Die Bybel—’n boek wat hoop gee
WILLIAM GLADSTONE, na bewering die “grootste Britse staatsman van die 19de eeu”, het eenkeer geskryf: “Die wetenskap en navorsing het baie gedoen om die historiese geloofwaardigheid van die Ou Testament te staaf: . . . deur dit te doen het hulle krag verleen aan die argument dat hulle ’n Goddelike openbaring bevat; . . . wanneer die getuienis, van die inhoud sowel as van die resultate, rasioneel beskou word, verplig dit ons om te staan waar ons voorvaders gestaan het, naamlik op die onneembare rots, die Heilige Skrif.”
Die Bybel het voorwaar die storms van die tyd soos ’n onbeweeglike rots deurstaan. ’n Persoon wat op hierdie rots staan, kan vanuit hierdie verhewe posisie nie alleen ver terug in die verlede sien nie, maar ook tot ver in die toekoms. Kom ons ondersoek nou die inwendige getuienis wat bewys dat die Bybel ’n hoopinboesemende boek is wat jy kan vertrou.
INWENDIGE HARMONIE OM ’N SENTRALE TEMA
Die 66 boeke van die Bybel is oor ’n tydperk van 16 eeue deur sowat 40 skrywers geskryf. Dit is maklik om daardie verklaring te lees. Maar dink daaroor na. Weet jy van enige boek waarmee daar sê hier teen die einde van die vierde eeu van ons gewone jaartelling begin is en waaraan tientalle manne van alle stande met etlike onderbrekings reg tot ons dag geskryf het?
Daar bestaan nie so ’n boek nie. Maar gestel dit het bestaan en dit is van die tyd van die Romeinse Ryk, reg deur die tydperk van die koninkryke tot die tyd van hedendaagse republieke geskryf deur verskillende mense soos soldate, konings, priesters, vissers en selfs ’n herder en ’n geneesheer. Sou jy dan verwag het dat elke deel van daardie boek dieselfde basiese benadering en dieselfde sentrale tema sou hê? Nouliks!
Die Bybel is egter oor ’n soortgelyke tydperk, onder verskeie politieke bewinde, deur al daardie klasse manne en selfs nog meer, en in drie tale geskryf. Dit is nietemin van begin tot einde harmonies. Die basiese boodskap daarvan het van begin tot einde dieselfde strekking. Is dit nie verbasend nie?
Sulke inwendige harmonie sou onmoontlik gewees het tensy ’n ewige, verenigende gees die hele span skrywers deurdring het. Daardie gees was God se werkende krag. Die apostel Petrus het daarvan getuig deur te sê: “Dit moet [julle] weet, dat geen profesie van die Skrif ’n saak van eie uitlegging is nie; want geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie, maar deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.”—2 Pet. 1:20, 21.
Onder goddelike leiding het hierdie Bybelskrywers ’n enkele, sentrale tema ontwikkel: Die regverdiging van Jehovah se soewereiniteit en die uiteindelike vervulling van sy voorneme vir die aarde deur middel van sy koninkryk in die hande van Christus, die “Saad” van die belofte. (Kyk bladsy 16.)
’N PROFETIESE BOEK
Die grootste rede om te glo dat die Bybel nie die mens se woord is nie, maar God s’n, is moontlik die feit dat dit ’n boek is wat merkwaardige profesieë bevat. Ondanks al hulle gevorderde wetenskaplike toerusting kan mense nog steeds nie gereeld korrekte weervoorspellings maak nie, wat nog te sê honderde gebeure voorspel. Die Bybel bevat egter letterlik honderde profesieë wat verbasend akkuraat was. Toon dit nie dat die groot Gees wat vir sulke profesieë verantwoordelik was die Een is wat gesê het nie: “Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie”?—Jes. 46:9, 10.
Baie van die belangrikste profesieë in die Bybel hou verband met sy sentrale tema: die regverdiging van God deur die koninkryk van die beloofde “Saad”. Om alle twyfel uit die weg te ruim oor die korrekte identifisering van die “Saad”, het God talle profete geïnspireer om besonderhede te verstrek oor die geboorte, lewe en dood van hierdie beloofde verlosser. Hierdie profesieë oor die “Saad” of “Messias”—waarvan meer as 300 getel is—is almal deur Jesus Christus vervul.a
Party vrydenkers het probeer te kenne gee dat Christus hom in hierdie profesieë ingepas het en dus hulle vervulling bewerk het. Vrydenkers beroem hulle gewoonlik daarop dat hulle baie logies dink. Maar is dit logies om te beweer dat Jesus sake so bewerk het dat hy in Betlehem (Miga 5:1; Matt. 2:1, 5, 6), uit die stam van Juda (Gen. 49:10; Luk. 3:23, 33) en as ’n afstammeling van koning Dawid gebore is?—Jes. 9:6; Matt. 1:1.
Ander sal vinnig antwoord dat indien Jesus die Seun van God is en vantevore in die hemel gelewe het, hy sake kon gereël het sodat sy menslike geboorte sulke profesieë vervul. Dit is waar, maar indien ’n vrydenker daardie argument gebruik, sou dit sy doel verydel, want hy wil juis toon dat Jesus niks meer as ’n gewone man was nie.
En wat van die omstandighede van Jesus se dood: die feit dat hy geslaan is, daar op hom gespoeg is en hy aan ’n paal genael is en (iets baie buitengewoon vir mense wat aan ’n paal tereggestel is) dat geeneen van sy bene gebreek is nie? (Jes. 50:6; Miga 4:14; Jes. 53:5; Ps. 34:21; Matt. 27:26, 30; Luk. 23:33; Joh. 19:33-36). Het Jesus al hierdie dinge ook bewerk? Onmoontlik! Dit was dus ware profesieë wat meer as 700 jaar voor hulle vervulling neergeskryf is. Voorwaar sterk getuienis vir die Bybel se betroubaarheid!
Een van die merkwaardigste profesieë, en een waarvan die vervulling deeglik deur sekulêre geskiedenis bevestig is, was Jesus se voorspelling oor die vernietiging van Jerusalem. Dit was nie net die soort voorspelling wat enige slim politieke voorspeller kon gemaak het in die lig van die feit dat die Jode ontevrede was oor Romeinse bewind oor hulle nie. Dit het besonderhede bevat wat geen voorspeller kon voorsien het nie. Wie sou ooit kon dink dat die Romeinse bevelvoerder Cestius Gallus sy troepe in 66 G.J. “sonder enige rede hoegenaamd”, soos Josefus dit gestel het, aan Jerusalem sou onttrek net toe hy die stad feitlik sonder slag of stoot kon inneem? Maar Jesus het so ’n geleentheid vir indiwidue om uit die beleërde stad te vlug, voorspel (Luk. 21:20-22). Sy dissipels, wat vir hierdie teken gewag het, kon dus vlug. Amper vier jaar later, in 70 G.J., is Jerusalem en sy tempel toe heeltemal vernietig, net soos Jesus ook voorspel het.—Luk. 19:41-44; Matt. 24:2.
Jesus se profesie oor die vernietiging van eerste-eeuse Jerusalem is vir ons van die allergrootste belang, omdat dit deureengeweef is met sy profesie oor die einde van die huidige goddelose stelsel en die oprigting van God se koninkryk in die hande van die beloofde “Saad”. Net soos Jesus vir eerste-eeuse Christene ’n teken gegee het wat hulle in staat gestel het om te weet wanneer Jerusalem se einde naby was, en sodat hulle na veiligheid kon vlug, het hy vir Christene wat vandag lewe die teken gegee waarvolgens hulle weet dat sy koninkryk naby is.
Nadat hy gepraat het van internasionale oorloë, groot aardbewings, pessiektes, voedselskaarstes en die vervolging van ware Christene, het Jesus “benoudheid van nasies [nie net van Jode nie]” gemeld en voorspel dat mense “se harte [sou] beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld [nie net oor Jerusalem nie] kom” (Luk. 21:10-19, 25, 26). Hierdie uitdrukkings alleen weerlê die bewering dat sy profesie ten volle deur die vernietiging in 70 G.J. vervul is. Sy profesie het klaarblyklik veel meer ingesluit en gereik reg tot die tyd wanneer nie alleen afvallige Jerusalem nie, maar alle valse godsdienste en die res van Satan se goddelose stelsel van dinge vernietig sal word om die weg te baan vir die regverdige “nuwe aarde” wat ons ‘volgens God se belofte verwag’.—2 Pet. 3:13.
Dit word bevestig deur die vraag wat Jesus se dissipels aan hom gestel het, naamlik: “Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge [wat hy so pas oor Jerusalem se vernietiging voorspel het] wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?”—Matt. 24:3.
Nog iets wat toon dat Jesus baie meer in gedagte gehad het as Jerusalem se vernietiging en dat hy verwys het na die tyd wanneer hy weer en met krag sou kom en God se koninkryk opgerig sou word, is die feit dat hy gesê het: “En dan sal hulle die Seun van die mens sien kom in ’n wolk, met groot krag en heerlikheid. . . . Let op die vyeboom en al die bome. Net soos hulle bot, weet julle vanself, as julle dit sien, dat die somer al naby is. So moet julle ook weet dat die koninkryk van God naby is wanneer julle hierdie dinge [oorloë, aardbewings, pessiektes, voedselskaarstes, vervolging van Christene, benoudheid van nasies] sien gebeur.”—Luk. 21:10-31.
Net so seker as wat Jesus se profesie oor die vernietiging van Jerusalem tot in die fynste besonderhede waar was, sal sy profesie oor die einde van die huidige goddelose stelsel van dinge ook vervul word. Sedert 1914 sien ons oorvloedige bewys dat Jesus se profesieë wat in Mattheüs hoofstukke 24 en 25, Markus hoofstuk 13 en Lukas hoofstuk 21 opgeteken is, vervul word. Nadat Jesus gesê het dat ,al hierdie dinge ’n begin van die smarte is’, het hy bygevoeg: “En hierdie evangelie [goeie nuus, NW] van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”—Matt. 24:8, 14.
Ja, die huidige tyd van “benoudheid” gaan die vervulling van ’n wonderlike hoop vooraf. Jehovah se Getuies verkondig “hierdie goeie nuus van die koninkryk” vandag “in die hele wêreld”. Hulle verkondig die wonderlikste nuus wyd en syd, naamlik dat Jehovah God se soewereiniteit binnekort geregverdig sal word en dat sy voorneme met die aarde vervul sal word wanneer die Koninkryk van die “Saad”, Jesus Christus, die goddelose vernietig en toesien dat God se wil op aarde geskied net soos in die hemel (Matt. 6:9, 10). Dan sal alle manne en vroue wat geregtigheid liefhet, diegene wat die einde van die huidige stelsel oorlewe sowel as die miljoene verresenes, die geleentheid hê om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe.—Joh. 5:28, 29.
Dit is die wonderlike hoop wat die Bybel aan die mensdom voorhou. Die filosowe, wetenskaplikes en politici van hierdie wêreld kan jou nie so ’n hoop bied nie. Moet dus nie die enigste hoopinboesemende boek wat vandag bestaan, DIE BYBEL, verwerp nie. Jehovah se Getuies sal jou met graagte help om die Bybel beter te leer ken.
[Voetnoot]
a Kyk bladsy 145 van die boek Goeie nuus—om jou gelukkig te maak, wat deur die Wagtoringgenootskap uitgegee word, vir ’n lys van party van hierdie Messiaanse profesieë.
[Venster op bladsy 16]
DIE BYBEL ONTWIKKEL EEN SENTRALE TEMA:
Die regverdiging van Jehovah God se soewereiniteit en die uiteindelike volbrenging van sy voorneme met die aarde deur middel van sy koninkryk in die hande van Christus, die beloofde “Saad”
DIE GRONDWAARHEID:
“ln die begin . . . God.”—Gen. 1:1
GOD HET DIE MENS ’N GOEIE BEGIN GEGEE:
“Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en—dit was baie goed.”—Gen. 1:31
GOD SE DOEL WAS ’N GLOBALE PARADYS:
“God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit.”—Gen. 1:27, 28; 2:8
DIE EERSTE MAN HET IN OPSTAND GEKOM EN DIE DOOD AAN SY AFSTAMMELINGE OORGEDRA:
“Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring.”—Rom. 5:12, NAB
GOD HET VERLOSSING DEUR DIE “SAAD” BELOOF:
“ln jou [Abraham se] nageslag [of saad] sal al die nasies van die aarde geseën word.”—Gen. 22:17, 18; vergelyk Genesis 3:15
CHRISTUS IS DIE BELOOFDE “SAAD”:
“Nou is aan Abraham die beloftes toegesê en aan sy saad. Hy sê nie: En aan die sade, asof dit op baie sien nie, maar op een: En aan jou saad, dit is Christus.”—Gal. 3:16
GOD SE KONINKRYK IN DIE HANDE VAN DIE “SAAD” SAL GOD SE VOORNEME MET DIE AARDE VOLBRING:
“Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde.”—Matt. 6:9, 10; Openb. 12:10
DIE VERNIETIGING VAN ALLE REBELLE SAL GOD SE NAAM EN SOEWEREINITEIT REGVERDIG:
“Laat hulle beskaamd staan en verskrik wees vir ewig, en laat hulle rooi van skaamte word en omkom; sodat hulle kan weet dat U, wie se Naam [Jehovah] is, alleen die Allerhoogste is oor die hele aarde.”—Ps. 83:18, 19
CHRISTUS SE 1 000-JARIGE BEWIND SAL DIE PARADYS ONDER DIE MENSDOM HERSTEL:
“Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.”—Openb. 20:6
DIE GEVOLGE VAN SONDE SAL UITGEWIS WORD:
“Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.”—Openb. 21:3, 4
DIE ORDE SAL HERSTEL WORD EN GOD SAL UITEINDELIK GEREGVERDIG WEES:
Daarna kom die einde, wanneer [Christus] die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het. Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het. Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood. . . . En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees.”—1 Kor. 15:24-28