Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 12/15 bl. 24-29
  • Na hierdie “laaste dae” God se Messiaanse koninkryk!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Na hierdie “laaste dae” God se Messiaanse koninkryk!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DIE MESSIAANSE KONING EN SY “SKAPE”
  • FINALE WÊRELDWYE VERKONDIGING!
  • Wanneer het “die laaste dae” begin?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • ‘Wat sal die teken van u teenwoordigheid wees?’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Wanneer sal die voorspelde wêreldvernietiging kom?
    Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind?
  • Hou Jehovah se dag goed in gedagte
    Aanbid die enigste ware God
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 12/15 bl. 24-29

Na hierdie “laaste dae” God se Messiaanse koninkryk!

1. (a) Wat dui die uitdrukking “die laaste dae” omtrent daardie dae aan? (b) Het die “laaste dae” van die Joodse stelsel ’n einde gehad?

DAE wat “die laaste dae” genoem word, behoort ’n einde te hê. In die geval van die Jode en hulle herboude tempel te Jerusalem het daardie dae in die jaar 70 G.J. geëindig. Waarom sou dit anders “die laaste dae” genoem word? Geskiedkundig het hulle ’n einde (télos) gehad. Toe Jesus gepraat het van daardie laaste dae van die Joodse stelsel van dinge, het hy gesê: “Dan sal daar ’n groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word.”—Matt. 24:21, 22; Mark. 13:19, 20.

2. (a) Wie was die “uitverkorenes” ter wille van wie die “groot verdrukking” op Jerusalem verkort is? (b) Watter beskouing van die vervulling maak Jesus se profetiese woorde oordrewe?

2 Daar was volgens berig 97 000 Jode in Jerusalem wat die beleëring en verwoesting van hulle heilige stad en die tempel wat koning Herodes daarin gebou het, oorleef het. Hulle was egter nie die “uitverkorenes” ter wille van wie die “groot verdrukking” verkort is nie. Dit was eerder die Christene wat Jesus se raad in Mattheüs 24:16-20 stiptelik gehoorsaam het en uit die gedoemde stad en uit die provinsie Judea gevlug het nadat die eerste beleëring in 66 G.J. beëindig is. Die dinge wat destyds gebeur het, was erg genoeg. Maar indien Jesus se woorde daaroor in Mattheüs 24:21, 22 en Markus 13:19, 20 beperk is tot die einde (télos) van Jerusalem in 70 G.J., dan het hy oordryf. Dit was beslis nie die grootste verdrukking in die hele geboekstaafde mensegeskiedenis nie.

3. Jesus se beskrywing is korrek slegs indien ons die vernietiging van eertydse Jerusalem uit watter oogpunt beskou?

3 Jesus se vergelyking is korrek slegs indien ons Jerusalem se vernietiging beskou as ’n tipe of ’n illustrasie van ’n toekomstige, ongeëwenaarde “groot verdrukking”, die vernietiging van die valse Christendom, wat beweer dat dit amper ’n duisendmiljoen lidmate het. Die vernietiging daarvan is die begin van die vernietiging van die hele wêreldryk van valse godsdiens. Kort daarna volg die vernietiging van alle wêreldlike elemente wat hulle aan daardie Babiloniese wêreldryk van valse godsdiens onttrek het, maar nie ten gunste van God se Messiaanse koninkryk is nie. Die aantal menselewens wat tydens daardie “groot verdrukking” uitgewis gaan word, sal die aantal wat tydens die vloed van Noag se dag, dit wil sê, in die jare 2370-2369 v.G.J., vernietig is, verreweg oortref.

4. (a) Gedurende watter tydperk sou die “oorloë en gerugte van oorloë” wat Jesus voorspel het, voorkom? (b) Wat dui die feit aan dat dit “’n begin van die smarte” genoem is?

4 In Jesus se profesie in Mattheüs 24:4-22 is die “oorloë en gerugte van oorloë” waarvan hy gepraat het tot ’n bepaalde tydperk beperk. In die geval van die Joodse stelsel van dinge, waaroor sy dissipels eerste navraag gedoen het, was dit die tydperk van die “laaste dae” van 29 tot 70 G.J. Hierdie tydperk is inderdaad gekenmerk deur “oorloë en gerugte van oorloë”, tesame met hongersnode, pessiektes en aardbewings. Die Jode het ongetwyfeld die uitwerking van daardie rampspoedige dinge ervaar. Maar Jesus het gesê dat sulke dinge slegs “’n begin van die smarte” sou wees (Matt. 24:8). Hulle sou nie die finale doodsmarte wees nie.

5. (a) Het daardie angswekkende dinge destyds die “teenwoordigheid” van Christus en die “voleinding van die wêreld’’ voorafgegaan? (b) En is die Koninkryksprediking gedoen tot die mate wat voorspel is of nie, en waarom?

5 Daardie rampspoedige dinge het die einde (télos) van die Joodse stelsel van dinge in Palestina voorafgegaan. Maar soos ons vandag kan sien, was dit nie “die teken van [Christus se] koms en van die voleinding van die wêreld”, dinge wat by die dissipels se stel vrae ingesluit was nie (Matt. 24:3; Mark. 13:4). En gedurende die “laaste dae” van die Joodse stelsel was die verkondiging van “hierdie evangelie van die koninkryk . . . in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies” noodwendig op ’n beperkte skaal, want daar was min Koninkryksverkondigers en hierdie predikingswerk is onder vervolging gedoen (Matt. 24:9-14). Hulle kon natuurlik in die hele wêreld preek, want die Koninkryksprediking moes nie net tot die besnede Jode beperk word nie. Na Jesus se opstanding uit die dode het sy dissipels die bevel ontvang om ‘dissipels van al die nasies te maak’ (Matt. 28:19, 20). Die Koninkryksprediking op globale skaal was dus destyds iets toekomstigs, na 70 G.J.

6. (a) Watter dinge is voorspel om plaas te vind ná die verdrukking op die Jode van daardie tyd? (b) Waarom het die “uitverkorenes” nie saam met “al die stamme van die aarde” rou bedryf nie?

6 Met verwysing na die “groot verdrukking” op Jerusalem in 70 G.J. het Jesus voorts gepraat oor dinge wat “dadelik ná die verdrukking van daardie dae” sou kom (Matt. 24:29). “Die teken van die Seun van die mens” moes verskyn; daar sou ook rou bedryf word, nie net deur die verstrooide 12 stamme van natuurlike Jode nie, maar deur “al die stamme van die aarde”. Ál “sy uitverkorenes” sou ook versamel word. Hierdie “uitverkorenes” sou nie saam met “al die stamme van die aarde” rou bedryf oor die naderende wêreldonheil nie. Hulle sou nie rou bedryf nie, maar hulle verheug oor die “teken van die Seun van die mens” wat in die hemel sou verskyn (Matt. 24:30, 31). Hulle sou hulle verheug oor die getuienis dat hulle in die “laaste dae” van die ou wêreldstelsel lewe. Sedert daardie droewige jaar 1914 G.J., die jaar van die mensdom se eerste wêreldoorlog, het ons oorvloedige getuienis hiervan.

7. Wat kan ons volgens die Onse Vader verwag na die einde van die “laaste dae” van die globale stelsel van dinge?

7 Die “laaste dae” van enigiets moet deur iets anders gevolg word. Wat sal volg op die “laaste dae” van hierdie globale stelsel van dinge? Ongeag wat wêreldlike voorspellers meen die aarde se toestand na ’n verwagte derde wêreldoorlog sal wees, voorsien Jehovah se Getuies God se Messiaanse koninkryk, die een wat Jesus sy dissipels in die Onse Vader geleer het om voor te bid.—Matt. 6:9, 10.

8. Waarom bid Christene steeds die Onse Vader ondanks wat Paulus omstreeks 60-61 G.J. in Kolossense 1:13 geskryf het?

8 Ons bid steeds daardie gebed ongeag wat die apostel Paulus omstreeks 60-61 G.J. in Kolossense 1:13 geskryf het. Hy het destyds geskryf: “Hy [die hemelse Vader] wat ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde.” Dit verwys na ’n geestelike koninkryk waarin die Christene in Kolosse oorgebring is terwyl hulle nog in die vlees hier op aarde en in ’n godsdienstig duister stad in Klein-Asië was. Daardie geestelike staat van hulle op die aarde, wat nog onder die bewind van Satan die Duiwel was, was beslis nie die vervulling van die Onse Vader nie: “Vader, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom” (Luk. 11:2, NAB; Matt. 6:9, 10). Voordat daardie gebed ten volle verhoor kon word, moes die Seun van God se liefde meer as ’n geestelike koninkryk oor sy aardse dissipels ontvang.

DIE MESSIAANSE KONING EN SY “SKAPE”

9, 10. (a) Na koningskap vir hom in watter sin het Jesus in sy gelykenis van die skape en die bokke verwys? (b) Na Jesus se voltooiing van watter taak sou die skeidingswerk plaasvind, en wat sou daardie daad beteken?

9 In sy profesie oor “die voleinding van die wêreld” het Jesus verwys na sy koningskap in ’n volledige sin. Volgens die apostel Mattheüs se verslag het Jesus sy profesie afgesluit met die gelykenis van die simboliese skape en bokke. In Mattheüs 25:31, 32 het hy die gelykenis ingelei deur te sê: “Wanneer die Seun van die mens in majesteit kom en al die engele saam met Hom, sal Hy op sy koninklike troon gaan sit. Al die volke sal voor Hom bymekaar gebring word, en Hy sal die mense [nie volke nie] van mekaar skei soos ’n wagter die skape van die bokke skei.” Dit gebeur nadat Satan die Duiwel en sy demone uit hulle hemelse buurt en voorregte na die omgewing van ons aarde gewerp is deur die gekroonde koning Jesus Christus. Dit is alles soos dit profeties in Openbaring 12:5-9 afgebeeld is. Oor die betekenis van daardie daad lees ons:

10 “Toe hoor ek [Johannes] ’n groot stem in die hemel sê: Nou het die heil en die krag en die koningskap die eiendom van onse God geword, en die mag van sy Christus: want die aanklaer van ons broeders is neergewerp, hy wat hulle aanklaag voor onse God, dag en nag. En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie. Daarom, wees verheug, o hemele en die wat daarin woon; wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het.”—Openb. 12:10-12.

11. (a) Wanneer het die “vier ruiters van Openbaring” volgens alle aanduidings begin ry? (b) Met watter beperkte tydperk wat Jesus in sy profesie oor die “laaste dae” voorspel het, kom ons tydperk van oorloë sedert 1914 ooreen?

11 Watter ingeligte persoon kan ontken dat ons 20ste eeu deur sulke buitengewone “wee” vir “die aarde en die see” gekenmerk is sedert 1914, ’n jaar waarin die sogenaamde “vier ruiters van Openbaring” volgens alle aanduidings begin ry het? (Kyk Openbaring 6:1-8.) Dit moet ’n onmiskenbare “teken” wees dat die “laaste dae” van hierdie wêreldstelsel van dinge in 1914 begin het en dat ons die “voleinding van die wêreld” binnegegaan het. Sedert Satan die Duiwel en sy demone uit die hemel gewerp is, is dit beslis ook die “laaste dae” vir hulle voordat hulle in die afgrond gewerp word voor die duisendjarige bewind van die Messias Jesus (Openb. 20:1-3, 7). Dit is duidelik dat die Eerste Wêreldoorlog van 1914 en die Tweede Wêreldoorlog van 1939 en die talle oorloë wat sedert 1945 dwarsoor die aarde gevolg het, ’n hedendaagse parallel is van die “oorloë en gerugte van oorloë” (tesame met hongersnode, pessiektes en aardbewings) wat Jesus gesê het die jare 29 tot 70 G.J. sou kenmerk as die “laaste dae” van die Joodse stelsel van dinge wat om Jerusalem en sy herboude tempel gedraai het.

12. Waarop stuur die globale stelsel van dinge vandag af indien die dinge wat Jerusalem in 70 G.J. ondervind het nie beantwoord het aan dit wat Jesus in Mattheüs 24:21, 22 voorspel het nie?

12 Die smartlike benoudheid wat Jerusalem in 70 G.J. ondervind het, het nie beantwoord aan Jesus se beskrywing in sy profesie in Mattheüs 24:21, 22 nie. Maar vandag stuur die teenbeeldige Jerusalem (die valse Christendom), ja, die hele wêreldryk van valse godsdiens, ja, die hele globale stelsel van dinge af op die “groot verdrukking . . . soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie”. Dit is dus nie vreemd dat ons die vervulling sien van die profesie wat die apostel Paulus omstreeks 65 G.J. gemaak het en in 2 Timotheüs 3:1 neergeskryf het nie: “Dit moet jy [Timotheüs] weet: in die laaste dae sal daar swaar tye kom.”—NAB.

FINALE WÊRELDWYE VERKONDIGING!

13. Watter ander aspek van Jesus se profesie sou die “voleinding van die wêreld”, in ooreenstemming met Openbaring 12:11, besonder maak?

13 Nadat Satan die Duiwel uit die hemel gewerp is, het die Christene wat hy aangekla het hom, volgens Openbaring 12:11, “oorwin . . . deur die woord van hulle getuienis”. Die vervulling hiervan was nog ’n aspek wat Jesus gesê het “die voleinding van die wêreld” besonder sou maak. Watter aspek is dit? “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies: en dan sal die einde [télos] kom” (Matt. 24:14). Dit gaan die einde van die “laaste dae” vooraf.

14. Hoe het hierdie Koninkryksgetuieniswerk dié oortref wat gedurende die “laaste dae” van die Joodse stelsel van dinge gedoen is?

14 So ’n getuienis, wat sedert die einde van die Eerste Wêreldoorlog op 11 November 1918 deur Jehovah se Getuies gelewer is, het die internasionale getuienis wat gedurende die “laaste dae” van die Joodse stelsel van dinge in 29 tot 70 G.J. gelewer is verreweg oortref. Destyds is die getuienis in Asië, Europa en Afrika gelewer. Vandag word dit nie alleen op daardie vastelande gelewer nie, maar ook in die Amerikas, in Australië en op die eilande van die Stille Oseaan, ja, oor die hele wêreld.

15. Wat kan spotters sê oor die sendelinge van die Christendom gedurende die afgelope eeue om hierdie prestasie te kleineer?

15 Spotters sal hierdie prestasie kleineer en sê dat die sendelinge van die Christendom gedurende vergange eeue na al daardie plekke gegaan het voordat die Christengetuies van Jehovah daar uitgekom het. Dis waar! Maar die Koninkryksgetuienis van Jehovah se Getuies sedert 1914 verskil hemelsbreed van die boodskap van die Christendom se sendelinge voor sowel as sedert 1914.

16, 17. (a) Hoe het die Koninkryksgetuienis wat sedert die einde van die Eerste Wêreldoorlog in 1918 gelewer is, verskil van die boodskap wat die Christendom se sendelinge verkondig het? (b) Wat het die Watch Tower van 1 Julie 1920 ter stawing hiervan gesê?

16 Wat is die verskil? Daar dit nie ’n getuienis was oor die koninkryk wat in Kolossense 1:13 gemeld word, “die koninkryk van die Seun van [God se] liefde”, waarin die 144 000 ‘verseëlde’ geestelike Israeliete reeds oorgebring is nie (Openb. 7:1-8). Die boodskap wat Jehovah se Getuies sedert 1918 dwarsoor die wêreld verkondig, is uniek, iets wat hierdie dae onderskei as die “laaste dae” van die politieke, maatskaplike, regterlike, gemilitariseerde stelsel van dinge. Dit is ’n wêreldwye getuienis oor ’n koninklike regering wat reeds in die hemele opgerig is en wat die mag ontvang het om die Duiwel en sy demone uit te werp uit die plek waar die troon daarvan geleë is (Openb. 12:5-9). Minder as twee jaar nadat die Eerste Wêreldoorlog geëindig het, het The Watch Tower and Herald of Christ’s Presence die hoofartikel met die titel “Evangelie van die Koninkryk” in sy nommer van 1 Julie 1920 gepubliseer. Dit het Mattheüs 24:14 aangehaal en onder die tussenhofie “Werk vir almal” het dit gesê:

17 “Die evangelie beteken goeie nuus. Die goeie nuus hier is aangaande die einde van die ou orde van dinge en die oprigting van die Messias se koninkryk. Dit beteken dat die donker nag van sonde en droefheid besig is om verby te gaan. Dit beteken dat Satan se ryk besig is om te val, om nooit weer op te kom nie.”—Bladsye 199, 200.

18. (a) Waarna sal “die einde” volgens Jesus se profesie kom? (b) Van watter vorige dae is ons “laaste dae” ’n parallel ten opsigte van Joël 2:28, 29?

18 Wanneer die verkondiging van hierdie evangelie van die Messiaanse koninkryk, naamlik dat dit in 1914 in die hemele opgerig is, gedoen is tot die mate wat God dit gedoen wil hê, “dan sal die einde [télos] kom” (Matt. 24:14). Hierdie finale Koninkryksprediking dwarsoor die wêreld geskied dus gedurende die “laaste dae” van hierdie stelsel van dinge. Dit is dus die gepaste dae vir die finale vervulling van die profesie in Joël 2:28, 29, net soos daar ’n aanvanklike vervulling van die profesie in die dae van die apostel Petrus en sy mede-apostels was, soos hy self op Pinksterdag van 33 G.J. verduidelik het. Ons “laaste dae” is dus ’n hedendaagse parallel van hulle “laaste dae”.

19. Watter gebeurtenis tydens die “laaste dae” waarin die apostels gelewe het, moet ’n hedendaagse parallel hê sodat die tydperke van “laaste dae” in alle opsigte ooreenkom?

19 Was daar, om die parallel in alle opsigte volkome te maak, egter eweneens ’n uitgieting van die heilige salwingsgees op “alle vlees” gedurende ons “laaste dae”? (Hand. 2:16-19). Ons aarsel nie in die geringste om te sê dat daar ’n duidelike vervulling van Joël 2:28, 29 sedert die wêreldskuddende jaar 1914 was nie. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog het die vyande van die Messiaanse koninkryk, die geestelikes van die Christendom in die besonder, daarin geslaag om die Koninkryksprediking deur Jehovah se gesalfde knegte òf te verbied òf ernstig te belemmer. Dit was soos die tydperk van 51 dae van Jesus se dood op 14 Nisan tot die oggend van Pinksterdag, 6 Siwan 33 G.J. Op die 50ste dag na Jesus se opstanding het sy paar dissipels, wat in Jerusalem vergader het, krag van bo ontvang toe die salwingsgees op hulle uitgestort is en hulle sy openbare getuies geword het.

20. Wat het na die vrylating van vername knegte van die Wagtoringgenootskap in 1919 gebeur wat ooreenstem met wat in Openbaring 11:7-13 beskryf word?

20 Nadat die ampsdraers van die Wagtoringgenootskap en hulle medegevangenes in Maart van die naoorlogse jaar 1919 uit die federale strafgevangenis in Atlanta, Georgia, V.S.A., bevry is, het heilige gees eweneens sterk op die oorblyfsel van Jehovah se toegewyde, gedoopte knegte op aarde begin inwerk. Onder die dryfkrag daarvan het hulle die werk aangepak wat in Mattheüs 24:14 vir hulle geskets is, die werk om tot die “einde” toe die finale getuienis oor God se opgerigte koninkryk te lewer. Dit kom ooreen met wat in beeldspraak in Openbaring 11:7-13 uiteengesit is.

21. (a) Wat het op Pinksterdag van 33 G.J. met duisende Joodse feesvierders te Jerusalem gebeur? (b) Waardeur is die algemene byeenkomste sedert 1919 dienooreenkomstig gekenmerk?

21 In 33 G.J. is ongeveer 3 000 Joodse Pinksterfeesvierders in Jerusalem gedoop “in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees” en met die versekering dat heilige gees op hulle uitgegiet sou word. Later het die aantal persone wat die heilige salwingsgees ontvang het, toegeneem tot ongeveer 5 000 (Hand. 2:37-41; 4:4; Matt. 28:19, 20). In ons hedendaagse “laaste dae” en minder as ses maande nadat lede van die Wagtoringgenootskap se hoofkwartierpersoneel uit die tronk in Atlanta, Georgia, vrygelaat is, is ’n algemene byeenkoms op 1-8 September 1919 te Cedar Point, Ohio, V.S.A., gehou, en by hierdie byeenkoms is meer as 200 in die Erie-meer gedoop in die hoop om lede van die geestelike liggaam van Christus te word. By die tweede Cedar Point-byeenkoms drie jaar later is 361 gedoop as moontlike lede van Christus se geestelike liggaam en met die hemelse hoop. By die byeenkoms in Columbus, Ohio, in 1924 is 485 gedoop.

22. Hoe is Joël 2:28, 29 in 1925 by die byeenkoms te Indianapolis toegepas, en wat het bewys dat God hom akkuraat by sy tydreëling hou en ’n Profeet is wat daardie profesie betref?

22 By die byeenkoms in Indianapolis, Indiana, in 1925 is daar nie alleen baie gedoop nie, maar is daar ook ’n baie belangrike toespraak gehou. Dit het die titel gehad “Die heilige gees word uitgegiet”, en dit het ’n hedendaagse toepassing van Joel 2:28, 29 gemaak. Duisende meer as ooit tevore het volgens berig die brood en die wyn by die jaarlikse viering van die Here se Aandmaal gebruik (Bladsye 339-344 van die Watch Tower, 15 November 1925). Gedurende hierdie “laaste dae” sedert die oorloggeteisterde jaar 1914 word heilige gees dus op ’n besonder duidelike manier uitgegiet om te bewys dat Jehovah hom stiptelik by sy tydreëling hou en ’n onfeilbare Profeet is. Hierdie “laaste dae” gaan binnekort hul “einde” (télos) tydens die aarde se grootste “verdrukking” bereik.

23. Watter regering sal op die voorgaande dinge volg, met watter voordeel vir die “verdrukking”-oorlewendes en vir al die vrygekoopte dode?

23 Wat volg dan? Openbaring 19:11 tot 20:6 antwoord: Jehovah God se Messiaanse koninkryk van ’n duisend jaar, wat “vrede op aarde onder mense van welbehae” gaan inlui, eers onder die aardse oorlewendes van “die groot verdrukking”, naamlik ’n oorblyfsel van diegene op wie die heilige gees gedurende die “laaste dae” uitgestort is, en ook onder die “groot menigte” van hulle sagmoedige metgeselle wat tot die “einde” (télos) by hulle gebly het (Luk. 2:14, NW; Matt. 24:21; Openb. 7:9, 14, 15). En mettertyd, gedurende daardie heerlike duisend jaar, sal die opstanding aanbreek van al die mensedode wat gaan reageer op die stem van die Lam van God, die Messiaanse Koning, Jesus, wat sy volmaakte menselewe as ’n losprys vir almal gegee het.—Openb. 20:11-21:4; Joh. 5:28, 29.

[Lokteks op bladsy 25]

Al was dit baie erg, was Jerusalem se vernietiging in 70 G.J. nie die grootste “verdrukking” in die geskiedenis nie.—Matt. 24:21

[Venster op bladsy 28]

Die Koninkryksprediking van Jehovah se Getuies sedert 1914 verskil hemelsbreed van dié van die Christendom se sendelinge, want:

Dit word gedoen tydens die “laaste dae” van hierdie verdorwe stelsel van dinge

Dit wys op die oprigting van God se koninkryk as ’n werklikheid in 1914

Dit gaan gepaard met ’n merkbare uitgieting van God se gees sedert 1919, en die volledige vervulling van Joël 2:28, 29

Dit bereik ’n klimaks met die “einde”, télos, van die “laaste dae” tydens die aarde se grootste verdrukking

Dit hou die wonderlike hoop uit dat die gesalfde oorblyfsel en die “groot menigte” tot in die ryk van die Messias se duisendjarige koninkryk sal oorleef

Dit wys op die naderende vervulling van God se belofte om die mensedode in ’n paradysaarde op te wek

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel