Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w84 6/1 bl. 3-4
  • Wie kan geloof hê in hierdie eeu van twyfel?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wie kan geloof hê in hierdie eeu van twyfel?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Soortgelyke materiaal
  • Moet jy die Bybel glo?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Vol vertroue in ’n wêreld waar twyfel heers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Moenie toelaat dat twyfelgedagtes jou geloof vernietig nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Behou ’n vaste geloof
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
w84 6/1 bl. 3-4

Wie kan geloof hê in hierdie eeu van twyfel?

ONS lewe in ’n eeu van twyfel. Skeptisisme is in die mode. Ons word aangespoor om alles te bevraagteken—gebruike, idees, sedes, ou waardes, selfs die bestaan van God en die waaragtigheid van sy Woord, die Bybel.

Baie mense wat min van die Bybel af weet, twyfel in elk geval daaraan. Hulle twyfelgedagtes is nie gegrond op wat die Bybel werklik sê nie, maar op wat sommige sê dat dit sê. Maar hoe kan enigiemand ’n geldige mening vorm van ’n boek wat hy nog nooit gelees het en nie werklik ken nie? En wie kan geloof hê in hierdie eeu van twyfel?

Een van Jehovah se Getuies het vir ’n man wie se vrou graag die Bybel wou bestudeer, gesê: “Ek verwag beslis nie dat jy iets wat so belangrik is, moet glo net omdat ons dit die afgelope uur bespreek het nie. Maar ek is seker dat as jy eers weet wat die Bybel werklik sê jy net so oortuig soos ek sal wees dat dit die waarheid is.” Die man het ingestem om die saak te ondersoek, ’n tuisbybelstudie is begin en kort voor lank het hy ook ander geleer. Ja, hy het ware geloof verkry in hierdie eeu van twyfel.

’n Franse huisvrou wat begin het om die Bybel saam met Jehovah se Getuies te bestudeer, het gesê: “Ek twyfel, ek twyfel, ek koester ernstige twyfelgedagtes!” Maar sy het aangehou studeer. Namate haar kennis toegeneem het, het haar twyfelgedagtes verdwyn en sy leer ander nou al meer as 20 jaar lank die dinge wat haar geloof versterk het.

Geloof spruit voort uit juiste kennis wat vir jou die feite gee waarop jy regte besluite kan baseer. Toe Jesus Christus op die aarde was, het kennis van sy verbasende werke en leer talle opregte mense in staat gestel om ‘in sy Naam te glo’.—Johannes 2:23; 8:30.

Dit is ook vandag die geval. Die Bybel se waarheid is duidelik, mits jy verkeerde dinge wat jy daaromtrent gehoor het opsy skuif en self uitvind wat hierdie verbasende boek werklik leer.

Geen man of groep manne was byvoorbeeld naastenby daartoe in staat om die Bybel se profesieë uit te dink nie. Hierdie profesieë, wat soms honderde of selfs duisende jare voor die tyd geskryf is, is egter tot in die fynste besonderhede vervul sodat hulle onomstootlike bewys lewer dat die Bybel wel van God af kom en dat die dinge wat dit beloof, gaan gebeur.

Lank gelede, na baie jare se ondervinding met God se weë, het bejaarde Josua vir die Israeliete gesê: “Julle moet erken met jul hele hart en met jul hele siel dat nie een woord van al die goeie woorde wat die HERE julle God oor julle gespreek het, onvervuld gebly het nie; alles het vir julle uitgekom, nie een woord daarvan het onvervuld gebly nie.”—Josua 23:14.

Die Bybel se waarde word daarbenewens in die praktyk getoon. Wanneer die Bybel se raad toegepas word, verbeter dit mense se lewens en verander dit persoonlikhede. Dit help gewelddadige, twisgierige mense om sagtheid en selfbeheersing te verkry. Diegene wat twyfel aan die waarheid van daardie stelling, hoef maar net die Bybel te bestudeer. Die uitwerking wat die waarheid daarin op hulle lewe kan hê, sal hulle verbaas.—Galasiërs 5:19-22; Efesiërs 4:20-32.

In plaas daarvan om die slagoffer van skeptisisme in hierdie eeu van twyfel te word, kan jy ware geloof verkry. Die Bybel kan jou inderdaad help om ’n vaste, lewegewende geloof te verkry. Maar hoe kan die Bybel dit doen?

[Venster op bladsy 4]

Die gesin in ’n twyfelende wêreld

Die Bybel sê baie oor gesinne. Dit sê dat hulle gebaseer moet wees op liefde en dat twee persone permanent aan mekaar en aan hulle kinders verbind moet wees (Mattheüs 19:4-6). Selfs in gemeenskappe wat nie die Bybel geken of die beginsels daarvan toegepas het nie, het 6 000 jaar van mense-ervaring getoon hoe belangrik die gesin is.

Maar nadat hulle gesien het wat in die pers, in boeke en op televisie verskyn, het talle jongmense vandag begin twyfel aan die waarde van die huwelik. Sommige meen dat die huwelik beperkend is en meen dat morele getrouheid aan ’n ander persoon hulle “vryheid” aan bande lê. Omdat hulle aan die oue twyfel, onderskryf hulle ’n “nuwe” moraliteit—in werklikheid niks meer as die ou immoraliteit by ’n nuwe naam nie. Hulle lewe saam met iemand anders sonder om hulself werklik daartoe te verbind om ’n lewe van liefde, vertroue en eenheid te bou.

Die tyd gaan verby. Hulle word ouer. Dan, wanneer hulle werklik die lojaliteit en ondersteuning wat daar moes wees nodig het, vind hulle dikwels dat hulle verwerp, alleen en gebroke is. Eers dan besef hulle dat die ander persoon hom of haar ook nie aan hulle verbind het nie en nooit van plan was om tyd, liefde en toewyding te gee wanneer hierdie dinge werklik nodig is nie.

God weet hoe ons gemaak is. Hy weet wat vir ons die beste is. Sy morele beginsels kan nie geïgnoreer of verwerp word sonder ernstige gevolge nie. Dit is ’n feit, ongeag wat ’n twyfelende wêreld ook al sê.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel