Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 12/15 bl. 18-23
  • Wanneer het “die laaste dae” begin?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wanneer het “die laaste dae” begin?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “DIE LAASTE DAE” VAN DIE JOODSE WETSVERBOND EN STELSEL
  • DIE LENGTE VAN WATTER “LAASTE DAE”?
  • Na hierdie “laaste dae” God se Messiaanse koninkryk!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Wie sal “gered” word?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • ‘Wat sal die teken van u teenwoordigheid wees?’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Wat sê die Bybel?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe)—2017
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 12/15 bl. 18-23

Wanneer het “die laaste dae” begin?

“Dít moet jy weet: in die laaste dae sal daar swaar tye kom.”—2 Tim. 3:1, NAB.

1, 2. (a) Waarom is dit wonderlik dat ons so diep in “die tyd van die einde” in is? (b) Wat sê die Bybel hieroor in 2 Petrus 3:13, 14?

“DIE LAASTE DAE” waarvan? Aangesien dit verwys na die laaste dae van ’n ou, onbevredigende, mislukte, hopelose stelsel van dinge, is dit goed dat ons die “tyd van die einde” daarvan bereik het (Dan. 12:4). Gelukkig vir ons sal die volkome einde van die ou bestel van dinge nie ons aarde woes, leweloos en leeg laat nie. Dit sal die weg baan vir die begin van ’n regverdige, vreedsame nuwe stelsel van dinge wat die belofte van die grootste welslae inhou. Dit is dus vir ons wonderlik dat ons nou so diep in die “tyd van die einde” in is. Die Bybel, die geïnspireerde Boek wat die huidige “tyd van die einde” voorspel het, bevat hierdie vreugdevolle woorde:

2 “Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin geregtigheid woon. Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, beywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede.”—2 Pet. 3:13, 14.

3, 4. (a) Waar, wanneer en waarom het die apostel Petrus oor die “laaste dae” gepraat, en met wie? (b) Watter profesie het Petrus ter verduideliking daarvan aangehaal?

3 Omtrent 30 jaar voordat die Christenapostel Petrus daardie woorde neergeskryf het, het hy van die “laaste dae” gepraat. Dit was op die dag van die Pinksterfees (6 Siwan) van die jaar 33 G.J. Hy het in die stad Jerusalem gepraat, maar nie in Herodes se tempel in daardie stad nie. Hy het gepraat in ’n woongebied waar omtrent 120 dissipels van Jesus Christus, wat kort tevore aan ’n paal genael is, vroeg, voor 9 vm. in ’n bovertrek vergader het. Hulle verwagtinge is skielik vervul. Die heilige gees wat Jesus Christus beloof het om op hulle uit te giet nadat hy na die hemel teruggekeer het, is met ’n sigbare teken op hulle uitgestort. Hulle is geïnspireer om in vreemde tale “oor die groot dade van God [te] spreek” (Hand. 2:1-11). Duisende Joodse feesvierders het saamgedrom om die skouspel te aanskou en uit te vind wat aangaan. Die apostel Petrus is geïnspireer om met hulle te praat en te verduidelik:

4 “Dit is wat deur die profeet Joël gespreek is: En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongelinge sal gesigte sien, en julle ou mense sal drome droom. En ook op my diensknegte en diensmaagde sal Ek in die dae van my Gees uitstort, en hulle sal profeteer. En Ek sal wonders gee bo in die hemel en tekens onder op die aarde, bloed en vuur en rookdamp. Die son sal verander in duisternis en die maan in bloed voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom. En elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.”—Hand. 2:16-21.

5. (a) Wanneer het daardie “laaste dae” volgens Petrus begin? (b) Het Petrus toe die “laaste dae” van die ou wêreldstelsel van dinge bedoel?

5 Wanneer het God so iets gesê? Honderde jare tevore in Joël 2:28-32. In Hebreeus begin die profesie soos volg: “En daarna sal Ek my Gees uitgiet op alle vlees”, ensovoorts. Onder inspirasie van God se gees het die apostel Petrus aangetoon waar “daarna” in die tydstroom was deur te sê “in die laaste dae”. Sowat 850 jaar nadat Joël se profesie voltooi is, het daardie “laaste dae” dus begin en het Petrus daarin gelewe. Maar ons vra nou: Het Petrus in die “laaste dae” van die hele wêreldstelsel van dinge gelewe? Nouliks, want hier lewe ons dan nog meer as 19 eeue nadat Petrus as ’n Christenmartelaar gedood is (Joh. 21:18, 19; 2 Pet. 1:14). Kan daar dan Skriftuurlik aangevoer word dat die “laaste dae” van toepassing is op die hele tydperk van Petrus se dae af tot en met ons eie veelbewoë tye, wat nog nie geëindig het nie? Dit is nie moontlik nie, selfs al het God klaarblyklik dwarsdeur die afgelope 19 eeue sy gees uitgestort op alle soorte vlees en hulle geestelike seuns en dogters van Jehovah God deur Jesus Christus gemaak.

6. Wanneer het die “laaste dae” waarin Petrus gelewe het, begin?

6 Sê die Skrif dat Petrus gelewe het tydens die “laaste dae” van iets wat destyds bestaan het? Ja! Daardie bepaalde “laaste dae” het begin toe Jesus deur Johannes die Doper gedoop is en met heilige gees gesalf is nadat hy uit die water opgekom het. Hy het aldus die Christus of Gesalfde geword.—Hand. 10:37, 38.

7. Hoe toon Paulus in Hebreërs 1:1, 2 dat daardie “laaste dae” begin het toe Jesus 30 jaar oud was?

7 Destyds het die “laaste dae” dus in die noordelike herfs van 29 G.J. begin toe Jesus van Nasaret ’n volwassene van 30 jaar was (Luk. 3:21-23). Toe die apostel Paulus aan die Hebreeuse Christene (klaarblyklik in Jerusalem) geskryf het, het hy die tydperk hiervoor aangedui en gesê: “Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy [wanneer?] in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het.”—Hebr. 1:1, 2.

8. (a) Wat het Johannes die Doper gesê om te toon dat die “laaste dae” ophande was? (b) Waarom was die waarskuwing wat Petrus op Pinksterdag gerig het vir die Jode tydig?

8 Ja, die tyd was “hierdie laaste dae” van die Joodse stelsel van dinge daar in die Midde-Ooste. Dit is dus geen wonder dat Johannes die Doper vir die Sadduseërs en Fariseërs wat na hom gekom het om gedoop te word, gesê het nie: “Addergeslag, wie het julle aangewys om te vlug vir die toorn wat aan die kom is? Dra dan vrugte wat by die bekering pas” (Matt. 3:7, 8). Slegs deur dit te doen kon hulle hoop om te ontkom aan die vuur van vernietigende moeilikheid wat die kafagtige lede van hulle nasie in 70 G.J. as ’t ware sou verteer. Op Pinksterdag van 33 G.J. het die apostel Petrus dus vir die berouvolle Jode wat in water gedoop wou word, gesê: “Laat julle red uit hierdie verkeerde geslag.”—Hand. 2:37-40.

“DIE LAASTE DAE” VAN DIE JOODSE WETSVERBOND EN STELSEL

9. Watter verbond se “laaste dae” het aangebreek toe Jesus gedoop en met heilige gees gesalf is, en waarom?

9 Jesus is gebore onder die Joodse Wetsverbond waarvan die profeet Moses die middelaar was. Toe Jesus gedoop en met heilige gees gesalf is, het hy die Middelaar geword van ’n nuwe verbond wat met geestelike Jode of Israeliete gesluit sou word. Dit het die “laaste dae” beteken vir die Joodse Wetsverbond en die Joodse stelsel wat gedraai het om die tempel van Herodes daar in Jerusalem. Toe Jesus as Middelaar tussen God en sy dissipels opgevaar het hemel toe, is die nuwe verbond met die waarde van die bloed van sy volmaakte mense-offer bekragtig. Die bewys hiervan is gelewer op daardie wonderlike Pinksterdag toe die heilige gees uitgegiet is, iets wat geestelike Israeliete voortgebring het met wie daar ’n nuwe verbond gesluit kon word. Dit het terselfdertyd die ou Wetsverbond met vleeslike Israel uitgedelg, tot niet gemaak (Ef. 2:15, 16; Kol. 2:13, 14). Maar God se spesiale guns is nog drie en ’n halwe jaar, tot die noordelike herfs van 36 G.J., teenoor die Jode betoon. Waarom?

10. (a) Waarom het Jehovah se guns na Pinksterdag van 33 G.J. nog ’n ruk op die Jode gerus? (b) Wanneer het die Joodse stelsel in die Midde-Ooste egter geëindig?

10 Omdat die profesie bepaal het dat God se verbondsvolk sy guns “sewentig weke van jare” sou geniet, en daardie tydperk van 490 Jaar het in 36 G.J. geëindig nadat Jesus Christus in die middel van daardie 70ste week ’n marteldood gesterf het (Dan. 9:24-27, An American Translation). Maar Jerusalem en sy tempel is nie daardie jaar vernietig nie, en die Jode is nie daardie jaar uit die provinsie Judea weggevoer nie. Dit was toe hierdie dinge in 70 G.J. plaasgevind het dat die Joodse stelsel van dinge in die Midde-Ooste geëindig het. Dit was die “einde” wat Jesus in gedagte gehad het toe hy sy profesie aan sy dissipels gegee het.

11. (a) Wat toon dat Jesus die “einde” van aardse Jerusalem in gedagte gehad het toe hy sy profesie op die Olyfberg aan sy dissipels gegee het? (b) Het Jesus daar gesê dat die vasgestelde “tye van die nasies” eers sou begin na Jerusalem se vernietiging, wat 37 jaar na Petrus se toespraak op Pinkster sou plaasvind?

11 Petrus en Andreas, Jakobus en Johannes het vir Jesus gevra: “Wanneer sal hierdie dinge wees?” Watter dinge? Toe Jesus deur die tempel geloop het, het hy gesê: “Sien julle al hierdie dinge? Voorwaar Ek sê vir julle, daar sal hier sekerlik nie een klip op die ander gelaat word, wat nie afgebreek sal word nie” (Matt. 24:1-3; Mark. 13:1, 2; Luk. 21:5, 6). In die profesie wat Jesus daarna op die Olyfberg gegee het, het hy gesê: “Daar sal ’n groot nood in die land wees en toorn oor hierdie volk. En hulle sal deur die skerpte van die swaard val en as krygsgevangenes geneem word na al die nasies, en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:23, 24). Jesus het nie daar gesê dat die vasgestelde “tye van die nasies” eers in 70 G.J. met Jerusalem se vernietiging en die ontvolking van die hele Judea sou begin nie. Daardie rampspoedige beëindiging van die Joodse stelsel van dinge in en rondom Jerusalem en sy tempel het 37 jaar na Petrus se toespraak op Pinksterdag plaasgevind, sodat hy gelyk gehad het toe hy gesê het dat die uitgieting van God se gees plaasgevind het “in die laaste dae”—van die Joodse stelsel van dinge.

12. Wat benewens valse Christusse en profete sou deel uitmaak van die “teken” dat sy Joodse dissipels in die “laaste dae” gelewe het?

12 In sy profesie in Mattheüs 24:4-22 het Jesus getoon dat die blote koms van valse Christusse en valse profete nie al aspek sou wees van die “teken” dat sy Joodse dissipels in die “laaste dae” van die Joodse stelsel van dinge gelewe het nie. Jesus het bygevoeg: “Julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie. Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. Maar al hierdie dinge is ’n begin van die smarte.

13. Watter menslike bedrywighede sou deel uitmaak van die “teken”?

13 “Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam. En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat. En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei. En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word. En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies: en dan sal die einde [télos] kom. Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom—laat hy wat lees, oplet—dan moet die wat in Judea is, na die berge vlug.”—Matt. 24:3-16.

14. Wat sou volgens Paulus intussen met die Jode gebeur?

14 Wat sou intussen gebeur? In ’n brief wat omstreeks 50 G.J. geskryf is, het die apostel Paulus na die Jode verwys en gesê: “Nou het hulle die maat van hulle sondes volgemaak. Nou is dit klaar: die oordeel van God het hulle begin tref” (1 Thess. 2:16, NAB). So iets kon verwag word gedurende die “laaste dae” van die Joodse stelsel van dinge daar in die Midde-Ooste.

15. Was die Jode se poging om die “einde” van hulle “laaste dae” af te weer geslaagd of nie, en waarom?

15 Die ongekerstende Jode het probeer om die einde van die “laaste dae” van hulle Palestynse stelsel van dinge af te weer. In 65 G.J. het hulle teen hulle Romeinse heersers in opstand gekom. Dit het ’n onafhanklike Joodse staat tot gevolg gehad wat omtrent vyf jaar geduur het. Selfs Joodse muntstukke is geslaan om daardie desperate jare te gedenk. Maar die einde (télos) het meedoënloos in 70 G.J. gekom deur die toedoen van die Romeine wat hulle aansien kom red het.

16. (a) Het Paulus in 2 Timotheüs 3:1-5, 12 verwys na die “laaste dae” vir die Jode van 29 tot 70 G.J. of nie, en waarom? (b) Was ander “laaste dae” moontlik om Paulus se profesie te vervul?

16 Omstreeks 65 G.J., tydens sy tweede en laaste gevangenskap voor sy marteldood, het die apostel Paulus aan sy getroue sendelingmetgesel Timotheüs geskryf. In 2 Timotheüs 3:1-5, 12, het Paulus aan hom geskryf oor die morele en godsdienstoestande wat sou heers gedurende wat hy die “laaste dae” genoem het. Timotheüs het waarskynlik die vernietiging van Jerusalem in 70 G.J. oorlewe. Dit is dus duidelik dat Paulus nie aan Timotheüs geskryf het oor die “laaste dae” van die Joodse stelsel van dinge, die tydperk van 29 tot 70 G.J. nie. Paulus het aan hom geskryf oor ’n tydperk genaamd die laaste dae wat sou kom ná Jerusalem se vernietiging en nie net op die Jode van toepassing sou wees nie, maar op alle dele van die wêreld. Die Joodse opstand in 65 tot 70 G.J. het beslis nie Paulus se voorspelling in 2 Timotheüs 3:1-5 vervul nie. Toe die Christene “die gruwel van die verwoesting”, die vernietigende Romeinse leër, “in die heiligdom”, of in die omgewing van die tempel, sien staan het, het hulle uit Jerusalem en die hele Judea na Perea gevlug.

DIE LENGTE VAN WATTER “LAASTE DAE”?

17. Wat sou dit beteken wat tydsduur betref indien daar aangevoer word dat die “laaste dae” met die hele “Christelike Eeu” tot nou toe saamval?

17 Party Bybelstudente voer egter aan dat die “laaste dae” die hele “Christelike eeu” insluit, van Pinksterdag, toe Petrus Joël 2:28-32 aangehaal het, reg tot vanjaar (1980) en tot in die onbepaalde toekoms. Wat sou dit beteken? Dít: Die sogenaamde Joodse Eeu het gestrek van 1513 v.G.J., toe die Wetsverbond by die berg Sinai gesluit is, tot 70 G.J. Dit was ’n tydperk van 1 582 jaar. Hoe lank is die sogenaamde Christelike Eeu in vergelyking hiermee indien dit gemeet word vanaf Pinkster van 33 G.J. toe die heilige gees uitgegiet en die eerste Christengemeente in eertydse Jerusalem gestig is? Dit is reeds meer as 1 947 jaar lank. Indien die “laaste dae” met die Christelike Eeu saamval, sou dit beteken dat die “laaste dae” honderde jare langer is as die voorafgaande Joodse Eeu. Eienaardig, nie waar nie?

18. Wat word aangevoer omtrent die uitdrukking die “laaste dae” aangesien die heilige gees dwarsdeur die “Christelike Eeu” uitgegiet is ondanks die groot afval?

18 Iemand voer dalk die volgende argument as beswaar aan: Sou die heilige gees nie gedurende die “laaste dae” uitgegiet word nie, en is dit nie, ondanks die groot afval, sonder onderbreking van Pinkster van 33 G.J. tot nou toe uitgestort nie? Is daar nie in die laaste jare persone wat beweer dat hulle met heilige gees gesalf is sodat hulle verplig voel om die embleme van die Here se Aandmaal te gebruik nie? Laat dit nie logieserwys die “laaste dae” van Handelinge 2:16-21 saamval met die hele Christelike Eeu, met hierdie lang, ononderbroke tydperk waartydens die salwingsgees uitgegiet is nie?

19. Tot wie was Joël 2:28-32 eerstens gerig, en is die profesie voor of gedurende die “laaste dae” van hulle stelsel van dinge vervul?

19 Ons moet nietemin die feit onder die oë sien dat die tydperk van God se geestelike guns op die besnede Jode geëindig het in 36 G.J., toe onbesnede nie-Jode, Heidene, vir die eerste keer tot die geesgesalfde gemeente van Christus se dissipels toegelaat is. En dat die dae van die Joodse stelsel van dinge met hulle tempel te Jerusalem langer geduur het, tot 70 G.J. Die profesie in Joël 2:28-32, wat die apostel Petrus op Pinksterdag aangehaal het, was eerstens gerig tot die besnede Jode, en Bybelgeskiedenis toon dat daar ’n uitgieting van die salwingsgees gedurende die “laaste dae” van die Joodse stelsel van dinge in hulle Beloofde Land was, en nie voor daardie “dae” nie. Daardie dae was beslis nie die laaste dae van die Romeinse Ryk, die sesde wêreldmoondheid van Bybelgeskiedenis nie. Daardie sesde wêreldmoondheid is eers in 1763 G.J. deur die sewende wêreldmoondheid (die Britse Ryk met sy Amerikaanse kolonies) opgevolg ter vervulling van die sewende kop van die simboliese dier van Openbaring 13:1-3, wat sewe koppe en 10 horings gehad het.

20. Watter internasionale politieke liggame is nou onteenseglik in hulle “laaste dae”?

20 Die Britse Ryk en sy verwante Britse Statebond en sy bondgenoot, die Verenigde State van Amerika, is vandag onteenseglik in hulle “laaste dae”. Die internasionale reëling wat daardie politieke liggame so sterk voorstaan, naamlik die Verenigde Volke met 153 lede, is eweneens in sy “laaste dae”. Hoe onredelik is dit dus tog om te redeneer dat die lang Christelike Eeu die “laaste dae” is wat in Joël se profesie bedoel word!

21. Het Joël se profesie oor heilige gees geen soortgelyke periode van “laaste dae” toegelaat nie?

21 Op grond van feitlike verwikkelinge het die apostel Petrus Joël se profesie op die laaste deel van die Joodse stelsel van dinge in die Midde-Ooste toegepas. Maar Petrus het nie gesê, en Joël 2:28, 29 sê nie dat daar nie weer ’n soortgelyke tydperk van “laaste dae” sou wees waartydens heilige gees opvallend en op ooreenstemmende wyse uitgegiet sou word nie.

22. (a) Is al die aspekte van die profesie in Joël 2:28-32 gedurende die “laaste dae” van die eertydse Joodse stelsel vervul? (b) Is al die dele van die samegestelde vraag wat die dissipels aan Jesus gestel het destyds vervul, of wat moes nog bewys word?

22 Daarbenewens het die dinge wat Joël voorspel het met die uitgieting van die heilige gees gepaard sou gaan, naamlik tekens aan die hemel en op aarde, bloed, vuur, rookpilare, die verduistering van die son en die verandering van die maan in bloed, nie plaasgevind gedurende die “laaste dae” waarin die apostel Petrus gelewe het nie. Sodat alles wat Jehovah, die Inspireerder van profesie, voorspel het bewaarheid kan word, moet daar gevolglik nog ’n tydperk genaamd die “laaste dae” wees sodat al die dele van hierdie profesie vervul kan word. Geskiedkundige feite moet nog aangevoer word om die vraag te beantwoord wat die vier apostels aan Jesus Christus gestel het: “Wat is die teken van u teenwoordigheid [par·ou-siá] en van die voleinding van die stelsel van dinge?” (Matt. 24:3, NW). Die getuienis wat vandag beskikbaar is, bewys dat ons in die hedendaagse vervulling van die “laaste dae” lewe. Maar van wanneer af, en waarom? Dit is aan hierdie vraag wat ons vervolgens ons opregte aandag moet skenk.

[Lokteks op bladsy 21]

Die “laaste dae” van 41 jaar het die voleinding van 1 582 jaar van die Joodse Eeu gekenmerk

[Lokteks op bladsy 22]

Die “laaste dae” sedert 1914 is die klimaks van meer as 4 000 jaar van ’n hele wêreldstelsel

[Lokteks op bladsy 23]

Nog ’n tydperk genaamd die “laaste dae” is nodig om Joël 2:28, 29 heeltemal te vervul

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel