Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 10/15 bl. 17-22
  • Bly “standvastig in die geloof”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Bly “standvastig in die geloof”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Afvalligheid onder die vroeë Christene
  • Afvalligheid “in die laaste tye”
  • Oorsake en gevolge van afvalligheid
  • Hoe om te voorkom dat ’n mens ‘van die geloof afvallig word’
  • ‘Ruk die twyfelaars uit die vuur’
  • “Standvastig in die geloof” reg tot die einde toe
  • Afvalligheid
    Redenering uit die Skrif
  • ‘Moenie gou julle verstand verloor nie’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Wees op julle hoede vir afvalliges!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • “Kom my te hulp waar ek in geloof te kort skiet!”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 10/15 bl. 17-22

Bly “standvastig in die geloof”

“Die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word.”—1 Tim. 4:1.

1. Moet ons vreeslik geskok wees indien iemand van die geloof afvallig word?

IS JY diep geskok en vreeslik ontsteld wanneer jy sien of hoor hoe ’n Christen wat jy ken voor twyfelgedagtes swig, verkoel en moontlik selfs so opstandig word dat hy die Christengemeente verlaat en probeer om ander met hom saam te neem? Dan kan jy vertroos word deur die wete dat alhoewel sulke voorvalle betreurenswaardig is, die Skrif ons gewaarsku het dat dit sal gebeur.

2, 3. (a) Wat beteken die Engelse woord “apostasy”, en wie was die eerste afvallige? (b) Wat het Israel en Juda hulself met ’n weg van afvalligheid op die hals gehaal?

2 Die Engelse woord vir afvalligheid, “apostasy”, kom van ’n Griekse uitdrukking wat beteken “’n distansiëring”, “’n afval, oorlopery”, “opstand, versaking”. Satan die Duiwel was die eerste een wat van die ware aanbidding van Jehovah afvallig geword het. Hy was dus die eerste afvallige (Joh. 8:44). Hy het veroorsaak dat die eerste mensepaar afvallig word (Genesis, hoofstuk 3). Baie vroeg in Israel se geskiedenis was daar ’n “afval” of ‘afwyking’ van ware aanbidding. Ons lees:

“Na hulle rigters het hulle egter ook nie geluister nie, maar agter ander gode aan gehoereer en hulle daarvoor neergebuig; gou het hulle afgewyk van die weg wat hulle vaders bewandel het in gehoorsaamheid aan die gebooie van die HERE.”—Rigt. 2:17.

3 Later het baie van die konings van Israel sowel as Juda afvallig geword en die nasies waaroor hulle regeer het op ’n afvallige weg gelei. God het eers die noordelike koninkryk van Israel gestraf en gesê: “Ek sal hom [Assur] stuur teen ’n roekelose [afvallige, NW] nasie [Israel]” (Jes. 10:6). En kort voordat die Babiloniërs Jerusalem, Juda se hoofstad, vernietig het, het Jehovah gesê: “Van die profete van Jerusalem het goddeloosheid [afvalligheid, NW] in die hele land uitgegaan” (Jer. 23:15). Afvalligheid van die ware geloof het beslis vir Israel en Juda geen seëninge meegebring nie.

Afvalligheid onder die vroeë Christene

4. Watter waarskuwing het Jesus teen afvalliges gerig?

4 Vroeg tydens sy aardse bediening het Jesus sy volgelinge teen afvalliges gewaarsku. In sy Bergpredikasie het hy gesê:

“Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind. Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is. Aan hulle vrugte sal julle hulle ken.”—Matt. 7:13-16.

5. Wat het Paulus oor afvalliges gesê?

5 Vyf-en-twintig jaar later het Paulus die Christelike ouere manne van Efese gewaarsku: “Ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan” (Hand. 20:29, 30). In die laaste van sy geïnspireerde geskrifte het Paulus ’n paar van sulke eerste-eeuse afvalliges genoem. Hy het Timotheüs gewaarsku: “Onheilige, onsinnige praatjies moet jy vermy; want hulle sal al verder voortgaan in goddeloosheid, en hulle woord sal voortwoeker soos ’n kanker, onder wie daar Himeneüs en Filetus is, wat van die waarheid afgedwaal het, . . . en hulle keer die geloof van sommige om.” “Alexander, die kopersmid, het my baie kwaad aangedoen. . . . Jy moet ook vir hom oppas, want hy het ons woorde sterk teëgestaan.”—2 Tim. 2:16-18; 4:14, 15.

6. Wat is party van die kenmerke van tipiese afvalliges?

6 Wanneer ons hierdie waarskuwings van Jesus en Paulus ontleed, staan die volgende kenmerke van tipiese afvalliges uit:

(1) Afwyking van die waarheid af

(2) Verdraaide, onsinnige praatjies

(3) Pogings om die geloof van sommige om te keer en dissipels agter hulle aan weg te trek

(4) Skynheiligheid (‘wolwe in skaapsklere’)

(5) Kan aan hulle vrugte uitgeken word; hulle ‘gaan al verder voort in goddeloosheid’

Sulke duidelike tekens is gegee om die vroeë Christene in staat te stel om gou die afvalliges te identifiseer en ‘vir hulle op te pas’.

Afvalligheid “in die laaste tye”

7. Wanneer het ‘n grootskaalse afval plaasgevind, en waar is dit in die Skrif voorspel?

7 Die afval wat “al aan die werk” was terwyl party van Christus se apostels nog gelewe het, het “in die laaste tye”, dit wil sê, na hulle dood, gedy. Die vyf duidelike tekens het van die tweede eeu af aan al hoe duideliker geword en ’n hoogtepunt in die vierde eeu bereik. Hierdie grootskaalse afval sou plaasvind voor “die wederkoms van onse Here Jesus Christus” en “die dag van Jehovah”.—2 Thess. 2:1-12, vgl. NW.

8, 9. (a) Watter waarskuwing het Petrus oor die laaste dae gerig? (b) Sou hierdie “spotters” en “sedelose mense” uitsluitlik buite die Christengemeente wees?

8 Maar ander tekste toon duidelik dat daar selfs tydens “die laaste dae” van die huidige stelsel van dinge gevalle van afvalligheid in die ware Christengemeente sou voorkom. Die apostel Petrus het geskryf:

“Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel en sê: Waar is die belofte van sy wederkoms? . . . Noudat julle dit dan vooruit weet, geliefdes, moet julle op jul hoede wees dat julle nie miskien meegesleep word deur die dwaling van sedelose mense [wat die wet trotseer, NW] en wegval uit jul eie vastigheid nie.”—2 Pet. 3:3, 4, 17.

9 Petrus het nie bloot sy broers teen “spotters” en “sedelose mense” in die wêreld gewaarsku nie. Christene was nog altyd deeglik bewus van die gevaar uit daardie oord. Petrus het ook gepraat van die gevaar om “meegesleep” te word deur persone binne-in die Christengemeente wat “spotters” sou word en geen ag sou slaan op die vervulling van profesieë oor Christus se “teenwoordigheid” nie en die gesag van die “getroue en verstandige dienskneg”, die Bestuursliggaam van die Christengemeente en die aangestelde ouere manne sou trotseer.

Oorsake en gevolge van afvalligheid

10, 11. (a) Wat is een belangrike oorsaak van afvalligheid? (b) Wat is van die ander betekenisse van die Griekse woord wat vertaal word “om te twyfel”, en hoe stel die afvallige homself as ’n regter aan?

10 Een van die belangrikste oorsake van afvalligheid is ongetwyfeld ’n gebrek aan geloof weens twyfelgedagtes (Hebr. 3:12). Dit is interessant dat The New International Dictionary of New Testament Theology die volgende inligting verstrek oor die Griekse werkwoord wat dikwels as “om te twyfel” vertaal word: “Diakrinõ, ’n onderskeid tref, oordeel, . . .; twyfel, weifel. . . . In party passasies [in die Nuwe Testament] verskyn twyfel as ’n gebrek aan geloof en dus as ’n sonde (Rom. 14:23) . . . . In Rom. 4:20 e.v. is twyfel baie na aan ongeloof. . . . Twyfel is dus ’n gebrek aan vertroue in die daad van God wat hy nog moet uitvoer en waarop mense moet wag. . . . In die NT sondig die twyfelaar teen God en sy beloftes, want hy oordeel God verkeerd.”

11 Die persoon wat dermate twyfel dat hy afvallig word, stel homself dus as ’n regter aan. Hy meen dat hy beter weet as sy mede-Christene, selfs beter as die “getroue en verstandige dienskneg” waardeur hy die grootste deel, indien nie al sy kennis oor Jehovah God en Sy voornemens gekry het nie. Hy ontwikkel ’n gees van onafhanklikheid en word ‘hoogmoedig van hart’, iets wat “vir die HERE ’n gruwel” is (Spr. 16:5). Party afvalliges meen selfs dat hulle beter weet as God waar dit kom by sy rooster vir gebeure tydens die ontplooiing van sy voornemens. Twee ander oorsake van afvalligheid is dus ondankbaarheid en vermetelheid.—2 Pet. 2:10b-13a.

12. Wat is ’n paar van die gevolge van opstandigheid en afvalligheid?

12 Die een onmiddellike gevolg van afvalligheid is dat ’n persoon sy vreugde verloor. Die afvallige raak verstok in sy opstandige weë. Nog ’n gevolg is ’n versuim om die geestelike voedsel in te neem wat voorsien word deur die “getroue en verstandige dienskneg”—en dit lei tot geestelike swakheid en ’n verbreking van gees. Waar Jehovah die geluk van sy lojale knegte vergelyk met die jammerlike toestand van afvalliges, het hy profeties gesê:

“Kyk, my knegte sal eet, maar julle sal honger bly; kyk, my knegte sal drink, maar julle sal dors wees; kyk, my knegte sal bly wees, maar julle sal beskaamd staan. Kyk, my knegte sal jubel, omdat hulle hart vrolik is, maar júlle sal skreeu van pyn in die hart en huil deur die verbreking van gees.”—Jes. 65:13, 14.

13. Wat word bedoel met ‘veragting van heerskappy’, en waartoe lei dit? (Jud. 8, 10)

13 Nadat hulle toegegee het aan werke van die vlees soos “vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap”, swig afvalliges dikwels voor ander werke van die vlees soos “dronkenskap”, “ongebondenheid” en “hoerery” (Gal. 5:19-21). Petrus waarsku ons teen diegene wat “heerskappy verag” deur op teokratiese orde neer te sien, wat diegene “belaster” aan wie daar verantwoordelikheid binne die Christengemeente toevertrou is, en wat aldus “die regte pad verlaat”. Hy sê dat “vir hulle die laaste erger geword [het] as die eerste”.—Lees 2 Petrus hoofstuk 2 aandagtig.

Hoe om te voorkom dat ’n mens ‘van die geloof afvallig word’

14, 15. Hoe kan ons vermetelheid vermy?

14 Ons het gesien dat een van die grondoorsake van afvalligheid ’n gebrek aan geloof weens vernietigende twyfel is, en dat die woord wat as “twyfel” vertaal word, ook “om te onderskei” beteken. Die afvallige stel homself aan as ’n regter van wat waar en wat vals is, van wat “goed en kwaad” op die gebied van geestelike voedsel is. Hy word vermetel.—Vergelyk Genesis 2:17; 3:1-7.

15 Om dus nie van die geloof afvallig te word nie, moet die Christen waak teen ’n gebrek aan geloof, “die sonde wat ons so maklik omring”, en “met volharding die wedloop loop wat voor ons lê” (Hebr. 12:1; 3:12, 19). Paulus gee hierdie raad: “Ondersoek julself of julle in die geloof is; stel julself op die proef” (2 Kor. 13:5). Paulus nooi ons nie om twyfelgedagtes oor “die geloof’ te koester nie, maar om die hand in eie boesem te steek en te sien of ons die geloof naleef. Sulke eerlike selfondersoek moet ons met beskeidenheid en nederigheid vul en ons sodoende beskerm teen die onafhanklike gees en vermetelheid van die afvallige.

16. (a) Watter ander valstrik moet ons vermy? (b) Watter tweevoudige les kan ons by die Jode van Berea leer?

16 As ons nie van die geloof afvallig wil word nie, moet ons ook waak teen ondankbaarheid. Ons moet dankbaar wees oor die volop geestelike voedsel wat ons deur die “getroue en verstandige dienskneg” ontvang (Matt. 24:45). Dit beteken nie dat ons onsself nie algaande van dinge moet oortuig nie. In hierdie verband kan ons ’n tweevoudige les by die Jode van Berea leer. Om seker te maak het hulle “elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was”, maar hulle was ook ‘edelmoedig’, want “hulle het die woord [wat deur Paulus en Silas aan hulle verkondig is] met alle welwillendheid [bereidwilligheid van gees] ontvang”.—Hand. 17:11, vgl. NW.

17, 18. Wat behoort ons te kan onderskei, en watter raad gee Paulus hieroor?

17 Sulke dankbare bereidwilligheid om te leer sal ons help om liefde aan te kweek en juiste kennis te verkry, tesame met volle onderskeidingsvermoë. Hierdie Christelike eienskappe sal ons weer in staat stel om te onderskei tussen dinge van groot belang en dié van minder belang. Is ’n punt wat ons sukkel om te verstaan werklik belangrik? Kan dit opweeg teen die waarlik belangrike dinge wat ons met die hulp van die “dienskneg”-klas geleer het? Is dit die moeite werd om onsself en moontlik ander daardeur te laat struikel? Verhinder dit ons om Christelike vrug te dra?

18 Paulus vermaan ons: “Dit bid ek dat julle liefde nog meer en meer oorvloedig mag word in kennis en alle ervaring [volle onderskeidingsvermoë, NW], om die dinge waar dit op aankom, te onderskei, sodat julle rein en vir niemand ’n aanstoot mag wees nie, tot op die dag van Christus, vervul met die vrug van geregtigheid wat daar is deur Jesus Christus tot heerlikheid en lof van God.”—Filip. 1:9-11.

‘Ruk die twyfelaars uit die vuur’

19. (a) Watter ander onderskeid moet getref word? (b) Watter verdere opbouende raad gee Judas?

19 Aangesien ons gewaarsku is dat “sommige van die geloof afvallig sal word”, moet ons bereid wees “om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is” (1 Tim. 4:1; Jud. 3). Maar ons moet ’n onderskeid tref tussen onrusstokende afvalliges, soos die wat in 2 Petrus, hoofstuk 2, gemeld word, en Christene wat swak in die geloof geword het en twyfelgedagtes koester weens ’n gebrek aan juiste kennis. Judas tref hierdie onderskeid. Nadat hy gewaarsku het teen “murmureerders wat oor hulle lot klae” en wat mense “vlei”, en teen “spotters” wat “skeuring maak”, sê hy: “Maar julle, geliefdes, moet julleself . . . in die liefde van God bewaar, terwyl julle die barmhartigheid van onse Here Jesus Christus tot die ewige lewe verwag. En aan sommige wat twyfel, moet julle barmhartigheid bewys; . . . [en hulle] red deur hulle uit die vuur te ruk.”—Jud. 16-23.

20. Hoe moet twyfelaars gehelp word, maar sê nou hulle weier hulp en ‘word afvallig van die geloof’?

20 Ja, daar moet vir sulke twyfelaars gewys word dat hulle gevaar loop om deur vernietigende twyfelgedagtes verteer te word. Hulle Christenbroers, en veral die ouere manne, moet probeer om hulle te help en om hulle, indien enigsins moontlik, uit die “vuur” te ruk wat hulle geestelik kan verteer. Wanneer sulke persone sulke geduldige, liefdevolle hulp van die hand wys en werklik ‘van die geloof afvallig word’, moet dit ons nie onnodig ontstel nie. Saam met die apostel Johannes sal ons sê: “Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het.”—1 Joh. 2:19.

“Standvastig in die geloof” reg tot die einde toe

21, 22. (a) Watter aansporing gee Petrus ons om sterk in die geloof te bly? (b) Wat moet geestelike Israeliete en die “groot menigte” aanhou doen om hulle onderskeie verwagtings te verwesenlik?

21 Daar bestaan geen twyfel dat Satan graag sal wil sien dat ons almal ‘van die geloof afvallig word’ nie. Petrus vermaan ons dus:

“Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof, omdat julle weet dat dieselfde lyding opgelê word aan julle broederskap wat in die wêreld is. En mag die God van alle genade self, wat ons geroep het tot sy ewige heerlikheid in Christus Jesus, nadat ons ’n kort tyd gely het, julle volmaak, bevestig, versterk en grondves!”—1 Pet. 5:8-10.

Ja, die lede van geestelike Israel wat geroep is om saam met Christus in “ewige heerlikheid” te regeer, moet getrou bly “in die uur van beproewing” indien dit hulle wens is dat ‘niemand hul kroon moet neem nie’.—2 Tim. 2:10; Openb. 3:10, 11.

22 Hulle metgeselle, die lede van die “groot menigte”, besef ook dat hulle “standvastig in die geloof’ moet bly indien hulle ‘uit die groot verdrukking wil kom’ (Openb. 7:9, 10, 14). Die Christene met die hemelse hoop sowel as hulle metgeselle wat hoop om vir ewig op die herstelde paradysaarde te lewe, is vasbeslote om getrou voort te gaan om “hierdie evangelie van die koninkryk” te verkondig (Matt. 24:14). Die groot vermeerdering in talle dele van die wêreld reg tot vanjaar is vir hulle bewys dat Jehovah se seën op sy organisasie rus en dat daar nog werk is om te doen. Hulle slaan dus ag op Paulus se raad: “Laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie.”—Gal. 6:8, 9.

23. Wat gee ons almal “kragtige bemoediging” om “standvastig in die geloof” te bly?

23 Wanneer ons sien hoe die dinge wat vir “die laaste dae” voorspel is reg voor ons oë plaasvind, het ons sterk vertroue dat “die groot verdrukking” en God se regverdige nuwe orde voor die deur is. Die wonderlike seëninge wat om die draai op ons wag, hetsy in die hemel of in die aardse paradys, gee ons “kragtige bemoediging” om reg tot die einde toe “standvastig in die geloof’ te bly “om vas te hou aan die hoop wat voorlê”.—Hebr. 6:17-19.

[Venster op bladsy 19]

OORSAKE

Gebrek aan geloof

Gees van onafhanklikheid

Ondankbaarheid

Vermetelheid

[Venster op bladsy 19]

GEVOLGE

Verlies van vreugde

Opstandigheid

Gebrek aan geestelike voeding

Werke van die vlees

[Prent op bladsy 21]

‘Red hulle deur hulle uit die vuur te ruk’

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel