Spreek die Woord van God onbevrees in die kerneeu
‘Spreek die woord van God onbevrees.’−FILIPPENSE 1:14, NW.
1. Wat het die Skepper van die atoom met sy kern die afgelope 48 jaar onverskrokke laat verkondig?
ONS lewe in die kerneeu. Die hele wêreld word nou bedreig deur kernoorlog! Die almagtige Skepper van die atoom met sy kern is terdeë daarvan bewus. Wat is sy Woord vir ons dag wat wêreldwyd verkondig moet word? In ons dag het hy ’n figuurlike ‘man wat met linne bekleed is en met ’n skrywer se inkpot aan sy heupe’ wat ’n tekenwerk doen.
2. Watter tekenwerk vind plaas, en met watter doel?
2 Hierdie “man” maak ’n teken op die voorhoofde van die mense wat sug en steun oor al die gruwels wat gedoen word, veral in die godsdiensryk van die Christendom, wat voorgee dat hulle God aanbid (Esegiël, hoofstuk 9). Wanneer hierdie mense terugdink aan die handelwyse van die Christendom se geestelikes gedurende die Eerste en Tweede Wêreldoorlog, is hulle beangs oor wat hulle rede het om te glo dat daardie godsdiensleiers gedurende ’n waarskynlike kernoorlog op ’n wêreldskaal sal doen. Omdat hulle meer van sogenaamde Christenleiers verwag, is hulle erg verontrus oor wat die geestelikes nou in hierdie hoogs onsedelike, gewelddadige en godsdienstig verdeelde wêreld deur die vingers sien. In ’n stelsel wat tot vroeë vernietiging gedoem is, ontvanghierdie regskapenes ’n teken vir behoud tot in ’n nuwe en regverdige stelsel.
3. Droefheid waaroor is belangriker as droefheid oor moontlike massa-uitwissing, en wat verg die tekenwerk?
3 Daar is geen verbetering van wêreldse dinge in sig nie. Wat sal die vrese stil van so baie regskapenes binne en buite die valse Christendom dat hulle binnekort en masse op gewelddadige wyse uitgewis gaan word? Wel, hulle is moontlik bedroef oor die toedrag van sake. Maar, en dit is die belangrikste, is hulle bedroef omdat die naam van die God van die Heilige Bybel by die saak betrokke is en smaad aangedoen word deur die handelwyse van diegene wat bely dat hulle sy volk is? Maar wie is die figuurlike ‘man wat met linne bekleed is’ wat ’n teken op al hoe meer van hierdie bedroefde persone maak, en hoe doen hy dit? Die geestelikes van die Christendom waardeer nie hierdie tekenwerk nie en hulle staan dit met mag en mening teë. Daarom het die tekenwerk groot onverskrokkenheid geverg.
4. Deur wie is die man wat die tekenwerk doen, voorafgeskadu, en watter kwalifikasies moet diegene wat op die oomblik die tekenwerk doen dus
4 Dit het egter sedert 1935 met selfs groter krag vooruitgegaan. Dit word gedoen deur ’n klas Christene wat hulle deur Jesus Christus aan Jehovah God toegewy het en wat deur die profeet Esegiël, ’n priester in eertydse Israel, voorafgeskadu is. Dit was hy wat die gesig gehad het van die ‘man wat met linne bekleed was, met die skrywer se inkpot aan sy heupe’. Hulle is toegewy aan dieselfde God waaraan Esegiël toegewy was, en daarom is hulle, net soos hy, getuies van Jehovah. Die hedendaagse Esegiël van 1984 is ’n priesterklas wat deel is van geestelike Israel, tot wie die apostel Petrus die woorde in 1 Petrus 2:9 gerig het: “Julle is ’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige volk, ’n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig.”
5. Hoeveel onderpriesters sal daar wees onder die een wat deur Jehovah as hoëpriester ingesweer is?
5 Ons sien gevolglik dat die hedendaagse Esegiëlklas bestaan uit diegene wat in ’n geestelike sin as onderpriesters dien onder die Hoëpriester, Jesus Christus, wat deur Jehovah God ingesweer is in die priesterskap “volgens die orde van Melgisedek”, wat koning van antieke Salem en “priester van God, die Allerhoogste,” was (Psalm 110:4; Genesis 14:18; Hebreërs 5:10; 6:20; 7:10, 11, 15-17). Vanaf die eerste eeu, waarin die apostel Petrus sy brief geskryf het, het Jehovah God die lede van hierdie “koninklike priesterdom” gekies, ’n priesterdom wat eindelik uit 144 000 onder die Hoëpriester, Jesus Christus, sou bestaan.—Openbaring 7:1-8; 14:1-4.
6. Hoeveel van daardie “koninklike priesterdom” is nog in die vlees op aarde, en as watter figuurlike persoon dien hulle?
6 Volgens die wêreldrapport vir die viering van die Here se Aandmaal op 29 Maart 1983 is daar vandag slegs ’n klein oorblyfsel van die lede van die “koninklike priesterdom” nog in die vlees op aarde. Saam dien hulle as die figuurlike man wat met linne bekleed is en wat ’n teken op die voorhoofde van verdienstelikes maak.
7. Wat moet diegene van vandag wat voorafgeskadu is deur die man wat met linne bekleed was en met die inkpot op Jehovah vertrou om vir hulle te doen?
7 Die profeet Esegiël van die ou tyd moes baie moed bymekaar skraap om nie die Israelitiese teëstanders van sy dag te vrees nie. Maar die almagtige God het beloof om Esegiël se aangesig net so hard soos die aangesigte van sy teëstanders te maak, ja, selfs harder. Hy moes dus nie sy bloot menslike teëstanders vrees nie (Esegiël 2:4; 3:8; Jesaja 51:12). Die oorblyfsel geesgesalfde Christene wat die klas uitmaak wat voorafgeskadu is deur die man wat met linne bekleed was en met die inkpot aan sy heupe, moet eweneens op die God van Esegiël vertrou om hulle aangesigte te verhard ten einde die harde aangesigte van teëstanders binne en buite die Christendom onverskrokke te konfronteer.
8. Watter instruksies wat vir vandag gepas is, het Jesus gegee?
8 Negentien eeue gelede het Jehovah se Hoofboodskapper, Jesus Christus, sy dissipels uitgestuur om die Woord van God onbevrees in hulle eie land te spreek. Voordat hy hulle uitgestuur het, het hy gesê: “Moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in [Gehenna]” (Mattheüs 10:28, vgl. NW). In die laaste boek van die Bybel sê hy daarbenewens vir die gesalfde oorblyfsel van ons dag: “Vrees vir niks wat jy sal ly nie. Kyk, die duiwel gaan sommige van julle in die gevangenis werp, sodat julle op die proef gestel kan word; en julle sal tien dae lank verdrukking hê. Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee” (Openbaring 2:10). Hoe bemoedigend is daardie woorde tog!
9. (a) Die feit dat so baie van Jehovah se Getuies vandag in die tronk is, toon dat hulle watter instruksies wat hierbo gegee is, uitvoer? (b) Watter teenoorgestelde uitwerking was daar in Paulus se geval?
9 As ons in gedagte hou dat daar vandag getuies van Jehovah in meer as 40 lande is waar hulle werk verbied of deur die wet beperk is—ongetwyfeld meer Christene nou as die getal wat in die eerste en tweede eeu in die gevangenis gewerp is—vrees Jehovah se Getuies van vandag nie die dinge wat hulle moet ly nie, nie eens gevangenisstraf nie. Die gevangesetting van Christene kan die teenoorgestelde uitwerking op mede-Christene hê as wat die vyand beoog het. Die gevange apostel Paulus het uit sy plek van aanhouding geskryf dat “die meeste van die broeders wat in die Here deur my boeie vertroue gekry het, dit des te meer waag om die woord onbevrees te spreek”.—Filippense 1:14.
10. (a) Wat is die bron van die boodskap wat Jehovah se Getuies vandag aangestel is om te spreek? (b) Watter standpunt soos dié van die apostels 19 eeue gelede moet hulle inneem?
10 Net soos in Paulus se dag is dit vandag nie ’n mensgemaakte boodskap wat die getuies van Jehovah onbevrees spreek nie. Dit is die tydige boodskap wat geneem is uit die Heilige Bybel, die geïnspireerde Woord van die allerhoogste God, Jehovah. In daardie Woord sê hy vir sy toegewyde, gedoopte volk dat hulle sy getuies moet wees en oor sy Godheid en sy Koningskap moet getuig (Jesaja 43:10, 12). Watter skepsel, hoog of laag, het die reg of gesag om hulle te beveel of te dwing om dit nie meer te spreek nie, daar Hy hulle beveel om sy onfeilbare Woord te spreek? Ons moet die standpunt inneem van die Christenapostels van 1 900 jaar gelede wat vir die amptenare gesê het: “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.”—Handelinge 5:29.
11. Het mense hulself vergood deur die kernbom uit te vind, en het hulle die gesag om die verkondiging van die Koninkryksboodskap teë te staan?
11 Mense het nie gode van hulleself gemaak deur die kernbom uit te vind nie, en hulle moet rekenskap aan die allerhoogste God gee vir die wyse waarop hulle dit gebruik. (Kyk Psalm 82:6, 7.) Deur die kernbom as ’n afskrikmiddel te vervaardig, probeer die regerings om hulle oorheersing van die aarde voortte sit liewer as om die belange van God se Koninkryk in die hande van Jesus Christus te bevorder. Hulle voel gegrief deur en bemoei hulle met die verkondiging van daardie Koninkryk deur die hedendaagse, ware, gehoorsame volgelinge van Jesus Christus. Die kerneeu het nie Christus se volgende profetiese woorde verouderd of onprakties gemaak nie: “Hierdie dinge is ’n begin van die smarte. Maar wees vir julleself op die hoede, want hulle sal julle oorlewer aan regbanke, en in sinagoges sal julle geslaan word en voor goewerneurs en konings gebring word om My ontwil, vir hulle tot ’n getuienis. En die evangelie moet eers aan al die nasies verkondig word. En wanneer hulle jul weglei om julle oor te lewer, moenie julle vooraf kwel oor wat julle sal spreek nie, en moenie daaroor dink nie; maar wat julle in dié uur gegee word [om te spreek], dit moet julle spreek; want dit is nie julle wat spreek nie, maar die Heilige Gees.”—Markus 13:8-11.
12. Wat moes eers verkondig word ondanks gewelddadige teëstand, en waarvan sou dit ’n besonder opvallende teken wees?
12 Wêreldsmarte het in 1914 begin. Die voorspelde vervolging van Jesus Christus se getroue en gehoorsame volgelinge het gevolg en duur tot vandag toe voort. Alles dui daarop dat ons in “die voleinding van die wêreld” lewe, ja, dat ons die grootse klimaks van hierdie kerneeu nader (Mattheüs 24:3; Markus 13:3, 4). Maar voordat die volbragte einde aanbreek, moet “die evangelie” “eers” verkondig word. Die feit dat ‘die Woord van God onbevrees’ oor die hele wêreld ten behoewe van die Koninkryk gespreek word, is dus een van die opvallendste bewyse dat ons in “die voleinding van die wêreld” lewe.—Mattheüs 24:14.
God se Woord word geëet en oor die hele wêreld gespreek
13. Watter ondervinding soos die een wat in Openbaring hoofstuk 10 beskryf is, het die gesalfde oorblyfsel na die Eerste Wêreldoorlog gehad, en watter bevel het hulle ontvang nadat hulle verkwik is?
13 Johannes, die laaste oorlewende onder die dissipels wat deur Jesus as apostels gekies is, het sy aardse loopbaan teen die einde van die eerste eeu voltooi. Gedurende hierdie “voleinding van die wêreld” sedert 1914 was daar ’n oorblyfsel toegewyde, gedoopte Christene wat met Jehovah se gees gesalf is. Hierdie oorblyfsel is deur Johannes, die skrywer van die laaste boek van die Bybelkanon, Openbaring, afgeskadu. In die eerste naoorlogse jaar, 1919, het hierdie oorblyfsel ’n ondervinding gehad soos wat Johannes aangaande homself in Openbaring hoofstuk 10 beskryf. Hierdie ondervinding sou plaasvind omstreeks die tyd wanneer “die verborgenheid van God”, of sy “heilige geheim”, volbring sou word (Openbaring 10:7, AB, NW). Nadat hulle as ’t ware geestelik verkwik is deur die soet “boekie” wat vir hulle aangebied is te eet, is daar in werklikheid vir die lede van hierdie hedendaagse klas wat deur Johannes afgeskadu is, gesê: “Jy moet weer profeteer oor baie volke en nasies en tale en konings.”—Openbaring 10:10, 11.
14. Deur wie word die opdrag wat aan die apostel Johannes op Patmos gegee is, uitgevoer?
14 Die geïnspireerde verslag sê nie of die apostel Johannes op die eiland Patmos in staat was om sy dienstoewysing met so ’n groot omvang en op sy oudag te vervul nie. Maar wat van die hedendaagse gesalfdes wat deur Johannes afgeskadu is? Dit is hierdie klas wat sy profetiese status vervul en toesien dat sy opdrag ten volle uitgevoer word. Die uitdrukking “Jy moet weer profeteer”, toon dat die vrye uitvoering van sy getuieniswerk belemmer is deur sy ballingskap op Patmos. Dit is duidelik dat wat destyds vir hom gesê is in werklikheid vir sy hedendaagse teenbeeld bedoel is. Daarom is ons verplig om te vra: In hoeveel lande en tale spreek Jehovah se Getuies die Woord van God onbevrees terwyl hulle daarna streef om “hierdie evangelie van die koninkryk . . . in die hele wêreld tot ’n getuienis” te verkondig?—Mattheüs 24:14.
15. In watter mate word die predikingswerk nou gedoen?
15 Die 1983 Yearbook of Jehovah’s Witnesses gee 205 lande aan, en meld dat Bybellektuur in nagenoeg 190 tale gedruk word. In daardie lande is daar swart, wit, geel, rooi en bruin mense, asook mense van verskillende stamme, sibbes, sektes en dialekte. Sedert die Eerste Wêreldoorlog het die getal “konings” op trone baie afgeneem, maar daar is nou talle ander politieke heersers aan bewind. Die boodskap van Jehovah se Getuies raak en geld vir hulle almal, ongeag hulle amptelike benaming of hulle politieke amp. Die feit dat Jehovah se Getuies in so baie lande in die ban gedoen is, is bewys hiervan.
16. Watter verkondiging duur dus onweerstaanbaar voort, al bid wêreldleiers ook waarvoor?
16 Ondanks die Volkebond en sy opvolger, die Verenigde Volke, wat in die lewe geroep is om ’n verenigde wêreld in die hand te werk en te bewaar, het die onverskrokke verkondiging van die Koninkryk van God in die hande van Christus as die mensdom se enigste hoop onweerstaanbaar voortgegaan. Hierdie “evangelie [goeie nuus] van die koninkryk” klink nie vir wêreldleiers “goed” nie, aangesien dit so baie verskil van wat hulle meen vir die geteisterde mensdom goed is, ja, die beste is. Hulle meen dat hulle self na aardse aangeleenthede as hulle saak kan omsien. Wanneer hulle bewus is van ’n behoefte aan bomenslike hulp, het hulle godsdiensgebede in werklikheid net “die god van hierdie wêreld” bereik en niks hoër gegaan nie. Die goddelike Bron van “hierdie evangelie van die koninkryk” is nie ten gunste van “hierdie wêreld” waarvan Satan die Duiwel die god is nie.—2 Korinthiërs 4:4.
17. (a) Waarom het teëstanders nie daarin geslaag om die geskrewe Woord van God uit te wis nie? (b) Deur wie word daardie Woord sedert 1919 hoorbaar gemaak?
17 Die profetiese Bybel sê moedig dat die woord van God tot in ewigheid sal bly (1 Petrus 1:23-25). Daardie verklarings is tot vandag toe nie verkeerd bewys nie. Die Bybel, God se geïnspireerde, geskrewe Woord, is nie uitgewis nie, ondanks alle mensepogings om dit deur godsdiensverbooie en verbrandings te vernietig. Om verkondig te word, sou daardie geskrewe Woord van God dienooreenkomstig iemand nodig hê om dit hoorbaar te maak. Daardie Woord van God word sedert die naoorlogse jaar 1919 onversetlik en onbevrees deur Jehovah se Getuies gespreek. Dit word deur al hoe meer monde gedoen, ondanks woedende teëstanders se pogings om die onverskrokke sprekers die swye op te lê.
18. Tot wanneer sal Jehovah voortgaan om die voorhoofde van sulke persone te verhard?
18 Kan daar enige twyfel bestaan dat die Hemelse Gewer van daardie Woord sal voortgaan om die voorhoofde van sy hedendaagse Esegiëlklas en hulle moedige metgeselle so hard soos diamante te maak sodat hulle die hardkoppige teëstanders die hoof kan bied totdat vernietiging ’n einde aan hulle teëstand maak? Beslis nie! Hy het die weg van sy getuies tot nou toe voorspoedig gemaak. Hy sal voortgaan om hulle weg voorspoedig te maak totdat die werk om ‘weer oor baie volke en nasies en tale en konings te profeteer’ onverskrokke voltooi is. Daar kan verwag word dat hy dit sal doen, tot sy eie eer en tot die regverdiging van sy universele soewereiniteit.
Kan jy onthou?
◻ Wat het die man wat met linne bekleed was, ‘met ’n skrywer se inkpot aan sy heupe’, vir ons dag afgeskadu, en watter werk doen hy nou?
◻ Waarom moet Jehovah se Getuies nou onverskrokke wees?
◻ Wat moes die apostel Johannes doen nadat hy ’n “boekie” geëet het, en wat stem vandag daarmee ooreen?
[Prent op bladsy 11]
In hierdie kerneeu doen ’n figuurlike man met linne bekleed is ’n onverskrokke werk. Neem jy daaraan deel?
[Prent op bladsy 13]
Net soos Johannes ’n simboliese boekie ontvang het en beveel is om ‘weer te profeteer’, verkondig Christene vandag God se boodskap onbevrees