Regverdigheid vir almal—Hoe sal dit kom?
WAAROM het Jehovah toegelaat dat onreg so verbreid raak op die aarde? Omdat mense dit so wou hê! In die begin was dinge anders. Toe Adam en Eva geskape is, het hulle nie onder die las van onvolmaaktheid gebuk gegaan nie. Hulle het deel uitgemaak van die skepping wat God self as “baie goed” bestempel het (Genesis 1:31; Deuteronomium 32:4, vgl. NW). Bowendien was daar geen Satan nie, en die mens is direk deur God regeer. Aanvanklik was daar dus geen onreg nie.
Maar daardie toestand het nie lank geduur nie. ’n Volmaakte geesskepsel het in opstand gekom en Satan geword. Vermom as ’n slang het hy Eva met die gedagte van onafhanklikheid getantaliseer. God het net een beperking op die eerste mensepaar geplaas. Hulle moes nie die vrug van ’n sekere boom eet nie. Ongehoorsaamheid sou hulle dood beteken. Maar Satan het vir Eva gesê: “Julle sal gewis nie sterwe nie; maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.”—Genesis 3:1-5.
Eva, en daarna Adam, het God se wet oortree. Hulle wou soos God wees en hulle eie besluite oor reg en verkeerd neem. Gevolglik het hulle God die rug toegekeer en die weg gebaan vir die oprigting van menseheerskappy, met al sy probleme.
Adam en Eva het ook ’n fisiese verandering ondergaan. God het hulle ter dood veroordeel, net soos hy vooraf gewaarsku het. Hulle het onvolmaak geword, en dit het gelei tot die verderf van die ganse mensdom—hulle nageslag. Die apostel Paulus het verduidelik: “Deur een mens [Adam] het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het” (Romeine 5:12, NAV). So het die grondoorsake van onregverdigheid hulle verskyning gemaak.
Nietemin lees ons: “’n Koning wat reg laat geskied, maak ’n land veilig” (Spreuke 29:4, NAV). Die samelewing sal nooit werklik “veilig” of volkome bestendig wees voordat regverdigheid aardwyd aan die orde van die dag is nie. Sal dit ooit gebeur?
God se Koninkryk en regverdigheid
Aangesien Jehovah God ‘die reg lief het’, kan ons daarvan seker wees dat dit sal (Psalm 37:28). Maar hoe? Die woorde van die Onse Vader gee die antwoord. Opregte Christene bid al eeue lank: “Laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (Mattheüs 6:10). Dit is dus deur middel van God se Koninkryk dat God se wil uiteindelik hier op aarde verwesenlik sal word.
God se Koninkryk is ’n werklike regering. Dit is in die hemel gesetel en derhalwe sterker as enige menseregering. Dit het ook ’n Koning wat deur God aangestel is, naamlik Jesus Christus, wat baie gesteld is op regverdigheid (Psalm 72:12-14). Jehovah beloof dat hy hierdie Koninkryksheerskappy onder Christus sal seën, “om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid”.—Jesaja 9:6.
Talle profesieë wat vandag bewaarheid word, bewys dat hierdie Koninkryk reeds ’n werklikheid is (Lukas 21:31, 32). Jesus is alreeds ’n Koning! Maar hoe sal hy al die struikelblokke te bowe kom en reg aan die mensdom laat geskied? Kom ons kyk.
Dit is God se voorneme dat sy Koninkryk onder Christus ’n wêreldregering moet wees. Jehovah het profeties gesê: “Hy [Christus] sal heers van see tot see en van die Rivier tot by die eindes van die aarde” (Psalm 72:8). As hierdie profesie eers aardwyd vervul is, sal ’n groot bron van onreg nie meer bestaan nie. Die mens sal nie meer oor homself regeer nie. Maar hoe kan dit gebeur terwyl daar vandag so baie regerings is, elkeen uiters gesteld op sy eie soewereiniteit?
Die feit is dat God ’n grens gestel het aan die tyd dat menseregerings sal bestaan, en daardie tyd het nou verstryk. Die profeet Daniël het in verband met al die nasionalistiese regerings van ons dag geskryf: “In die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan.”—Daniël 2:44.
Op hierdie manier sal een wêreldregering, God se Koninkryk, eerlank alle nasionalistiese regerings vervang en in geregtigheid oor die mensdom heers. Wat ’n groot verandering ten goede sal dit tog nie wees nie! Maar dit sal nog die probleem van Satan laat. Hoe sal God se Koninkryk met hom afreken?
God se Koninkryk en Satan
Satan het vroeg in die mensdom se geskiedenis sy verskyning gemaak, en dit was hy wat die gedagte van opstand teen God in Eva se verstand geplant het. Daarom het God nie vir Satan vergeet toe hy die oordeel oor Adam en Eva uitgespreek het nie. Hy het die koms van ’n “saad” voorspel wat Satan sou teenstaan en uiteindelik sou vernietig: “Ek sal vyandskap stel . . . tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt” (Genesis 3:15). Mettertyd het dit duidelik geword dat hierdie beloofde saad Jesus Christus is (Galasiërs 3:16). Daar was reeds twee belangrike ontmoetings tussen Satan en Jesus ter gedeeltelike vervulling van daardie ou profesie.
Die eerste was oënskynlik ’n oorwinning vir Satan. Hy het die dood van Jesus aan ’n folterpaal bewerkstellig. So is Jesus ‘in die hakskeen gebyt’. Maar Satan se oorwinning was van korte duur. Jesus is uit die dood opgewek en tot ’n hoë posisie in die hemel verheerlik (Handelinge 2:23, 24, 32-36). Daar het Jehovah God hom later as Koning van God se Koninkryk gekroon. Toe het nog ’n geskiedkundige ontmoeting plaasgevind.
Die uitslag daarvan word in die Bybel beskryf: “Die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp.” Die resultaat? Vreugde in die hemel, wat nou van Satan se verderflike teenwoordigheid verlos was. Maar “wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het” (Openbaring 12:9, 12). Ons lewe nou in daardie “min tyd”. Die onregverdigheid wat ons vandag sien, is grotendeels te wyte aan Satan se “groot woede”.
Maar eersdaags sal daar nog ’n ontmoeting tussen Satan en Jesus Christus wees. Die Bybel beskryf dit ook: “Hy het die draak gegryp—die ou slang wat die duiwel en die Satan is—en hy het hom gebind duisend jaar lank, en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie.”—Openbaring 20:2, 3.
Dit sal binnekort gebeur, wanneer God se Koninkryk die nasionalistiese regerings van hierdie wêreld vervang. Dit sal uiteindelik lei tot ’n laaste ontmoeting wanneer, soos die Bybel dit profeties beskryf, “die duiwel . . . in die poel van vuur en swawel gewerp” sal word tot sy vernietiging. So sal sy kop finaal “vermorsel” word.—Openbaring 20:10.
Nog ’n struikelblok in die weg van regverdigheid sal dus uit die pad wees. Maar dit laat ons nog met die probleem van die mens se eie onvolmaakte natuur. Baie van die onregverdigheid in die wêreld kom van die mens self. Wat kan God se Koninkryk daaromtrent doen?
God se Koninkryk en die mens se onvolmaaktheid
Die mens het onvolmaak geword toe Adam en Eva gesondig het (Romeine 5:12). Op een uitsondering na was al die nakomelinge van Adam sondaars. Daardie uitsondering was Jesus. Hy is wonderdadig sonder sonde gebore, en hy het sy hele lewe lank getrou en sondeloos gebly (Hebreërs 7:26). Daarom kon hy ’n volmaakte menselewe as losprys vir die onvolmaakte mensdom opoffer. Hy het die probleem van menslike onvolmaaktheid opgelos. “Soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word.”—1 Korinthiërs 15:22.
Diegene wat daarop aandring om onreg te pleeg, sal binnekort uitvind dat daar nie vir hulle plek is op ’n rein aarde onder God se Koninkryk nie. Maar diegene wat geloof in Jesus se offer het, sal groot seëninge maai. “Die opregtes sal die land bewoon, en die regskapenes daarin oorbly, maar die goddelose sal uit die land uitgeroei, en die ontroues sal daaruit weggeruk word” (Spreuke 2:21, 22). So sal nog ’n struikelblok in die weg van geregtigheid uit die pad gerol word.
God se Koninkryk en jy
Ja, Jesus, as Koning van God se Koninkryk, sal spoedig al die groot struikelblokke in die weg van geregtigheid vir almal op aarde verwyder. Dan sal die mensdom die vervulling beleef van die belofte: “Ons verwag . . . nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin geregtigheid woon” (2 Petrus 3:13). Op daardie regverdige aarde sal daar geen plek vir onreg wees nie.
Hierdie seëninge lê natuurlik nog in die toekoms. Maar God se Koninkryk onder Christus Jesus is selfs vandag bedrywig, en ons kan daaruit voordeel trek. Jesus het self aangaande ons dag voorspel dat ‘hierdie evangelie van die koninkryk in die hele wêreld verkondig sal word tot ’n getuienis vir al die nasies’ (Mattheüs 24:14). Daardie profesie word nou vervul. Baie reageer gunstig op die prediking en onderwerp hulle nou reeds aan daardie Koninkryk. Sodoende vervul hulle hierdie profetiese woorde:
“Aan die einde van die dae sal . . . baie volke . . . heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem.”—Jesaja 2:2, 3.
Die miljoene mense aardwyd wat ooreenkomstig daardie profesie optree, bestudeer die Bybel en leer om te lewe soos God wil hê dat hulle moet lewe. Hulle probeer byvoorbeeld lewe volgens die woorde van die profeet Miga: ‘Om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met hulle God’ (Miga 6:8). So toon hulle hulle opregte begeerte om onder ’n regverdige regering te lewe. Hulle geniet nou reeds baie seëninge van daardie regering terwyl Jesaja se profesie vervul word: “Kyk, ’n koning sal regeer in geregtigheid, en die vorste sal heers volgens reg.”—Jesaja 32:1.
Hunker jy na ’n wêreld waarin reg en geregtigheid heers? Stel dan jou vertroue in God se Koninkryk. Gaan nou om met mense wat dieselfde begeerte koester. Sien dan met vertroue uit na ’n ewige lewe onder heerskappy van die God wat ‘geregtigheid en reg lief het’.—Psalm 33:5.
[Prent op bladsy 6]
Jesus het medelye met die geteisterdes en geringes gehad. Sy heerskappy uit die hemel sal deur regverdigheid gekenmerk word