’n Blinde man toon die weg
DIE ramp het my tien jaar gelede getref toe ek in my vroeë twintigerjare was. Strawwe drinkery en ander misbruike van my gesondheid het hulle tol geëis. Ek het heeltemal blind geword. Omdat so ’n groot deel van my lewe nog voorgelê het, het ek dikwels gewonder wat ek moontlik daarmee kon doen.
Omdat my vrou besorg was oor wêreldgebeure en die toekoms van ons dogter, het sy begin om die Bybel saam met Jehovah se Getuies te bestudeer. Hoewel ek aanvanklik skepties was, het ek mettertyd aan die besprekings deelgeneem. Dit het nie lank geduur voordat ons besef het dat ons die waarheid bestudeer nie, en daarom is ons in 1978 gedoop.
Die begeerte om my pasgevonde geloof aan ander te verkondig, het gou oorweldigend geword. Met die hulp en bemoediging van my vrou, het ek Braille in sewe maande geleer. Dit het my groot vreugde verskaf om saam met ander Getuies van huis tot huis te gaan en die evangelie van God se Koninkryk te verkondig (Mattheüs 24:14). Maar wat kon ek doen om my aandeel in hierdie lewensbelangrike werk te vergroot?
’n Braille-Bybel is baie lywig en swaar; dit was heeltemal onprakties om een in die openbare predikingswerk te gebruik. Die wenk om ’n bladwyser in die Bybel te sit en die teks uit die hoof te leer, was goed, maar beperkend. Toe het ek ’n ingewing gekry! As ek dun velle deursigtige plastiek gebruik het, kon ek die kern van enige teks wat ek wou gebruik in Braille daarop tik. Deur dan hierdie velle in my Bybel te plak, kon ek na die tekste onder die plastiek wys terwyl ek die tekste met my vingerpunte gelees het. Ek het dit op die proef gestel, en dit was baie geslaagd. My gebede om my Christenbediening uit te brei, is verhoor!—Kolossense 4:3.
Namate ek vaardiger geword het in die gebruik van die Bybel, het my vertroue ook toegeneem. Kort daarna het ek in sekere gebiede alleen van huis tot huis getuig. Die afgelope jaar het ek die aangename voorreg gehad om as ’n pionier (’n voltydse Koninkryksverkondiger) te dien en om talle Bybelbesprekings in mense se huise te hou.
Hoe bly is ek tog dat ek, daar ek nou met geestelike gesig geseën is, diegene kan help wat nog steeds blind is vir die evangelie! (2 Korinthiërs 4:4-6). Hoe verheug is ek dat ek, ondanks my gebrek, Jehovah tot so ‘n groot mate kan loof!—Bygedra.