1914—’n Brandpunt
“ONS het nie destyds geweet wat presies in 1914 sou gebeur nie, maar van een ding was ons seker: Die jaar 1914 sou die begin wees van die ergste tyd van moeilikheid wat die aarde nog ooit geken het; want soveel Bybelprofesieë het dit voorspel. Ons geloof was sterk en ons verwagtinge was gebaseer op veel meer as blote menslike bespiegeling.”
Dit was hoe A. H. Macmillan, skrywer van die suksesboek Faith on the March, wat in 1957 verskyn het, sy vroeë oortuiging beskryf het dat 1914 ’n brandpunt van Bybelprofesie sou wees. Meer as 40 jaar na 1914 het sy oortuiging geensins verswak nie.
Wanneer gebeure saamloop
“Brandpunt” word gedefinieer as “’n middelpunt van bedrywigheid of van belangstelling: die punt waar lyne saamloop”. Was 1914 ’n brandpunt in daardie sin? Ja. Kyk wat Macmillan en talle ander Bybelstudente daardie jaar verwag het.
Zion’s Watch Tower and Herald of Christ’s Presence se nommer van Maart 1880 het twee gebeure van kardinale belang beskryf wat in 1914 sou plaasvind en waarna daar uitgesien is: “‘Die Tye van die Nasies’ strek tot 1914, en die hemelse koninkryk sal dan eers ten volle aan die bewind kom.” Baie Bybelstudente het gevolglik verwag dat God se Koninkryk in daardie jaar ten volle opgerig sou word. Dit sou beteken dat die tyd vir Christus aangebreek het om ‘te midde van sy vyande te begin heers’. Dit sou noodwendig ook die begin van “die voleinding van die [goddelose] wêreld” beteken.—Psalm 110:1, 2; Mattheüs 24:3; Openbaring 12:10, 12.
Hierdie opregte Bybelstudente het tot hierdie gevolgtrekking gekom na ’n deeglike hersiening van Bybelchronologie. Maar Bybelchronologie was slegs een bewys—as’t ware een getuie. Volgens die Bybel sou God se Koninkryk hemels en gevolglik onsigbaar wees. Hoe sou Bybelstudente dus weet of hulle verwagtinge vervul is of nie? Hulle sou sigbare bewys, ’n teken, nodig hê.
Jesus se dissipels het om so ’n teken gevra toe hulle gesê het: “Wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?” (Mattheüs 24:3). Deur so ’n teken te voorsien, het Jesus die getuienis van ’n tweede getuie bygevoeg om 1914 haarfyn aan te wys. Dit het gestrook met die Bybelbeginsel dat ‘elke woord in die mond van twee of drie getuies vasstaan’.—Mattheüs 18:16.
Terwyl die chronologiese aanduidings vooruit gewys het na 1914, sou Jesus se samegestelde teken terugwys na 1914 as die begin van ’n nuwe tydvak. Die jaar 1914 moes dus ‘die punt wees waar lyne saamloop’.
Was dit? Kan die teken wat Jesus gegee het werklik herken word in gebeure sedert 1914? Ons nooi jou om ondersoek in te stel en dan self die vraag te beantwoord.