluk wag op godvrugtige gewers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 10/15 bl. 3-4

Gee jy op die goeie, die beter of die beste manier?

HET jy nie gevind dat tevredenheid gemoedsrus sowel as vrede met ander in die hand werk nie? Dit is waarom die apostel Paulus kon skrywe: “Die [godvrugtige toewyding, NW] is ’n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het, want ons het niks in die wêreld ingebring nie; ons kan ook niks daaruit wegneem nie. As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees.” Trouens, hy het die saak verder gevoer en ons aangespoor om tevrede te wees met ons lot, hetsy ons ’n slaaf of ’n vryman, getroud of ongetroud is.—1 Tim. 6:6-8, NAB; 1 Kor. 7:12-27.

Waar dit egter kom by die betoning van Christelike deugde, soos vrygewigheid, kan ons ons gerus afvra of ons tevrede moet wees met wat ons doen. Is ons tevrede om bloot te doen wat as “goed” bestempel kan word, terwyl ons in werklikheid beter, of selfs die beste kan doen?

Kom ons beskou by voorbeeld finansiële steun aan ’n saak wat waarlik die moeite werd is of hulp aan ’n verdienstelike behoeftige. Daar kan gesê word dat ’n klein bydrae goed is aangesien dit beslis beter is as om niks te gee nie; en ongeag die bedrag sal dit wel iets beteken. In hierdie verband roem party dat hulle die tiende van hulle inkomste gee. Daar kan beslis gesê word dat dit goed is, selfs al is daar niks in God se Woord wat van Christene vereis om ’n tiende te gee nie. Die feit bly egter staan dat dit vir brandarmes ’n groot ontbering kan wees om ’n tiende te gee, terwyl dit vir die rykes geen opoffering hoegenaamd is nie.

Indien sulke gawes as “goed” bestempel kan word, wat kan dan as “beter” gawes bestempel word? Dit sal wees deur na ’n mens se vermoë te gee. Dit is wat Jehovah God van die Israeliete tydens hulle jaarlikse feeste vereis het. Hy het hulle beveel: “Drie maal in die jaar moet al jou manne voor die aangesig van die HERE jou God verskyn op die plek wat Hy sal uitkies; op die fees van die ongesuurde brode [na die Pasga] en op die fees van die weke [Pinkster] en op die huttefees [aan die einde van die oestyd]; en hulle mag nie met leë hande voor die aangesig van die HERE verskyn nie; elkeen volgens die gawe van sy hand ooreenkomstig die seën van die HERE jou God wat Hy jou gegee het.”—Deut. 16:16, 17.

Dit is voorwaar ’n regverdige vereiste, en die apostel Paulus het dit as sodanig erken. Toe hy dus welvarende Christene in Korinthe aangespoor het om bydraes aan hulle behoeftige broers in Jerusalem te stuur, het hy geskryf: “As die goeie wil daar is en iemand gee volgens wat hy het, neem God die gawe aan. Hy verwag nie van hom wat hy nie het nie. Ek bedoel nie dat julle gebrek moet ly om ander te kan help nie; maar sodat daar ewewig sal wees, moet julle wat nou oorvloed het, die help wat gebrek ly. Dan, as hulle weer oorvloed het en julle gebrek ly, kan hulle julle weer help. So kom daar ewewig. Daar staan ook geskrywe: ‘Dié met baie, het nie te veel gehad nie, en die met ’n bietjie, nie te min nie.’”—2 Kor. 8:12-15, NAB.

Daar kan gesê word dat die beginsel om na ’n mens se vermoë te gee ’n vertroostende sowel as ’n hartdeurvorsende beginsel is. Hoe so? Dit is ’n vertroostende beginsel vir die Christen wat min het om te gee. Solank hy na sy vermoë gee, kan hy tevrede wees. Dit is andersyds ’n hartdeurvorsende beginsel vir die Christen wat baie besittings het, wat ryk is, want hy kan hom gerus afvra of sy gawe, hoewel dit groter as ander s’n is, ooreenkomstig sy rykdom is.

Indien daar gesê word dat dit “beter” gawes is wanneer ’n mens na jou vermoë gee, wat kan dan as die “beste” bestempel word waar dit by die betoning van vrygewigheid kom? Dit sal wees om met groot persoonlike opoffering te gee. In hierdie verband stel die Skepper, Jehovah God, vir ons die beste voorbeeld, want wat lees ons in Johannes 3:16? “So lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore seun”, sy kosbaarste skat en besitting, “gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” En God se Seun, Jesus Christus, het op dieselfde wyse gegee, want soos hy gesê het: “Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee.”—Joh. 15:13.

Op hierdie gebied was Jesus vir ons ’n voorbeeld wat ons noukeurig moet navolg, net soos hy gesê het: “’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.”—Joh. 13:34, 35; 1 Pet. 2:21.

Die Christene in Filippi het hierdie soort liefde betoon. Ons lees in 2 Korinthiërs 8:1-4 (NAB): “Broers, ons wil hê julle moet weet van die genade wat die gemeentes in Masedonië van God ontvang het. Al was hulle swaar beproef deur verdrukking, hulle blydskap was oorvloedig; en al was hulle baie arm, hulle was ryk in hulle oorvloedige vrygewigheid. Ek verseker julle hulle het na vermoë, ja, bo vermoë, bygedra. Uit eie beweging het hulle by ons daarop aangedring om te mag deel in die liefdeswerk van hulpverlening aan die gelowiges in Judea.” Dit was dus met goeie rede dat Paulus daardie welgestelde Christene in Korinthe vermaan het: “Wees dan ook in hierdie liefdeswerk oorvloedig.”—2 Kor. 8:7, NAB.

Waarom moet ons nie tevrede wees met nominale gawes wat net vir die skyn gegee word wanneer ons iets beters of selfs die beste kan gee nie? Omdat dit die verpligting is wat Christene deur God se Woord opgelê is, deur voorskrif sowel as deur voorbeeld, soos ons dan ook gesien het. Daarbenewens bied die wete dat ons die selfsugtige instink om op te gaar te bowe gekom het en mildelik gegee het ’n mate van bevrediging. Bowendien is daar ook die Skriftuurlike beginsel rakende sulke sake, waarvan ons die uitwerking nie kan vryspring nie, naamlik: “Wie spaarsaamlik saai, sal ook spaarsaamlik maai: en wie volop saai, sal ook volop maai.” Wat sal gemaai word? Nie materiële belonings nie, maar geestelike belonings, ooreenkomstig Jesus se woorde: “Dit is saliger om te gee as om te ontvang.”—2 Kor. 9:6; Hand. 20:35.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel