Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w84 3/1 bl. 15-20
  • God se Woord word uitgedra in ’n wêreld vol vrees

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • God se Woord word uitgedra in ’n wêreld vol vrees
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Diegene wat die valse Christendom in die skande steek deur te luister
  • Spreek die Woord van God onbevrees in die kerneeu
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • “Hulle sal moet weet dat ek Jehovah is”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Luister—Jehovah se wag spreek!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Boodskappers van Goddelike vrede word gelukkig verklaar
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
w84 3/1 bl. 15-20

God se Woord word uitgedra in ’n wêreld vol vrees

1. Watter ongeëwenaarde toestand van wêreldvrees het die grootste profeet in die mens se geskiedenis voorspel?

DIE grootste profeet in die hele mensegeskiedenis. Jesus Christus, het die internasionale geestesgesteldheid in die wêreldskokkende tydvak wat met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 ingetree het soos volg beskryf: “Mense se harte [sal] beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word.”—Lukas 21:26, 27.

2. Wie is nie bevrees nie, en waarom nie?

2 Hoe vreemd dit ook al mag lyk, is daar diegene wat nie bang en flou word weens ’n gevoel van hulpeloosheid nie. Dit is die getuies van Jehovah wat nou in 205 lande aangetref word. Hulle doen wat Jesus sy volgelinge aangespoor het om te doen: “En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is.”—Lukas 21:28.

3. Waarom is die Messiaanse Koninkryk nie in Jerusalem in Israel opgerig nie, en waarom het die Volkebond en sy opvolger nie die kerneeu afgeweer nie?

3 Dit is vandag duideliker as ooit tevore dat “die [vasgestelde] tye van die nasies” in die tweede helfte van 1914 geëindig het en dat die beloofde Koninkryk van Jehovah God toe in die hande van Jesus Christus in die hemele opgerig is om te midde van sy vyande te regeer (Lukas 21:24, vgl. NW). Tot vandag toe is daardie Messiaanse Koninkryk dus nie in aardse Jerusalem opgerig nie. Die Volkebond was logies ook nie “die politieke beliggaming van die Koninkryk van God op aarde” nie. Die Volkebond se opvolger, die Verenigde Volke, het na meer as 35 jaar in gebreke gebly om die valse Christendom se gebede te verhoor; dit het nie die kerneeu afgeweer nie.

4. Waarteen was die Volkebond in werklikheid ’n sameswering?

4 Reg vanaf die tyd dat ’n volkebond teen die einde van die Eerste Wêreldoorlog voorgestel is, het Jehovah se Getuies onbevrees bekend gemaak dat sulke mensgemaakte plaasvervangers vir die ware oplossing, Jehovah se koninklike regering in die hande van Christus, sou misluk. Hulle het hulle laat lei deur die profesie in Jesaja 8:12: “Julle moet nie alles ’n bond noem wat hierdie volk ’n bond noem nie; en julle moenie vrees wat hulle vrees of verskrik wees nie” (Authorized Version). Daardie mensgemaakte plan is in werklikheid ’n “sameswering”, ja, ’n sameswering teen die kosbare belange van God se Koninkryk in die hande van Christus (AB, NW, Revised Standard Version). Hoe kan dit dan ooit die seën en steun van die Koning van die konings, Jehovah God, geniet?

5. (a) Hoe het die “boekrol” gesmaak toe Esegiël dit geëet het, ondanks die inhoud van daardie “boekrol”? (b) Watter soort ondervinding is dit as God se Woord in ons monde geplaas word sodat ons as sy getuies kan dien?

5 Die Koninkryksboodskap wat Jehovah se Getuies aanhou verkondig, is voorwaar ’n uitdagende boodskap in ’n wêreld wat anders georiënteerd is. Hulle het ’n ondervinding gehad wat ooreenkom met dié van die profeet Esegiël toe hy ’n gevangene in die land Babilon was enkele jare voordat Jerusalem in 607 v.G.J. deur die Babiloniërs vernietig is. Net soos daar later vir die apostel op die eiland Patmos ’n boekie gegee is, is daar vir Esegiël ’n “boekrol” gegee. Die profeet deel ons mee: “Dit was beskrywe op die voor- en agterkant, en daarop was geskrywe klaagliedere en gesug en wee” (Esegiël 2:9, 10). Nadat hy hierdie “boekrol” op God se bevel geëet het, sê Esegiël: “Dit was in my mond soos heuning so soet” (Esegiël 3:1-3). Dit is vandag vir enige van ons ’n soete voorreg as die Woord van God in ons mond geplaas word sodat ons as sy boodskappers moet dien, ongeag die inhoud van daardie Woord, selfs al is dit klaagliedere, gesug en wee. (Vergelyk Psalm 19:8-11.) Jehovah se Getuies waardeer die geopenbaarde Woord van God nadat hulle dit vanaf die naoorlogse jaar 1919 eet. Dit het hulle versterk, net soos letterlike heuning Jonatan versterk het.—1 Samuel 14:26, 27.

6. Waarom het ons moed nodig namate die dag van God se wraak nader kom, maar waarvan kan Jehovah se Getuies seker wees?

6 Namate die “dag van die wraak van onse God” vinnig nader, verg dit moed van Jehovah se Getuies om aan te kondig dat daar in die nabye toekoms “klaagliedere en gesug en wee” op die hele mensdom wag (Jesaja 61:1, 2). Die mense van hierdie bedreigde wêreld wat na verligting soek, is nie geneig om na sulke informasie uit die mond van Jehovah se Getuies te luister nie. Maar aangesien God hulle uitstuur om sy Woord uit te dra, kan hulle daarvan seker wees dat hy hulle tot op die dag van sy wraak sal steun.

7. Hoe sou Jehovah Esegiël opgewasse maak teen sy toewysing?

7 Dit is nie aangenaam wanneer mense nie wil luister nie, maar kom ons slaan ag op wat God vir Esegiël gesê het: “Die huis van Israel sal na jou nie wil luister nie, omdat hulle na My nie wil luister nie; want die hele huis van Israel het ’n harde voorhoof en ’n ongevoelige hart. Kyk, Ek maak jou aangesig hard net soos hulle aangesig en jou voorhoof hard net soos hulle voorhoof. Jou voorhoof maak Ek hard soos ’n diamant, harder as ’n rots; jy mag nie vir hulle bevrees of vir hulle verskrik wees nie, omdat hulle ’n wederstrewige huis is . . . en kom, gaan na die ballinge, na die kinders van jou volk, en spreek met hulle en sê vir hulle: So spreek die Here HERE—of hulle al luister of nie.”—Esegiël 3:7-11.

8. Hoe het die Esegiëlklas die afskrikwekkende situasie na die Eerste Wêreldoorlog die hoof gebied, en wat sou gebeur het indien die geestelikes geluister het?

8 Dit was voor so ’n afskrikwekkende situasie dat die oorblyfsel van die Christene wat met God se gees verwek is om sy geestelike seuns te wees en wat met sy gees gesalf is om sy aangestelde getuies te wees, te staan gekom het. Hulle maak die 20ste-eeuse Esegiëlklas uit. Net soos Esegiël het hulle gevolglik nie teruggedeins voor die afskrikwekkende aangesigte van die professionele geestelikes van die Christendom met hulle indrukwekkende gewaad wat beweer dat hulle geestelike Israeliete is nie. As sulke godsdiensleiers hulle gesigte versag en met ’n gehoorsame oor na die Koninkryksboodskap geluister het wat sedert 1919 deur die gesalfde oorblyfsel verkondig is, sou die Christendom nie die Tweede Wêreldoorlog ontketen het nie—’n oorlog wat wêreldwyd baie groter en skadeliker as die eerste was.

9. Hoe is die oorblyfsel en hulle toegewyde metgeselle opgewasse gemaak teen hulle toewysing?

9 Selfs met die toenemende bedreiging van kernoorlog ten spyte van die Verenigde Volke-Organisasie het die godsdiensleiers vandag nie ’n gelaatsverandering teenoor die Koninkryksverkondigers ondergaan nie. Die gesalfde oorblyfsel, wat Koninkryksambassadeurs is, en hulle toegewyde, gedoopte metgeselle uit al die nasies moet gevolglik hulle eie gesigte soos ’n diamant verhard met die oog op die strawwer godsdiensteenstand. Hulle gaan voort om die Woord van God onbevrees te spreek.

10. Waarom moes die geestelikes en hulle gemeentelede na Jehovah se Getuies geluister het, en watter feit sal sulke godsdiensbeoefenaars nog moet erken?

10 Veral die geestelikes van die Christendom en hulle gemeentelede moes die boodskap en die raad van Jehovah se Getuies verstaan het. Die Getuies neem hulle boodskap uit dieselfde Bybel wat die godsdiensbeoefenaars van die sogenaamde Christelike wêreld bely hulle aanvaar en wat hulle Bybelgenootskappe in baie tale versprei het. Dit was net soos wat Jehovah God vir Esegiël gesê het: “En die kinders is hard van aangesig en verstok van hart. Ek stuur jou na hulle, en jy moet vir hulle sê: So spreek die [Soewereine Heer Jehovah]! Maar of hulle nou al luister of nie—want hulle is ’n wederstrewige huis—hulle sal moet erken dat daar ’n profeet in hulle midde gewees het.”—Esegiël 2:4, 5, vgl. NW.

11. Watter eienskappe het die valse Christendom teenoor Jehovah se gemagtigde oorblyfsel geopenbaar, en hoe het hy die oorblyfsel in staat gestel om hierdie uitdagende opdrag uit te voer?

11 Hardheid van aangesig en verstoktheid van hart is deur die voorgewende geestelike Israel, die valse Christendom, geopenbaar teenoor die gesalfde oorblyfsel wat die opdrag van die Soewereine Heer Jehovah ontvang het om sy finale boodskap gedurende hierdie “voleinding van die wêreld” te verkondig (Mattheüs 24:3, 14). Die almagtige God het geweet dat hy die hedendaagse teenbeeld van Esegiël met die onverskrokkenheid kon besiel wat hierdie gesalfde oorblyfsel die krag sou gee om hierdie uitdagende opdrag te onderneem en uit te voer.

12. Watter valse aanklag weer Jehovah sodoende af, en watter gepaste gebeurtenis sal hom met ’n skoon lei laat?

12 Die onberispelike God het hom voorgeneem om te voorkom dat hy ooit daarvan beskuldig kan word dat hy nalatig was deur nie die persone wat in gevaar verkeer het vroegtydig te waarsku nie. Die verloop van omstandighede gaan ’n punt bereik waar ons gedwing sal word om kleur te beken. Dan sal diegene wat nie ag gegee het nie, gedwing word om te erken dat ’n profeet van Jehovah af onder hulle was. Dit sal plaasvind wanneer Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, vir ewig vernietig word deur die politieke magte met wie sy skaamteloos geestelike hoerery bedryf het. Dit sal die God van reine aanbidding met ’n skoon lei laat.

13. Watter belofte aan die gesalfde oorblyfsel het Jehovah gehou, en hoe het hulle gevolglik ’n goeie voorbeeld vir die “ander skape” gestel?

13 Die onverskrokke spraak van die gesalfde oorblyfsel tot op hede kan toegeskryf word aan die feit dat Jehovah sy belofte gehou het: “Kyk, Ek maak jou aangesig hard net soos hulle aangesig en jou voorhoof hard net soos hulle voorhoof. Jou voorhoof maak Ek hard soos ’n diamant, harder as ’n rots; jy mag nie vir hulle bevrees of vir hulle verskrik wees nie, omdat hulle ’n wederstrewige huis is” (Esegiël 3:8, 9). Aldus versterk, het die oorblyfsel as ’n bemoedigende voorbeeld gedien vir die toenemende menigte “ander skape” wat Jesus Christus, die Goeie Herder, beloof het om aan die kant van sy gesalfde oorblyfsel te vergader. (Johannes 10:16; Openbaring 7:9-17). As Jehovah se Getuies het hierdie “ander skape” so moedig soos ’n leeu geword.

14, 15. (a) Weens watter verskil is baie getuies van Jehovah binne en buite die lande van die Christendom in die tronk? (b) Hoe is die uitwerking van sulke gevangenisstraf op vry Getuies anders as wat verwag kon word?

14 Jehovah se Getuies volg nie Babilon die Grote na nie. Binne sowel as buite die lande van die Christendom het hulle gevolglik broers in die Christelike geloof wat in tronke aangehou word weens hulle strenge neutraliteit. Dit het nie die Getuies wat nog vry en buite die tronk is met vrees vervul nie. Daar was eerder ’n herhaling van wat gebeur het in die geval van die apostel Paulus se Christenbroers in Rome. Tydens ’n verhoor het Paulus hom op die Romeinse keiser vir geregtigheid beroep, en die regter het beslis: “Op die keiser het jy jou beroep—na die keiser sal jy gaan!” (Handelinge 25:10-12). Paulus is gevolglik geboeid na Rome geneem en daar opgesluit terwyl hy sy verhoor afgewag het. Dit was onder daardie omstandighede dat hy in ’n brief aan sy geliefde mede-Christene in die stad Filippi, Griekeland, gesê het:

15 “En die meeste van die broeders wat in die Here deur my boeie vertroue gekry het, [het] dit des te meer gewaag om die woord onbevrees te spreek.”—Filippense 1:14.

16. Watter eienskap het die vry getuies van Jehovah onmiddellik na die Eerste Wêreldoorlog geopenbaar al was van hulle Christenbroers in die gevangenis, en waarom het ons vandag dieselfde eienskap nodig?

16 Toe die Eerste Wêreldoorlog in 1918 geëindig het, het die ampsdraers en lede van die hoofkwartierpersoneel van die Wagtoring- Bybel- en Traktaak-genootskap hulle eweneens op valse aanklagte in die tronk bevind. Omdat vrede ingetree het, het die broers aan die buitekant dadelik moedige stappe gedoen om hulle vrylating te bewerkstellig. In 1919 is hulle uit die tronk vrygelaat en is hulle vrygespreek. Hulle is sodoende onskuldig bevind aan alle valse aanklagte. Die werk om die evangelie van die opgerigte Koninkryk van God in die hande van Christus te verkondig, is met meer moed as ooit tevore aangepak, ten spyte van Babilon die Grote en haar minnaars. Vandag, wanneer daar meer getuies van Jehovah in die gevangenis is as destyds gedurende die Eerste Wêreldoorlog, val dit op hulle vry broers buitekant om die ‘woord van God onbevrees te spreek’.

Diegene wat die valse Christendom in die skande steek deur te luister

17. (a) Wie het Jehovah vir Esegiël gesê sou meer geneig wees om te luister? (b) Op wie is die aandag eers toegespits, en hoe is die aandag toe gevestig op diegene wat meer geneig sou wees om te luister?

17 ’n Interessante vraag was: Wie sou waarskynlike hoorders wees? Hieroor het Jehovah vir Esegiël gesê: “Jy is nie gestuur na ’n volk wat duister van spraak en swaar van tong is . . . wie se woorde jy nie kan verstaan nie; as Ek jou tog na hulle gestuur het, het hulle na jou geluister!” (Esegiël 3:5, 6). Die profeet was verplig om voort te gaan om die woord van God tot sy eie volk, die nasie van Israel in hulle gevange toestand in die land Babilon te spreek. Tot die middel van die vierde dekade van ons 20ste eeu het die gesalfde oorblyfsel van geestelike Israel eweneens hulle pogings daarop toegespits om die laaste lede van geestelike Israel byeen te bring in die “stal” van die “klein kuddetjie”, aan wie dit die hemelse Vader behaag het om die Koninkryk te gee sodat hulle tot seën van die vrygekoopte mensdom saam met sy Seun kan regeer (Lukas 12:32). Toe is die woorde van sy Seun in Johannes 10:16 en die verhouding daarvan tot Openbaring 7:9-17 tydig in heroorweging geneem.

18, 19. Waarom het dit in 1935 groot onverskrokkenheid geverg om te sê dat die “groot menigte” die “ander skape” is wat “een kudde” saam met die gesalfde oorblyfsel sou word?

18 In Johannes 10:16 het Jesus, die Seun van God, gesê: “Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder.”

19 Dit het destyds onverskrokkenheid geverg van diegene wat as “ander skape” geklassifiseer sou word om na die stem van hulle “een herder” te luister. Jehovah se Getuies is op daardie stadium hewig vervolg deur die nasionalistiese magte onder Adolf Hitler, met die steun van dle geestelikes van die Rooms-Katolieke Kerk waaraan Nazistiese Hitler behoort het. In so ’n wêreldsituasie het dit dus groot geloof, oortuiging en onverskrokkenheid van die president van die Wagtoringgenootskap geverg om in 1935 daarop te wys dat die “groot menigte” van Openbaring 7:9-17 uit daardie voorspelde “ander skape” sou bestaan en dat hulle “een kudde” sou word saam met die vervolgde gesalfde oorblyfsel wat in “hierdie stal” was. Hy moes nietemin ‘die woord van God onbevrees spreek’. En dit is wat hy gedoen het.

20. Wat was die reaksie van diegene wat “ander skape” geword het, met die gevolg dat die “kudde” vandag hoe groot is?

20 Reg uit die staanspoor het honderde gehoor gegee, hulle deur sy “een herder” onvoorwaardelik aan Jehovah God toegewy en daardie toewyding gesimboliseer deur in water ondergedompel te word. En ten spyte van die onderbreking wat deur die Tweede Wêreldoorlog veroorsaak is, maak daardie “ander skape” nou ’n “kudde” van twee en ’n halfmiljoen of meer in 205 lande uit. Baie van hierdie lande lê buitekant die sogenaamde Christendom, lande soos Japan, waar daar jaarliks gemiddeld meer as 70 000 toegewyde verkondigers van die Koninkryksboodskap is, Korea, met meer as 30 000 en Nigerië met meer as 100 000.

21. Deur wie se reaksie op die oproep van die “een herder” word die valse Christendom in die skande gesteek?

21 Die valse Christendom met hulle harde aangesigte en harde harte, word weliswaar in die skande gesteek deur so ’n reaksie op die oproep van die “een herder” in daardie lande waar die spreektaal vir diegene in die Christendom moeilik en enigsins onverstaanbaar is, veral die godsdienstaal van hulle gelowe. Diegene wat Christus se “ander skape” word, openbaar prysenswaardige moed omdat hulle hulle nie steur aan wat die wêreld dink nie en na die “een herder” as hulle Godgegewe Leier en Verlosser stroom. Net soos hulle Herder spreek hulle die Woord van God onbevrees.

22. Met watter gesindheid moet Jehovah se Getuies God se Woord spreek, ondanks die wêreld?

22 Die wêreld word al hoe meer bevrees. Onder demoninvloed ruk die nasies op na die slagveld genaamd Armageddon vir die finale kragmeting. Jehovah se Getuies sal veilig op die kantlyn staan en toekyk terwyl hulle God die oorwinnig behaal. As oorlewendes van die Stryd der stryde sal hulle hulle stemme by die van die jubelende leërskare van die hemel voeg en die lof van die onoorwinlike God, Jehovah, en sy magtige Veldmaarskalk, Jesus Christus, besing (Openbaring 16:13-16). Dit is nie nou tyd om die aftog te blaas nie! Voorwaarts, dan, verenigde kudde van Jehovah se Getuies, en ‘spreek die woord van God onbevrees’ totdat die aarde vol is van die kennis van die heerlikheid van Jehovah soos die waters die seebodem oordek.—Jesaja 11:9; Esegiël 47:1-5.

Het jy opgemerk?

◻ Watter ondervinding het Esegiël in Babilon gehad, en hoe het dit ’n hedendaagse parallel?

◻ Waarom moet God se volk sy Woord onverskrokke verkondig, met die oog op geestelikes se gesindhede?

◻ Hoe het Jehovah se toegewyde volk hulle boodskap verkondig aan “’n volk wat duister van spraak” is?

◻ Watter gesindheid moet jy nou en in die toekoms openbaar?

[Prent op bladsy 17]

Jehovah se Getuies is onverskrokke ondanks geestelikes se misnoeë en hardheid

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel