Vrae van lesers
• Watter leiding bied die Bybel in verband met dobbelary? Sal dit byvoorbeeld vir ’n Christen verkeerd wees om ’n klein bedrag te verwed tydens ’n kaartspel wat net vir vermaak gespeel word?
Die Skrif bied geen grondslag vir ’n onbuigsame reël teen elke “weddenskap”, ongeag hoe klein dit is nie. Dit help ons egter om te sien dat dobbelary ’n ernstige oortreding is, een wat daartoe kan lei dat ons by die Christengemeente en God se koninkryk uitgesluit word.
Die woorde “dobbel” en “dobbelary” word soms gebruik vir bedrywighede wat ’n risiko of hoop op wins inhou. Daar word soms gesê dat ’n persoon ‘’n kans waag’ dat ’n nuwe onderneming wat hy aanpak of waarin hy belê ’n profyt sal maak. Maar die bespreking wat volg, handel oor die soort “dobbelary” waarby weddenskappe betrokke is. Byvoorbeeld: “Dobbelary word algemeen gedefinieer as die daad om ’n bedrag genaamd ’n inset, wedgeld of weddenskap op die uitslag van ’n spel of ander gebeurtenis te waag (Encyclopedia Americana). Die Bybel bespreek sulke dobbelary nie regstreeks nie.
Rigters 14:11-19 vertel van ’n toets wat Simson voorgestel het waarby betaling betrokke was. Dit was nie soseer ’n vorm van dobbelary nie, maar eerder ’n strategie wat hy gebruik het, “want hy het rede gesoek teen” die vyandelike Filistyne. Die gebruik van die “lot” in Israel was ook nie dobbelary nie; dit was ’n manier om God se leiding te kry of geskille by te lê (Spr. 16:33; 18:18; 1 Sam. 14:41, 42). En hoewel die Hebreërs speletjies gespeel en wedstryde gehad het, is daar geen getuienis dat hulle geld daarop verwed het nie (Jer. 12:5). Hastings se Encyclopœdia of Religion and Ethics sê: “Solank [die Israeliete] ’n landbouvolk gebly het, was hulle oënskynlik besonder vry van die euwel van dobbelary. In Babilon het hulle handelaars geword en gemeng met mense onder wie gelukspele deel van die alledaagse lewe was.”—DI. VI, bl. 164.
Jesaja 65:11, 12 verwys byvoorbeeld na “die geluksgod” op wie Babiloniese dobbelaars staatgemaak het vir hulp. Enige Israeliet wat, soos daardie verse meld, ’n tafel gedek het met voedsel vir sulke afgodiese geluksgode, sou hom aan afvalligheid skuldig maak.
Die enigste geval in die Bybel wat as dobbelary geklassifiseer kan word, was in werklikheid toe die Romeinse soldate die lot gewerp het om te bepaal wie Jesus se onderkleed sou kry.—Matt. 27:35; Joh. 19:23.
Hoewel die Bybel dobbelary nie breedvoerig bespreek nie, verstrek dit beginsels wat ons help om dobbelary te beoordeel. Hulle toon dat die Christen bewus moet wees van die beweegrede waarom daar gedobbel word en van die uitwerking wat dobbelary dikwels het.
Daar word algemeen erken dat dobbelary dikwels geldgierigheid wek. Dit is belangrik vir Christene, want die Bybel veroordeel “gierigheid” onomwonde. God deel ons mee dat “gierigaards” nie sy koninkryk sal beërwe nie, en dat gierigheid in dieselfde klas val as afgodediens. Opregte Christene sal dus gebruike wil vermy wat daartoe kan lei dat hulle gierigheid toon en dit hulle so aan die heerlikheid van God ontbreek.—Kol. 3:5; 1 Kor. 6:9, 10; Rom. 3:23.
Gierigheid kan natuurlik op baie maniere geopenbaar word. ’n Persoon kan oordrewe gierigheid in sy eetgewoontes aan die dag lê en ’n vraat word. Of gierige onmatigheid wat drinkgewoontes betref kan hom ’n dronkaard maak (Tit. 1:12, 13: Spr. 23:20; 1 Tim. 3:3). Etery is egter ’n normale, nodige deel van die lewe. En selfs die genot wat matige hoeveelhede sterk drank party verskaf, hou verband met ’n natuurlike proses, want ’n drank wat die liggaam as brandstof kan “verbrand” word as deel van die daaglikse vloeistofinname gedrink. “Gierigheid” word dus nie so dikwels of maklik met hierdie dinge verbind as met dobbelary nie.
Die gierigheid van dobbelary is ’n hoofoorsaak van ’n groot deel van die misdadigheid en geweld wat met georganiseerde dobbelbedrywighede gepaard gaan. Maar selfs by die indiwiduele dobbelaar is gierigheid dikwels ’n onderliggende motief. Dobbel baie nie omdat hulle hoop om te wen wat ander verloor nie? Dit word selfs erken deur persone wie se denke nie hoofsaaklik op die Bybel gebaseer is nie. Professor D. M. Smyth het gesê: “Deur loterye voor te staan, buit regerings een van die mens se laagste eienskappe uit—gierigheid. Hulle dra by tot die verderf van menselewe, nie die verbetering daarvan nie. . . . Die voorstanders van loterye laat in werklikheid die gedagte by mense ontstaan dat dit reg is vir ’n persoon om munt te slaan uit die verliese van baie.”—Toronto se Star.
Maar iemand redeneer dalk: ‘Gestel ek speel ’n vriendskaplike kaart- of bordspeletjie met familielede? Ons verwed dalk klein bedrae sodat niemand baie kan wen of verloor nie. Kan dit nie net onskuldige vermaak sonder enige gierigheid wees nie?’
Party sal dalk so redeneer. Maar wanneer geld gebruik word, ongeag hoe klein die bedrae, is die gevaar duidelik. Dit kan die begin wees, en dit sal veral gevaarlik wees wanneer daar kinders onder die spelers is, want dit kan die dobbelgees by hulle wek. Waarom nie net die punte aanteken of sommer net vir die pret speel nie? Die geestelike ouere manne in die gemeente sal nie betrokke wil raak by wat jy in hierdie opsig doen nie. Hulle sal nie probeer om reëls neer te lê soos die godsdiensleiers wat in Lukas 6:1-5 beskrywe word nie. Indien dit egter onder hulle aandag gekom het dat jou geestelikheid bedreig word, sal hulle vriendelike raad gee as diegene wat ‘waak vir die siele’ van die kudde.—Hebr. 13:17.
Die ondervinding toon dat baie wat gierige gewoontedobbelaars geword het, begin het deur klein bedrae ‘vir vermaak’ te verwed. Hulle het gesien dat hulle klein bedrae kon wen en is in die versoeking gelei om groter bedrae te probeer wen. Die gierigheid kan ’n persoon verslaaf en kan selfs lei tot ’n lewe wat vantevore ondenkbaar was. ’n Voormalige dobbelaar in Kanada het gesê: “Ek het ’n niggie wat elke week $100 [R66] verloor. Haar man beklee twee betrekkings. Haar kinders ly letterlik honger. Sy sal bedel, leen en steel om te kan dobbel.”
Trotsheid is ook dikwels ’n motief vir dobbelary. Dit behaag ’n persoon se trots wanneer hy kan wen. God sê egter: “Hoogmoed en trotsheid . . . haat ek.” Ware aanbidders word aangespoor om beskeidenheid en nederigheid aan te kweek.—Spr. 8:13; 11:2; 22:4; Miga 6:8, NW; Jak. 4:16.
Dobbelaars verheerlik dikwels “geluk”. Vir hulle is “geluk” nie net ’n woord wat bloot goeie resultate beteken nie, maar ’n bomenslike invloed soos ’n god. Gierigheid en trots laat dobbelaars op “geluk” vertrou.
Dobbelary veroorsaak dikwels luiheid. Dit spoor mense aan om te droom van hoe hulle iets vir niks gaan kry nie en laat hulle selfs lieg of bedrieg om te wen eerder as om te werk. Maar God se Woord spreek hom teen luiheid uit en staan spaarsaamheid, vlyt en harde werk voor. “As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie.”—Spr. 6:9-11; Ef. 4:28; 2 Thess. 3:10.
Die slegte vrugte van dobbelary is so berug dat daar in baie gemeenskappe op dobbelaars neergesien word, selfs al is dobbelary wettig. Die begeerte om ‘’n goeie getuienis van buitestaanders te hê’ en om ander nie teen die “evangelie van die koninkryk” bevooroordeeld te maak nie, is nog redes waarom baie Christene alle dobbelary heeltemal vermy.—1 Tim. 3:7, 10; Matt. 24:14; 1 Kor. 9:11-23; 2 Kor. 6:3.
Diegene wat as ‘herders van die kudde’ dien, stel tereg daarin belang om mede-Christene te help om dinge te vermy wat hulle geestelikheid kan skaad. As ’n persoon dus begin dobbel en werklik toon dat hy geneig is tot gierigheid of party van die slegte vrugte van dobbelary voortbring, sal die ouere manne wil help. Hulle kan raad privaat of in die openbaar gee wanneer hulle gevaarlike neigings tot gierigheid waarneem (1 Pet. 5:2, 3; Gal. 6:1). En indien ’n Christen onberouvol op ’n gierige weg volhard, sal dit dalk selfs nodig wees om hom uit die gemeente te verwyder in ooreenstemming met die voorskrifte in God se Woord, wat sê: “Verwyder tog dié slegte mens onder julle uit.” Paulus voeg by: “Weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie? Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie.”—1 Kor. 5:11-13; 6:9, 10.
Sake gaan egter selde so ver, want ware Christene vermy alle vorms van dobbelary heeltemal. Hulle wil die vrug van die gees voortbring en nie meedoen aan bedrywighede wat bekend is daarvoor dat dit hulle gierigheid aanwakker en die werke van die vlees voortbring nie (Gal. 5:19-22). Hulle besef die waarde daarvan om ’n bestaan met eerlike werk te maak. Die apostel Paulus het vermaan: “Ons vermaan julle, broeders, om . . . julle eer daarin te stel om rustig te lewe en julle eie sake te behartig en met julle eie hande te werk, soos ons julle beveel het, sodat julle welvoeglik kan wandel teenoor die wat buite is, en aan niks behoefte mag hê nie.”—1 Thess. 4:10-12.
Christene beskou die dinge wat hulle besit—onder meer hulle lewe en hulle geld of materiële middele—as iets wat aan God toegewy is. Hulle is aanspreeklik voor God vir die wyse waarop hulle dit gebruik. In plaas daarvan om hulle tyd en geld te verkwis op dobbelpraktyke wat gierigheid in hulle kan wek en wat ander kan benadeel, gebruik hulle hulle tyd en geld op maniere wat Jehovah tot eer sal strek (Spr. 3:9). Sodoende ‘doen hulle goed, is hulle ryk in goeie werke en vrygewig’. En so sal hulle, volgens wat Paulus geskrywe het, “vir hulle ’n skat weglê, ’n goeie fondament vir die toekoms, sodat hulle die ewige lewe kan verwerf”.—1 Tim. 6:17-19.