‘Hy laat die oorloë ophou’
DIT was 8 Augustus 1942. Japannese magte het ’n paar van dle Amerikaanse Aleoetiese Eilande beset met die doel om die weskus van die V.S.A. aan te val. Ek was lid van ’n lugeskader van die V.S.A. se Vloot wat daarheen moes gaan om die Japannese skepe te torpedeer.
“Ons vliegtuig is gedurende die aanval getref, en ons radar het in die slag gebly. Ons moes deur digte mis na ons basis terugvlieg, al langs die skynbaar eindelose reeks Aleoete—en dit sonder ons basiese navigasiemiddel, ons radarstelsel. Ons het verdwaal. Ons het geweet dat die eilande en hulle berge links van ons gelê het. Maar hoe ver? Ons kon kwalik ons hand voor ons oë sien. Skielik het die kaptein geskreeu: ‘Ons gaan verongeluk!’
“Dit was die laaste wat ek kon onthou tot ek my bewussyn herwin het. Ons vliegtuig het in ’n berg vasgevlieg en ek is uit die wrak geslinger. Ek kon sien dat ons vliegtuig nog gebrand het. Die hele stert het afgebreek. As iemand nog gelewe het, sou hy daar wees.”
So vertel Harley Miller, wat die ongeluk oorleef het. ’n Foto van die wrak verskyn op bladsy 25. Wat het met die ander agt bemanningslede gebeur? Harley vertel dit self in die volgende artikel. Ons spoor jou aan om die relaas te lees, nie as ’n oorlogsverhaal nie, maar as die verhaal van ’n man wat uiteindelik vrede gevind het.
Gedurende sy loopbaan in die vloot het Harley baie manne sien sterf. Hulle was slegs ’n breukdeel van die totale aantal slagoffers van die Tweede Wêreldoorlog, maar hulle was genoeg om by hom die volslae sinloosheid van oorloë tuis te bring en om hom te laat vra: Waarom?
Is die mens vandag wyser?
Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het die dood ’n stuk of 55 miljoen lewens ingeoes—soldate sowel as burgerlikes. Watter angs en ellende is tog in die wêreld gesaai! Miljoene weduwees en wese is agtergelaat om self die mas op te kom. Aan die einde van die oorlog in 1945 was die logiese vraag dus: Sal oorloë ooit ophou?
Die droewige antwoord sedert 1945 is dat die mens niks wyser is nie. Die nasies hou aan om hulle gereed te maak vir en deel te neem aan oorloë en stryde. By ’n onlangse kongres oor die lot van die aarde het die afgetrede admiraal Gene La Rocque gesê dat, volgens die Pentagon, 270 oorloë sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog gevoer is. Hy het daaraan toegevoeg dat die Verenigde State en die Sowjet-Unie alleen 20 000 kernwapens het, en hy het gewaarsku: “As ons op ons huidige koers voortgaan, sal daar ’n kernoorlog uitbreek.”
Ja, regerings gaan soos wilde diere voort om hulle verskille deur bloedvergieting te besleg, maar gewoonlik is dit nie die bloed van die politieke heersers nie. En wanneer daar nie inderdaad oorlog is nie, bewaar die nasies ’n wankelrige vrede gegrond op wedersydse vrees—die teorie van Wedersydse Versekerde Vernietiging. Maar waarom? Waarom is oorlog dan oënskynlik onvermydelik in die mens se geskiedenis? Is daar ’n oplossing
Waarom is daar oorloë?
Sielkundiges en antropoloë kom met ’n verskeidenheid teorieë vorendag om hierdie verskynsel te verklaar. Hulle idees is natuurlik gegrond op die evolusieteorie en die opvatting dat die mens maar net ’n hoër dier is. Party beweer derhalwe dat “aggressie onontbeerlik is vir die behoud van die mensdom”. Die regverdiging van oorlog is dus ’n neweproduk van die evolusieteorie.
Maar sommige ander sielkundiges aanvaar nie dat oorlog bloot die gevolg van ’n aggressiewe instink is nie. Hulle glo dat oorlog ’n aangeleerde karaktertrek is, die gevolg van frustrasies in ’n mens se kinderdae. Gevolglik staan hulle ’n meer permissiewe opvoeding en ’n meer permissiewe samelewing voor. Maar het die bedreiging van oorlog afgeneem vandat die Westerse wêreld sy permissiewe samelewing het?
Robert Leckie het in sy boek Warfare die volgende gevolgtrekking gemaak: “Oorlog . . . kan nie in biologiese terme verklaar word nie. Dit skyn eerder ’n maatskaplike, politieke en regsprobleem te wees. . . . Die samelewing is skynbaar self die grondoorsaak van oorlog, en solank as wat groot samelewings—soewereine nasiestate—oor groot en ongekontroleerde mag beskik, sal oorlog onvermydelik bly.”—Ons kursiveer.
Bykans 2 000 jaar gelede, teen die agtergrond van die vroeë Christengemeente, het Jesus se halfbroer Jakobus gevra: “Waarvandaan kom oorloë en vegterye onder julle? Kom hulle nie hiervandaan, van julle welluste wat in julle lede stryd voer nie? Julle begeer en het nie, julle . . . is naywerig en julle kan niks verkry nie.”—Jakobus 4:1, 2.
Hierdie woorde dui van die grondoorsake van oorlog aan—naywer, ambisie, hebsug. Hierdie situasie bestaan al sowat 6 000 jaar lank (Genesis 4:2-10). Hoe dikwels is oorloë nie al oor grondgebied, besittings en hulpbronne gevoer nie! Trots, nasionalisme, lojaliteit en xenofobie, of vrees vir vreemdelinge en uitlanders, word uitgebuit om die kragte van oorlog te mobiliseer. Daar is egter ’n fundamentele oorsaak wat nog dieper lê as hierdie oppervlakkige oorsake.
’n Fundamentele oorsaak word misgekyk
In al hulle spekulasie is daar natuurlik een faktor wat byna al die kenners liefs miskyk—die onsigbare mag wat verkies dat die mens verdeeld is en oorlog voer. Daardie mag lei moedswillig die mensdom se aandag op alle moontlike maniere af—hetsy deur godsdiens, politiek of die najaging van plesier. Daardie mag word duidelik in die Bybel geïdentifiseer. Byvoorbeeld: “Ons weet dat ons uit God is en die hele wêreld in die mag van die Bose lê” (1 Johannes 5:19). Wie is daardie “Bose”? Jesus self het hom geidentifiseer toe hy vir die Fariseërs wat daarop uit was om hom dood te maak, gesê het: “Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ’n mensemoordenaar van die begin” af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ’n leuenaar is en die vader daarvan.”—Johannes 8:44.
Ja, die invloed wat die mens se oorlogsug ten grondslag lê, is die goddelose geesteheerser, Satan die Duiwel. Hy en sy demonvolgelinge, met hulle sadistiese natuur, hou die mensdom druk besig met oorloë en voorbereiding vir oorlog. En hoewel miljoene vandag teen kernwapens beswaar aanteken en ’n kernvriesing eis, toon hulle geen lojaliteit aan die enigste ware oplossing nie—die heerskappy van God se Koninkryk onder Christus. So slaag Satan daarin om ‘die hele wêreld te verlei’ (Openbaring 12:9). Hy spoor die mensdom aan tot ’n sinlose gejaag na vrede: hulle soek vrede terwyl hulle bly vasklou aan die elemente wat tot oorlog lei—eng, nasionalistiese belange.
Hoe sal vrede tot stand gebring word?
Robert Leckie, wat vroeër aangehaal is, verklaar: “Sosioloë sê dat oorlog ’n uitgediende funksie is . . . en dat die strydersinstink waarop dit teer, beheers kan word deur opvoeding, wet en etiek.” (Ons kursiveer.) Hierdie beskouing van sosioloë stem toevallig ooreen met die Bybel se oplossing vir oorlog, ’n oplossing wat op “opvoeding, wet en etiek” berus. Die profeet Jesaja het sowat 2 700 jaar gelede op daardie weg na vrede gewys en gesê: “En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die Here, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.”—Jesaja 2:3, 4.
Wat leer ons uit daardie profesie? Dat mense van baie nasies Jehovah se wet, heerskappy en soewereiniteit sal moet erken. Hulle sal ’n nuwe opvoeding in vrede moet aanvaar. Hulle sal in nederigheid moet sê: ‘Laat hy ons sy weë leer en laat ons in sy paaie wandel.’ Ja, hulle sal die weë, of “etiek”, van ware Christelike vrede leer en in Jehovah se paaie wandel soos duidelik toegelig deur die volmaakte voorbeeld van sy Seun, Christus Jesus. Die feit is dat Jehovah se Getuies, as ’n wêreldwye beweging, hierdie profesie reeds dekades lank vervul—deur twee wêreldoorloë en al die ander botsings wat die mensdom geteister het heen.
Ons moet egter die feit onder die oë sien dat blywende vrede vir die hele mensdom nooit deur mensepogings alleen bewerkstellig sal word nie. Iets baie groters is nodig—nie net ’n internasionale regering, soos wat baie voorstaan nie—maar ’n supranasionale regering, verhewe bo alle kleinlike politiek en nasionalisme. Dit is presies wat God se hemelse regering deur Christus is. Dit is die enigste ware middel tot vrede.—Mattheüs 6:9, 10.
Hoe sal daardie vrede tot stand gebring word? Aangesien die nasies nie vrywillig van hulle nasionale soewereiniteit afstand sal doen nie, sal hulle eerlank gedwing word om dit te doen. Soos die profeet Daniël voorspel het: “Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan” (Daniël 2:44). In Openbaring 20:1-3 lees ons verder dat die hoofaanstigter van oorlog, Satan die Duiwel, in ’n “afgrond” gewerp sal word. So sal hy “duisend jaar lank” buite aksie gestel word “sodat hy die nasies nie meer sou verlei . . . nie”.
Die einde van die mens se selfsugtige politieke koninkryke, of regerings, sal die weg baan vir die volkome vervulling van die hoopbesielende woorde van Psalm 46:9-11, naamlik: “Kom, aanskou die dade van die Here, wat verskriklike dinge oor die aarde bring, wat die oorloë laat ophou tot by die einde van die aarde, die boog verbreek en die spies stukkend slaan, die strydwaens met vuur verbrand. Laat staan en weet dat Ek God is; Ek sal hoog wees onder die nasies, hoog op die aarde.” Ja, Jehovah se soewereiniteit sal oor die hele aarde verhoog word. Daardie dag is naby.—Mattheüs 24; Markus 13; Lukas 21.
Wil jy graag die einde van alle oorloë sien? Wees dan verseker dat ons op die drumpel van die heuglike tyd staan waarvan Dawid in Psalm 37:10, 11 gepraat het: “Nog ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie wees nie; . . . die ootmoediges daarenteen sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede.”