Sal die lewe in die Paradys vervelig wees?
“DIE twee groot vyande van menslike geluk is pyn en verveling.” Stem jy saam met daardie opinie van ’n 19de-eeuse wysgeer? Die meeste mense was al met tye verveeld. Maar waarom?
Verveling word geassosieer met “oninteressantheid, herhaling of eentonigheid,” “’n gevoel van satheid en ontevredenheid”. Dit spruit dikwels uit werk of werksaamheid wat nie stimuleer of bevredig nie. Maar dit is ook waar dat verveling ’n subjektiewe toestand is. Wat vir een persoon vervelend is, is vir ’n ander fassinerend.
Sal ewige lewe vervelig wees?
In teenstelling met die mens se huidige situasie sal almal wat die lewe in die beloofde Paradys ontvang ln harmonie met hulle omgewing en hul Maker wees. Waarom? Omdat hulle ’n behoorlike opvoeding sal ontvang om hulle voor te berei vir ’n interessante en vrugbare lewe in ’n paradysomgewing. Hoe weet ons dit? Omdat die profeet Jesaja onder inspirasie geskryf het: “Die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek.” Ja, kennis van Jehovah, die mensdom se grootste Weldoener, sal die sleutel wees tot ware genieting van die ewige lewe op ’n paradysaarde.—Jesaja 11:9.
Die ganse aarde sal die wonderlike eienskappe van die Groot Skepper volmaak weerspieël. Die gehoorsame mensdom sal ’n diepe liefde vir God koester en derhalwe die begeerte hê om sy weë en wysheid, soos op aarde beliggaam, te ken en te verstaan. Selfs vandag staan onvolmaakte mense in verwondering wanneer hulle die wonders en ingewikkeldheid van die natuur bestudeer. En tog is selfs die grootste kenner op enige gebied nooit tevrede nie—hy wil altyd meer weet. En daar is altyd meer om te weet! Die mens se intelligensie en onversadigbare nuuskierigheid sal verseker dat ewige lewe altyd interessant sal wees!—1 Johannes 4:7, 8.
’n Voorbeeld hiervan, selfs onder die huidige onvolmaakte toestande, is die gesindheid van die negentigjarige Andrés Segovia, die wêrelberoemde klassieke ghitaarspeler. Vind hy die lewe vervelig? Hy reis nog die wêreld vol en hou konserte. Ofskoon hy lewensmoegheid in ander gesien het, “is hy te lewenslustig, heeltemal te verdiep in sy werk om verveeld te wees”. Hy het self gesê: “Ek lees en bestudeer die geskiedenis, filosofie, kuns in al sy vorme, en musiek.” Ja, daar is nog so baie om te leer. Maar dink hoeveel meer daar in ’n volmaakte, aardse paradys sal wees om te leer! En met die heerlike vooruitsig van ewige lewe sal die mensdom genoeg tyd hê om dit te doen.
Die geval van Andrés Segovia lig ook iets anders toe—die mens se potensiaal vir kennis. Soos sielkundige Peter Russell in The Brain Book geskryf het: “Binnein ons kop is een van die ingewikkeldste stelsels in die bekende heelal . . . . Geen mens het nog ooit eens naastenby die volle potensiaal daarvan gebruik nie.” In ’n kort lewensduur van 70 of 80 jaar bly die brein se potensiaal feitlik onbenut. Soos Russell gesê het: “Daar word dikwels verklaar dat ons slegs 10 persent van ons volle verstandelike potensiaal gebruik. Nou wil dit voorkom of dit ’n growwe oorskatting is. Ons gebruik waarskynlik nie eens 1 persent nie—bes moontlik 0,1 persent of minder.” Dink net waartoe die menslike brein in die Paradys in staat sal wees sonder die probleme van siekte en veroudering!
’n Duisendjaarprojek
Daar moet erken word dat baie vandag die lewe vervelig vind bloot omdat hulle in ’n roetine gekluister is wat min afwisseling of stimulering vir die verstand bied. Maar wanneer die Bybel van ewige lewe onder God se Koninkryksbewind in die hande van Christus praat, verwys dit na ’n lewenstyl wat die hedendaagse mens nog nooit geken het nie. Ten eerste, hierdie Koninkryksregering het, nie ’n vyfjaarrooster soos sommige hedendaagse state nie, maar ’n duisendjarige voorsiening net om mee te begin! Daardie voorsiening word in verskeie dele van die Bybel vermeld en bied ’n fassinerende vooruitsig op ’n verskeidenheid van bedrywighede, waarvan almal opbouend en skeppend sal wees.—Openbaring 20:1-7.
Daar sal soveel wees om te doen en te leer, tesame met sterk motivering vir albei, dat “verveling” ’n vergete woord sal wees. Jehovah het byvoorbeeld beloof dat hy ‘die verderwers van die aarde sal verderf’ (Openbaring 11:18). Dit beteken dat die verdorwe aarde opgeruim sal moet word. Dink net aan die kolossale taak om die aarde tot sy oorspronklike prag en skoonheid te herstel—die verwydering van krotbuurte en digbeboude gebiede; die reiniging van die aarde se besoedelde riviere en waters. Liefde vir God en naaste sal gehoorsame manne en vroue beweeg om met blydskap aan hierdie groot werk mee te doen.
’n Program van bou-, plant- en onderrigtingswerk
Dit spreek vanself dat ’n paradysomgewing nie die behuisingseuwels kan insluit wat vandag bestaan nie. Wie wil buitendien in beknopte omstandighede in vervalle geboue, plakkerskampe of selfs op die strate woon? Die meeste sou graag hulle eie huis wil hê, en grond om te bewerk! Dit is wat God beloof aan almal wat nou hulle lojaliteit aan hom bewys. Die eindresultaat sal ’n paradysaarde vol gelukkige mense wees, mense wat ’n sinvolle lewe lei en vreugde daaruit put om ander te dien.—Handelinge 20:35.
God waarborg “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” wat vir miljoene mense ’n algehele omwenteling in lewenstoestande sal beteken. Jesaja het voorspel: “En hulle sal huise bou en bewoon, en wingerde plant en die vrug daarvan eet . . . want die dae van my volk sal wees soos die dae van die bome, en my uitverkorenes sal die werk van hulle hande self geniet.”—Jesaja 65:17-23; 2 Petrus 3:13.
Hierdie beloftes het ’n kleinere vervulling gehad met die herstelling van die Jode in hulle land in 537 v.G.J. Hulle het ’n veel groter vervulling in ’n geestelike sin in hierdie 20ste eeu, en hulle gee ’n aanduiding van toekomstige toestande gedurende die Duisendjarige Heerskappy van Christus se Koninkryk oor die aarde. As ons Jesaja se woorde ontleed, sien ons dadelik dat daar op sinvolle, skeppende werk gesinspeel word. Hierdie bou- en plantprogram sal geruime tyd duur, want behuising sal nie net vir die Armageddon-oorlewendes voorsien moet word nie, maar ook vir die duisendmiljoene wat met verdrag uit die dood sal opstaan. Watter eindelose moontlikhede sal daar tog nie wees vir argitektoniese inisiatief en ’n verskeidenheid van ontwerpe nie!—Openbaring 16:14-16; 21:3, 4.
Dink net wat die opstanding op sigself inhou. Jou voorvaders sal uit die dood opgewek word. Jou geslagslyn sal voor jou oë ontvou! Jy sal jou herkoms kan naspoor, nie uit saai verslae nie, maar deur met jou verrese voorsate te praat. Dit sal beslis nie vervelig wees nie!—Johannes 5:28, 29.
Gedurende die Duisendjarige Heerskappy van Christus se Koninkryk sal daar bowendien ’n wêreldwye onderrigtingsprogram aangepak word om die verresenes op hoogte te stel van die vervulling van God se voornemens in verband met die aarde en wat hulle moet doen om die ewige lewe te verkry. Jehovah sal ongetwyfeld nuwe instruksies voorsien wat by die mensdom se veranderde omstandighede pas. Die mense sal dan geoordeel word na die wette en instruksies in die “boeke” wat gedurende Christus se Duisendjarige Heerskappy geopen sal word.—Openbaring 20:12.
Die brein se potensiaal
Sal die lewe gedurende die Duisendjarige Heerskappy en daarna vervelig wees? Dink aan die brein se wonderlike potensiaal en vergelyk wat jy nou weet met wat daar is om te weet.
Hoeveel diere, plante en insekte kan jy byvoorbeeld uit persoonlike ondervinding identifiseer of beskryf? Twintig? Vyftig? Honderd? Vir stadsbewoners wat uit voeling is met die natuur, kan dit ’n onthullende uitdaging wees. Een bioloog skryf egter: “Ruim vyfmiljoen verskillende organismes deel die biosfeer [wat bestaan uit lewende organismes en hulle omgewing].” Hoeveel van daardie vyfmiljoen soorte aardbewoners kan jy opnoem? Hoeveel soorte insekte het jy byvoorbeeld al in jou lewe gesien? Daar is meer as 700 000 geklassifiseerde spesies! En wat van die wonderlike verskeidenheid voëls met hulle verskillende kleure, fatsoene en fluite? Hoeveel kan jy uitken? Daar is meer as 8 600 lewende voëlsoorte. Waar sou die mens gewees het sonder bome? Ons het bome nodig vir kos, skadu, hout en brandstof. Hoeveel tyd sal jy nodig hê om al 20 000 boomsoorte te leer ken?
En dit is maar net ’n paar van die duisende onderwerpe wat die mens se verbeelding aangryp. (Vergelyk Job, hoofstukke 38 en 39.) Die verskeidenheid en gekompliseerdheid daarvan skep geen probleem vir ons breinvermoë nie. Ons brein is in werklikheid met ’n eindelose potensiaal ontwerp. Die mensdom, geseën met ’n ondersoekende en weetgierige gees, sal dus nooit verveeld raak nie. Wat ons egter nodig het, is genoeg lewe om op te weeg teen die brein se potensiaal. En dit is presies wat God vir die gehoorsame mensdom beloof—eindelose lewe op ’n paradysaarde.—Johannes 17:3; Openbaring 22:1, 2.
Die ewigheid nie vervelig nie
Maar nog ’n paradysvooruitsig doen hom voor—die geleentheid om, bietjie vir bietjie, die hele aarde te leer ken. Daar sal geen landsgrense of reisbeperkings wees nie. Al die eng vooroordele op grond van nasie, ras of stam sal tot die verlede behoort. Almal sal besef dat hulle lede van die een, verenigde mensegeslag is. Watter vreugde sal dit tog wees om te reis en geleidelik al ons miljoene “broers” en “susters” te leer ken wat in vrede rondom die aarde woon. Dit sal ’n bron van eindelose vreugde wees—nie verveling nie!
Jehovah se beloftes en voornemens in verband met hierdie aarde sal ten volle vervul word: “Die ootmoediges sal eet en versadig word; hulle sal die Here prys wat na Hom soek; mag julle hart vir ewig lewe! Al die eindes van die aarde sal daaraan dink en hulle tot die Here bekeer, en al die geslagte van die nasies sal voor u aangesig aanbid.” As jy onder die ootmoediges wil wees wat vir ewig gaan lewe, moedig ons jou aan om met Jehovah se Getuies of die uitgewers van hierdie tydskrif in verbinding te tree. Jou vrae sal kosteloos beantwoord word, en jy kan ook die hoop hê om vir ewig op ‘n paradysaarde te lewe!—Psalm 22:27, 28; Titus 1:2.
[Prent op bladsy 6]
Hoeveel soorte voëls, diere, visse en plante ken jy? ln die Paradys sal daar tyd wees om van hulle almal te leer