Put gebalanseerde genot uit huweliksfeeste
1, 2. (a) Waarom behoort ons aandag te gee aan hedendaagse huweliksonthale? (b) Hoe noodsaaklik is onthale?
JY HET seker al oorvloedige bewys gesien van die waarheid van die profesie dat mense “in die laaste dae” “meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God” sal wees (2 Timotheüs 3:1-4). Getuienis hiervan is duidelik te sien in die beskouing wat baie mense van huweliksfeeste of onthale het, en in hulle gedrag by sulke geleenthede.a Wat moet ons beskouing wees? Moet Christene liewer nie huweliksfeeste hou of bywoon nie? Of is die punt eintlik dat ons sekere valstrikke moet vermy indien ons “liefhebbers van God” wil wees?
2 Christene staan beslis onder geen Skriftuurlike verpligting om ’n geselligheid direk na ’n troue te hou nie, ongeag hoe algemeen die gebruik in die gemeenskap is. Party bruidspare verkies om saam met net hulle gesinslede of ’n paar intieme vriende te vergader en miskien ’n private maaltyd saam te geniet. Maar ’n persoon kan nie as ’n “liefhebber van genot” bestempel word net omdat hy ’n huweliksfees reël of bywoon nie, want Jesus en sy dissipels het ’n bruilof in Kana bygewoon.
3. Hoe algemeen was huweliksfeeste in Bybelse tye?
3 ’n Troue is ’n tyd van blydskap vir die bruidspaar asook vir hulle familie en vriende. Vrolike huweliksfeeste is al lank aan die orde van die dag (Genesis 29:21, 22: Rigters 14:3, 10, 17). Omdat die Jode bekend was met huweliksfeeste, kon Jesus sulke feeste in drie gelykenisse gebruik (Mattheüs 22:2-14; 25:1-13; Lukas 14:7-11). Selfs die laaste boek van die Bybel sê: “Salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam.”—Openbaring 19:9.
4. Wat kan van baie huweliksfeeste gesê word?
4 God se knegte in die verlede—met inbegrip van Jesus en sy dissipels—het gebalanseerde genot geput uit huweliksfeeste. So ook duisende Christene in ons tyd. ’n Ongelowige familielid wat ’n bruilof in Suid-Afrika bygewoon het. het gesê: “Ek het nie geweet dat die Getuies sulke aangename troues het nie. Ons is moeg vir al hierdie drinkery en luide musiek wat ’n mens deesdae by troues kry.” Baie. baie Christelike onthale verdien soortgelyke lof.
5. Watter soort probleme het opgeduik?
5 Die wêreld oefen egter groot druk op ons uit om “liefhebbers van genot” te word. Sommige Christen- ouere manne berig byvoorbeeld:
“Heelparty maak gebruik van [’n bruilof] om te ontspan. Hulle redeneer dat daar nie baie sulke geleenthede is nie, en daarom wil hulle dit ten volle benut om stoom af te blaas, om vrye teuels te gee aan begeertes wat die res van die tyd in toom gehou word. Dit is nie verbasend dat die atmosfeer rumoerig is nie.”—Europa.
“Dit wil voorkom of ’n huweliksviering bestaan uit ’n toespraak, ’n happie te ete en dan ’n gedans tot in die vroeë oggendure. Party dink dat hulle by onthale meer kan drink as gewoonlik, en hulle drink dikwels te veel.”—Latyns-Amerika.
“By ’n huweliksfees word daar soms ‘gedans tot die rooidag breek’. Party van hierdie vierings is regtig wêrelds—luidrugtig, met drank wat vryelik vloei en wêreldse dansery. Baie probeer om ander te beïndruk met duur klere en baie kartonne bier.”—Afrika.
Matigheid is nodig
6. Wat leer ons omtrent Joodse feeste uit ’n opmerking wat in Kana gemaak is?
6 Die meeste mense weet dat Jesus by die bruilof in Kana water in wyn verander het. Maar hou hierdie punt in gedagte: “Toe die hoofdienaar die water proe wat wyn geword het . . . roep [hy] die bruidegom en sê vir hom: Elke mens sit eers die goeie wyn op en, wanneer hulle goed gedrink het [wanneer mense dronk is, NW], dan die slegste” (Johannes 2:9, 10). Hy het nie gesê dat die gaste by hierdie besondere fees “dronk” was nie.b Trouens, dit is ondenkbaar dat Jesus dronkenskap sou vergoelik en sou aanmoedig deur nog wyn te maak. Hierdie man het nietemin geweet dat oormatige drinkery algemeen was by Joodse huweliksfeeste.
7. Wat moet Christene in aanmerking neem wat die verskaffing van sterk drank betref?
7 By party onthale verskaf die gasheer geen sterk drank nie omdat onmatigheid so algemeen is in die omgewing, en omdat hy gaste wat voorheen ’n drinkprobleem gehad het nie in die versoeking wil bring nie. Sekere broers in Afrika het selfs gesê dat die afwesigheid van alkohol ’n “rein Christelike troue” verseker. En op plekke waar die gemeenskap dit sterk afkeur dat Christene sterk drank gebruik, kan dit beslis raadsaam wees dat geen drank verskaf word nie (Romeine 14:20, 21). ’n Gebalanseerde beskouing is nietemin nodig. Vra jouself af: Was die bruilof wat Jesus bygewoon het ‘onrein’ omdat daar wyn was? Die Bybel veroordeel dronkenskap, nie die matige gebruik van sterk drank nie.—Spreuke 23:20, 21; 1 Petrus 4:3.
8, 9. (a) Hoe kan matigheid verseker word indien sterk drank verskaf word? (b) Wat het een ouere man omtrent die probleem gesê?
8 As ’n paartjie sterk drank by hulle onthaal wil hê, sou dit verstandig en bedagsaam van hulle wees om die nodige aandag aan matigheid te skenk (1 Timotheüs 3:2; Mattheüs 23:25). Hoe is die gaste byvoorbeeld bedien by die bruilof in Kana? Blykbaar deur die “dienaars” of “kelners” (Johannes 2:5, 9, vgl. NAV). ’n Paartjie kan dus mense aanwys om drank rond te dien (en miskien die hoeveelheid te beperk). Daar moet natuurlik altyd nie-alkoholiese drankies by ’n Christelike onthaal wees vir die wat dit verkies of behoort te gebruik.
9 ’n Ouere man in Sentraal-Amerika het gesê: “’n Probleem is dat die onthale te groot is, met die gevolg dat dit onmoontlik is om al die gaste te beheer. Soms daag wêreldse mense ongenooid by die gesellighede op en bring bottels drank met hulle saam en veroorsaak ’n skandaal.” Wie moet dan beheer uitoefen of die leiding gee? Hoeveel moet genooi word? Wat moet by sulke feeste gebeur?
Wie gee die leiding?
10. Watter Bybelse voorbeeld kan ’n bruidspaar volg om beter beheer by hulle onthaal te verseker?
10 By die bruilof in Kana was daar ’n “hoofdienaar” of “feesleier” (Johannes 2:9, vgl. NW). Net so kan ’n bekwame, verantwoordelike broer gemagtig word om by hedendaagse onthale oor die reëlings toesig te hou. Omdat hy bekend is met die bruidspaar se wense, kan hy leiding gee aan die musikante, kelners en ander, of hy kan die paartjie raadpleeg en dan daarvolgens optree. Hy kan ook toesig hê oor die saalwagters. Saam kan hulle die gaste tot hulp wees en met indringers afreken. Wat beheer betref, kan ons let op wat in Jesus se gelykenis gebeur het met ’n gas wat by ’n bruilof skreiende minagting getoon het.—Mattheüs 22:11-13.
11. Wat moet in aanmerking geneem word by die keuse van iemand om die bruidspaar te help om toesig te hou?
11 By baie wêreldlike onthale tree die saalbestuurder of orkesleier as seremoniemeester op. Hy ken die gewone roetine en is waarskynlik gereed met ’n geoefende toespraak of suggestiewe grappe. Maar sal jy, indien jy ’n onthaal wil hê wat met Christelike beginsels strook, toelaat dat ’n wêreldling—wat nòg jou geestelike broer nòg ’n familielid is—jou gaste toespreek of die aandag op hom trek? Sou dit strook met die raad om “aan almal goed [te] doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof”?—Galasiërs 6:10.
12. Watter aanduiding gee die Bybel oor wie die hoofverantwoordelikheid dra vir wat by ’n onthaal gebeur?
12 Die ouers van die bruid of bruidegom help die paartjie soms deur vir die onthaal te betaal. Die ouers kan dus voel dat hulle groot seggenskap behoort te hê oor wie genooi word, watter soort voedsel en drank voorgesit word en wat die program sal wees. Die Bybel sê nie wie vir die bruilof in Kana betaal het nie, maar dit sê wel vir ons dat, toe ’n belangrike saak opgeduik het, ‘die hoofdienaar die bruidegom geroep het’ (Johannes 2:9). By ’n onthaal is die bruidegom die Skriftuurlike hoof van die nuwe gesin (Efesiërs 5:22, 23). Hoewel hy liefdevol die wense van sy bruid, en die wense van hulle gesinne, op hierdie spesiale dag in aanmerking moet neem, moet hy dus die hoofverantwoordelikheid aanvaar vir wat sal plaasvind en wat nie.
Wie sal daar wees?
13. Hoe groot was huweliksfeeste in Bybelse tye?
13 Ons weet nie hoe groot huweliksfeeste in Bybelse tye was nie. By Simson se bruilof was sy ouers, 30 kennisse van sy bruid en waarskynlik ander vriende of familielede teenwoordig (Rigters 14:5, 10, 11, 18). Gaste by Joodse troues was mede-aanbidders uit die dorp sowel as besoekers. Jesus en sy dissipels, wat van elders in Galilea gekom het, het die bruilof in Kana bygewoon. Te oordeel na die hoeveelheid wyn wat gemaak is, was daar baie gaste.—Johannes 2:1, 2, 6.
14, 15. Hoe het party ope onthale gereël, maar watter probleme kan ontstaan?
14 Vandag wissel gebruike en voorkeure wat die soort onthaal en die grootte daarvan betref. In party gebiede is ope onthale gebruiklik; alle mede-Christene wat vriende van die bruidspaar is, is welkom. Ligte verversings word miskien verskaf, nie met die doel om almal se eetlus te bevredig nie maar sodat hulle die paartjie kan gelukwens en aangename omgang kan geniet. Elders, waar alle vriende by die geselligheid welkom is, bring baie mense kos saam—’n gekookte dis, iets te drinke of ’n nagereg. So kan baie vreugde put uit die wete dat hulle iets bygedra het en kan almal ’’n verskeidenheid eetgoed geniet sonder dat daar ’n swaar las op die bruidspaar of iemand anders rus.—Handelinge 20:35.
15 Uit wat ons in Jesus se gelykenisse lees, wil dit voorkom of ’n groot maaltyd dikwels by Joodse troues voorgesit is (Mattheüs 22:2; Lukas 14:8). Dit verg natuurlik deeglike beplanning om ’n volledige maaltyd vir al die gaste by ’n onthaal te verskaf. ’n Moeder in Noord-Amerika het hierdie betreurenswaardige ondervinding vertel:
‘Toe dit bekend word dat daar ’n troue is, het jongmense van heinde en ver opgedaag om verniet te eet en te dans. Terwyl die genooides by die Koninkryksaal was, het ander na die onthaalsaal gegaan en al die beskikbare tafels beset. Toe ek daar kom, wou ek in trane uitbars, want daar was niks plek oor nie. Ek is diep seergemaak deur die liefdeloosheid wat geopenbaar is deur ongenooid ’n troue binne te dring en kos op te eet wat deur die gasheer vir sy intieme vriende en familie voorgesit is.’
16. Wat kan ons uit die Bybel leer in verband met bruilofsgaste?
16 Maria, Jesus en sy dissipels was nie indringers by die bruilof in Kana nie; hulle ‘was genooi’ (Johannes 2:1, 2). Jesus het gesê: “Wanneer jy deur iemand na ’n bruilof uitgenooi is . . .” (Lukas 14:8, 9, 16, 17). In die gelykenis van die bruilof van die koning se seun, het Jesus ook van “die genooides” gepraat (Mattheüs 22:3, 9, 10). Maar toe ’n genooide gas minagting getoon het, is die dienaars beveel om hom uit te gooi. In ’n ander gelykenis is vyf maagde wat ’n bruilof wou bywoon, nie toegelaat om by die deur in te kom nie (Mattheüs 22:11-13; 25:10-12). Dit behoort dus nie vreemd te wees as ’n onthaal tot genooide gaste beperk word en daar vereis word dat hulle behoorlik geklee is nie. En dit is verstaanbaar dat ’n gasheer se vrygewigheid nie mense hoef in te sluit wat hoofsaaklik aan kos en plesier dink nie.—Filippense 3:18, 19; Prediker 5:10.
17. Watter probleem duik soms op in verband met die grootte van huweliksfeeste?
17 As ’n paartjie of hulle familie ’n volledige maaltyd aan baie gaste wil voorsit, kan dit hulle heelwat geld uit die sak jaag. (Vergelyk Markus 6:35-37.) Uit Oseanië kom hierdie berig:
“Daar is ’n neiging om te ver te gaan met onthale. Party dompel hulle in die skuld om ’n groot fees te hou en begin gevolglik hulle huwelikslewe in die skuld. Dit lyk dikwels of mense bang is dat hulle aansien sal verloor, en daarom reël hulle ’n onthaal wat hulle nie kan bekostig nie.”
Hoe jammer tog wanneer ’n jong paartjie hulle huwelikslewe begin met ’n berg skuld wat spanning in hulle verhouding kan veroorsaak. Of hoe sou hulle voel as hulle weet dat hulle ouers gebuk gaan onder die swaar skuldelas van ’n groot onthaal? Wêreldse mense kan natuurlik ’n geweldige bruilofskuld aangaan uit ’n trotse begeerte om ander te imponeer of om hulle aansien in die gemeenskap te behou (Spreuke 15:25: Galasiërs 6:3). Maar moet dit onder Christene die geval wees, in die lig van wat ons in Lukas 12:29-31 lees?
18, 19 (a) Wat het party moontlik laat besluit om ’n groot onthaal te hê? (b) Hoe moet ons reageer as ons nie na ’n vriend se onthaal genooi word nie? (Lukas 14:12).
18 Die dryfveer agter sommige groot bruilofsfeeste is die begeerte om ander na te doen of te oortref. Ouere manne in Wes-Afrika het gesê:
“Party gaan groot onkoste aan om verversings te verskaf. Die een wat die duurste huweliksfees aanbied, is die gangmaker. Dit veroorsaak probleme vir die wat nie genoeg moed het om anders te wees nie. Die vertoon van ’n mens se middele kan ander laat struikel, en dit is onnodig om te probeer ‘byhou by die bure’.”—Kyk 1 Johannes 2:15-17. NW.
19 Ander voel verplig om ’n reuse-onthaal te gee omdat hulle bang is dat ander aanstoot sal neem. Hulle dink dat sekere kennisse gekrenk sal voel as hulle nie genooi word nie. Gevolglik word te veel mense genooi. Maar wie van ons wil werklik hê dat ons vriende so bang moet wees om ons te na te kom dat hulle groot skuld sal aangaan en miskien selfs die voltydse bediening prysgee? As ons nie genooi word nie, sou dit tog veel beter wees om te vertrou dat hulle deeglik nagedink het oor al die faktore, finansies inkluis. Die feit dat hulle ons nie genooi het nie, kan selfs hulle vertroue weerspieël dat ons ryp is en nie gou aanstoot sal neem nie (Prediker 7:9; 1 Korinthiërs 13:4-7). Ons kan nog in hulle geluk deel deur teenwoordig te wees by die Bybelgebaseerde troutoespraak, wat die belangrikste deel is. As ons minder daarvan dink as van die onthaal, kan ons onsself afvra: Is ek besig om ‘’n groter liefhebber van genot as ’n liefhebber van God’ te word?—2 Timotheüs 3:4.
20. Watter soort praktyke kan voorkom word deur die grootte van ’n onthaal te beperk?
20 Wanneer die grootte en koste van onthale binne redelike perke gehou word, help dit ook om ander ongewenste praktyke te voorkom. Party is byvoorbeeld deur geldgierigheid beweeg om spesiale materiaal vir trouklere te koop en dit dan teen ’n hoër prys vir die trougeselskap aan te bied. Gaste by party onthale moes stukke koek “koop” of moes “betaal” om met die bruid te dans deur geld aan haar rok vas te steek. Sulke klem op geld kan ook die onderliggende rede wees waarom sommige gaste met hulle geld te koop loop deur dit oor die musikante te “strooi” of deur groot geskenke te gee sodat hulle spesiale sitplekke naby die bruidspaar kan kry.—Lukas 14:8-11.
Help almal om die geleentheid te geniet
21. Watter rol speel musiek by huweliksfeeste?
21 Gedurende die Makkabese oorloë is ’n Joodse bruidstoet deur ’n groep “met tamboeryne en minnesangers” ontmoet. (1 Makkabeërs 9:39; vergelyk Psalm 45:9.) Vandag maak musiek ook dikwels deel uit van huweliksonthale. Dit kan die Christelike vreugde van die geleentheid vermeerder—of dit kan daaraan afbreuk doen. Hoe so? Dit gebeur meermale dat die musiek baie luid en onbeheers is. Sommige musikante hou van diskomusiek, of hulle spog graag met hulle vermoëns deur wild te kere te gaan. Maar ’n Christelike onthaal is nie die plek daarvoor nie. Kan die gaste, jonk of oud, Christelike omgang geniet as die musiek so luid is dat hulle mekaar nie oor ’n tafel kan hoor nie?
22. Hoe kan baie probleme in verband met musiek voorkom word?
22 Dit is duidelik dat die musiek by huweliksfeeste sorgvuldige beplanning en toesig verg, veral lewende musiek. Dit is beter om nie wêreldse musikante te huur nie. As musikante gehuur word, moet die bruidegom of die aangewese broer die musikante duidelik laat verstaan watter musiek gespeel mag word en watter nie (Exodus 32:6, 17, 18). Dit moet duidelik gestel word dat geen spesiale versoeke van gaste gespeel mag word sonder die goedkeuring van die bruidegom of van die “feesleier” nie. Omdat die aard en luidheid van lewende musiek so dikwels probleme skep, gebruik baie paartjies liewer plate of bande wat hulle musiekkeuse bevat. Hulle laat dit voorspeel deur ’n volwassene wat nie maklik beïnvloed sal word deur wat onder onervare jeugdiges gewild is nie.—1 Korinthiërs 13:11; Hebreërs 5:14.
23-25. Watter ander praktiese stappe kan bruidspare doen om ’n aangename, Christelike geselligheid te verseker?
23 Christenpaartjies wil hê dat hulle gaste met vreugde moet terugdink aan hulle onthaal. As daar dus musiek is en/of gedans word, moet dit met Christelike beginsels ooreenkom. As sommige mense gevra word om ’n paar woorde te sê, moet die gekosenes en wat hulle sê, pas by ’n waardige, Christelike geselligheid.
24 In die gelykenis van die tien maagde het die fees om “middernag” begin omdat die trougeselskap laat was (Mattheüs 25:5, 6). In ’n ander geval het die fees blykbaar gedurende die dag plaasgevind, aangesien Jesus gesê het dat die koning ’n fees berei het en dat sy dienaars mense op die paaie genooi het (Mattheüs 22:4, 9). In hedendaagse tye duur party onthale tot laat in die nag en word hulle al hoe meer onbeteueld namate ryp Christene huis toe gaan om ’n goeie nagrus te kry. Om dit te voorkom, het gebalanseerde paartjies vooraf ’n tyd bepaal wanneer hulle onthaal sal begin en eindig. So kan almal hulle reëlings tref, met inbegrip van reëlings van Christelike bedrywigheid op die dag ná ’n aangename onthaal.
25 ’n Huweliksonthaal kan ’n uitstekende geleentheid vir behoorlike en gebalanseerde Christelike vermaak wees. Maar watter rol speel dit met betrekking tot wat daarop volg—die huwelikslewe as ware Christene?
[Voetnote]
a In party lande kan al die gaste ná die huwelikseremonie ’n onthaal bywoon waar hulle koeldrank of koffie en koek kan geniet. Later nuttig die bruidspaar, hulle familie en ’n paar vriende ’n bruilofsmaal by ’n huis of ’n restourant. Op ander plekke is die onthaal ’n geselligheid wat op die troue volg—hetsy met versnaperinge of ’n fees.
b Uit die Grieks methusko, wat beteken “dronk of beskonke word”. Volgens sommige kommentators impliseer die woord dat ’n mens net genoeg drink om die smaak te verdoof of vrolikheid te veroorsaak. Ander tekste ondersteun nie hierdie standpunt nie.—Mattheüs 24:49; Lukas 12:45; Handelinge 2:15; Efesiërs 5:18; 1 Thessalonicense 5:7.
Ter hersiening
◻ Waarom verdien onthale Christene se aandag?
◻ Wat is raadsaam met betrekking tot sterk drank by huweliksfeeste?
◻ Wie is verantwoordelik vir wat by onthale gebeur?
[Prent op bladsy 25]
Die feesleier het met die bruidegom gepraat oor die wyn