Koninkrykseenheid is vandag ’n werklikheid
“So moet julle ook weet dat die koninkryk van God naby is wanneer julle hierdie dinge sien gebeur.”—LUKAS 21:31.
1. Wat het Jesus in Lukas hoofstuk 21 voorspel?
DIE woorde hierbo is deur die allergrootste profeet, Jesus Christus, gebesig. En waarna het Jesus hier verwys? Na die einste dinge wat in vandag se verdeelde wêreld om ons plaasvind! Die wêreld is besig om te verbrokkel. Dit is wat Jesus as deel van die teken van “die einde” van die wêreldstelsel voorspel het toe hy gepraat het van “oorloë en opstande, . . . en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid” (Mattheüs 24:3, 7, 8; Lukas 21:9, 25). Daar is oral tweedrag! Maar moet die tweedrag in die wêreld Jehovah se Getuies ontstel?
2. Hoe moet ons op wêreldtoestande reageer, en waarom?
2 Ons Heer verstrek die antwoord. Jesus het gesê: „As hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is” (Lukas 21:28). Verlossing waaruit? Uit ’n verdeelde wêreld wat dodelik siek is.—1 Johannes 5:19.
Politieke angs
3. Hoe betreur ingeligte persone politieke tendense?
3 Selfs die Verenigde Volke loën sy eie naam. Dit is allesbehalwe verenig. Die sekretaris-generaal van die VVO het die Veiligheidsraad se onvermoë om vrede en veiligheid te handhaaf, betreur en gesê: “Ons staan op die drempel van nuwe internasionale anargie.” Die tweedrag is skrikwekkend. ’n Skrywer vir die Washington Post het gesê: “Gebeure is buite beheer.” “Sedert die sestigerjare het regerings oral, in die Weste en die Ooste, begin misluk”, skryf ’n voormalige adviseur in die Wit Huis en politieke raadgewer. En ’n voormalige Amerikaanse ambassadeur by die Verenigde Volke het gesê dat die Algemene Vergadering “’n Teater van Onsinnigheid word”.
4. Op watter merkwaardige maniere word Lukas 21:26 nou vervul?
4 Maar sake kan vererger, want die koue oorlog neem toe en die kernmoondhede het reeds genoeg plofkoppe in hulle arsenale om 1 600 000 Hirosjimas te vernietig. ’n Voormalige Amerikaanse ambassadeur in Moskou meen dat die twee supermoondhede “op ’n botsing afstuur” en sê dat daar êrens ’n ontploffing gaan wees”. Dit is die vrugte van tweedrag in ons teenswoordige wêreld. Die bedreiging is wesenlik. Dit is presies wat Jesus gesê het die toestand in die tyd van “die voleinding van die wêreld” sou wees: “Mense se harte [sal] beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word” (Lukas 21:26). Ja, selfs die hemele, daar nasies voorbereidings tref om satelliete met kernplofkoppe in wentelbane te plaas!
Die handelswêreld wankel
5. Deur watter vrese en somberheid word die handelswêreld verswelg?
5 Tweedrag en vrees kom ook oral in die handelswêreld voor. Die president van die Wêreldbank het gesê: “Ek dink nie dat enigiets in die volgende dekade veilig is nie.” Op ’n vergadering in 1982 het 24 groot nywerheidslande die droefgeestige voorspelling gemaak dat hulle teen 1983 30 miljoen werkloses sou hê. Hierdie profesie was maar alte waar!
6. Wat sê God se Woord oor godsdiens se ekonomiese verknorsing en die uiteinde daarvan?
6 ’n Nobelpryswenner in die ekonomie het die wêreld se finansiële situasie soos volg opgesom: “Alles is verskriklik.” Wêreldgodsdiens is diep betrokke hierby. Die “baie waters” van Openbaring 17:1, 15—die “volke en menigtes en nasies en tale” van hierdie goddelose wêreld—onttrek hulle steun aan godsdiens sodat godsdiens se finansiële steun ook besig is om op te droog. (Vergelyk Openbaring 16:12.) Maar die huidige ekonomiese verknorsing van die kerke is gering vergeleke met die angs wat hulle gaan ondervind wanneer die Soewereine Heer Jehovah oordeel voltrek ter vervulling van sy woorde: “Onheil op onheil, kyk, dit kom! Hul silwer sal hulle op die strate gooi, en hulle goud sal ’n voorwerp van afsku wees; hul silwer en hul goud sal hulle nie kan red in die dag van die grimmigheid van die HERE nie” (Esegiel 7:5, 19). En hebsugtige manipuleerders van die handelswêreld sal ook hierdie angs van die wêreld se godsdiens meemaak!—Openbaring 18:2, 3, 15, 16.
Chroniese godsdienstweedrag
7. Hoe het Katolisisme versuim om eenheid te bring?
7 Kom ons beskou nou die godsdienswêreld van naderby. Hier is tweedrag inderdaad ’n walglike werklikheid. In Katolisisme tref ons alles aan van priesters wat guerrillavegters is tot biskoppe wat hulle vir ’n kernbevriesing beywer. Die pous het 1983 tot ’n Jubeljaar verklaar. Het dit gehelp? Die koue oorlog het vererger. Jy sal onthou dat die jaar 1933 ook ’n pouslike Jubeljaar was. En wat het toe gebeur? Hitler het aan die bewind gekom, en dit was die begin van ’n reeks gebeurtenisse wat tot die Tweede Wêreldoorlog gelei het.
8. Watter onharmoniese situasies word in die Protestantisme waargeneem?
8 Die Wêreldraad van Kerke, wat deur 301 Protestantse en Ortodokse kerkorganisasies met ’n geraamde 400 miljoen lidmate gesteun word, het honderdduisende rande aan polities georiënteerde opstandelinge geskenk. In die Verenigde State alleen is daar meer as 1 200 gelowe. Wat ’n wanluidende basuinklank laat hulle tog hoor! Hulle tweedrag het grootliks bygedra tot die “opstande” en “ongeregtigheid” wat volgens Jesus gedurende “die voleinding van die wêreld” ’n werklikheid sou wees.—Lukas 21:9; Mattheüs 24:3, 12.
9. Hoe kan die ware Christengemeente uitgeken word?
9 Die chroniese tweedrag wat vandag in die kerke van die Christendom waargeneem kan word, vorm ’n skerp teenstelling met die apostel Paulus se beskrywing van die ware Christengemeente as ’n gemeente wat “ernstig strewe om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van die vrede”. Paulus het gesê: “Daar is een liggaam en een Gees, . . . een Here, een geloof, een doop, een God en Vader van almal, wat oor almal en deur almal en in julle almal is.”—Efesiërs 4:3-6.
Waar daar oorvloedige eenheid is
10. Waar is die verenigende “band van die vrede” te vinde, en waarom slegs daar?
10 Waar sal ons hierdie verenigende “band van die vrede” vind? Nie in die wêreld nie, want ons word verlos uit Satan se wêreld en die politieke, ekonomiese en godsdienstige tweedrag daarvan. As Bybelse Christene is ons geen deel van hierdie verdeelde wêreld nie. Dit is waarom Jesus, toe hy vir sy gesalfde volgelinge gebid het, gesê het: “Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie.” En hy het bygevoeg: “Maar Ek bid nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo—dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.”—Johannes 17:16-21.
11. Hoe het ware Christene “een kudde” geword?
11 Ons sien vandag sulke wonderlike eenheid in die internasionale gemeenskap van Jehovah se Getuies. Dit is verblydend dat miljoene uit die wêreld ag geslaan het op hierdie eenheid, en baie van hierdie persone wat God se Woord bestudeer, kom nou as die Here se “ander skape” bymekaar. Wanneer hulle met die “klein kuddetjie” gesalfde Christene verenig, word almal “een kudde” onder die Goeie Herder (Johannes 10:16; Lukas 12:32). Dit behaag almal om Jehovah se Getuies genoem te word en in baie wesenlike Koninkrykseenheid byeengebring te wees!
Waarom “Koninkrykseenheid”
12. (a) Waarom moet God se Koninkryk ’n verenigende tema in ons lewens wees? (b) Waarom moet ons ons verheug ondanks toenemende tweedrag in die wêreld?
12 Waarom sê ons Koninkrykseenheid? Wel, God se Koninkryk is immers die tema van die hele Bybel. Moet die Koninkryk dan nie ’n verenigende tema in ons lewens wees nie? Dit is aangrypend om die vervulling van Jesus se teken te sien wat toon dat die Koninkryk in die belangrike jaar 1914 in die hemele opgerig is. En Jesus het vir ons gesê dat ons bly moet wees oor die donker onweerswolke van Armageddon wat ons sedertdien sien saampak. Hy het vir ons gesê dat die “geslag” van 1914—die jaar waarin die teken in vervulling begin gaan het—“sekerlik nie [sal] verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie” (Mattheüs 24:34). Sommige lede van daardie “geslag” kan tot aan die einde van die eeu lewe. Maar daar is baie aanduidings dat “die einde” baie nader is as dit!
13. Waarom deel ons nie die vrees van die verdeelde wêreld nie?
13 Jehovah se profeet praat van die naderende onheil en sê: “Wag daarop . . . dit [sal] . . . nie versuim nie” (Habakuk 2:3). Intussen deel ons nie die vrees van die verdeelde wêreld nie, want ons is aardwyd onder die Koninkryk verenig. God se Koninkryk, waarvoor ons bid, het nou ’n werklikheid geword (Mattheüs 6:9, 10). En ons heerlike eenheid is ’n werklikheid. Al hierdie dinge het plaasgevind soos dit deur Jehovah se profete van die ou tyd voorspel is.—Jesaja 9:5, 6; Daniël 2:44; 7:13, 14, 27.
“Dor bene” verlewendig
14. Watter merkwaardige toneel word in Esegiël 37:1-4 beskryf?
14 Kom ons ondersoek Esegiel hoofstuk 37 in hierdie verband. Wat sê die profeet?
“Die hand van die HERE was op my, en Hy het my uitgebring deur die Gees van die HERE en my neergesit in die laagte; en dit was vol bene. En Hy het my by hulle laat verbygaan na alle kante toe; en kyk, daar het ’n groot menigte oor die laagte gelê, en kyk, hulle was baie dor. Toe sê Hy vir my: Mensekind, kan hierdie bene lewendig word? En ek antwoord: Here HERE, U weet dit. Daarop sê Hy vir my: Profeteer oor hierdie bene en sê vir hulle: Dor bene, hoor die woord van die HERE!”—Esegiel 37:1-4.
15. Watter hedendaagse situasie word hier afgebeeld?
15 Kan jy jou dit voorstel? ’n Hele laagte vol dor bene! Dit is egter nie ’n toneel van iets na Armageddon nie. Dit beskryf gebeurtenisse vroeër in ons eeu. Want daardie bene stel die destydse leweloosheid, die onbedrywigheid, van God se gesalfde knegte op aarde voor.
16, 17. Wat het Jehovah beloof om te doen, en hoekom sou dit ’n wonderwerk wees?
16 Jehovah het egter iets daaromtrent gedoen. Hoor sy eie woorde:
“So spreek die Here HERE tot hierdie bene: Kyk, Ek bring gees in julle in, sodat julle lewendig kan word. En Ek sal senings op julle lê en vlees oor julle laat opkom en ’n vel oor julle trek en gees in julle gee, sodat julle lewendig kan word; en julle sal weet dat Ek [Jehovah] is.”
Hulle het dus lewendig geword, “’n ontsaglike groot leër”.—Esegiel 37:5-10, vgl. NW.
17 Hier het Jehovah iets gedoen wat geen wetenskaplike hom kan nadoen nie. Dit is nie vir wetenskaplikes ’n probleem om menslike geraamtes te rekonstrueer soos ons vandag in museums sien nie. Maar watter wetenskaplike kon al ooit ’n geraamte met senings en vlees oortrek en die asem van die lewe daaraan gee?
18. (a) Waarom het sake in 1918 en vroeg in 1919 vir God se volk hopeloos gelyk? (b) Hoe het Jehovah, ooreenkomstig die profesie, hierdie getroue persone onthou?
18 Tog het Jehovah God hierdie wonderwerk in die eietydse geskiedenis van Jehovah se Getuies verrig. Net soos daardie dor bene is God se volk gedurende die Eerste Wêreldoorlog verstrooi, is hulle hoofkwartier in Brooklyn gesluit, is die ampsdraers van hulle uitgewersmaatskappy vir 20 jaar tronk toe gestuur en het hulle veldbedrywigheid doodgeloop. In 1918 en vroeg in 1919 het hulle situasie hopeloos gelyk. Maar Jehovah het daardie getroue ambassadeurs van die Koninkryk onthou. In 1919 het hy hulle lewend gemaak, net soos hy in Esegiel 37:14 voorspel het:
“En Ek sal my Gees in julle gee, dat julle lewendig kan word; en Ek sal julle vestig in jul land; en julle sal weet dat Ek, die HERE, dit gespreek en gedoen het, spreek die HERE.”
19. (a) Hoe en waarom het Jehovah sy volk herstel? (b) Waarom het dit nodig geword om die Genootskap se fasiliteite wêreldwyd uit te brei?
19 Jehovah het dus sy vervolgde volk in ’n land van geestelike voorspoed herstel en hulle die werk gegee om ’n Koninkryksgetuienis te lewer wat dwarsoor die aarde uitgebrei het. Daar word nou elke dag meer as eenmiljoen uur gewy aan die verkondiging van die goeie nuus. Hierdie geweldige getuienis het dit nodig gemaak om die Wagtoringgenootskap se fasiliteite in Brooklyn en te Wallkill, New York, baie te vergroot. Hulle werk in oorleg met tientalle tak-fabrieke en -kantore dwarsoor die wêreld om Bybels, boeke en tydskrifte, asook die stukrag, te voorsien vir die verkondiging van “hierdie evangelie van die koninkryk . . . in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom”.—Mattheüs 24:14.
20. Wat is nou ’n werklikheid, en wie neem die eer daarvoor?
20 Wie neem al die eer vir die herstelling van hierdie getuies as ’n georganiseerde volk sodat hierdie merkwaardige, eendragtige aksie moontlik is? ‘Ek het dit gedoen, spreek Jehovah.’ So het dit ’n Koninkrykswerklikheid geword!
’n Getuienis wat uitbrei
21. (a) Hoe kom Jehovah se Getuies met die eerste-eeuse Christene ooreen? (b) Watter uitnodiging word gerig, en met watter gevolg?
21 Die groot getuienis brei steeds oor die aarde uit, daar miljoene getroue sendelinge, pioniers en gemeentelike werkers daaraan deelneem. Net soos die eerste-eeuse Christene het die hedendaagse getuies van Jehovah die hoop van die evangelie “in die ganse mensdom onder die hemel” verkondig (Kolossense 1:23). Omdat ons besef dat Jehovah “’n grote God, ja, ’n groot Koning bo al die gode” is, rig ons die volgende uitnodiging aan alle regskapenes: “Kom, laat ons aanbid en neerbuk; laat ons kniel voor [Jehovah] wat ons gemaak het.” Hoe verblydend is dit tog om te weet dat daar elke week gemiddeld meer as 3 000 nuwelinge gedoop en die eenheid van die Goeie Herder se kudde deelagtig word! Hulle aanbid nou “die Vader in gees en waarheid”.—Psalm 95:3-6; Johannes 4:23, 24.
22, 23. (a) Waarom is dit vir “skape” belangrik om saam te staan? (b) Hoe beskryf die Skrif ons eenheid en die rede daarvoor?
22 In hierdie dag waarop Jehovah Satan se verdeelde wêreld oordeel, is dit van die allergrootste belang dat al sulke “skape” uit al die nasies saam ag slaan op die boodskap van die engel “met ’n ewige evangelie om te verkondig” en wat met ’n groot stem sê: “Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van sy oordeel het gekom; en aanbid Hom wat die hemel en die aarde en die see en die waterfonteine gemaak het.” Is jy een van diegene wat daardie Koninkrykseenheid deelagtig geword het?—Openbaring 14:6, 7.
23 Wat ’n verenigde groep is die 2 500 000 Koninkryksverkondigers wat nou in 205 lande dien! God se heilige gees werk op hulle in en hulle dra die vrug van die gees (1 Korinthiërs 2:12; Galasiërs 5:22). Hoewel hulle uit talle verskillende volke kom, praat hulle dieselfde suiwer taal van waarheid (Sefanja 3:9, NW). Hulle dien skouer aan skouer—in Koninkrykseenheid!
24. Hoe is verse 17 en 22 van Jesaja hoofstuk 60 vervul?
24 Enige tweedrag wat in die verlede bestaan het, is nou uitgestryk, veral sedert Jehovah sy volk vanaf die jaar 1938 onder ’n teokratiese reëling gestel het. Dit was ter vervulling van sy profetiese belofte in Jesaja 60:17: “Ek sal Vrede as jou owerheid aanstel en Geregtigheid as jou bestuurders.” Selfs ondanks die verwoesting van die Tweede Wêreldoorlog, waartydens Jehovah se Getuies wreed vervolg is, het die Koninkrykswerk van God se verenigde volk steeds toegeneem en uitgebrei, sodat die woorde in Jesaja 60:22 in land na land rondom die wêreld bewaarheid is: “Die kleinste sal ’n geslag word en die geringste ’n magtige nasie. Ek, die Here, sal dit op die regte tyd gou laat kom.”
25. Wat is ’n wonderlike bewys van Koninkrykseenheid?
25 Wie sou ooit gedurende die moeilike, vroeë dae van die Tweede Wêreldoorlog, toe daar minder as 100 000 Getuies oor die hele wêreld was, gedink het dat daar in die vroeë tagtigerjare meer as 70 000 Getuies eensgesind in Kanada sou dien, met dieselfde getal in Frankryk, 80 000 in Japan, 90 000 in Brittanje, meer as 100 000 in Italië, in die Bondsrepubliek van Duitsland en in Nigerië, meer as 130 000 in Mexiko en meer as 140 000 in Brasilië, asook 250 000 lojale Getuies in lande waar die werk gedeeltelik of volkome in die ban gedoen is? En die Verenigde State het onlangs 643 170 bedrywige Getuies berig. Jehovah het ongetwyfeld sy belofte gestand gedoen om sy Naam volk “’n magtige nasie” te maak. Voorwaar ’n wonderlike bewys van die werklikheid van Koninkrykseenheid!
Hoe sal jy die volgende beantwoord?
◻ Watter tweedrag is te sien in drie vername dele van Satan se wêreldorganisasie?
◻ Waar is daar oorvloedige eenheid, en waarom?
◻ Hoe is Esegiel 37:1-14 vervul?
◻ Watter getuienis is as gevolg van Koninkrykseenheid gelewer?
[Prent op bladsy 11]
Chroniese tweedrag in die 20ste-eeuse politiek, handelswêreld en godsdiens gaan die voltrekking van goddelike oordeel vooraf
[Prent op bladsy 13]
Esegiel se gesig van “dor bene” wat lewendig gemaak is, beeld af hoedat God se volk weer geestelik voorspoedig gemaak sou word